Die Kaapse sjef Freddie Barnard ken van kosmaak op ’n tweeplaatstoof – sy eerste kookboek, LeStoof, het onlangs verskyn. Kyk hier hoe maak hy 'n anderste aartappelslaai met biltong en bloukaas in.

Jy benodig

(genoeg vir 4-6)

  • 1 kg baba-aartappels
  • 3 hardgekookte eiers
  • 1 wiggie (100 g) bloukaas, gekrummel
  • 1 ui, fyngekap
  • ½ koppie (125 ml) mayonnaise
  • 1/3 koppie (80 ml) gewone jogurt
  • sout en grofgemaalde swartpeper
  • 300 g beesbiltong, gekerf

Só maak jy

1. Kook die aartappeltjies in soutwater tot hulle lekker sag is. Trek die skilletjies af terwyl hulle nog warm is en laat die aartappels afkoel.

2. Rasper die eiers of druk hulle fyn en meng dit met die bloukaas en gekapte ui. Sprinkel dit dan oor die aartappels.

3. Meng die mayonnaise en jogurt, geur dit met sout en peper, en gooi dit oor die res van die slaai. Meng alles versigtig deur – die aartappels moet in stukkies breek, maar jy wil nie kapokaartappels hê nie.

4. Roer laastens die biltong by.



Wenk: Hierdie smaaklike aartappelslaai is heerlik saam met enigiets van tjops en wors tot gebraaide hoender.