foto’s Kyle Kock
Baviaanskloof
Baviaanskloof

Die Baviaanskloof is ’n ordentlike uitdaging vir 4x4-entoesiaste, en veral dié wat ook ’n boswa sleep. Maar geoloë en natuurliefhebbers is ewe tuis hier in die omgewing van die Baviaanskloof-natuurreservaat.

Jy kan alles basies in een dag sien, maar hoekom wil jy? Dis hopeloos te gejaag en die plek verdien meer tyd.

“Hierdie is steeds ’n redelik onbekende bergreeks, veral vir ons kamp- en veldryfamilie in die noorde van die land. Maar sodra ek hulle begin vertel van al die heerlike kampplekke en 4x4-roetes hier rond, wil hulle dadelik weet presies waar dit is,” vertel Gerald O’Brien, Halfway Toyota se veldryspesialis.

Om hier te kom moet jy deur die Gamtoosvallei met al sy sitrusboorde ry. Met ons besoek hang die vrugte swaar aan die bome, wat vir ’n besonderse en gerusstellende geur in die lug sorg. Gerald is agter die stuur van sy Toyota Hilux 2.8 GD-6 4x4 Raider.

Sy vering is gelig en hy spog met BF Goodrich K02-bande én hy het ’n Imagine Trailvan-boswa op die haak. Ons het die vorige dag by John en Catherina Wait se Innikloof-kampterrein, sowat 11 km noordoos van Hankey, aangekom en die res van die konvooi ontmoet. Ons is sommer dadelik gewaarsku om nie tot laat te kuier nie, want die volgende dag moet ons vroeg wegspring.

WEGKRUIPPLEKKIE
WEGKRUIPPLEKKIE. Hier is net twee staanplekke by Bhejane se kampterrein, maar dis só dig toegegroei dat jy niks van jou bure se doen en late weet nie. Adriana het die reisigers ook bederf met heerlike tuisgemaakte vetkoek.

Gerald word op dié uitstappie vergesel deur Chris Beater en Sonya Marais in ’n Hilux 2.8 GD-6 4x4 met ’n Echo Chobe op die haak, en Gavin en Kathy Nicholson, ook in ’n Hilux 2.8 GD-6 4x4 wat met ’n 60 l-langafstandbrandstoftenk toegerus is (hulle kamp met ’n tent). Albei bakkies het nog hulle standaard- Bridgestone Dueller AT 265/17-bande op.

Zandy en Jan Greef maak ook die reis mee. Hulle ry in ’n Ford Ranger 3.2 Wildtrak 4x4 en sleep ’n Bush Lapa Baobab.

Innikloof se kampterrein is ’n groot graskol met ongeveer 10 onafgebakende staanplekke. Jy moet jou eie braaier saambring as jy by jou staanplek ’n vleisie op die kole wil gooi. Hier is egter ’n groot vuurput in die middel van die kampterrein en roosters langs die ablusiegebou. 

Ongeveer twee minute se stap van die kampterrein af is ’n stroom met ’n poel waarin jy in die somermaande kan afkoel. Die ablusiegeriewe is in ’n gebou van sinkplaat en hout, met die toilet in ’n aparte vertrek. Die ander twee kamers herinner aan jou badkamer by die huis met ’n groot stort, wasbak en toilet. Die stortgordyn pla nie, omdat die stort groot genoeg is vir ’n Springbok-voorryman.

Ongeveer twee minute se stap van die kampterrein af is ’n stroom met ’n poel waarin jy in die somermaande kan afkoel

Hier is genoeg hake en rakke vir jou handdoek, droë klere en skeersakkie. Gasgeisers sorg vir die warm water; dus loop jy nie die gevaar dat dit gaan opraak nie. Onthou om jou eie toiletpapier saam te bring.

Die volgende oggend, ná koffie en beskuit, word die padkos ingepak en tweerigtingradio’s uitgedeel. Gerald roep almal nader vir ’n vinnige oggendvergadering. Ons gaan vandag ver ry, want ons bestemming is die Bhejane-wildreservaat, en om daar te kom moet ons oor die Antoniesbergpas om die noordoostelike rand van die Baviaanskloof ry.

Dié pas word deur veldrygeesdriftiges geag as een van die land se beste roetes en dit is nét die aansporing wat ons nodig het nadat ons die vorige aand so vroeg bed toe gestuur is.

Kort ná Patensie mis ons ons afdraai. ’n Mens kyk dit maklik mis, want dit is ’n ongemerkte en naamlose grondpad (S33.739319 E.24.778748). Dis egter ’n bedekte seën, want terwyl ons op die gelykpad ry, sien ons die linkeragterwiel van Chris se Hilux is pap. Ons hou by ’n skooltjie stil om die band om te ruil terwyl ’n groep nuuskierige kinders ons dophou.

Ons kry ook die aanwysings vir ons pad vorentoe by ’n onderwyser. Dié slag draai ons af op die regte pad en vorder tot by die padpredikant wat sê jy gaan ry tot by die R75 in Uitenhage se rigting. Ons draai egter links by die padteken in Grootrivierpoort.

Ons ry deur die plaashek (en maak dit weer toe) en ry tot by die teken wat sê ons is nou in die hanekam-afdeling van die Baviaanskloof-natuurreservaat. Hier het ons nie ’n permit nodig nie.

Die Antoniesbergpas word nie met ’n spoggerige padteken aangekondig nie. Hier is wel ’n waarskuwingsteken wat sê jy is op ’n bergpas met skerp draaie.

Die toestande is gunstig vir die groep se standaardbakkies, maar al die bestuurders is ervare veldryers, wat vir ’n goeie skeut gemoedsrus sorg.

Foto: Kyle Kock
Foto: Kyle Kock

Dis ’n steil pas en die los gruis kan gevaarlik raak, veral as jy te vinnig teen die afdraande ry. Hier is twee dele met skerp rotse en ons ry stadig en versigtig; niemand wil hier weens roekeloosheid skade aan ons bande opdoen nie.

Hier is ook ’n waterkruising op die roete, want die pas vat jou af tot onder by die Grootrivier. Vir die grootste deel van die jaar is dit net ’n klein waterstroompie wat skaars oor die klein betonbruggie vloei, maar gelukkig vir ons het dit kort voor ons aankoms ordentlik gereën in dié geweste en die water stoot op tot by die voertuie se asse.

Hier neem ons ’n klompie foto’s. Dis ook ’n gawe plek om vir middagete stil te hou – maar net omdat ons ’n betreklik klein groep is. As jy in ’n groter konvooi hier deurkom, is die kans goed dat julle die pad gaan versper.

Van hier af klim ons weer boontoe teen ’n steil opdraande, maar voertuie met genoeg wringkrag behoort nie te veel te sukkel nie.

RUS EN VREDE.
RUS EN VREDE. Daar skort niks met die Vaalwater-kampterrein se ablusiegeriewe nie. Dit is skoon en netjies en heel voldoende, selfs wanneer die plek vol is. Die swembad dra egter die letsels van die onlangse droogte.

Van ’n vulstasie ’n entjie verder af verbeter die pad aansienlik – dit is duidelik die pad word baie gebruik en goed in stand gehou.

Terwyl ons verby die Hadley-gasteplaas regs van ons ry, sien ons links van ons die tekens van ’n onlangse veldbrand. Die aalwyne pronk egter steeds in die stukkie verskroeide aarde.  Die grondpad is glad en breed genoeg om gemaklik teen 80 km/h te ry. Ons draai links by die teken wat die pad Steytlerville toe aandui en gaan gooi brandstof in op dié dorp.

Gaan ry ook ’n draai deur Piet Retief-straat waar die familiewapens van die plaaslike inwoners trots op die straatlamppale vertoon word.

Dis 50 km van Steytlerville tot by die Bhejane-wildreservaat waar ons ons tweede nag deurbring. Die reservaat behoort aan Philip en Adriana Theunissen, wat 26 hoefdierspesies op die plaas het en ook jagters hier verwelkom. Met ons besoek is hier ’n pa en seun, en vroegoggend hoor ons hulle jaggeweer se knal in die berg.

Hier is net twee staanplekke by Bhejane se kampterrein, maar hulle is elkeen groot genoeg vir minstens twee klein boswaens.

Die plantegroei om die staanplek is dig genoeg dat jy nie jou bure sien nie, en die enigste tyd wat jy regtig iemand raakloop, is wanneer julle ablusiegeriewe toe stap.

Jy slaan jou tent hier op grond op, en elke staanplek het sy eie vuurput met ’n rooster en potjiedriehoek. Die kragpunt is ’n gewone huissok en langs die vuurput is ’n lig wat jy kan afskakel wanneer julle gaan inkruip.

Die ablusiegebou is tussen die twee staanplekke en is ’n basiese konstruksie van rou beton. Onder die afdak aan die voorkant is die opwasgeriewe. Aan die binnekant lyk die toilet modern, maar die stortkamer het net ’n skadunet voor vir privaatheid.

Die een stort is binne, met net een reling vir jou handdoek. Bring jou kampstoel saam om die res van jou droë goed neer te sit. Die ander stort is aan die buitekant. Die uitleg lyk dieselfde in die vroue se geriewe.

Die wild is natuurlik die groot attraksie hier, maar jy kan ook ander spesies van nader bekyk as jy geduldig genoeg is om te wag. ’n Nuuskierige streepmuishond het heel duidelik vroegoggend die spek op die kampvuur geruik en sy kop deur die bos gedruk om te sien waar die kos is. Maar die oomblik toe ons die kamera in die hand het, is hy weer weg.

As jy gelukkig is, kan jy saam met Philip ry wanneer hy die buffels gaan voer. Die diere skrik egter maklik en het onlangs ’n kalfie vrekgetrap; dus verkies hy dit om net met sy ou Hilux te ry. As daar genoeg plek is, kan jy saamry – dit is ’n wonderlike manier om dié diere van nader te bekyk.

En as jy oor die naweek hier kom kuier, is die kans goed dat Adriana iets gebak het en dat sy bereid sal wees om dit met jou te deel. In ons geval was dit groot vetkoeke – net die antwoord vir die eetlus wat ’n mens opbou terwyl jy vir die buffels kyk.

Philip en Adriana maak ook seker die houtvoorraad op jou staanplek droog nooit op nie. Ná twee nagte by Bhejane is dit tyd om die pad na Willowmore aan te durf.

Op dié pad ry jy verby die Fullarton-treinstasie, wat niks meer as ’n verhewe platform weerskante van die treinspoor is nie. Dit lyk nogal soos iets wat in ’n spaghetti-Western hoort, veral as jy die omgewing in ag neem. As jy mooi kyk, sien jy dalk ook singvalke en ons pragtige nasionale voël, die bloukransvoël.

Willowmore is maar 50 km van Bhejane af, en omdat die pad goed in stand gehou word, hou jy sommer kort ná ontbyt hier stil om voorrade aan te vul. Terwyl jy hier is, kan jy by die Belly-deli kom aansit vir koffie en ’n pizza wat in ’n houtoond gebak word.

Gaan loer ook langsaan by die Cozy Shed in vir wolprodukte uit die omgewing. Van hier af mik jy suid op die N9 in die rigting van Uniondale en draai dan links op die R332-grondpad.

Vaalwater
By die ingang: Vaalwater lê op die rand van die Baviaanskloof en die omgewing raak al hoe meer skouspelagtig hoe verder jy vorder. Maak seker jou kamera se battery is volgelaai.
Foto: Kyle Kock
Foto: Kyle Kock

Volg die pad tot by ’n fort en draai dan regs om na die Vaalwater-boskamp te ry. Die hek is 2 km verder aan jou regterkant. Die ontvangskantoor is egter aan die ander kant van die pad en jy moet eers dat Hesme Scholtz jou hier help om die papierwerk af te handel.

Vaalwater is seker een van die enigste kampterreine wat letterlik op die grens tussen provinsies lê, en wanneer jy voor die hek van die 4x4-roete staan, kan jy uit die Wes-Kaap roep dat jou maat jou verkyker van die kampterrein in die Oos-Kaap af bring.

Die kampterrein is met gras bedek en hier is nie afgebakende staanplekke nie. Die hoë bloekombome sorg vir hope koelte, maar hulle staan langs die kant van die kampplek. Die gras hier is nie so groen nie én daar is dorings. Die middel van die kampterrein is groot genoeg vir sowat agt waens, en hier staan twee staalbraaiers waarmee jy jou vleis kan gaar kry. Hier is ook twee kragpunte, maar bring jou verlengkoord (30 m) saam ingeval jy ver daarvandaan staan. Hier is ook twee vullisdromme.

Hoewel Vaalwater skaars ’n klipgooi van die pad af is, hoef jy jou glad nie oor die geraas te bekommer nie. Snags is dit doodstil, selfs toe ons oor ’n naweek hier gekamp het.

Die ablusiegeriewe lyk of dit onlangs gebou is en is in wit afgewerk soos die res van die geboue in die omgewing. In die mansgeriewe is drie wasbakke regs van jou wanneer jy instap en hier is genoeg plek vir al jou badkamergoed. Hier is ook ’n spieël bo elke wasbak én handeseep en klein handdoekies in ’n mandjie om jou hande af te droog.

kyle
SMAAKLIKE ETE! Maak’n draai by Vera’s restaurant en die Baviaans-kunswinkel terwyl jy hier is – bestel die roosterkoek. Of gaan stap deur die wildevywoud as jy ’n bietjie nader aan die natuur wil kom.

Hier is twee urinale, twee toilette en drie groot storthokkies. Die droë deel is heerlik groot met ses hake vir jou klere en handdoek, en ’n bankie waarop jy kan sit wanneer jy jou sokkies en stapstewels aantrek.

Jy stort wel agter ’n gordyn, maar hier is genoeg plek dat jy nie elke dan en wan ’n koue lek teen jou lyf voel wanneer jy die venster ooplos nie.

Agter die ablusieblok is ’n stoep met die opwasgeriewe vir jou skottelgoed en wasgoed. Hier is ’n swembad – om daar te kom stap jy deur die hek aan die linkerkant van die kampterrein. Met die onlangse droogte is dit egter nie onderhou nie en dit wil voorkom of die paddas hier nesgeskop het.

Dis egter die hek ’n entjie verder links waaroor ons opgewonde is. Dis ’n groter hek met ’n teken wat aandui dat die 4x4-roete in dié rigting is. Jy ry deur die droë rivierloop en dan deur ’n ander hek tot by die begin van die roete. Maar los dit vir môre.

As jy van plan is om net een nag by Vaalwater te bly moet jy vroegoggend aantree, want die roete van 5 km gaan jou vir minstens ’n uur en ’n half besig hou. Ry terug op jou spoor en sluit weer aan by die R332. Die pad gaan jou oor die Nuwekloofpas neem tot in die eintlike Baviaanskloof.

Die afgeleë vallei tussen die berge skep uitgestrekte arenas wat vir prentjiemooi tonele sorg. As jy ’n belangstelling in die geologie het, gaan jy verstom staan oor die omgewing met sy verskillende kleure en afmetings wat deur die sandsteen en kwartsiet geskep word.

Die afgeleë vallei tussen die berge skep uitgestrekte arenas wat vir prentjiemooi tonele sorg

Ons mik in die rigting van die Bo-Kloof, wat maar net 36 km oos van hier af lê, maar ons hou langs die pad stil vir foto’s. Die Makkedaatgrotte is iets om te beleef en ons maak ’n knoop in ons oor om weer hier te kom inloer. Hou by die ontvangskantoor stil en vra vir Henriëtte Terblanche of jy gou kan gaan kyk na dié aardigheid. Jy bly hier in die grotte, maar dis met hout afgewerk en lyk eerder soos houthuisies.

Elkeen van die eenhede het slaapplek vir agt mense, en die grotte is só ver uitmekaar dat jy nooit ’n ander grotbewoner sal sien as jy nie wil nie. Ry verder met die R332 en hou net ná Duiwekloof stil om te kyk of jy die sewe dwergies op die heuwel kan sien.

Dit is rotsformasies wat lyk of dit eerder in ’n kinderboek hoort. Met ons besoek was die pad plek-plek erg beskadig, en dit wil voorkom asof dit lank terug onderhou is, maar die waarheid is dat die diep groewe en puin wat oral rondlê, deur ’n onlangse kitsvloed veroorsaak is.

Maak ’n draai by Vera’s-restaurant en die Baviaans-kunswinkel terwyl jy hier is en bestel die roosterkoek. Bo-Kloof se kampterrein lê regs van die pad wanneer jy uit die weste aankom, maar die plaashuis en ontvangskantoor is links.

Hier sal jy vir Quintis of Anita Bezuidenhout óf hulle seun Ian aantref om jou in te boek. Dit is ook ’n goeie tyd om van die heuning en heuningprodukte te koop wat hier op die plaas gemaak word.

Foto: Kyle Kock
Foto: Kyle Kock

Die kampterrein lê ’n kilometer verder en jy moet basies óm die voet van die berg ry om hier te kom. Die gras is só groen dit lyk of dit geverf is, en dit voel soos ’n mat onder jou voete. Ian kom maak ’n draai om seker te maak die ablusiegeriewe is skoon en om ’n paar sakke hout by die vuurput af te laai. Die gesin se skaaphonde ry saam met hom, en hulle is maar te bly om die gaste te ontmoet.

Hier is sewe staanplekke, maar as jy in ’n groep kamp, maak dit nie saak waar jy jou wa of tent staanmaak nie. Elke staanplek het sy eie geboude braaier, maar jy moet jou eie rooster saambring. Jy kan egter ook in die groot vuurput braai en jou op die klipbankies langs die vuur tuismaak. Die enigste kragpunt is die huissok in die ablusieblok (bo die wasbak) – bring dus jou verlengkoord saam.

Die ablusiegeriewe is eenvoudig en basies, met ’n klein storthokkie en twee toilette in die mans se kant. Die wasbakkie is op ’n houtrakkie en hier is nie plek om jou klere te hang nie.

Langs die kampterrein is ’n dam waarin jy kan swem as sake te warm raak, óf jy kan piekniek hou onder die groot doringbome. Hier is heelwat te sien en doen in dié geweste, en een dag gaan nie genoeg wees daarvoor nie.

Bo-Kloof het sy eie 4x4-roete (ons het hom nie gery nie) en die Waterkloof-staproete wat minstens ’n halwe dag van jou tyd in beslag gaan neem. Wanneer jy verby Bo-Kloof ry, kom jy by Sewefontein, die tuiste van die Sewefontein-staproete en die Wildevyboomwoud.

Hou hier by die toerismekantoor stil en vra vir Patrick Ruiters om jou op ’n kort toer van die omgewing te neem. Patrick noem homself die wêreld se kleinste toergids en hy het ’n magdom stories oor die geskiedenis van die streek, die plaas en die oorvloed ondergrondse vars water. Hy vat jou byvoorbeeld na ’n boorgat toe wat sedert Februarie 1937 nie minder nie as 50 000 l water per uur uitpomp.

Jy stap ook op houtpaadjies tussen die oeroue wildevybome. Ons is al verder as halfpad op ons reis op die paaie wat deur die vallei vleg voor ons uiteindelik die plek bereik waar die Baviaanskloof-reservaat is.

Koop jou permit hier en hou hom byderhand om vir die beampte by die uitgangshek te wys. Hou jou oë oop vir bosbokke en hartbeeste wat naby die pad wei. Die kans is ook groot dat jy troppe bobbejane gaan teëkom.

Hou jou oë oop vir bosbokke en hartbeeste wat naby die pad wei

Op sommige dele in die reservaat is die pad steil genoeg om laestrek te haak, maar die owerheid het dit ook goedgedink om op plekke waar dinge gevaarlik steil raak betonspore aan te bring. Dit beteken jy kan ook in jou sportnuts met allewielaandrywing hier kom ry.

Die onlangse kitsvloed beteken hier is meer as een waterkruising wat jy kan geniet. Nadat ons die berg in al sy glorie ervaar het, val ons in die pad Patensie toe en mik dan vir Hankey vir een nag by Innikloof. Dan, die volgende oggend, is dit tyd om die Baviaans te groet.

vat jou tyd Hier is so baie te sien en doen in dié ge­weste dat dit eintlik ’n skande sal wees as jy net een dag hier deurbring. Vat jou tyd, ontdek die wêreld en bederf jouself ’n bietjie.

WAT JY MOET WEET

GROEPE

As jy nie kans sien om hierdie reis op jou eie aan te durf nie, kan jy met die Halfway Toyota-groep gesels. Hulle bied 4x4-reise in elke uithoek van die land en ons buurlande aan, waaronder Botswana, Mosambiek, Namibië en Zambië. Hierdie was hulle eerste reis na die Baviaanskloof.

Vir navrae kontak Gerald O’Brien by gerald@halfway.co.za of Ryan Otto by offroad@halfway4ways.co.za.

BRANDSTOF

As jy by Hankey of Patensie volgemaak het, gaan jy waarskynlik eers weer by Willowmore brandstof moet ingooi. As jy nie met ’n vol tenk weggepring het nie, kan jy ook in Steytlerville volmaak.

VERBLYF

As jy nie sleep nie en nie daarvan hou om in ’n tent te slaap nie, is hier chalets en selfsorghuisies by al die kampplekke waar ons oornag het.

VOERTUIG

Jy hoef nie ’n hoë vering of alleterreinbande te hê om hierdie reis mee te maak nie, maar laasgenoemde sal nie skade doen nie. Twee van die voertuie in ons groep was standaard, maar viertrek is wel ’n minimumvereiste