Braai en Borrel. Die gemeenskaplike braaigedeelte is nommerpas vir wanneer julle as ’n groep wil saam kuier, maar jy kan ook jou vuur hier kom maak as die weer goor is. Die jacuzzi is in die gebou langsaan en jy kan vir jou ’n tydgleuf bespreek om jou bekommernisse weg te borrel.
Foto’s: Schalk Jonker

Niemand het veel van ’n uitnodiging nodig om in die Bosveld te gaan kamp nie. Min dinge klop ’n hardekoolkampvuur wat hoog brand terwyl die son agter die horison verdwyn. Sommige mense verwys daarna as Bosveld-TV, só salig is dit.

As jy egter jou kinders se mening vra, sal jy hoor hulle stel aansienlik minder in die Bosveld-TV belang en verkies veel eerder om sonder ophou op waterwurms en in warmwaterswembaddens te baljaar. Hier by Bela-Bela behoort julle almal geholpe te raak.

ATKV-KLEIN-KARIBA

Gaaf en gewild

Hierdie bekende ATKV-oord is een van dié gewildste kampbestemmings in Suid-Afrika, en dis nie moeilik om te sien hoekom soveel mense hierheen stroom nie. Dit is ’n raps meer as ’n uur se ry van Pretoria af en die versinnebeelding van gesinsvermaak.

Hier kry jy doendinge te kus en te keur, vir almal, ongeag hoe oud hulle is. Tussen die warm- en kouewaterswembaddens, waterwurm, minigholf, wildritte, staproetes, kortystergholfbaan, perdry, verfbalbaan en trapbootjies op die dam (waar jy ook kan hengel) is hier geen verskoning vir enigiemand in jou geselskap om te kla hulle is verveeld nie.

Klein-Kariba is op ’n wildplaas van digby 600 ha en lê minder as 10 km van Bela-Bela af op die Modimollepad. Jy draai links by die hek in en handel die papierwerk in die bedrywige ontvangskantoor af waar jy ook jou vooraftoegekende staanpleknommer kry.

Die woonwapark lê in ’n lang strook regs van die spruitjie wat in Maart 2014 sy walle oorstroom en grootskaalse verwoesting gesaai het. Die ramp het meer as R50 miljoen se skade aangerig en ook twee lewens geëis, maar die oordmense het sedertdien die terrein heeltemal herstel.

Die staanplekke lê weerskante van die pad wat deur die kampterrein loop, met dié aan die regterkant van die pad wat oorwegend groter is as dié aan die linkerkant. Van die staanplekke links is ook in twee verdeel, maar hulle word meestal aan tentbewoners toegeken.

Hier is nie gras om oor huis toe te skryf nie, maar elke staanplek het ’n plaveiblad waarop jy jou wa trek. ’n Mens kan sien die bome – waaronder raasblaar, doring en karee – is nie gister geplant nie; op die meeste kampkolle het jy êrens deur die loop van die dag koelte.

Die swembadgedeelte is die grootste attraksie hier en dis ook waar jou kinders – én jy – die meeste van julle tyd gaan deurbring.

Sommige van die staanplekke het ook groot skadunette oorgespan en daar is selfs ’n rioolkoppeling.

Jy hou skaars stil of die oord se werkers is daar om hand by te sit met jou opslanery. Jou bloupropkragpunt gaan dalk ’n entjie van jou staanplek af wees, wat beteken jy moet liefs maar ’n verlengkoord saambring.

Jy kry ’n losstaande staalbraaier met ’n rooster wat jy kan skuif waar jy hom wil hê, en jy deel ’n vullisdrom met jou bure. Gepraat van bure… as dit by privaatheid kom, is hier nie veel skeiding tussen die staanplekke nie en julle is bewus van mekaar se doen en late.

As jy egter die kort lootjie trek en langs die agt manne kamp wat Franna se ramparty oor ’n kampnaweek kom vier, is die sekerheidspersoneel streng en word enige oordrewe geraas of musiek gou in die kiem gesmoor.

Onthou die kinders se fietse. Hulle kan na hartelus rondry, maar die kampterrein is ook ’n entjie van die speelplek en swembaddens af.

Hou jou tent toe en jou kos dig weggebêre wanneer jy nie by jou staanplek is nie. Hier is blouapies wat nogal ’n oorlas kan wees en hier stap die heeltyd ’n man met ’n verfbalgeweer rond om hulle te verjaag. Weerstaan tog die versoeking om die apies self met ’n kettie die stryd aan te sê. Die oordreëls verbied dit en jy kan op die rooi tapyt beland.

Doen ’n ding

Die swembadgedeelte is die grootste attraksie hier en dis ook waar jou kinders – én jy – die meeste van julle tyd gaan deurbring. Dis ’n goeie 500 m se stap van die kampterrein af tot by die eerste warmwaterswembad en jy stap verby dié teen ’n bult op tot by die groot warmwaterswembad wat die middelpunt van die aksie is.

Hier is ’n groot grasperk om die swembad met heerlike koeltebome waar jy jou kan kom tuismaak terwyl die kinders swem. Langsaan is die kleintjies se swemplek. Dié het ’n skadunet oor én sy eie glyplank, en aan die ander kant van die groot swembad is die onderwaterswemplek waar die water selfs warmer is. Julle mag nie hier met ’n bal kom speel of bommies in die water maak nie.

Die waterwurm en minigholfbaan is ’n entjie verder teen die bult op. Die ingang na die oordwinkel is aan die ander kant van die onderdakswembad. Dit is presies wat jy van ’n ATKV-oordwinkel verwag en jy kan hier enigiets van bevrore vleis tot hout en hardehout en selfs tydskrifte en sonroom koop. Hier is ’n kitsbank en kaartgeriewe. Die speletjieskamer is langs die winkel en die kinders kan mekaar hier op die pool-tafel kom uitdaag of videospeletjies en tafelsokker speel.

Die restaurant, Koswerf, is ook in dié deel van die oord en julle kan hier kom aansit vir ontbyt, middag- of aandete. Die winkel en restaurant is albei oorgedoen ná 2014 se vloedskade.

As jy jou hengelgerei saamgebring het, kan jy jou lyn in die dam aan die ander kant van die kampterrein natmaak. Jy kan onder meer ’n swartbaars aan jou hoek kry, maar jy moet hom teruggooi nadat jy jou foto geneem het.

Heel tuis. Dit is maklik om te sien hoekom ATKV-Klein-Kariba só ’n gewilde bestemming is. Die kampterrein is netjies en skoon, die oordpersoneel is vriendelik, en hier is doendinge te kus en keur vir die hele gesin.

Hier is ook trapbootjies te huur. Kranige gholfspelers kan hulle stokke saambring en op die kortystergholfbaan aan hulle kortspel kom skaaf, of jy kan die wêreld op ’n quadfiets verken of ’n wildrit geniet. Reël dit met die oordmense.

Hier is ’n goeie vyf staproetes in en om die oord wat wissel van ’n halfuur se rustige stap tot een wat jou vir langer as drie uur kan besig hou.

Skroppensboer

Hier is twee moderne ablusieblokke in die kampterrein met min of meer dieselfde geriewe, en dit word deurgaans skoongehou. Die eerste een is in die middel van die onderste deel van die woonwapark en die tweede ’n entjie hoër op.

In die mansgeriewe is vier wasbakke en ’n laer een waar Kleinjan sy tande kan borsel en kuif kan kam. By die wasbakke is seep en papierhanddoek. Hier is vyf toilette en drie urinale (én ’n laer een sodat die kleintjies nie op hulle tone hoef te staan nie).

Die ses storthokkies is nogal smal en ’n mens moet jou draai ken, maar hier is altyd ’n man met ’n dweil om die vloer droog te hou.

’n Glasdeur skei die nat en droë deel en hier is drie hake agter die deur vir jou handdoek en klere.

Vir die vroue is hier sewe toilette, vier wasbakke (en een vir die kinders), vier storte, ’n spieël met ’n aparte wasbak en twee driepuntproppe.

Én dan is hier ’n gesinsbadkamer met ’n bad, stort, toilet en tafel, plus ’n badkamer vir rolstoele.

Die twee opwasplekke is buite die ablusieblok en het elk twee dubbelwasbakke en ’n spesiale wasbak waar jy jou potjie en ontbytpan was. Hier is ook ’n klerewasbak, outomatiese wasmasjien en tuimeldroër, en ’n plek om jou kassettoilet uit te spoel. Agter elke ablusieblok staan vier vullisdromme in verskillende kleure waar jy jou rommel kan skei vir herwinning.

Hou jou kop af en swaai deur. Bring jou stokke saam en kom durf die kortystergholfbaan aan. Of bring jou ander stokke saam en kyk of jy ’n swartbaars kan oortuig om aan jou aas te proe.
Kortliks | ATKV- Klein-Kariba

Kampplek 73 staanplekke, almal met plaveiblaaie, ’n braaiplek met ’n rooster, krag en ’n kraan naby. Die meeste het koelte en sommige het skadunette en rioolkoppelings.

Ablusiegeriewe 2 netjiese en moderne ablusieblokke.

Prys Standaardtariewe wissel van R485 tot R1 040 p.n. per staanplek vir 6 mense in die besige tye en oor naweke, afhangende van waar jy kamp. Op weekdae is die prys R120-R265. ATKV-lede betaal R370-R890 per staanplek in die besige tye en oor naweke (R115-R190 in die week).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  014 736 9800 of 011 919 9092 (sentrale besprekings);  kariba@atkv.org.zaatkvoorde.co.za

Naaste dorp Bela-Bela 8 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad.

GPS S24.849544 E28.336160

Weg Ry & Sleep Dagbesoekers mag kom kuier, maar nié oor langnaweke en tussen 15 Desember en 10 Januarie nie.

FOREVER WARMBAD

’n Warmwaterpark

Om die omvang van Forever Warmbad te verstaan moet ’n mens eers hier ’n draai maak. Dit is, in een woord, reusagtig. En dis gewild. Onder kampeerders, chalet- en hotelbewoners – én dagbesoekers.

In die besige tye bars die oord uit sy nate en dit is beslis nie ’n plek waarheen jy kom as jy op soek is na rus en vrede nie. Dit het ons sommer met die intrapslag besef. Mense kom hierheen om dit gate uit te geniet en met al drie ons kampbure het dit ingesluit musiek wat van vroegoggend tot laat snags blêr. En soos die noodlot dit wou hê, het niemand se musiek regtig in ons smaak geval nie.

Hoeveel keer wil daai vrou sing oor haar “umbrella, ella, ella?” Maar goed, soos ons reeds genoem het, kom soek jy nie stilte hier nie. Nee, jy bring jou kinders om in die magdom watervermaak te kom baljaar, en bederf jouself sommer ook deur jou stywe nek in die hidro se warm water te lawe.

Jou kinders gaan baie bly wees as julle hier kom kamp, want hier is amper nie einde aan die doendinge nie. Die kans is goed jy gaan hulle net sien wanneer hulle honger is of roomysgeld kom bedel.

Bosveldse gasvryheid. Hier is meer as 200 staanplekke in Warmbad se kampter­rein, maar dis nie afgebaken nie. Die klimraam sal die kinders vir ’n rukkie besig hou, maar die groot attraksie is die waterpark.

Net die waterpark het genoeg om drie van hierdie blaaie vol te skryf: Twee reuse-waterwurms, glybane, ’n swembad met golwe – kompleet soos Sun City se Valley of the Waves – groot swembaddens met hulle eie borrelbaddens, ’n swem- en speelplek vir die kleintjies, knortjorre, quadfietse, ’n plek waar jy met hulp van ’n kabel waterski, en ’n enorme foefieslaaid. Noem dit maar op en dit is hier.

Hier is selfs ’n Spur waar jy kan kom aansit as jy nie een van die ouens is wat dié restaurantgroep boikot nie.

Kry jou kampkol

Die woonwapark met sy meer as 200 staanplekke is in twee verdeel: die deel regs het ses ablusieblokke en links is twee. Aan dié kant is die handjie vol private staanplekke waar jy ’n plaveiblad en ’n ry kniehoogte paaltjies tussen jou en jou kampbure kry.

Die res van die staanplekke is genommer, maar nie juis afgebaken nie; dus moet jy mooi kyk vir die denkbeeldige lyn tussen waar jou staanplek eindig en jou buurman s’n begin. Die staanplekke is almal min of meer dieselfde wat grootte betref en op elkeen is genoeg plek vir ’n dubbelaswa, sy voltent én ’n stoeptent.

Die oordmense staan ook gereed om jou te help opslaan (teen ’n tarief). Hier is baie bome en die kans is goed jy gaan ’n koeltekol kry, maar dit is nie altyd gewaarborg nie, wat beteken jy kan maar jou blinkseil saambring.

Jy kamp dalk op grond – onthou dus ook jou grondseil. Elke staanplek het ’n blousokkragpunt (onthou jou verlengkoord) en ’n heuphoogte betonbraaier met ’n rooster. Dis heel gaaf, skoon en netjies en word deur die oordmense skoongemaak.

Jy kry ook ’n vullisdrom op jou staanplek en die krane staan versprei deur die kampterrein. Die onderste deel van die woonwapark is die naaste aan die waterpark, wat sowat 10 minute se stap van die ingang van die kampterrein af is. As jy nie so ver wil stap nie, is hier ’n swembad (en een vir kleintjies) net buite die ingang met ’n grasperk rondom waar jy jou kan tuismaak.

Die linkerkant van die kampterrein is verder weg van die aksie af en oorwegend stiller. Hier is ook meer staanplekke wat met gras bedek is.

Die oord is in Bela-Bela en ’n mens is naby aan die winkels. Jy hoor egter ook die verkeer en hoe die vragmotors se lugremme “brrrrrp-brrrrp-brrrrp” soos hulle op die pad van Thabazimbi af ankers gooi vir die stopteken reg voor die oord se hek.

Die ánder warm water

Hier is agt ablusieblokke in die kampterrein, almal met basies dieselfde uitleg en ontwerp. Hier is een badkamer met twee toilette, drie urinale en vier storte. Die storthokkie se nat en droë deel word geskei met ’n muur wat die helfte van die vertrek volstaan en hier is hake teen die muur en agter die deur.

Hier is ook ’n bankie waarop jy kan sit wanneer jy jou veters vasmaak. Die vyf wasbakke is op ’n marmerblad en bo elkeen is ’n spieël. Hier is ook handeseep en een van daai masjiene waarmee jy jou hande droogblaas.

Agter die wasbakkie is ’n tafel met kragpunte. Aan die buitekant is ’n dubbelwasbak vir jou skottelgoed en ’n diep wasbak waarin jy kan klere was. Hier staan ook ’n wasmasjien en tuimeldroër wat met R10-ruilmunte werk – koop dit by die woonwapark se kantoor. 

Kortliks | Forever Warmbad

Kampplek 225 staanplekke met krag en ’n braaiplek met ’n rooster. Jy gaan dalk gras en koelte kry, maar dalk ook nie.

Ablusiegeriewe 8 moderne ablusieblokke wat skoon en netjies gehou word.

Prys R300-R250 per staanplek en R200-R250 p.p.p.n. afhangende van wanneer jy kamp.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  014 736 8500 of 012 423 5600 (sentrale besprekings);  warmbaths2@foreversa.co.zaforeverwarmbaths.co.za

Naaste dorp Die oord is op Bela-Bela.

Hoe lyk die pad? Teerpad tot by jou staanplek.

GPS S34.022394 E23.896270

Weg Ry & Sleep Met die inboekslag kry jy en elkeen in jou gesin ’n plastiekarmband wat julle te alle tye moet dra. As jy hom verloor, moet jy R200 hoes vir ’n nuwe een.

Die premie hier is op privaatheid. Jy word omring deur bome en sien nie jou buurman se doen en late nie.

GALAGO- PRIVATE NATUURRESERVAAT

Stil en rustig

In teenstelling met die gedruis van gesinsoorde soos Klein-Kariba en Warmbad is die Galago -private natuurreservaat ’n plek waar jy in die Bosveldstilte jou batterye kan herlaai.

Die reservaat lê 16 km buite Bela-Bela op die Thabazimbipad en hier is onlangs ’n splinternuwe klein kampterrein ontwikkel. Hier is twee opsies: Die eerste behels vier staanplekke met private ablusiegeriewe, en dan ’n verdere ses staanplekke wat een ablusieblok deel.

Die vier staanplekke is groot, ruim en privaat – en omring deur bome. Jy kry ’n lappie gras omtrent so groot soos ’n muurbalbaan en ’n plaveiblad waar jy jou kamp opslaan (met die hulp van die oord se werkers). Die plaveiblaaie is dalk nie groot genoeg vir ’n dubbelaswa nie, maar kleiner waens pas heel maklik.

Die bome sorg vir genoeg koelte, maar daar mag kolle wees waar jy op die hitte van die dag nie vir die son gaan kan wegkruip nie. As jy in die somer kom, is dit ’n goeie plan om jou blinkseil in te pak. Moenie kanse waag nie.

Jy kry ’n staalbraaier met ’n rooster waarvan die hoogte verstel kan word, en ’n stapeltjie hout wat hulle hier op die plaas gekap het. Dis lekker droog en sorg vir mooi kole. Jy kry ook ’n sakkie ys.

Jou kraan het ’n betondammetjie onder; dus is daar nie ’n moddergemors onder die kraan nie. ’n Entjie verder, anderkant die plavleiblad, is jou kragpunt. Dis ’n dubbelprop (gewone huissok), wat beteken jy hoef nie jou blou prop saam te bring nie. Bring wel ’n 20 m-verlengkoord.

Die premie hier is op privaatheid. Jy word omring deur bome en sien nie jou buurman se doen en late nie. By die ander kampterrein is sake minder privaat, maar dit beteken allermins jy en jou bure trap mekaar se drumpel deur.

Jy kry by elkeen van dié ses staanplekke ook een van daai mooi staanbraaiers en ’n plaveiblad. Die enigste verskil is jy deel die ablusiegeriewe.

Nét vir jou

Elke staanplek het sy eie badkamer en kombuis in ’n klein siersteengebou. Die kombuis is buite op die stoep en het ’n opwasplek met ’n dubbelwasbak (met proppe). Bring jou eie afdroograkkie saam.

Hier is twee kragpunte by die kombuistoonbank waar jy die mikrogolfoond, ketel en ysmaker kan inprop. Jou aapbestande vullisdrom staan ook hier. By die deur van die badkamer is drie ligskakelaars – onderskeidelik vir die kombuis, badkamer en buitelig wat op jou staanplek skyn. Jy kan almal afskakel.

Die badkamer is eenvoudig dog netjies. Hy’s tot heuphoogte geteël met leiklip, maar die stort het badkamerteëls tot bo jou kop. Die stort het nie ’n gordyn of deur nie, maar jy staan agter ’n muur en die water mors nie. En omdat dit jou eie badkamer is, het jy nie ’n aantrekhokkie nodig nie.

braai en Borrel. Die gemeenskaplike braaigedeelte is nommerpas vir wanneer julle as ’n groep wil saam kuier, maar jy kan ook jou vuur hier kom maak as die weer goor is. Die jacuzzi is in die gebou langsaan en jy kan vir jou ’n tydgleuf bespreek om jou bekommernisse weg te borrel.

Net buite die stort is ’n bankie waarop jy kan sit as jy jou skoene aantrek. Die wasbak het pakplek rondom vir almal se smuktassies en skeersakkies. Die spieël sit bo die wasbak, effens regs teen die muur, en jy staan met jou skouer teen die muur wanneer jy jou hare kam.

Die warm water werk met ’n gasgeiser en jy is dus nie van Eskom afhanklik vir ’n warm stort nie. 

Die gemeenskaplike ablusieblok het aparte geriewe vir mans en vroue. Hier is twee toilette, drie wasbakke, twee storte en ’n urinaal vir die mans. Hier is spieëls bo elke wasbak en ook twee kragpunte. Hier is ook ’n gesinsbadkamer met ’n bad en ’n opwasplek met twee dubbelwasbakke.

Vir die kleingoed

Aan die bopunt van die kampterrein is ’n speelparkie met twee swaaie en ’n klimraam wat die kinders vir ’n ruk sal besig hou. Regs hiervan is die omheinde swembad. Dié is niervormig soos by die meeste voorstedelike huise, en daar is ’n grasdakkie met bankies waar jy met jou boek kan ontspan terwyl die kinders swem.

Óf bring jou handdoek en kom lê op die gras en sonbaai in die Bosveldse son. Onthou net om jou goed in te smeer.

Links by swembad is die gemeenskaplike onthaalkamer. As die hele familie hierheen kom om Ouma se 80ste verjaardag te vier, kan julle die aand julle stoele en tafels hier kom pak, vuurmaak in die vier braaiers en heildronke instel. En as die wind waai, kan julle die seilmure toetrek.

As jou ouma nie verjaar nie, moenie bekommerd wees nie: Enigiemand kan die geriewe gebruik.

Regs van die swembad is nog ’n geboutjie met drie vertrekke. Met ons besoek was dit nog in aanbou, maar in die linkervertrek is ’n jacuzzi, in die middel kom die kampwinkel en regs die kamer met die pool-tafel.

Die rooibokke en duikers wei ongeërg deur die kampterrein en jy sal hulle ook op die staproetes teëkom as jy die plaas verken.

Kortliks | Galago- private reservaat

Kampplek 4 luukse staanplekke met ’n staalbraaier (met ’n verstelbare rooster), plaveiblad, kragpunt en kraan. Altesame 8 gewone staanplekke.

Ablusiegeriewe 4 moderne private badkamers vir die luukse staanplekke en een ablusieblok vir die res.

Prys R450 per private staanplek vir 4 mense. R350 p.n. vir gewone staanplekke.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak  083 564 3597 of 083 628 9226;  galagoprivatebushlodge.co.zaphilm@intekom.co.za

Naaste dorp Bela-Bela 16 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste 500 m tot by die hek is ’n skaflike grondpad.

GPS S24.874670 E28.147516

Weg Ry & Sleep Hou jou oë gespits vir skilpaaie, meerkatte en voëls.