Morning Glory Cottages, Venterstad, Oos-Kaap

Morning Glory Cottages lê net suid van die dam en reg langs die R58, skaars 9 km wes van Venterstad. Jy het dalk al hier verbygery en die standbeeldjie van ’n perd by die plaasindraai gesien: Spogperde word hier geteel, asook nguni-beeste, merinoskape en inheemse veldbokke.

Die plaaseienaars is Schalk en Christa van der Walt, maar dis hulle dogter Marené wat die Morning Glory Cottages bestuur. Marené is ’n sjef van formaat: bespreek vooraf vir jou die driegang-aandete (R220 p.p.), want jy gaan hier soos ’n koning eet (ek dink soms nog aan daai doeksagte lamskenkel...).

Bespreek vooraf vir jou die driegang-aandete, want jy gaan hier soos ’n koning eet.

Byna alles wat jy hier eet, kom van die plaas af: of uit die veld of vrugteboord en groentetuin. Jy kan ook die piekniekbraaimandjie bestel en self braai – R120 p.p. Ontbyt: R100. Kinders van 12 jaar en jonger se maaltye is goedkoper. Jy kan rondstap op die plaas of bergfietsry (bring jou eie). Geen troeteldiere word toegelaat nie.

Waar bly ek? Hier is twee volledig toegeruste selfsorgkothuise – Lavender met jou eie braaiplek (slaapplek vir 4 mense en 1 kind) en The Farm Cottage (slaapplek vir 4 mense en 2 kinders) plus vier groot kamers met en suite-badkamers (Angelica, Borage, Cottonwood [eie braaiplek] en Chamomile).

Hulle het plek vir 2 mense elk, en Angelica en Cottonwood het ook ’n slaapbank vir ’n kind. Die kamers en kothuise staan redelik na aan mekaar in ’n mooi tuin op die plaaswerf. Hier is ’n restaurant, kroeg, gemeenskaplike braaiplek (wat oor die Karoovlaktes uitkyk) en klein swembadjie vir wanneer die son dooierus vat.

Koste Lavender: R1 400 p.n. Farm Cottage: R1 450 p.n. Angelica, Borage, Cottonwood & Chamomile: R450 p.p. wat deel. Afslag vir kinders 3-11 jaar oud.

Kontak 051 654 0302; 082 494 3895 (stuur ’n WhatsApp); morningglorycottages.co.za.