Ek maak die Duster vol op Steinkopf en ry dan noordwaarts met die N7 tot net verby Eenrietberg. Hier draai ek regs na Henkries. Dié breë, sanderige pad loop al langs die pyplyn wat water bring van die Oranjerivier na Steinkopf, Springbok en selfs Kleinzee – dis uiteindelik ’n byna 250 km lange pyplyn. Hier woel bouwerk, want die pyplyn, wat uit 1973 dateer, word tans opgeknap.

Ná ’n ruk hou ek stil, klim uit, haal asem. ’n Warm wind waai. Ek stap 50 m na ’n kokerboom; dis rondawelgroot en die enigste ding hoër as kuithoogte hier.

Dit is laat Januarie en baie droog, maar dít is die Boesmanland.

Terug in die kar. Verby ’n plekkie genaamd Doornwater, ’n hulppomp-stasie op die pyplyn. Voor Henkries draai ek regs. Ek mik vir Goodhouse, ’n dorpie teen die Oranje.

’n Paar jaar gelede het ek deur dié gebied gery. Terwyl ek onder ’n witgatboom naby ’n veesuiping middagete geëet het, het honderde stuks vee en ’n paar boere asof uit die niet verskyn. Daai dag het ek besluit om eendag terug te keer om te sien hoe mense ’n bestaan maak in hierdie onherbergsaamheid.

Ek is nou op pad om by die Steinkopf-boer Jasper Cloete te kuier. Jasper, ook bekend as oom Vick of Vicky Jasper, se staning is tans naby Goodhouse.

Die woestynagtige veld rondom my is gemeenskapsgrond, en boere uit Steinkopf laat loop hulle vee hier.

My oë swiep valkgewys van links na regs oor die landskap. Hittegolwe, stoppels, skynbaar niks.

Boer mense wraggies hier?

Ek is nie eens 100% seker of Jasper vir my gaan staan en wag by Goodhouse nie. Ek moes deur ’n tussenganger op Steinkopf die “afspraak” maak, want Jasper het nie ’n foon nie. (“Ek stel mos nie in ’n foun belang nie,” sou hy later verduidelik.)

Skielik sien ek ’n mens! Hy staan seker 200 m van die pad af met sy trop vee. Ek besluit om te stil te hou en dié man te ontmoet. Wie weet, dalk is dit die enigste mens wat ek teëkom oor die volgende paar dae?

Boesmanland
Jasper Cloete bekyk sy kudde aan die stertkant van ’n warm dag in die Boesmanland

‘ “Dis net berge wat nie by mekaar uitkom nie,” sê Kado. “Mense kom weer by mekaar uit.” ’

Kado

Rikardo Markus is 31 jaar oud. Jy kan hom sommer net Kado noem, dankie. Ek neem aan dis wanneer hy dorp toe gaan, want hier’s niemand anders nie. “Nee, hier ís,” sê Kado. Hy het ’n skaam, mooi glimlag. Daar waar sy staning is, is nog ’n veewagter. Hy wys in ’n rigting. “Ghagoup-kop.” Ek sien die kop – ook gespel Tagous – in die verte, waar die hitte dit vulkanies laat sidder. “As jy met die Bloupad aanry, dan ry jy verby ons staning.”

Die Bloupad? Dis die pad waarop ek nou ry, hoor ek.

Kado antwoord my vrae. Die vee in sy sorg behoort aan ’n onderwyser op Steinkopf, Bertus Yster. Hier is 250 “swartskape” (karakoele) en 76 bokke. Deel van Kado se werk is om te weet presies hoeveel van elk. Hoe weet hy as een weg is? Hy weet net, sê hy. Hy kyk na hulle, en dan weet hy.

Twee kinders en ’n meisie op die dorp. Soms kom kuier sy vir hom. Kado werk drie maande aaneen hier in die veld. Dan kry hy af, agt dae, soms twee weke. As dit nodig is, dan sit hy ’n maand se verlof in. Die geld is nie baie nie, maar daar is nie werk op die dorp nie.

Wat vreet die diere? Ek vra, want om my sien ek niks groens nie. “Ja-nee, dié is gha-gras, dit het tans lae voedingswaarde,” bevestig Kado, en wys na die stokkiesagtige gras. Dis te droog. Hy wys na die lemoendoringboom wat langs ons staan. “Maar hierdie t’haboom, sy peule is goed, veral die bokke hou daarvan.”

Kado Markus
Kado Markus by sy honde, Bassie en !Gais, langs ’n lemoendoringboom

In die yl skadu van die boom lê twee honde, Bassie en !Gais. By ons voete is die kolletjie as waar Kado nou-nou ’n handgroot vuurtjie gemaak het om sy teewater in ’n blikkie warm te maak.

Wat eet ’n méns hier? Kado lag, want ek vra dom vrae. “Die eienaar van die vee bring kos. Vanaand eet ek dalk spaghetti of rys, en gooi ’n blikkieding by. Ek bak ook my eie broodjies.”

Bedags het hy toebroodjies en vier liter water. Waar het die vee gedrink vandag? Nêrens, hulle gaan môre weer drink. Waar? Kado beduie. Daar by Henkries waar die water uitloop.

Ek vra of ons dalk die volgende dag daar kan ontmoet.

“Dis net berge wat nie by mekaar uitkom nie,” sê Kado toe ek seker twyfelagtig lyk oor ons afspraak. “Mense kom weer bymekaar uit.”

Dis twintig voor vyf, tyd om sy kudde by die staning te kry. Die diere het in elk geval klaar begin stap, mooi netjies bymekaar. Hulle ken die pad huis toe.

Kado groet, draai om, stap die vlakte in, Bassie en !Gais langtong op sy hakke.

Goodhouse

Terug in die Duster verander die sinkplaat spoedig na klipperige, kar-uitmekaar-plukpad. Ek kruie voort. Ek wil nie nou ’n Duster-band in ’n vlak graf begrawe nie. Dis blouerige gruis – die Bloupad. Ek ry verby waar Kado se staning is, maar sien niks. Sy woonwaentjie staan seker buite sig. ’n Ent verder, nog ’n staning, selfs perde, ’n mens. Dié plek se naam is Wolftoon.

Ek bereik ’n groter pad, draai links, en ry nou maklik in die rigting van Goodhouse. Gestroopte berge val langs my in. Losstaande rotskoppies – inselberge – troon soos verbrokkelde piramides bo die landskap uit.

Die geleidelike afdraande trek my rivier toe. As jy ’n sokkerbal hier neersit, gaan hy ure lank rol.

Ek soek vir Goodhouse deur die voorruit, maar sien dit nie. Hoe kan die enigste ding wat hier is, onsigbaar wees? Die pad vurk, ek hou regs, reguit.

’n Plek verskyn: twee bouvalle, ’n huis met ’n lae sinkdak, begraafplaas, kraaltjie. Die groen soom van die Oranjerivier lê ’n honderd meter verder en – oorkant, Namibië: ’n plaas genaamd Hakiesdoorn waar ek lusernlande, boorde, spilpunte en dadelpalms sien.Hier duskant is niks sulke ontwikkeling nie. (In die vroeë 2000’s het Goodhouse wel ’n uitgebreide paprikaprojek gehad, maar dit het ongelukkig ná skaars twee jaar tot niet gegaan.)

Amanda Cloete
Amanda Cloete en Tinkie de Klerk deel ’n grappie in die kookskerm van hulle staning naby Goodhouse.

Onwetend het ek Goodhouse se woonbuurt misgery. Ek moes die afdraai na links gevat het. Maar hier waar ek nou is, is óók Goodhouse – die oorspronklike nedersetting. Ek stop waar die pad eindig, klim uit, en stap tot waar ek ’n uitsig oor die rivier het. Ek kyk terug na die sinkdakhuis.

Daar is mense. Noudat hulle gesien het hier’s ’n vreemdeling, stap ek soontoe en ontmoet vir Bennie Cloete, George “Goliat” Engelbrecht en die jong Clint Cloete.

Bennie hoor my storie en sê ek moet net wag, hy dink Jasper Cloete-hulle is dorp toe, Steinkopf toe. Kan ek maar my tent naby die rivier opslaan vir die nag? Dis reg so, sê Bennie, maar sit eers.

Ons begin gesels en kuier tot lank ná donker. Later kom Jasper Cloete en sy dogter Amanda aangery. Hulle kom nou eers van Steinkopf af. Ons kom ooreen dat ek die volgende aand by hulle staning oornag.

Bennie

Bennie Cloete
Bennie Cloete van Goodhouse kry sy laaste vee in die kraal voor sononder

Die gedreun van waterpompe wat oorkant die rivier aangeskakel word, maak my voor sonop al wakker in my tent. Ek staan op, trek aan en stap na Bennie-hulle se huis toe, ’n pak beskuit onder die arm.

Bennie, George en Clint het ook kleinvee. Hulle hoef nie rond te trek met die vee nie, want hulle staning is reg teen die rivier. Hier is genoeg kos, want die groen langs die rivier is meestal prosopisbome (die mense hier noem dit bloot “doringbome”). Dis ’n uitheemse boom, maar sy voedsame peule is manna vir vee in dor streke.

Die bouvalle langs hulle huis is van onder meer ’n hotel wat dateer uit die jare toe Goodhouse op ’n hoofpad Suidwes-Afrika toe was – hier was ’n pont waarmee jy oor die rivier geneem is. (Dis lankal nie meer ’n grenspos nie.)

Deneys Reitz het op sy dag hier tuisgegaan, en lekker gekuier saam met Carl Weidner (1869-1940), wat saam met sy vrou, Caroline (1876-1943), ’n eeu gelede hier ’n lewe gemaak het. Die Weidners se grafte is net agter Bennie-hulle se veekraal. Op die gedenkplaat staan: “Together they established Goodhouse in 1913.”

Goodhouse is afkomstig van die Nama-naam “Gádaos,” wat verwys na die drif deur die rivier waar skape eens deurgelei is wanneer daar getrek is van een kant van die Oranje na die ander.

Bennie-hulle se huis is eenvoudig maar netjies. Aan die voorkant is ’n breë stoep wat tot net verby heuphoogte toegebou is met riete. Dit breek die ergste wind van die weste af. Op die stoep staan beddens. ’n Paar vellies staan onder een waarop ’n breërandhoed lê. ’n Kort sweep hang van ’n hakie af. ’n Hoëtroustel staan bo-op ’n vrieskas. ’n Groot sak water hang in die middel van die stoep – die wind hou dit koel.

Bennie sit op die agterstoep, aan die oostekant. Hy is al van kwart oor vyf op, en het klaar die jaart gehark. Teen so kwart oor sewe is ’n paar bokke gemelk. George is besig in die kookvertrek, ’n aparte sinkkamer waaruit rook dwarrel. Hy het al brood gebak vanoggend, én pap gemaak vir die honde.

Vellies
Vellies rus onder ’n bed op die voorstoep. Dis warm in die Boesmanland, en buite slaap ’n goeie idee.

George praat nie veel nie, hy stook die vuur met ’n bondel rosyntjiebos wat hy dubbel vou.

Clint (24) vee die stoep skoon waar ’n katjie, Katrina, uitgestrek lê op ’n houtbankie. Duiwe, onder andere ’n paar fantails, sit op die dak.

Bennie is op Steinkopf gebore en het op die plaas Eyams grootgeword. Daarvandaan het hy ambagte geleer.

“Ons was sewe broers, maar die ander het man-man sy eie paadjie geloop,” sê hy. Later het hy op Oranjemund gewerk, ’n draai in die weermag gemaak, help bou aan die Sishen-Saldanha-spoorlyn, toe Koingnaas toe, daarna Kleinzee, en vir ’n ruk na Klerksdorp vir bouwerk (in dié tyd het hy ook in Sun City gaan draai, waar Bennie een aand in Desember 1982 vir Dolly Parton sien optree het), terug Alexanderbaai toe. In 1991 het hy hierdie stukkie grond gekry.

“Ek is vrouloos,” sê hy. “Die kinders is uitgetrou, nou het ek nie worries nie.”

Om hier met vee te boer was Plan B. In 2009 het Bennie by een van sy kinders op Kuruman gaan bly, maar kon nie werk kry nie. Toe besluit hy om permanent Goodhouse toe te kom.

“My dogter het vir my tien skape gekoop, en my klong tien bokke. En met dié het ek begin aangaan. Vandag het ek sowat 130 stuks vee altesaam.”

George het nie vee hier nie, hy help net vir Bennie. “Ons kom al 50 jare saam, van laaitiedae,” sê Bennie. “Ons twee help mekaar maar so.” Bennie is in 1955 gebore, George in 1956.

George Engelbrecht
George Engelbrecht doenig in die kookvertrek van die huis by Goodhouse waar hy saam met Bennie en Clint Cloete woon

Ek vra oor die weer, die reën en die afwesigheid daarvan. Hulle behoort sowat 75 mm per jaar te kry, maar in 2019 het skaars 20 mm geval. “Dis nou al vyf jaar droog hier. Maar as hy hier val, dan sien jy die veld binne twee weke,” sê Bennie. “Die eerste ding is daai fyn gras, ons noem dit twa-gras, binne agt dae sien jy hom. Sag, en sappig. Maar jy moenie haastig raak en Buiteveld toe gaan as dit reën nie.”

Twa-gras is kortbeenboesmangras, en met Buiteveld bedoel hy die veld wat verder weg van die rivier lê.

Die Buiteveld is Boesmanland, hier langs die rivier staan die plantstreek bekend as die Gariepwoestyn. “Jy het mos baie gifplante ook, al lyk die veld so mooi, en jy kan vee verloor wat dit vreet. Ek bly maar eerder hier.”

Henkries

Kado sou enige tyd van elfuur af by Henkries se waterpunt wees. Ek groet Bennie-hulle en ry 2,5 km verder deur Goodhouse se woonbuurt. Hier is waarskynlik 40, 50 huise. Anderkant die dorp – ek ry weswaarts – loop die pad rég teen die Oranjerivier, met steil rotshellings aan my linkerkant.

Die pad is soms grof, soms sanderig. Maar ek ry stadig, en die Duster geniet dit. Die landskap is dramaties, die rivier wat stil maar sterk vloei, die blou lug wat daarin weerkaats. Soms roer ’n vis tussen slierte watergras. ’n Reier trap hïerogliewe in die modder.

Sowat 8 km van Goodhouse af maak die vallei effens wyer oop – hier lê groen lusernlande. Die plaas se naam is Langkweek. Dan, by Henkriesmond, draai die pad weg van die rivier.

Ek stop omtrent dadelik om foto’s te neem, want die valleivloer lê hier wit uitgeslaan van die sout. Tussenin is klam, donker kolle. Rotsformasies, ongewoon verweer, staan plek-plek uit. Dit lyk soos iets wat die Mars Rover kon afgeneem het.

Op pad na Henkries klim die pad ’n paar keer. Elke klim bring iets anders. Eers kolle riete, dan ’n dadelplaas, daarna Henkries se paar huise. Die meeste mense bly egter ’n kilometer verder, waar Henkries se watersuiweringsaanleg is.

Henkriesmond
Hierdie paddastoelvormige rots staan naby Henkriesmond.

‘Rotsformasies, ongewoon verweer, staan plek-plek uit. Dit lyk soos iets wat die Mars Rover kon afgeneem het.’

Dis hier waar water uitgespoel word wanneer die filtreerstelsel skoongemaak word. Hierdie water loop vir ’n kort entjie in ’n voor, en dan eenvoudig in die droë loop van die Brakrivier (ook genoem die Koavallei) in. Dis presies by dié punt waar Kado en ander veewagters hulle diere kom laat suip.

Ek is voor Kado daar, maar nie lank nie of “swartskape” verskyn eensklaps – dit moet Kado s’n wees. Dan ’n hond, en nog een. Kado volg, glimlag op die gesig.

Terwyl sy diere gulsig drink aan die “weggooiwater” (soos Kado dit noem) en hulle vergryp aan die prosopisbome se peule, kry Kado skaduwee. Vir die volgende paar uur gaan hy nêrens heen nie. Sy vee ook nie.

“Hulle geniet dit,” sê Kado, “noudat hulle water gekry het, het hulle vrede.”

Bokke
Bokke drink van Henkries se weggooiwater

Die honde strek hulle uit, snoete oor voorpote. Soms spring hulle op om te blaf vir ’n vark, wat van een van die nabygeleë huise hier kom vroetel.

Kado was maar 15 jaar oud toe hy begin vee oppas het. “Ek het ’n gevoel gehad ek sou kon aanpas by die diere, ek is lief vir diere. Ek het self ook vee, maar hulle loop weer by ’n ander ou. My broertjie kyk nou daar na hulle by ’n plek wat ons Jakkalswater noem. Daar is ’n puts waar jy die water uit moet trek as jy die vee wil water gee.”

Gepraat van jakkalse – pla hulle met die vee? “Ja, dié wêreld is ingetrap met die jakkalse, soms sien ons ook ’n luiperd, in die berge.”

“Hierdie deel het nog niks reën gehad die afgelope jaar nie,” vertel Kado. “Net die Binnewêreld het so ’n winterreëntjie gekry, maar nie veel nie. Maar die reën het by Eenrietberg kom hokaai, en is toe weer terug.”

Die Binnewêreld lê Steinkopf se kant toe, en wes daarvan, see toe.

Dadelplantasie
’n Dadelplantasie by Henkries is een van die min groen kolle in die landskap

“Ons moet eintlik in die somer ordentlike donderbuie kry. Maar die aarde is kurkdroog.”

’n Vars span vee kom aangedraf na die water toe – iemand anders se kudde.

Kado sien nie baie mense nie, maar weet altyd wie naby hom loop met vee. Saans kuier hulle oor en weer.

“Deur die dag sien ons dalk mekaar in die veld, dan besluit ons ek kom nou oor na die ander ou vanaand, dan bring ek ’n dingetjie saam om ’n kossie te maak. ’n Mens kry mos nie elke slag ’n eetlus as jy so allenig is nie. Só met geselskap gaan die kossietjie darem af.”

’n Veewagter moet spaarsaam werk met als.

Kado moet een pakkie Boxer oor agt dae uitrek. Sy 10 kg meel moet ’n maand hou.

“As ek alleen in die veld is, dan dink ek meeste van die tyd aan my kinders en my vroutjie. My dogtertjie is Rochandré, sy is ses. En die kêrelkind is vier, sy naam is Elvano. Dan dink ek ook aan my diertjies wat douriekant is. En my ma en pa, wat darem ook nog lewe. En my ma se ma, my ouma. Dís die mense aan wie ek dink.”

Die veewagter van die nuwe span vee verskyn – Edwin Engelbrecht. “Die vee behoort aan antie Willemien Olyn,” vertel hy. Edwin bly hier op Henkries.

“Sit nou!” betig hy ’n hond wat nie tot ruste wil kom nie. Hy begin ’n vuurtjie aansteek – dis teetyd vir hom en Kado. Romerige bokmelk word uit ’n botteltjie – toegewerk in klam lap om dit koel te hou – by die tee gegooi.

Niks van hulle toerusting kom uit ’n fênsie winkel uit nie. Als is herwin, self gemaak en goed opgepas. ’n Blikbeker met ’n paar blertse emalje weg. ’n Tweeliterkoeldrankbottel, die plastiek vaal van gebruik. ’n Handgekerfde houtkierie. Hulle klere is gemaak vir die veld. ’n Breërandhoed, ’n oorpakbaadjie, koöperasie-vellies – hoewel Edwin byderwetse wit tekkies dra. Maar nou, ja, hy bly op Henkries, nie iewers op die vlakte soos Kado nie.

Kado en Edwin skinder ’n bietjie. Hulle praat oor ’n ander wagter wat soos ’n sprinkaan maak. “Dis een wat gulsig is,” verduidelik Kado.

Edwin: “As een strook reën gekry het, dan trek almal soontoe, soos sprinkane. Dan moet jy jou vee mooi kyk, want almal loop dan na aan mekaar.”

Dit is ’n nomadiese bestaan hierdie. Soms “skuif” jy (nie so ver nie), ander kere moet jy “trek” (verder).

“As jy te lank op een plek staan, dan raak die grond so ’n poeier,” sê Edwin, “dan moet jy skuif, die stof maak die vee siek.”

Kado las by: “As jy met die diere beweeg, dan is jou agterskaap en jou voorskaap baie belangrik.”

Die voorskaap ken die pad, ’n natuurlike leier wat deur die res gevolg word. Die agterskaap dek die agterhoede.

Edwin: “Jou vee kan wyd uit mekaar loop, maar hulle moet mekaar vólg.”

Kado: “Jy moet die roete by hulle vaslê. As jy nie keer nie, dan kry jy later groot probleme, dan gooi jy hulle later weg.”

Om “weg te gooi” is om skape te verloor. Dit kan wees omdat hulle verdwaal, maar ook as hulle gesteel word, gevang word deur ’n ondier of vrek van iets anders, soos gifplante vreet. Dit is ’n veewagter se grootste vrees.

“Vee-oppas is ’n groot verantwoordelikheid,” sê Kado. “Dis so goed soos die eienaar se bankbalans wat jy oppas. Dis baie geld.”

Die Tentedorp

Tentedorp
Jasper Cloete en Tinkie de Klerk doseer van hulle vee by hulle staning ’n ent weg van Goodhouse. Hierdie gebied is bekend as die Tentedorp vanweë die tentvormige koppies wat hier staan.

Ek ry die sowat 17 km terug Goodhouse toe. Langs die rivier stop ek eers om te swem. By Henkries was die temperatuur 38 °C, maar by Goodhouse is dit 43 °C. Daar gekom is dit tyd om veld toe te gaan saam met Jasper Cloete. Jasper is nie soos baie van Steinkopf se “boere” wat op die dorp bly en veewagters die harde werk in die veld laat doen nie. Hy is sélf in die veld.

Hy het ’n klein span mense wat help. Saam met hom is sy dogter Amanda Cloete, en dan ook Tinkie en Desmond de Klerk. Desmond se seuntjie, Allister, is ook tans by hom. Tussen hulle is twee bakkies, ’n Toyota Hilux en ’n Isuzu KB – ou modelle. Jasper bestuur nie self nie; Amanda is gewoonlik agter die stuur wanneer hy iewers heen moet ry.

Desmond
Desmond de Klerk dra ’n pasgebore lammetjie

Hulle ontmoet my by Bennie-hulle se huis, en van daar volg ek hulle in die Duster. Die staning is net meer as 5 km ver, agter een van die inselberge. Dis opvallend hoeveel van dié puntbergies hier staan, en dis juis hoekom die omgewing “die Tentedorp” genoem word – dit lyk soos die silhoeëtte van markies-tente wat op die vlakte opgeslaan is.

Die staning is eenvoudig: ’n Kraal waarin die kosbare teelramme gevoer word, asook die twee perde, Max en Frog. ’n Sinkhuisie om in te slaap, ’n kookskerm, ’n bed of twee buite.

’n Waentjie waar lusern gebêre word – voer vir die perde en ramme. Als kan opgepak en verskuif word. Dis ’n mobiele lewe. Die grootste deel van die vee loop bedags langs die rivier. Laatmiddag kom hulle vanself terug na die staning – dis nie eens nodig om hulle aan te jaag nie.

Wanneer die skaduwee van die Tentedorp se koppies oor hulle val, woel Jasper, Desmond en Tinkie tussen die vee. Die vee is moeg en gaan nou nêrens heen nie – daar’s geen kraal rondom hulle gespan nie. Dis ’n geblêr en geproes, stowwerig en vreedsaam.

Blits
Blits is deel van Jasper se span honde

‘Als kan opgepak en verskuif word. Dis ’n mobiele lewe.’

Hier’s ook ’n donkie, Seska, ’n paar hoenderhane en -henne, ’n span honde, ’n katjie. ’n Paar skape wat nie lekker lyk nie, word gedoseer. ’n Skaapooi is besig om geboorte te gee. Die kloutjies wat eerste uitkom, lyk soos nat wit kwartsklippies. Water word uit kanne getap vir die ramme – wit dorpers en meatmasters. Amanda begin solank kosmaak.

Allister speel in die stof met ’n buiteband. Desmond klim in ’n bakkie en ry om te gaan kyk waar die beeste is. Jong bokkies spring op ronde rotse rond waar ’n bergwagter, ’n grys voëltjie met ’n wit skouervlek, hulle belangstellend van ’n hoër uitkykpunt af dophou. ’n Kransswael swaai gesellig links en regs oor die toneel. Kelkiewyne vlieg roepend oor. Die son sak.

Op 63 jaar is Jasper al ’n leeftyd in die veld. Hy het jare lank alleen geboer. Hy onthou yskoue nagte waar hy vuur sou maak, en later sand oor die kole gooi – en dan bo-op dié vuurmaak- plek gaan lê met sy kombers, net vir ’n bietjie warmte.

Hy het later besef hy het ’n vrou nodig. “ ’n Jongman moet ’n maat het,” vertel hy. “Ek het my vrou daar op ’n plaas ontmoet, Kosies is die plek se naam.”

Op 15 Oktober 1977 trou hy met Heloisa. Hulle was onafskeidbaar. Lady Heloisa, soos hy na haar verwys, is op 20 Oktober 2019 oorlede. Wanneer Jasper daaroor praat, kyk hy oor my skouer. Dis duidelik iets wat hy nog nie lekker kan verwerk nie.

Die ding het skielik gekom, laas Oktober, nadat sowat 60 stuks van hulle vee gifplante gevreet en gevrek het. Die skok moet iets aan haar gedoen het, sê Jasper.

“Party dae,” sê hy, “party dae voel ek reddeloos sonder haar.”

Hy glo dat vroue beter boere is as mans. Hy is lief om oor Heloisa te gesels – en in sy stories is lady Heloisa altyd die een wat tot die redding kom.

Hy vertel my van die keer toe hy iewers agter verdwaalde vee moes gaan soek in koue, nat weer. Sy kos het opgeraak en teen donker moes hy skuilplek soek onder ’n oorhang, wetend dat daar ’n luiperd in die omtrek is wat drie van hulle skape gevang het. Lady Heloisa het sy voetspoor gevolg met die bakkie en hom opgespoor.

Ons eet saam – Amanda het pasta gemaak. Die staning raak stiller. Die vee lê, die hoenders hop op rotse rond en kry ook lêplek vir die nag. Niks is in hokke nie. Kort voor lank span sterre die Tentedorp se dak toe.

Wanneer ek inkruip in my tent – wat ek opslaan uit die wind uit, aan die noordoostekant van die Duster – dwaal my gedagtes nog lank.

Ek dink aan Kado, wat weer 8 km oor die kraakdroë aarde moes terugstap met sy kudde swartskape en bokke, tot by sy staning net duskant die Bloupad.

Môre ry ek weer hier weg, terug na die gemakswêreld van Wi-Fi en Cape Union Marts, maar die lewe vir Kado, Bennie, Jasper en honderde ander boere gaan onveranderd voort. Dit begin om vieruur die oggend met ’n haan wat sy hart uit kraai. Jy sit regop in jou bed, wat dalk sommer buite staan. Klop jou skoene uit. Die eerste ding wat jy sien, is ’n dier. Skaap, hond, bok, hoender. Dan blaas iemand ’n vuurtjie aan die brand met ’n boksie vuurhoutjies geklem in ’n bakhand. Jy maak tee, pap, kry iets in die maag.

Die kelkiewyne sal weer oorvlie’, die bergwagter weer op ’n klip kom sit en kyk, die kransswael onsigbare steke deur die lug vleg. Die vee sal begin opstaan en strekoefeninge doen. Blêr. Proes. Die dag se eerste stof word opgeskop.

En dan, sodra die son om die koppie stroom, reageer die vee op ’n teken, seker van die voorskaap, en begin aanstap na waar hulle weet daar nog ’n paar vet peule hang, al moet jy op jou agterpote staan om by te kom.

Naskrif: In Junie 2020 het sowat 50 mm reën geval op Steinkopf en die Binnewêreld, en 20 mm op plekke naby Goodhouse.

* Met dank aan Rey Janse van Rensburg en Marietjie en Weich van Niekerk vir hulle hulp met die navorsing vir hierdie artikel.


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook