Elke boomhuis is rondom ’n regte boom gebou. Giraffe is byvoorbeeld gebou rondom ’n maroelaboom. Die takke krul deur die klein stoep, slaapkamer en badkamer. 

Die boomhuise is redelik ver uitmekaar, en al wat jy hoor, is ’n deurlopende gekwetter, en nou en dan die roep van ’n leeu of luiperd in die verte. 


Hier is ’n gemeenskaplike leefvertrek (met speletjies vir die kinders), kombuis, boma en braaiplek en ’n swembad by die lodge. En die Kruger se Orpen-hek is net ’n halfuur se ry weg. 

Maar kry jou kop reg vir ’n naweek van niksdoen – die pad na die reservaat is in ’n slegte toestand en jy kan nie vryelik op die eiendom rondstap nie. Hier’s buffels en luiperds. “En nou en dan ontsnap ’n leeu of wildehonde van die aangrensende reservate,” vertel Gregory Sweeney, die eienaar, ’n onderwaterfilmmaker vir National Geographic. 

Geriewe: Zebra en Giraffe is gesinsboomhuise met slaapplek vir 2 volwassenes, en 2 kinders op ’n matras op ’n platform bokant die badkamer. Impala het plek vir 2 mense. Die drie deel die gemeenskaplike kombuis by die lodge.

Kudu en Impala het slaapplek vir 2 mense, ’n eie kombuis en boma. Al die boomhuise het elektrisiteit, en suite-badkamers en ’n buitestort waar jy oor die bosveld kan tuur terwyl jy hare sjampoe.

Wat pla? Giraffe se dubbelbed was effens ongemaklik. 

Hoe kom ek daar?  Die afdraai is sowat 23 km suidoos van Hoedspruit op die R40. Ry liefs met ’n voertuig met hoë grondvryhoogte. 

Koste: R625 p.p.p.n. en R260 per kind. Kudu: R710 p.p.p.n. Jy kan ook al vier boomhuise bespreek vir R5 000 per nag, indien die hele gesin saam wil kuier! Die maksimum-hoeveelheid mense wat saam kan bespreek is 8 volwassenes en 4 kinders.

Kontak: 083 376 3048; bonantaba.com