By AfriCamps Klein-Karoo kan jy heeldag op ’n houtdek sit en kyk hoe die bergreeks se kleure verander terwyl die son deur die potblou lugruim skuif.

Én hier’s ’n swembad, speelplek vir die kinders en ’n dam met springbokke, waterbokke en blouwildebeeste wat rondloop.

Die 12 luukse tente staan ver genoeg van mekaar af op ’n hoogtetjie. Nommer 1-8 is rondom ’n leë dam (hier heers droogte). Dié tente was die eerstes wat hulle gebou het. Die spekbome rondom die tente het al mooi lyf gekry en maak die tent en braaiplek meer privaat. Die ander vier tente is hoër op teen die heuwel staangemaak.

AfriCamps
AfriCamps

Tans het AfriCamps agt tentkampe landwyd. Die tente, met slaapplek vir vyf mense, lyk meestal dieselfde met gawe luukses soos wit linne, lugversorging, elektriese komberse en ’n kaggel. Ons het ook gratis Wi-Fi.

Die gemeenskaplike swembad op ’n wye stoep is ’n gawe uitspanplek. Hier’s dekstoele en pool noodles vir die kinders.

Wat nog? Die kamp is sowat 2 km noordoos van Oudtshoorn. Oudtshoorn is soos ’n binnelandse Knysna – hier’s hópe doen- en siendinge. By AfriCamps kan jy bespreek vir ’n volstruisplaastoer (R270 p.p.), Karoo-rit (R400 p.p.) of meerkatsafari (R420 p.p.). Die Swartbergpas is sowat ’n uur se ry noord met die R328. Op pad soontoe kan jy die Wilgewandel-vakansieplaas en Kangogrotte aandoen. Gaan na oudtshoorn.com vir nog idees.

Koste: Vanaf R1 090 p.n. vir 2 mense, R200 per ekstra persoon, R100 per kind (slaapplek vir vyf).

Kontak: 076 396 3339; africamps.com