En dan kom jy daar en jy sien die eienaar se huis van die stoep af. Of daar dreun elke dan en wan ’n plaasbakkie verby...

Ag nee, man.

Wel, dié kliphuisie van Ilse en Neil Menck in die Touwsberg- private natuurreservaat tussen Barrydale en Ladismith is die ware Jakob. Daar is ’n paar huise versprei in die natuurreservaat, maar dié een sit in sy eie klofie aan die voet van die Touwsberg. Daar is een buurman, maar hy bly agter ’n heuweltjie.

Ilse-hulle het die huis, met ’n dubbelkamer en ’n dakkamer (twee enkelbedjies) self oor ’n paar jaar gebou. Hier is nie elektrisiteit nie. Die son sorg vir lig (Consol-glasflessies met sonlaaiers) en gas vir warm water, stoofplate en ’n yskas.

Wat nog? Um, nie veel nie, jy’ t mos gekom om niks te doen nie. Gaan sit met ’n boek in die plonspoel vol vars bronwater of stap die heuwel voor die huis uit en tuur oor die vlaktes vol doringbome.

Dis die eerste keer dat ek ’n plek deur Airbnb bespreek. Een van die groot verskille tussen dié huisie en ’n standaard-selfsorghuisie is dat ’n mens kan sien iemand blý hier: Die beddegoed is mooi (ongebleikte linne met fynbosmotiewe), die breekware handgemaak, die handdoeke sag en hier’s leesboeke en speletjies vir die kinders.

Glo my, die eerste ding wat jy gaan doen as jy weer goeie sein het, is om te kyk of daar nog erwe te koop is in die reservaat. Totdat jou skip inkom, is die Mencks se kliphuisie ’n uitstekende troosprys.

Wat nog? Um, nie veel nie, jy’ t mos gekom om niks te doen nie. Gaan sit met ’n boek in die plonspoel vol vars bronwater of stap die heuwel voor die huis uit en tuur oor die vlaktes vol doringbome.

Let wel. Die water raak eers góéd warm hier teen 10 vm. nadat die pype ’n rukkie in die son gebak het. En onthou, jy’s diep in die veld – ’n veldmuis mag dalk in die nag kom kuier...

Koste: Vanaf R950 p.n. plus ’n eenmalige administrasie-en-skoonmaaktarief (sowat R1 000).

Kontak: airbnb.com (soek vir “Plathuis, South Africa”); info@menck.co.za