foto’s Evan Naudé
Roetes wat roep

Die N7 is aansienlik meer as net die pad van die Kaap af Namibië toe. Sodra jy aftrek op die grondpaaie en begin rondsnuffel in die omgewing weerskante van dié bekende hoofpad, sien jy daar is oral weggesteekte bly- en kampplekke wat jy nie van die teerpad af kan sien nie. Dié plekke is nie net lekker afgeleë naweekbestemmings nie, maar bied ook die geleentheid om jou bakkie in 4x4 te haak en spore te gaan trap waar dit net jy en die stille natuur is.

Die Gifberg-gasteplaas naby Vanrhynsdorp is só ’n plek.

Só ry jy

Die roete begin digby die werkershuisies sowat 350 m wes van die plaashuis. Dis ’n lineêre roete tot by die Doringrivier, waar jy dan omdraai en weer in jou spore terugry.

Nadat jy deur die vlak driffie anderkant die huisies is, word die pad byna onmiddellik ’n tweespoorsandpaadjie (en jy ry dalk in diep trekkerspore, want as jy links kyk, sien jy hier word ook met rooibostee geboer).

Dis nie taai sandry nie, maar dit is nie ’n slegte idee om jou bande effens af te blaas nie – die eienaar beveel 1,8 bar aan. Die sandspoor klim geleidelik tot op die platorand, en vir die volgende paar kilometer word jy omring deur teebossies weerskante van die pad. Dis eers wanneer jy die rivier nader dat die sand skielik verdwyn en deur klip vervang word. As jy nog nie in 4x4 is nie, is dit nou die tyd, want die laaste 4 km tot by die rivier is die eintlike interessante deel van die roete. 

Doringrivier
LEKKER LANGS DIE RIVIER. Die Bruinkransroete se makker dele vat jou verby rye teebossies en tweespoorsandpaaie, maar nes jy dink dinge is té rustig, duik daar ’n paar steil klipbanke op. Uiteindelik bereik jy die omdraaipunt op die oewer van die Doringrivier.

Kort nadat die pad klipperig begin raak, sal jy ’n bordjie kry wat “Camp Berta” na regs aandui, maar as jy net ’n gewone 4x4-voertuig ry, hou eerder reguitaan vir “Camp Bruinkrans”. Die pad na Berta is net sowat 200 m tot by die rivieroewer, maar dis smal en daar’s een hengse klipbank wat soos ’n miniatuurweergawe van die een op Van Zylspas in jou pad lê. Jy kan dalk versigtig na onder ry, maar as jou bakkie nie gelig is en ’n paar lekker tekkies op het nie, gaan jy sukkel om weer uit te kom.

’n Hele paar bakkies is al met ’n trekker hier uitgesleep. Die pad na Bruinkrans is makker, maar daar is nogtans ’n paar reusagtige klipbanke en fyn draaitjies waar jy jou lyn mooi moet kies. Die pad sak af tot op die oewer van die Doringrivier waar jy die Bruinkrans-kampplek kry. Jy kan hier kamp as jy wil, maar hier is geen geriewe nie.

Bring jou verkyker om voëls te kyk, en ’n swembroek waarin jy in die rivier kan afkoel.

En as jy lief is vir visvang, kan jy gerus probeer om geelvis, swartbaars of kurper aan die hoek te kry.

Wat jy moet weet

4x4/laestrek/ewenaarslot? Beslis 4x4 en laestrek, maar ’n ewenaarslot is nie nodig nie, tensy jy vir Berta wil aandurf.

Kry ek ’n kaart? Ja, plus ’n roetebeskrywing. Die roete is egter maklik om te volg en mooi uitgemerk.

Hoe lank vat dit? 22 km, 2-3 uur.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Dis nie nodig nie.

Kan ons langs die pad braai? Daar is ’n lekker braaiplek by die kampterrein langs die rivier, maar jy moet jou eie braaitoerusting en hout bring.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Net aan die bokant van die canyon; nie onder by die rivier nie.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? In die blommeseisoen (Julie tot Oktober).

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Albei. Jy kan die roete op ’n oggend of na-middag doen, maar met die pragtige kampplek langs die rivier gaan jy langer wil bly.

Is daar ablusiegeriewe? Nie op die roete nie; net by die plaashuis.

Aanwysings Draai op Vanrhynsdorp suid uit Voortrekkerstraat en volg die grondpad teen die Gifbergpas uit.

GPS S31.809253 E18.783783

Wat kos dit? R80 p.p. (R50 vir kinders).

Kontak  027 219 1555;  info@gifberg.co.zagifberg.co.za