Met 18 000 ha onder dadelpalms lyk dié plaas in die woestynagtige Benede-Oranjeriviergebied soos ’n Bybelse uitspanplek. Maar hier is ’n swembad en 24/7-lugverkoeling – net die ding waarna ’n mens smag aan die einde van ’n lang dag op die pad.


Wat kan ek hier doen? Besoekers mag die dadelplantasies te voet verken. In pluktyd (Maart tot Oktober) kan jy ook die werkers vra om jou in hul plukmandjie tot bo in die boomtoppe en selfs hoër as die palmtakke op te hys – om sélf te proe hoe die natuur se toffies direk van die boom af smaak en ook tot doer in Suid-Namibië te tuur.

Bring jou bergfiets en verken die grondpaaie. Hier staan ook plek-plek oorblyfsels van filmstelle. Ja, Klein Pella is al menige keer as “Afganistan” of ’n ander dorre land ingespan; soos in The Last Face – Charlize Theron, Sean Penn en Javier Bardem het toe in die einste gastehuis tuisgegaan.

Waar bly ek? Die kampterrein het braaiplekke, 10 kragpunte en 2 ablusieblokke – R100 p.p. (kinders jonger as 12 kamp gratis). Hier’s ook ’n rivierkamp (met geen geriewe) aan die oewer van die Oranjerivier – R50 per voertuig. Die gastehuis het sewe ruim en suite-kamers (R450 p.p. wat deel, R650 enkel). Ontbyt is ingesluit en aandete kos R125 p.p. 

Wat nog? Koop in seisoentyd vars dadels op die plaas in 1 kg-5 kg-pakke. Gaan woon op ’n Sondagoggend om 8 vm. die mis op Pella by. Dié piepklein Rooms-Katolieke sendingstasie is sowat 43 km hiervandaan – ry soos jy gekom het terug tot by die Pella-teerpad en draai hier links. 

Hoe kom ek daar? Draai 23 km wes van Pofadder af op die teerpad na Pella en skaars 500 m verderaan links by die Klein Pella-aanwyser. Bly op dié grondpad vir 21 km en draai dan regs by die volgende aanwyser. Van hier af is dit nog sowat 7 km deur ’n kokerboomwoud tot by die plaashek. 

Kontak 054 972 9712; 082 554 5995 (Glenda Goosen); karsten.co.za (klik onder “Contact” op Klein Pella Guest House)