Die stapel boeke wat sy op die tafel neersit, beklemtoon Sheryn Nader se woorde: “Dís die dorp waar ek woon.” Ons ontmoet mekaar by die gewilde Barbertonse restaurant The Genesis vir aandete en pienk G&T’s. “Ek het sommer ’n paar boeke gebring om jou te wys hoeveel daar al oor dié dorp geskryf is. By die huis lê meer as 200 boeke met verwysings na Barberton.” Reëndruppels klater op die sinkdak bo ons – musiek vir Barberton se mense wat al hóé lank aan die droogte wurg.

Ons blaai Sheryn se boeke een ná die ander oop: Dynamite and Daisies deur Piet Meiring, Lost Trails in the Makhonjwa Mountains deur Bernard John Lovell de Souza, Grace H. Hall se No Time to Die en Hans Bronman se twee, Pioneers of the Lowveld en Cockney Liz: Legendary Barmaid of Barberton. Tussendeur deel Sheryn haar storie.

Sy’s ’n arbeidsterapeut en oorspronklik van Pretoria. “In die stad was daar beter werkgeleenthede, maar toe ek eers hierdie berge sien, het ek geweet dít is my tuiste.”

Sheryn is al 22 jaar lank hier – ’n druppel aan die emmer vergeleke met haar man, Mark, se familie wat al sedert die 1890’s hier woon.

En natuurlik skryf sy ook aan haar eie Barberton-boek. “Daar’s heelwat mense soos ek – ons is heeltemal behep met ons dorp, met sy geskiedenis en verhale.”

Háár boek handel oor die minder bekende dele in Barberton se ryk geskiedenis van die meer as ’n eeu sedert die goudstormloop tot vandag. Haar navorsing het reeds boeiende dinge opgelewer, soos die tonnelnetwerk onder die dorp: “Nugter weet hoekom dit gebou is, maar ek het op ’n kaart afgekom wat wys waar die tonnels begin. Die dorpsmense vermoed dit was dalk bunkers en dat dit iets met die Anglo-Boereoorlog te make het.

“Dan is daar ook die storie van die Nazi-spioen wat op Barberton gewoon het,” borduur Sheryn voort. En net toe klap die weerlig buite – die perfekte dramatiese agtergrond vir wat volg:

“Daar’s gerugte van ’n Duitse vliegtuig wat hoog bo in die berge geval het. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die ou Unie ’n groot militêre opleidingskamp buite Barberton gehad en ’n ou generaal het my vertel dat dié kamp om strategiese redes hier geplaas is: Daar was Duitse troepe op Madagaskar gestasioneer en hulle het duikbote in die Mosambiekkanaal versteek. Met dié dat Mosambiek en die ou Swaziland taamlik neutraal was, het die Unie bespiegel dat die Nazi’s moontlik die land uit dié hoek sou probeer inval.”

Ons pizzas is gereed en die gesprek draai in die rigting van goud. “Barberton se goudstormloop was een van die grootstes wat Suid-Afrika nóg beleef het, veel meer as Johannesburg s’n. Die delwer Edwin Bray se groef het in 1885 ’n enorme konsenstrasie goud opgelewer en vorm vandag deel van die Sheba-myn – die oudste goudproduserende myn ter wêreld.

Barberton se goudstormloop was een van die grootstes wat Suid-Afrika nóg beleef het, veel meer as Johannesburg s’n.

“Hoopvolles het van so ver as Alaska en Australië hierheen gestroom. In ’n stadium het tot ’n duisend ossewaens per dag op Barberton aangekom.

En dié met die regte konneksies het in weelde geleef: Hulle het gerolde dollarnote gerook, in sjampanje gebad en party breekware net vir ’n enkele maaltyd gebruik, waarna die borde sommer oor ’n skouer stukkend gegooi is. Daar het ’n buitengewone toestand geheers – die goudkoors.” 

Terug na daai Nazi-spioen

Die volgende oggend loer ek in by die private Barberton History and Mining Museum. Wynand Engelbrecht, die eienaar, wys vir my die ou koerantuitknipsels en leë medisynebotteltjies wat in die Volle Evangelie-kerk se solder versteek was – moontlik nog ’n bevestiging van die Nazi-spioen...

“Dit wil lyk asof iemand in die dak gewoon het,” vertel Wynand. “Al die uitknipsels handel oor mediese gevalle, dokters en hospitale.”

Die storie loop dat die sogenaamde spioen glo ’n mediese dokter was wat – vermom as ’n klavier-onderwyser – tydens die Tweede Wêreldoorlog in Suid-Afrika aangekom het. In die klavier wat hy saamgebring het, was ’n Morsekode-masjien versteek.

“Daar is ’n hele paar klopjagte op die man se huis uitgevoer, maar hulle het nooit iets verdags gekry nie. Toe hulle uiteindelik op ’n dag die masjien in die klavier ontdek, het die Duitser op die vlug geslaan en die kerk se mense het hom versteek.” Die spioen is later gevind en gearresteer.

Wynand is ook die eienaar van Dusty Tracks, ’n toermaatskappy wat spesialiseer in 4x4-roetes, myn- en staptoere en ook panwassing. Die museum het byna per toeval ontstaan, vertel hy.

“Die koffiewinkel met die geskenkwinkel hier langsaan – Die Plaaskombuis en Back 2 Basics – was ons familie se eiendom. Toe ek besef my onderneming gaan ’n kantoor nodig hê, het ek hier ingetrek. Die museum het as ’t ware posgevat rondom my lessenaar in ’n leë vertrek! Ons het al die oudhede wat vandag hier staan, oor sowat vier jaar versamel en 90% van die museum se inhoud kom uit die Barberton-omgewing.”

Langs Wynand se lessenaar staan ’n klavier (nie die spioen s’n nie!) en ’n foto van Barberton se beroemde kroegmeisie, bordeeleienares en sakevrou, Cockney Liz. Op dié klavier het sy elke aand gespeel en liedjies gesing, waarna sy haarself dan aan die hoogste bieërs “verkoop” het. Liz het genoeg geld verdien om die Red Light-kantien te koop en ook die Royal Albert-saal te bou.

“Ja-nee, almal sal jou ’n ding of twee omtrent Cockney Liz kan vertel, maar die dorp het eintlik ’n hele rits interessante karakters gehad,” grinnik Wynand. “Hier het glo ’n vrou genaamd Trixie gewoon wat saans, wanneer die manne te veel dop gesteek het, hulle een-een in ’n kruiwa sou huis toe stoot en dan rot en kaal besteel. En dan was daar die mooie Florrie wat niemand ooit in ’n armdrukkompetisie kon ore aansit nie.”

Wynand se museum huisves ook ’n versameling ou gesteentes. “Dís moontlik die oudste ding op aarde wat jy in jou hande kan vashou,” sê hy en tel ’n rotsbrok genaamd komatiïet op. “Dis 3,5 miljard jaar oud.” Hy wys my ook hoe sogenaamde moddersteen lyk. “Dié rots is sowat 3,2 miljard jaar oud en bevat versteende duikies van reëndruppels.” Wynand weet ek het nog ‘n paar draaie om te ry en knip sy praatjie oor gesteentes kort: “Waarheen is jy volgende op pad?”

Ek het ’n afspraak met Tony en Sandy Ferrar. Sandy is ’n skrywer en Tony ’n ekoloog. Maar almal beskou hom ook as ’n geoloog én ’n bietjie van ’n cowboy. Wynand gee weer sy laggie: “Geoloë is enig in hulle soort! Tony help my juis om ’n paar staproetes in die berg te merk. Hy’s al in die sewentig, maar laat die res van ons skaam kry wanneer hy ’n berg uitstap – dis net krapmerke wáár jy kyk; die bloed loop sommer teen sy bene af!

“Hy en Sandy sal nou nog die berge met hulle bakkie invaar. As hulle dan ’n pap band kry, is dit geen probleem nie – hulle slaap sommer nét daar!”

Terug tot by die (héél) begin

Ons kuier onder ’n pekanneutboom in die Ferrars se agterplaas. Van die neute val kort-kort grond toe wanneer die wind aan die takke pluk. Dié egpaar woon al sedert 2003 op Barberton. “Ek het sowat 20 jaar lank as konsultant vir nasionale parke in die SAOG-streek gewerk,” vertel Tony. “En toe het ons ’n ander lewe gesoek; op ’n klein dorp, maar nie te ver van ’n groter een af nie. Dit moet ’n lékker plek wees en op die ou einde het ons agter die berg aan hiernatoe getrek.”

Maar waar het hulle ontmoet as hy so baie rondgereis het, wil ek weet. Sandy het vir ’n SAUK-radioprogram genaamd Talking of Nature gewerk en op ’n dag stap Tony by die ateljee in. Sy vertel: “Hy het hom aan my voorgestel en gesê: die naam is Ferrar, soos ‘feromoon,’ en ek het gedink: ‘Sjoe, dáár’s jy nou reg!’”

Daarna het sy Tony op menige reis deur die SAOG-streek vergesel en selfs drie jaar in Malawi gewoon waar haar drie boeke, die Xafrica Volumes, hulle oorsprong het. “Die boeke gaan oor Tony, want hy’s die een wat al die avontuurlustige dinge aanvang!”

Haar mees onlangse boek, The Great Need, is oor Barberton – spesifiek die 30 jaar lange geskiedenis van die nonne van die orde van St. Francis wat die St. John’s-versorgingsentrum net buite die dorp bedryf.

Is daar al sprake van ’n nuwe boek? Sy huiwer ’n oomblik en loer vir Tony voordat sy antwoord: “Ja, dit gaan oor die drie maande wat ons in 2003 in die Kafue- nasionale park in Zambië gewoon het terwyl Tony ’n olifantnavorsingskamp opgerig het. Ek het notas gemaak van al die snaakse goed wat hy kwytraak – dinge wat sommer so uit die niet by hom sou opkom! Nou’t ek die idee om dié notaboek soos ’n plakboek te publiseer, aangevul deur foto’s van Tony uit sy kinderdae, totdat... “ Sy bly stil en blaai ’n paar keer dié notaboek. “Ek wéér ’n kind geword het,” skerts Tony.

Tony is een van die stigterslede van die Barberton-georoete wat die eiesoortige geologie van die Makhonjwaberg ten toon stel. Hy was ook voorsitter van die komitee wat daarop aangedring het dat die gebied tot ’n Unecso-wêrelderfenisgebied verklaar word.

Die Makhonjwaberg – in geleerde kringe bekend as die Barberton-groensteengordel – bevat van die oudste en besbewaarde gesteentes op aarde en dateer sowat 3,5 miljard jaar terug. “Die preserveringgedoente het my nuuskierigheid geprikkel,” vertel Tony. “Hoe kon klip gepreserveer word? Wel, wanneer die plate in die aardkors teen mekaar bots, word rots gewoonlik terugforseer in die aardmantel waar dit dan nog ’n keer as ’t ware ‘gekook’ word.

Die Makhonjwaberg – in geleerde kringe bekend as die Barberton-groensteengordel – bevat van die oudste en besbewaarde gesteentes op aarde en dateer sowat 3,5 miljard jaar terug.

“Maar die interessante ding is dat die gesteentes wat hierlangs voorkom, nie verweer, gekook óf verskuif is nie. Die berge is in der waarheid begrawe – onder hulle was ’n matras en bo-oor ’n donskombers, en só het hulle 3 miljard jaar lank onverstoord gesluimer.”

Tony het die belangrikheid hiervan in 2007 besef toe die teerpad tussen Barberton en Piggs Peak gebou is en hy die omgewingsbeampte vir die projek was.

In die deurgrawings kon ’n mens die ontblote rotslae sien lê, en dit het die Duitse geoloog Christoph Heubeck geïnteresseer. Saam het dié twee die Barberton- Barberton Makhonjwa Geotrail-gidsboek geskryf. Die Georoete is in 2014 geopen en in Julie 2018 tot ’n Unecso-wêrelderfenisgebied verklaar.

Die gids Mandla Sifunda voor die Belhaven-huismuseum
Belhaven-huismuseum

Die volgende oggend staan ek en Tony by die Tidal Sandstone-aftrekplek op die Georoete, sowat 7 km buite die dorp. “Hier kan jy mooi sien hoeveel beweging in die aardoppervlak is,” sê hy. “Dié gesteente is in ’n diepsee-omgewing gevorm; dit was eens seevloer. En toe is dit tot by die spits van die berg uitgestoot, waar dit gekraak en in brokke teen die berghelling afgerol het.”

By nog só ’n aftrekpunt skink my gids ’n bietjie water oor die sogenaamde Biomat Boulder en ek kan dadelik iets in die nattigheid waarneem: Dun swart strepies staan nou teen die vaal rots uit. Tony verduidelik: “Dis lagies “biomat,” oftewel bakterie-agtige organismes. Wanneer ’n rivier of ’n kuil aan die opdroog is, sien ’n mens ’n slymlaag vorm. Nou dís ’n soortgelyke ding – hierdie skepseltjies is soos die scoby (dit staan vir symbiotic culture of bacteria and yeast) wat jy in ’n bottel kombucha aantref.”

Hy beduie na ’n plek teen die rots waar die horisontale lyntjies na bo krul. “Geoloë noem dit fluid escape features. Die biomats is hier stadig saamgepers totdat die drukking hulle doodgemaak het. In dié proses het die biomats ’n gas afgeskei. Jy kan maar sê dis ’n versteende windjie!”

Ek giggel onderlangs en verkyk my aan die biomats. Dis van die heel oudste bewyse van primitiewe lewe op aarde, wat ’n mens met die blote oog kan waarneem. Barberton is inderdaad ’n plek rýk aan geskiedenis – ons land én die aardbol s’n. 

DOENDINGE

Ervaar goudkoors

’n Mens kan op verskeie uitstappies saam met Dusty Tracks gaan, van staproetes in die Mountainlands-natuurreservaat, spoelgoud soek, ’n myn besoek of selfs na die Kruger of die Koninkryk van eSwatini ry.

“Ons dag lange alles-in-een-toer is die gewildste,” reken Wynand. “Op ’n draai van 50 km ry ons ’n ent deur Mountainlands, gaan kyk hoe lyk die murasies van die ou myndorpie Eureka City, besoek Edwin Bray se Golden Quarry en die Sheba-myn én ons gaan panwas vir spoelgoud in die Suid-Kaaprivier by die Digger’s Retreat-hotel. Dis die hele goudstormloopervaring!”

Koste: R795 p.p. (minimum 4 per groep) vir ’n toer van sowat 6-7 uur.

Kontak: 072 668 4063 (Wynand); dustytracks.co.za

Bekyk klippe

Pak ’n piekniekmandjie en volg die Georoete. Dis 38 km lank en begin by die afdraai na Barberton waar die R38 en R40 kruis (wees op die uitkyk vir die kunstenaar Nukain Mabuza se tuin vol geverfde klippe) en eindig by die Bulembu-grenspos. Hier’s 11 aftrekpunte langs die pad, elkeen met ’n inligtingsbord oor die gesteentes, die uitsig, plante, diere, kultuur en geskiedenis van die omgewing. Sit ses uur opsy.

Nie soveel tyd nie? Hou dan stil by die Makhonjwa-Lebombo-uitkykpunt 25 km buite die dorp – dis ’n eenstop-aftrekplek met ’n uitstalling van al die gesteentes langs die roete.

Koste Koop die Barberton Makhonjwa Geotrail-gidsboek by die Barberton-museum in Pelgrimstraat, die History and Mining Museum of by Bushwhacked vir R150. Tony Ferrar se halfdagtoer kos R800 vir ’n groep van tot 16 mense, daarna kos dit R50 per ekstra persoon.

Kontak: 072 376 2581 (Tony); geotrail.co.za

Die Barberton-museum het argeologiese, kulturele en myn-uitstallings. Lees ook in Weg #171 ’n volledige artikel oor die Barberton-georoete.

Barberton-tuinsentrum

Drentel deur toeka se dae

Dié twee museums is ’n besoek werd: Die Belhaven-huismuseum (Judgestraat 24) dateer uit 1904 en is ’n goeie voorbeeld van die destydse opslaanhuise van sinkplaatmure met gedrukte staalpanele aan die binnekant. “Jy sal nog heelwat ou huise in Suid-Afrika teëkom waarin dié soort versiering teen die plafon aangebring is, maar hier het hulle dit sommer oraloor gebruik,” verduidelik die toergids Mandla Sifunda. “Daar’s geen logiese rede nie – ons vermoed die eienaar het baie van die voorkoms gehou.”

Die huis (wat laasjaar gerestoureer is) is in ’n laat Victoriaanse en vroeg Eduardiaanse styl gemeubileer en toon hoe die welgestelde middelklas daardie dae geleef het. Mandla se kennis oor die huis, die mense wat hier gewoon het en Barberton in sy geheel is reeds genoeg rede om die statige Belhaven te besoek.

Die Stopforth-huismuseum (Bownesstraat 18) waar die bakker en algemene handelaar James Stopforth gewoon het, is in 1886 gebou. Hier tref ’n mens nog die oorspronklike huishoudelike items aan wat die Stopforths van hulle intrek tot in 1914 gebruik het.

Die toergids Henry Sibande vertel: “Die bakker se twee seuns was skrynwerkers, en jy sal al hulle handgereedskap nog in die werkswinkel in die tuin aantref.”

Inderdaad – hier’s omtrent 1 000 stukke van die tange, sae, bore en beitels wat die broers vir hulle werk as meubelmakers, bouers, grofsmede en hoefslaners gebruik het.

Koste: Gratis. Die museums is deel van die Erfenisroete – kry ’n kaart van die roete by die Barberton-museum (013 712 4208).

EET HIER

Die Barberton-tuinsentrum

“Ek verander die spyskaart elke dag afhangend van waarvoor ek lus voel,” sê Elna van Niekerk. Sy bak gewoonlik ’n soetdingetjie en ook ietsie souts.

Ek het die quiche en slaai (R50) en sjokoladekoek met karamel en room (R25) bestel. Elna is ’n plantkenner en weet watter plante uit die kwekery ook in die kombuis pas, soos spekboomblaartjies wat ’n pikante smakie aan slaai gee en Nieu-Seelandse spinasie wat net soos peulertjies proe!

Oop: Weeksdae van 9 vm.-5 nm. Oor naweke sluit die tuinsentrum om 2 nm.

Waar? Kellarstraat

Kontak: 082 575 9171; barbertondaisygrowers.co.za

The Genesis

Vra maar enige local waarheen jy vir aandete kan mik, en die antwoord sal wees: Genesis. Die gebou dateer uit 1885 en was eens ’n woonhuis. Dit neem ’n mens ’n rukkie om jou bestelling te plaas, want die spyskaart is vol Barberton-leesstof.

Hier’s ’n restaurant en ’n deli wat bekend is vir sy vleis, boetiekjenewers en -bier. Die pizzas is onverbeterlik! Probeer gerus die een met biltong, roketblare, fetakaas en balsemiekasyn (R98).

Oop: Di., Wo. en Do. van 9.30 vm. -10 nm., Vr. en Sa. van 7.30 vm.-10 nm. (kombuis sluit om 8.30 nm.) en So. van 8.30 vm. tot 6 nm. (kombuis sluit om 5 nm.)

Waar? Judgestraat 18

Kontak: 013 712 2319

Die Plaaskombuis

By dié koffiewinkel en restaurant kan jy binne aansit óf buite op die stoep onder die koelte van ’n wilde-vyeboom. Die opsies is wyd: ontbyt, burgers, sloppy Joe’s, slaaie, wraps, selfs eisbein. Ek het ’n braaibroodjie met skyfies en slaai (R48) bestel.

Oop: Weeksdae. van 8 vm.-5 nm. Naweke sluit die kombuis om 2 nm.

Waar? De Villiersstraat 75 (verskuif eersdaags na Pelgrimstraat)

Kontak: 076 154 9629

Barberton Mountain Lodge

BLY HIER

Bushwhacked

Aan die buitewyke van die dorp is vier selfsorgeenhede en ’n kampterrein. Ek het in die oulike Woodshed-chalet (slaapplek vir 6) oornag. Een oggend is daar skielik ’n hárde klop aan die deur. Of wag ’n bietjie... die klank kom dan van bó? Twee rooikophoutkappers was aan ’t timmer teen ’n groot flambojant buite, en dieper die bosse-in kon ek bobbejane hoor blaf.

Koste: Vanaf R550 p.n. vir ’n dubbelkamer en R100 p.p. vir kamp.

Waar? Volg Kellarstraat verby die Barberton-tuin- sentrum tot aan die rand van die dorp waar jy ’n aanwyser sal sien.

Kontak: 073 691 5646; bushwhacked-barberton.business.site

Barberton Mountain Lodge

Die rit tot by Berghuisie en Houthuisie is net so indrukwekkend soos die uitsigte wat ’n mens van hierdie twee selfsorgchalets af kan geniet. Alles is met uitsigte in gedagte beplan – van die stoep en plonspoel tot die buitestort. Elke chalet het 2 kamers met slaapplek vir 5.

Van hier af kan jy verskeie voetpaadjies teen die berg verken en Lone Tree Hill (waar deelnemers aan die nasionale valskermsweefbyeenkoms wegspring) is binne bereik.

Koste: Vanaf R420 p.p. Waar? Sowat 7 km suid van die dorp. Moenie Google Maps se aanwysings hierheen vertrou nie – die eienaars sal die pad verduidelik wanneer jy bespreek.

Kontak: 082 258 2583; 082 091 2347

Fountain Baths Guest Cottages

Die Fountain Baths dateer uit 1884 en is Barberton se oorspronklike badhuis waar die gouddelwers hulle kon kom was. Die swembad agter die hotel is deur die voormalige eienaar, ene mnr. Rose, gebou. Dit kry sy water uit Rose se Spruit en word gereken as die oudste swembad in die Ou Transvaal. “Waar die gesinskamers nou is, was eens die badhuis se kleedkamers,” vertel die huidige eienaar, Esmari Rowan-Harrod.

Die sewe selfsorgeenhede het slaapplek vir twee of vier mense en elkeen het toegang tot die tuin en swemplek. Bespreek vooraf indien jy aandete en ontbyt wil hê. Hier word soms musiekkonserte gehou.

Koste: Vanaf R415 p.p.

Waar? Pelgrimstraat 48 Kontak 013 712 2707; fountainbaths.co.za

DAGBOEK

Die Barbertonse nasionale valskermsweefbyeenkoms vind plaas van 13 tot 19 Junie. Swewers spring van Lone Tree Hill af en land by die gholfklub.

Kontak: 083 462 1616

Begin volgende jaar jou bergfiets-kalender op 30 Januarie met die jaarlikse Barberton XCM Mountain Bike Challenge. Daar’s ’n maklike 20 km-roete (R90 per deelnemer), of jy kan die 110 km-marathon (R280) takel.

Kontak: 071 284 7444; barbertonxcm.co.za

Gaan na barberton.co.za of kontak die toerismekantoor by 082 959 6670.


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook