As jy die Suidelike Skiereiland wil verken – of dit nou Kaappunt, die pikkewynkolonie by Boulders of Kalkbaai se oulike winkeltjies is – is Simonstad ’n goeie plek om jou vir ’n paar dae te vestig.

Die Kaap die Goeie Hoop-deel van die Tafelberg- nasionale park waarin Kaappunt lê, het net enkele blyplekke en Simonstad is per motor 20 minute die kuspad af.

Hier is tientalle opsies, van tradisionele hotelverblyf, luukse gastehuise, gesinsvriendelike B&B’s tot kamp by die Millerspunt-woonwapark. As jy egter ’n romantiese bederfnaweek soek wat nie jou sak te erg gaan ruk nie, kan jy gerus Penguin Palace oorweeg. Dit sit hoog teen die hange van Simonskloof met ’n onverbeterlike uitsig oor die hawe en Valsbaai.

Hier is net vyf suites wat wissel in grootte, maar elkeen het sy eie dek van waar jy oor die see kan staar en die ure kan verwyl met ’n boek. Penguin Palace roem hom op sy tradisionele Engelse ontbyt (dis ingesluit by jou verblyf) wat jy in ’n gemeenskaplike ontbytkamer eet terwyl jy die fregatte en duikbote daar doer onder probeer uitken.

Elkeen van die suites het Wi-Fi, DStv, ’n yskas en ketel. Drie van hulle het ’n mikrogolf en die ateljee-suite het ’n kombuisie. Dis drie minute se ry na die hawe waar jy by die Saveur-restaurant ’n ribfilet (R164) of gourmetburger (R110) kan eet, of jy kan uithang by die bekende en meer informele The Salty Sea Dog vir vis-en-tjips (R65).

Wat nog? In Simonstad is hope te doen en sien. Verkyk jou aan die koloniale argitektuur op ’n stappie deur die dorp se historiese myl, besoek die Suid-Afrikaanse Vlootmuseum en die Simonstad-museum om meer uit te vind oor die plek se besonderse geskiedenis, en gaan op ’n kajakvaart uit die hawe na Boulders om die pikkewyne van die see se kant af te beloer (R350 p.p.; kayakcapetown.co.za).

Koste Pryse wissel na gelang van die seisoen, maar dit begin by R1 100 vir die goedkoopste suite tot R1 600 vir die ateljee.

Wat pla? Die mooi uitsig kom teen ’n prys aangesien die gastehuis teen ’n berghang gebou is. As jy nie lus is om drie stelle trappe tot by jou kamer te klim nie, moet jy verbyhou.

Waar? Dis in Victoryweg, heel aan die bokant van Simonskloof, die woonbuurt bo die vlootbasis.

Kontak 083 449 5868; penguinpalace.co.za