Dis gerieflik naby aan die snelweg (sowat 12 km), maar ver genoeg om ’n mens te laat voel jy’s met vakansie.

Die verskeie selfsorghuise is só gesellig ingerig dat dit voel asof jy by iemand aan huis oorbly. Die rusbanke, diep stoele en kombuistafels vra vir lekker kuier en Linda se eie foto’s van plaastonele sorg vir ’n gemaklike atmosfeer.

Van hier af kan jy kusdorpies soos Victoriabaai en Sedgefield besoek, en die gebied is besaai met staproetes in die Tuinroete- nasionale park se Wildernisdeel. Hier’s ook soutwatermere vir voëlskyk, roeiplekke, bergfietsroetes en wouduitstappies. Ja-nee, hier kan jy besig bly tot die koeie huis toe kom.

Van koeie gepraat... Libertas is ’n melkplaas en hier word soggens en saans gemelk. Hier’s ook gewoonlik ’n paar kalfies wat moet bottel kry – vra gerus of julle kan hand bysit. O, én Linda sorg dat elke huis ’n bottel vars plaasmelk in die yskas het wat met jou aankoms saam met tuisgebakte beskuit regstaan.

Hier’s ook gewoonlik ’n paar kalfies wat moet bottel kry – vra gerus of julle kan hand bysit.

Ek het in The Dairy oorgeslaap. As ’n mens dié reghoekige huisie van buite bekyk, is dit duidelik: Dié gebou was op sy dag ’n stal.

Maar binne is daar nie ’n sweempie koeimis of ’n melkemmer te bespeur nie – eerder ’n oopplanleefvertrek waar ’n mens in die winter tot ounag om die koolstofie kan kuier. Die kombuis is goed ingerig met meer as die basiese breekware, ’n gasstoof en ’n afsonderlike opwasplek.

Die braaistoep is ruim met ’n uitsig oor die weikampe en die Outeniquaberg, en die badkamers het stortvensters op ooghoogte. ’n Hoogtepunt van The Dairy is die private swemdam, ewe met ’n paar dekstoele en ’n gesellige rusbankhoek waar jy tussen bommies kan boeklees of insluimer.

Koste

The Dairy kos R1 950 p.n. en het slaapplek vir vier (een dubbel- en twee enkelbeddens).

Daar is nog vier huise op die Potgieters se plaas: Die Jersey-, Ayrshire-, en Friesland-huis staan naby mekaar – ideaal vir ’n groot vriendekring wat wil saam kuier.

Die huise het slaapplek vir twee, vier en agt mense (van die eenhede het ook uitvoubanke waarop nog twee kinders kan slaap) en kos onderskeidelik R1 100, R1 550 en R1 850 p.n. Die Plaashuis (R2 000 p.n.) het twee dubbelkamers, en ses enkelbeddens waarvan ’n paar bo in die solder staan – die kinders sal mal wees hieroor!

Hoe kom ek daar?

Verlaat die N2 by die Swartvlei-afdraai tussen Wildernis en Sedgefield en hou 6 km aan met dié pad tot by ’n T-aansluiting waar jy regs draai. Hou weer 6 km aan tot by die volgende aansluiting, draai regs en 1,5 km verder weer regs.

GPS S33.93811 E22.68881

Kontak 044 883 1067; 082 929 1381 (Linda); 083 460 5414 (Johan)

libertasguestfarm.co.za