Foto's: Rogan Ward

Die Ballito van my kinderdae roep lang, verlate strande op. Om daar uit te kom het ’n mens van die snelweg af gedraai en gery deur suikerrietplantasies wat tot by die horison strek. Aan die een kant van die baaitjie het die branders gebreek en aan die ander kant het ’n paar ou strandkothuisies gestaan, met grasperke wat stelselmatig deur die springgety weggekalwe word. En dit was al.

Tóé was dinge anders: Jy het tot by die strandhuisie gery en eers weer jou motor ge-start as dit tyd was vir die terugtog huis toe. Ons het by die huis geëet, en dalk net een keer in ’n vakansie by “Salties” (die Salt Rock Hotel) ’n Sondagmiddagete bespreek. As ons moeg was vir die see (dit het amper nooit gebeur nie) of as dit gereën het (dit het baie gebeur), moes ons sit en tone tel.

Maar deesdae is Ballito ’n ander plek. Dit word nog omring deur suikerriet, maar nou begin die dorp verder van die see af. Hoewel Salties nog ’n goeie bly- en eetplek is, het dit nou heelwat kompetisie. Jy sal nie sommer alleen op die strand wees nie, maar minstens het jy nou ander opsies om besig te bly as die weer nie saamspeel nie.

Hier is ’n paar idees. 

EN...AKSIE! By Sugar Rush Park is daar ’n aktiwiteit vir elkeen, maar die bestes is buite en verg energie. Hier tree ook gereeld plaaslike kunstenaars op.

Spring, skaats en smul

Motreëndae... dis tegnies nog warm genoeg om buite te wees, maar wie is nou lus om onder ’n sambreel te sit en stres of die kinders longontsteking gaan kry? Pleks daarvan om die kinders stoei-stoei in handdoeke te kry, lok hulle Sugar Rush Park toe met die belofte van suiwer pret – binnenshuis of buite – en ’n roomys ná die tyd as hulle hulle gedra.

Sugar Rush is ’n alles-in-een aktiwiteit-en-winkelsentrum. Die Jump Park sal die eerste versoeking wees: Hier is meer as 700 m² se volvloer-trampoliens onder een dak. As die kinders genoeg skêrspronge en bollemakiesies gemaak het, is hier ook onder meer ’n skaatspark, laser tag-speelplek, bergfietsry, Segway-ritte en mini-gholfbaan.

En dís net die aktiwiteite vir die jongspan. Vir Ma en Pa is hier ’n spa, restaurante en winkels. Oor naweke is hier ’n mark op ’n Saterdag, ’n Park Run én soms tokkel van Suid-Afrika se voorste musiekkunstenaars hier op hulle kitare – Arno Carstens, The Parlotones en Freshlyground! Volg Sugar Rush op Facebook om te sien wat die dagboek inhou. Pasop, jy gaan dalk nooit weer huis toe nie.

Waar? Esenembe-weg Oop 5.30 vm.-7 nm. (hek). Kyk op die webblad vir die openingstye van die verskillende doendinge en restaurante.

Kontak 060 997 9996; sugarrush.co.za

Verbrand daai vakansierolletjies

Kom ’n bietjie weg van die gedruis: Bring jou bergfiets na Holla Trails – net langs Sugar Rush – en kry ’n voorsprong op daai vakansievetjies... Dis nie net suikerrietplantasies nie – ’n paadjienetwerk van 340 km rits deur woude en oop grasveld, verby watervalle en damme. Die roetes wissel in afstand en hoe tegnies (of moeilik) dit is: Die kortste roete is 14 km lank en die langste 85 km, en hier is enkelspoorpad, trappies af, kronkels, “berms” en brûe. (Net ’n waarskuwing: Die omgewing rondom Ballito is nie plat nie...)

Hier’s kaarte by die hoofkantoor by Sugar Rush Park en die paadjies is goed gemerk. As jy steeds bang is jy verdwaal, huur een van die ingeligte gidse om jou te wys wat Holla Trails het om te bied.

Hier’s fietse te huur en jy kan ook jou veldloopskoene bring en dit te voet verken. Die hardlooppaadjies is tussen 5 km en 13 km lank.

Waar? Esenembe-weg, Ballito Oop 5.30 vm.-4 nm. Hier is ’n geldhouer vir as jy ná-uurs kom trap. 

Koste Bergfietspermit: R60 per volwassene per dag; R25 per kind jonger as 18. Hardlooppermit: R20 p.p.p.d.

Kontak 082 899 3114; hollatrails.co.za

Kosfoendi’s móét Delish Sisters Ballito aandoen en op Saterdae kan daai selle lekker-bekke aarbeie pluk – en eet! – by Capenny Estates.

Smul saam met die Delish Sisters

Wie wil nou kook as jy op vakansie is? Kom sit eerder aan by Delish Sisters se oestafel. Hierdie sjiek plek vol vriendelike gesigte is in The Litchi Orchard, langs ’n koffiewinkel, roomyswinkel en bakkery.

Die susters Kate en Rebecca Lund bestuur die restaurant wat ná net twee jaar ’n instelling op die dorp geword het. As jy my nie glo nie, probeer ’n bietjie ’n tafel kry op ’n Saterdag sonder om te bespreek...

Die kos is kreatief en vars en die spyskaart wissel gereeld, maar ou gunstelinge soos stadiggeroosterde varklies met vinkelsade, soja en tahini maak gereeld ’n verskyning. Die restaurant is ook bekend vir sy ontbyte waarvan die naam jou sommer ’n vetrolletjie besôre: Hoe klink Franse roosterbrood met ’n pekanneutkors, roomkaas, bessiesous en esdoringstroopspek?

Die susters hou ook van G&T en tower gereeld nuwe weergawes van dié klassieke drankie op.

Waar? The Litchi Orchard, hoek van Seaforthlaan en Old Fort-weg Oop Dinsdag tot Vrydag: 8 vm.-11 vm. (ontbyt); 12 nm.- 3 nm. (oestafel-middagete). Saterdag tot Sondag: 9 vm.- 11 vm. (ontbyt); 12 nm.-3 nm. (oestafel-middagete).

Kontak 032 815 0413; delishsisters.co.za

“Hier is klomp lekker plekke in die omgewing waar ’n mens kan eet. Tree Natural by Ballito Junction is tops, en Eat Local ook. Ons hou baie van Casa Bella, ’n Italiaanse plek.” – Yoliswa Gumede, Capenny Estates

Kom pluk aarbeie!

Onderhandel reeds vroeg in die week om nié op ’n Saterdag strand toe te gaan nie. Op Saterdae kan jy self aarbeie pluk by Capenny Estates. Xolani en Yoliswa Gumede besit en bestuur dié kommersiële waterkultuurplaas met 8,5 ha van dié lekker vrug. In die week word daar gewerk, want die plaas verskaf aarbeie aan groot winkelgroepe, maar elke Saterdag word ’n bietjie skiet gegee – hier’s gereeld iemand wat musiek maak in die skuur en lekker markkos is te koop.

Waar? Dis langs die D176 wat afdraai uit Esenembe-weg.

Oop Saterdae: 9 vm.-3 nm. binne seisoen (einde Julie tot einde Desember).

Koste R75 p.p. om aarbeie te pluk (plus R10 p.p. toegangsgeld) – dan kan jy jou houer tot boordens toe volmaak (tot sowat 1 kg). Die grootste uitdaging is om nie te eet terwyl jy pluk nie! 

Kontak 032 815 1168; cappenyestates.com

Knak ’n koue

Enige toeristedorpie wat sy sout werd is, het ’n goeie koffiewinkel en snuisterywinkels waar jy sleutelhouers en poskaarte kan koop, en deesdae ook ’n boetiekbrouery. Die Ballito Brewing Company (voorheen Great Railroad Brewing) brou nege goeie biere, gemaak van organiese hop al die pad van die Drakensberg af. Ongelukkig is hier nie ’n kroeg waar jy net kan inval nie, maar bespreek ’n paar dae vooruit vir ’n brouerytoer.

Ballito Brewing Company se boetiekbier is te koop in die meeste van die plaaslike kuierplekke en natuurlik by die brouery

Bierbrouery is ’n boeiende proses en dis lekker om so kuier-kuier saam met die brouer te toer. En dan kan jy boonop van die brouers Gary en Ursula Wilby se produkte proe, en ’n geskenkpak saam met jou huis toe neem.

As jou smaakknoppies smag na nog (probeer die Irish Red Ale of Shaka’s Impi Lager), kan jy dit by die meeste drankwinkels in die dorp kry, of ’n koue een by een van die plaaslike restaurante bestel.

Waar? Eenheid 13 in Canton Park, net langs die R102, Shakashead (net buite Ballito). Oop Bel om ’n brouerytoer te reël.

Koste R150 p.p. vir ’n toer, ’n proe van ses biere en drie biere om huis toe te vat.

Kontak 084 512 5263; greatrailroadbrewing.co.za

Saal op by Redwoods Riding Centre

Gaan op ’n galop

Die Redwoods Riding Centre is dié plek vir perdrylesse of -ritte in die Ballito-omgewing. Selfs al is die enigste ding wat jy van ’n perd af weet, dat jy nie agter hom moet staan nie, is jy welkom.

Shannon Hopkins, die passievolle instrukteur en assistentbestuurder, stel dit só: “Om tyd hier saam met die perde deur te bring het terapeutiese waarde vir baie mense. In hierdie moderne tye waar tegnologie ons almal regeer, is dit goed vir jou menswees om met diere en die natuur te doen te kry.”

Dit klink nogal soos iets wat baie van ons nodig het, maar as jy nog oorreding kort: Hoe klink ’n ontspanne ontbytrit (’n glas sjampanje ingesluit!)? 

Waar? Jy draai af van Esenembe-weg (sowat 15 minute van Ballito af). Jy moet vooraf bespreek – vra dan vir aanwysings. 

Oop Net op weekdae; bespreek vooraf vir ’n naweekrit. Koste R300 vir ’n rit van 90 minute. 

Kontak 032 942 6031; redwoodsridingballito.wordpress.com

Bederf jouself met 'n kledingstuk van Castaway Love.
Wat sê die mense?

“As jy hou van ’n bargain, gaan kyk by Castaway Love, ’n tweedehandsklerewinkel wat weggesteek is in ’n klein binnehof in die Umhlali-buurt (oorkant die Umhlali-voorbereidingskool, Ou Hoofweg). Die locals deel nie graag die plek nie. Tanya Stanissis en Mandy Gray, die eienaars, het ’n slag daarvoor om goeie tweedehandse klere op te spoor. Die winkel is al so gewild dat ’n tweede tak pas by The Lifestyle Centre in Ballito oopgemaak het, maar ek is dol op hoe eksentriek die eerste winkel is.

Volg hulle op Instagram (@castaway_love) vir foto’s van nuwe goed en snaakse video’s wat die susters bekend gemaak het.” – Rebecca Lund, Delish Sisters

Doen ’n wildrit

Die Rain Farm Game Lodge is die naaste wildplaas aan Durban en die King Shaka- internasionale lughawe – dis sowat 10 minute se ry van Ballito af. ’n Mens kan wildritte en begeleide staptoere doen (maak dit nóg lekkerder en bestel ’n piekniekmandjie of bottel vonkelwyn), die restaurant het ’n mooi uitsig en hier’s heelwat blyplek – van safaritente tot chalets.

Dis dalk nie Groot Vyf-wêreld nie, maar jy kan heelwat kleiner wild soos sebras, volstruise en kameelperde tussen die golwende heuwels sien. Hulle beplan ook om binnekort ’n spa oop te maak.

Waar? Draai af van Esenembe-weg. Oop Dagbesoekers is welkom van Vrydag tot Sondag: 7 vm.-4 nm.

Koste Wildritte van R180 per volwassene; R90 per kind

Kontak 032 815 1050; rainfarm.co.za

Strand toe!

Moenie dat al die nuwe trekpleisters jou aandag van die eerste prys aftrek nie. Ballito se strande het die plek bekend gemaak – hulle verdien dus respek! Die meeste locals beveel Thompson’s Bay en Granny’s Pool aan. As dié strande so vol is, laat dit jou dink aan ’n sardientjieblikkie – mik hoër of laer op met die kus en plant jou sambreel by Salt Rock en Sheffield Beach.

Hier is ook heelwat opsies vir mense wat eenvoudig nie vir langer as vyf minute op ’n handdoek kan lê nie.

Bespreek vir ’n brander- of vlieërplankles (Surfers Lifestyle; 032 946 0018), vlieg in ’n mikroligte vliegtuig met die kus langs (Ballito Microlight School; 082 659 5550), gaan soek vir Nemo op ’n begeleide snorkel-uitstappie of stap met laagwater deur die rotspoel (tidaltao.com). Jy kan laasgenoemde twee selfs saans doen!

Wat sê die mense?

“Ek beveel Christmas Bay in Sheffield Beach aan. Dis gewoonlik lekker stil omdat nie baie vakansiegangers daarvan weet nie. Daar is ongewone rotsplatforms om te verken en na die noorde toe is dit net see, sand, lug en bos so ver as wat ’n mens kan sien.

As joga jou ding is en jy in die vakansie wil oefen, maak ’n draai by die joga-instrukteur Lorna Bowman. Bel haar en kyk of jy een van haar klasse kan bywoon wat sy in haar huis in Valley-weg, Salt Rock, aanbied.” – Shannon Hopkins, Redwoods Riding Centre

“Ek is baie lief vir die strand. Dis tog hoekom mense hierheen kom. Ek gaan gewoonlik na Thompson’s Bay of Granny’s Pool.” – Kate Lund, Delish Sisters


EET HIER

Seared
Sage Café and Deli

Hier is baie restaurante in Ballito en omgewing – dis onmoontlik om hulle almal te noem. Hier’s ’n paar plekke waar die locals graag eet.

Sage Café Deli

Dié ruim restaurant het ’n tuin om die kinders besig te hou en is ideaal vir gesinsetes. Die kos (van pizzas en burgers tot risotto en Durban-kerriegeregte) is vars en geurig. En daarom wil almal hier wees; dit raak dus bedrywig oor naweke. Bespreek eerder vooruit.

Waar? Old Fort-weg, Salt Rock (langs The Litchi Orchard)

Oop Saterdag tot Donderdag: 8 vm.-4 nm.; Vrydag en in die vakansie-seisoen: 8 vm.-8 nm.

Kontak 032 525 8059; sagecafe.co.za

Seared

Dié plaaslike gunsteling is ’n ontspanne plek (met speelplek vir die kinders) vir goue oues soos steak, seekos en pizza.

Waar? Eden Village, Old Fort-weg, Salt Rock
Oop Woensdag tot Sondag: 10 vm.-9 nm.
Kontak 083 655 5864

Tree Natural Health Café & Yoga Studio

Moeg daarvoor om die enigste ou aan tafel te wees wat ’n burger sonder ’n bun bestel? Kom maak ’n draai by Tree Natural. Dit maak nie saak watse dieet of eetplan met ’n gewete jy volg nie (glutenvry, suiwelvry, streng vegetaries, net organies of paleo-dieet), hier gaan jy lekker eet: smoothies, stewige slaaie en wraps speel die hoofrol op die spyskaart.

Waar? Ballito Junction, Ballito-rylaan
Oop Maandag tot Saterdag: 7.30 vm.-7 nm.; Sondag: 7.30 vm.-5 nm.
Kontak 031 561 1169; treenatural.co.za

Siggi’s- Duitse Restaurant & Pub

As die pad na jou hart deur ’n bros eisbein en ’n Duitse bier loop, hoort Siggi’s op jou vakansieplan. Hulle bedien ’n reeks Duitse spesialiteite, asook boetiek- en ingevoerde bier.

Waar? Basil Hulett-rylaan 65, Salt Rock
Oop Elke dag van 11.30 vm. af
Kontak 032 525 7460; siggisgermanrestaurant.co.za

BLY HIER

Coco der Mer-boetiekhotel
Salt Rock

Hier is eindelose verblyfopsies in Ballito: vakansiehuise om te huur, kampplek, B&B’s, boetiekhotelle... Maar die dorp loop vinnig vol in die vakansieseisoen; bespreek dus lank vooruit – of maak jou reg om te vat wat jy kan kry. Ons kan hierdie plekke aanbeveel:

Salt Rock Hotel

Dié klassieke gesinshotel by die see het al die nodige geriewe: Restaurante, balkonne met ’n see-uitsig, groot grasperke, klimrame, ’n swembad, DStv, ’n spa, gratis Wi-Fi... én hier’s ’n getypoel. Hier is ook selfsorgeenhede en ’n kampterrein.

Waar? Basil Hulett-rylaan 59, Salt Rock

Koste Hotelverblyf: vanaf R900 p.p., ontbyt ingesluit; selfsorgverblyf: vanaf R640 p.n. vir twee mense, plus R160 p.p. wat bykom (slaapplek vir 4-6); kamp: vanaf R300 p.n. vir twee mense, plus R80 p.p. wat bykom (maksimum 6 mense per staanplek) 

Kontak 032 525 5025; saltrockbeach.co.za

The Saffron House

Dis een van die beste bed-en-ontbyt-opsies op die dorp. Dis sowat vyf minute se stap van die strand af, hier’s ’n swembad en al die kamers het lugverkoeling – nogal belangrik in die Desemberhitte!

Waar? Robbinsweg 15, Salt Rock

Koste Vanaf R710 p.p., onbyt ingesluit

Kontak 032 525 8707; thesaffronhouse.co.za

Coco der Mer-boetiekhotel

Is jou begroting net te knap vir ’n vakansie in Bali? Bespreek ’n paar aande in die Coco de Mer – ’n boetiekhotel in die hartjie van Ballito. Dis in ’n woud naby aan die see – met luukse suites met genoeg palmbome sodat dit voel asof jy op ’n eksotiese eiland is.

Waar? Compensation-kusweg 63

Koste Vanaf R1 100 p.p. (ontbyt ingesluit)

Kontak 032 946 1034; coco-de-mer.co.za