Luiperd, Houtbaai

Op ’n skemeraand misgis ’n mens dié standbeeld bo Houtbaai se strand maklik vir die ware Jakob. Ongelukkig is daar laas in 1930 ’n lewende luiperd teen die hange van Tafelberg gewaar, maar dié bronsbeeld is in 1963 opgerig om ons te herinner aan hoe ingrypend ontwikkeling op diere se natuurlike habitat kan wees.

Beeldhouer: Ivan Mitford-Barberton

Waar? Aan die noordelike punt van Chapmanspiek-rylaan.

GPS: S34.04874 E18.36112

Bekyk nóg grootkat-standbeelde by die Rhodes-gedenkteken bo die Universiteit van Kaapstad se kampus. Die leeus wat hier op die trappe lê, is gebaseer op hulle eweknieë op Trafalgarplein in Londen, maar die beeldhouer, J.M. Swan, kon net sowel sy inspirasie vind by die lewendige leeus wat tot so onlangs as 1975 nog by die nabygeleë Groote Schuur-dieretuin te sien was.

Die standbeeld van 'n luiperd bo Houbaai se strand. Foto: Gretchen Dietz

Jock van die Bosveld, Barberton

Jock is sekerlik die beroemdste hond in Suid-Afrika. Hoewel hy die swakkste van sy werpsel was, word dié brakkie vir sy dapperheid onthou en daar staan ’n hele paar monumente van hom in die Bosveld. Die mooiste een is op Barberton.

Jock se baas, die transportryer sir Percy Fitzpatrick, het dié hondjie se avontuurlike lewe in sy kinderboek, Jock of the Bushveld, opgeteken. Die verhaal voer ’n mens terug na die laat-1800’s en vertel die storie van die liefde tussen ’n man en sy hond, en die twee se belewenisse op die ou transportroete tussen Lydenburg se goudvelde en die ou Lourenço Marques (nou Maputo).

Vir ’n hond wat talle noue ontkominge in sy lewe gehad het, het Jock eintlik op ’n aardige manier aan sy einde gekom – hy is per ongeluk doodgeskiet toe ’n handelaar hom misgis het vir ’n rondloperbrak wat sy hoenders doodgebyt het.

Beeldhouer Ivan Mitford-Barberton

Waar? Voor die stadsaal in Generaalstraat, Barberton.

GPS: S25.78996 E 31.05195

Nog ’n Jock-monument is te sien by die Jock Safari Lodge in die Krugerwildtuin. Dit is ’n uitbeelding van die jong hondjie wat met ’n swartwitpens slaags raak. (Die animasiefliek Jock the Hero Dog – waarin Bryan Adams die stem van Jock vertolk – is ook op sy lewe gebaseer.)
Foto: Erns Grundling

Just Nuisance, Simonstad

Just Nuisance het as lid van die Britse Vloot in Suid-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog sy rol ernstig opgeneem. Dié Deense hond het gereeld seemanne wat te diep in die bottel gekyk het, terug barakke toe vergesel – ’n taak wat hom geleer het hom om sonder toesig trein te ry!

Just Nuisance se oorspronklike eienaar, Benjamin Chaney, was die hoof van die Verenigde Dienste-instituut in Simonstad, maar enigeen op die vlootbasis kon hom vir ’n stappie neem en só het hy binnekort almal se hond geword en vry rondgeloop.

Nuisance se treinryery was egter nie vir almal so vermaaklik nie en toe ’n briesende kondukteur dreig om hom te laat uitsit, moes die vlootmanne gou ’n plan beraam om hom te red. Hulle petisie het gesorg dat hy amptelik deur die vloot in diens geneem word, waarna hy as ’n volwaardige matroos die reg gehad het om gratis van openbare vervoer gebruik te maak.

Beeldhouer Jean Doyle

Waar? Op die Jubileeplein aan St. Georgesstraat, Simonstad.

GPS: S34.19258 E18.43354

Olifante, Letaba

Stel jou voor: Die olifantbegraafplaastoneel uit The Lion King, maar minus die mal hiënas, en plus prettige en opvoedkundige feite. Dis wat in die Olifantsaal op jou wag – olifantgeraamtes en replikas van die tande van die Kruger se Manjifieke Sewe – Dzombo, Joao, Kambaku, Mafunyane, Ndlulamithi, Shawu en Shingwedzi.

Waar? In die Krugerwildtuin se Letaba-kamp.

GPS: S23.85360 E31.574705

Daar is nog ’n olifantmonument in die Addo-olifant- nasionale park – die opgestopte kop van Hapoor, die reservaat se legendariese dominante bul, hang in die hoofruskamp. Die gat wat ’n jagter se koeël uit sy oor geruk het, is duidelik sigbaar. Dié insident het Hapoor met ’n blywende renons in mense gelaat.

Foto: Viliiers Steyn

Kamele, Upington

Voor die dae van wit bakkies met flitsende blou ligte het die polisie ’n bietjie anders gelyk – veral in die ou Suidwes-Afrika, waar polisiemanne die woestyn op kamele gepatrolleer het.Volgens oorlewering was party van dié polisiekamele oorspronklik deel van Saali Solomons’ Travelling Egyptian Circus, ander het weer in die Tweede Wêreldoorlog gedien.

Die koms van die bakkie in die 1950’s het die aftrede van dié kamele beteken.

Beeldhouer Brigadier Buks van Staden

Waar? Buite die polisiestasie in Schroderstraat, Upington.

GPS: S28.44995 E21.25945

Foto: Sam Reinders


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #126 (April 2015) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien.