Kooitjie en Isa Viljoen woeker nie net met appels, pere en skape nie; hulle boer ook met gaste.

Hulle het dié oord in die kleine op hulle plaas langs die Sonderendrivier aan die voet van die gelyknamige berg geskep. (Amper ál die blyplekke het ’n uitsig oor die bergtoppe wat soos ’n ry olifante oor die landskap waghou.)

’n Mens kan uit die staanspoor sien iemand is lief vir die plek. Die gronde is goed versorg, die huisies se dekor keurig en met jou aankoms wag ’n varsgebakte broodjie op die kombuistafel.

Vroegoggend kom vly ’n skaaphond hom neer voor jou stoep, skape blêr terwyl hulle hulle tyd verwyl tussen die skaduwee en die rivieroewer, en ’n paar poue skarrel oor die grondpad as ’n bakkie verby ry... pure plaas!

Die gronde is goed versorg, die huisies se dekor keurig en met jou aankoms wag ’n varsgebakte broodjie op die kombuistafel.

Waar bly ek? Kampeerders kan hulle tentpenne inkap op een van die 25 staanplekke op ’n grasperk teen die rivier. Populierbome en rietafdakke sorg vir skaduwee. Nie lus vir ’n getentopslanery nie? Mik vir die safaritente ’n entjie stroomaf op die oorkantste wal.

Die ses en suite-safaritente staan langs mekaar onder bloekombome en het ’n gemeenskaplike kombuis en kuierplek (nogal met ’n stookbad). Oorkant die safaritente is ’n mooi klipgeboutjie (voornemende bruide kan gerus kom kyk). Ágter die venue en die tennisbaan staan drie selfsorghuisies (Citrus en Welgeleë en Bergzicht – laasgenoemde is twee skakelhuisies) op ’n groot grasperk.

Nóg verder, bo-op ’n hoogtetjie, staan die vier Uitsig-skakelhuisies (Uitsig 4 het ook ’n stookbad) met ’n gemeenskaplike plonspoel. Die blyplekke is naby mekaar – Oewerzicht is dus meer ’n kuier saam met vriende as ’n plek vir oordenking.

Wat kan ek hier doen? Al die gewone doendinge: stap, swem, bergfietsry, voëlskyk en skape dophou. Ons beveel stoepsit en bergkyk aan. Greyton is naby; beplan gerus ’n maaltyd op dié dorpie – eet ontbyt tussen die plante by die Fiore Garden Centre (028 254 9750; fioregardencentre.com) of kom skep ’n gesonde vegetariese maaltyd by Heart & Soul se oestafel (082 458 8460 – net oop op Vrydae en Saterdae).

Wat pla? Met ons besoek in Oktober laasjaar was die rivier baie laag. As swem vir jou ononderhandelbaar is, maak vooraf seker.

Koste Kamp: vanaf R330 per staanplek vir 4 mense (slaapplek vir 6 mense). Safaritent: R700 p.n. (slaapplek vir 2 mense). Selfsorghuise: vanaf R1 050 p.n. (slaapplek vir 4 en 8 mense).

Hoe kom ek daar? Oewerzicht is sowat 9 km suidoos van Greyton.

Kontak 028 254 9831; oewerzicht.co.za (Honde met goeie maniere is welkom.