Hierdie 12 dae lange reisplan vir 4x2-voertuie (ons sluit ook ’n 4x4-opsie in vir diegene wat sandpaaie wil ry) is opgestel om jou te lei na waar daar nog nie ’n vertrapping van toeriste is nie – die toerbusse weet nie van hierdie lekker plekke nie!

Laai 'n PDF van dié kaart hier af.

4x2-HOOGTEPUNTE

• Goo-Moremi-ravyn

• Khama Rhino Sanctuary

• Botetirivier

• Makgadikgadipanne

• Tuliblok

4x4-HOOGTEPUNTE 

• Kubu-eiland

• Makgadikgadi- nasionale park

Die geluid begin altyd huiwerig. Maar ’n bosveldfisant bly selde lank huiwerig. Nes jy een oog oop het in jou tent, begin hy ordentlik skater. En is dit dan nie een van die beste, baldadigste dinge om te hoor nie?

Dit beteken jy’s iewers in die bos, iewers in ’n tent, iewers in Botswana.

Botswana is een van ons toeganklikste buurlande. Die paaie is meestal goed (’n paar kort wel ernstige werk), die mense vriendelik en die pryse nog redelik.

Een gewilde selfryroete is wat ons noem die Groot Noordelike Sirkel (lees hieroor in Weg #124 of 2017 se Weg Botswana-gids), waar jy onder meer by die Okavangopypsteel en die Choberivier uitkom.

Maar in tye waar ons almal ons sente moet omdraai, kan jy geld spaar op jou jaarlikse bosvakansie deur nie so ver noord te draai nie.

Hierdie klassieke reisplan vir Sentraal-Botswana kan gery word met ’n 4x2 met goeie grondvryhoogte. Die meeste van die paaie (99%) wat jy gaan ry, is geteer, met net kort stukkies sanderige pad na waar jy oornag.

Die reisplan is só uitgewerk dat dit jou neem na die perfekte wegspringpunte waarvandaan jy dikwels dieper die bos in kan gaan deur van die ekskursies gebruik te maak van die lodge waar jy bly. Op dié manier kom jy by 4x4-bestemmings sónder dat jy jou eie 4x4 hoef te koop!

Die reisplan is só uitgewerk dat dit jou neem na die perfekte wegspringpunte waarvandaan jy dikwels dieper die bos in kan gaan...

Hierdie roete neem jou na uiteenlopende landskappe (van ’n koel kloof tot panne waar die einders in die lugspieëlings tril), wilde hoekies (van die Boteti tot die Tuli) en tot by troppe diere (dalk minder as wat jy in die Chobe en Moremi sou sien, maar diere sal jy sien!).

Met dié roete kom jy uit by goeie kampplekke, want sodoende spaar jy geld (daar’s ook ander verblyfopsies).

Die werklike besparing sal jy egter aan jou brandstoftenk voel. Die roete is net sowat 1 600 km lank – indien jy die Groot Noordelike Sirkel sou ry, byvoorbeeld, sou jy minstens 2 400 km moes aflê. (Hierdie afstande is uitgewerk vandat jy Botswana binnery, en later verlaat. Jy moet natuurlik nog die afstand van jou tuisdorp byreken – wat jammer is as jy op Struisbaai bly...)

’n Vakansie in Sentraal-Botswana is dus goedkoper as een in die noorde van die land. Jy hoef ook nie enige spesiale toerusting te koop nie – jou tent en kampgoed waarmee jy gewoonlik vakansie hou, is al wat jy nodig het.

Trek vanjaar die gordel stywer, en verken dele van Botswana waar dit dikwels net jy, jou mense en daai bosveldfisant in die kampterrein gaan wees...

DAG1

Grenspos na Goo-Moremi Resort

(113 km van Groblersbrug af; 210 km van Stockpoort af)

Die beste plek om hierdie roete te begin is óf die Stockpoort- óf Groblersbrug-grenspos. Stockpoort (bekend as Parr’s Halt aan die Botswanakant) is baie stil, maar dit beteken jy het grondpad om te ry aan die Botswanakant voordat jy weer by teer uitkom. Groblersbrug (Martin’s Drift aan die Botswanakant) is heelpad teerpad, maar jy gaan dalk moet toustaan.

Jy mik vandag vir die Goo-Moremi Resort naby Palapye. Indien jy uit Gauteng ry, is dit maklik om binne ’n dag tot hier te vorder – uit ander provinsies verder suid moet jy nog ’n dag of twee se rytyd byreken.

Hoewel die laaste paar kilometer na die Goo-Moremi Resort ’n sanderige paadjie is, is dit maklik om te ry. Die teerpad stop in die dorpie Moremi waarvandaan jy reeds die Tswapong-heuwel sal sien. Goo-Moremi Resort se kampterrrein en netjiese chalets lê net duskant hierdie misterieuse berg – die ravyn self is heilige grond vir die mense hier, daarom is swem verbode in die poele wat jy teëkom.

Afhangende van hoeveel tyd jy het, kan jy voordat jy na Goo-Moremi ry, eers by Ou Palapye inloer. Ou Palapye was van 1889 tot 1902 die setel van die Khama-familie se Bamangwato-stam. Hier kan jy die ruïne van die Londense sendingkerk sien, asook ander punte van belang soos die 42 enorme makoshobome. Indien jy dié plekke wil besoek, met jy eers by die kaptein se kantoortjie in Malaka gaan inteken.

Sorg dat jou tent voor donker staan: Die netjiese braaiplek sal vroeg begin roep vir daai tjops en wors wat jy by die Bosveld Meat Market ( 00 267 492 1722) in Palapye gekoop het. (Onthou:

Sorg dat jou tent voor donker staan: Die netjiese braaiplek sal vroeg begin roep vir daai tjops en wors

GPS-PUNTE

  • Ou Palapye / Londense sendingkerk S22.64555 E27.29268
  • Makoshobome S22.66688 E27.22346
  • Kaptein se kantoor in Malaka S22.61544 E27.33223
  • Bosveld Meat Market S22.54103 E27.08859
Bosveldfisante gaan jou meer as gereeld wakker skater langs ons roete deur Sentraal-Botswana.
    BLY HIER Goo-Moremi Resort

    Parktarief P60 (R75) p.p. en P45 (R56) vir kinders 6-15 jaar (slegs dagbesoekers betaal die parktarief). P50 (R62) per voertuig, eenmalig (dagbesoekers, asook oornaggaste).

    Verblyf Hier’s 5 ruim kampplekke met puik geriewe: P200 (R250) p.p. of P60 (R75) vir kinders 6-15 jaar. Die 6 chalets kyk uit na die berg se kant. Chalet vir 2: P1 100 (R1 373) p.n. Chalet vir 4: P1 500 (R1 872) p.n. Vuurmaakhout: P30 (R37) per bondel.

    GPS S22.58262 E27.43094

    Kontak 00 267 71 247 225 (Wendy); goomoremiresort@gmail.com

    DAG 2

    Goo-Moremi na Khama Rhino Sanctuary (132 km)

    Jy kan langs die Boteti kamp by die Drifters Maun Lodge of rondom Xhumaga.

    Jou vakansie het begin – moenie te haastig by hierdie besonderse plek wegry nie. Stap in die kampterrein rond sodra die bosveldfisant jou uit die vere het – jy sien dalk koedoes. Jy hoef nie omkyk-omkyk te stap nie – hier is geen gevaarlike grootwild nie.

    Bespreek ’n begeleide ravynstaptog – dit duur sowat twee uur. Al is die afstand slegs enkele kilometer, moet jy soms van klip tot klip oor die stroompie trap, en op twee plekke met ’n kort ketting padhou teen rotse.

    Enige fikse persoon sal dit egter kan doen – die staptog eindig by ’n waterval. Ja, reg gelees! ’n Waterval in Botswana! Die Goo-Moremi-ravyn is die eerste verrassingspakket op jou toer: varings, helder poele en teen agtuur die oggend sal jy ook aasvoëls sien draai op soek na warm lugstrome – hulle broeikolonie lê dieper die kloof in.

    Enige fikse persoon sal dit egter kan doen – die staptog eindig by ’n waterval.

    Ry van Goo-Moremi af teerpad langs na Palapye (jy kan vandag ook Ou Palapye besoek – sien dag 1), en daarvandaan na Serowe. Dié woelige dorp het winkelsentrums, slaghuise, kitsbanke, vulstasies en mediese geriewe. Dis die beste plek om jou inkopies te doen vir die toer wat voorlê.

    Nog voor die middedorp lê die Boiteko Junction- sentrum op regterhand by die verkeerslig waar die A14 (wat na Khama Rhino Sanctuary lei) in elk geval regs uitdraai – op hierdie manier systap jy die besige deel van die dorp.

    Boiteko Junction het ’n Superspar en ook ’n selfoonwinkel waar jy ’n plaaslike SIM-kaart kan koop. ’n Goeie slaghuis is Sandveld Meats – hulle is wel in die midde-dorp. Jy kan hulle vooraf bel ( 00 267 71 722 639, Bathusi) en jou vleis laat verpak soos jy dit wil hê. Jy kom laai net op en daar gaat jy. 

    As jy klaar inkopies gedoen het, kan jy die dorp verlaat met die A14 en na Khama Rhino Sanctuary ry – dis net sowat 30 km noord van Serowe.

    Khama Rhino Sanctuary is klein, maar jy gaan baie wild sien. Dis ook die beste plek in die land vir renosters – los jou kar by die Malemapan en wag dat die diere kom drink.

    Hoewel die paaie in die reservaat sanderig is, is die blyplek naby die ingangshek; dus sal jy wel met ’n gewone kar by jou kampplek uitkom. Dis wel raadsaam om op ’n begeleide wildrit te gaan as jy net ’n Corolla aan die bas het.

    Khama se kampterrein – die meeste van die staanplekke is onder groot mangettibome – is een waar jy sommer net wil sit. Die voëls sal weldra kom groet, van geelbekneushoringvoëls en kwêvoëls tot witkatlagters en, ja, bosveldfisante.

    GPS-PUNTE

    • Boiteko Junction-sentrum S22.42169 E26.74525
    • Sandveld Meats S22.83703 E26.70363
    BLY HIER Khama Rhino Sanctuary

    Parktariewe P86,50 (R108) p.p.p.d. of P43,25 (R54) vir kinders 6-12 jaar. Voertuig: P106,50 (R133).

    Verblyf: Kamp kos P118 (R147) p.p. en P64 (R80) vir kinders 6-12 jaar. Chalets vir 2: P703 (R877) p.n. Chalets vir 4: P805,40 (R1 005) p.n.

    Chalet in die bos vir 6 (geen krag nie): P934 (R1 166) p.n. Hierdie pryse sluit die regering se toerismeheffing in.

    GPS S22.23474 E26.71999

    Kontak 00 267 463 0713; khamarhinosanctuary.org.bw

    Jy kan dalk die skaars lelkraanvoël sien

    HOE WERK DIE GELD?

    In Botswana moet jy gewoonlik met pula betaal – trek kontant met jou debietkaart by die eerste groot dorp wat jy binnery.

    By sommige blyplekke kan jy met jou SA kredietkaart betaal, maar brandstof moet jy gewoonlik kontant betaal. Slegs enkele oornagplekke aanvaar rand.

    LET WEL Al die pryse in dié artikel kan verander. Kontak die blyplek vooraf om die jongste prys vas te stel. Die pula-rand-wisselkoers verander gedurig; gebruik randpryse as ’n riglyn.

    DAG 3

    Khama Rhino Sanctuary na Tiaan’s Camp (379 km)

    Vandag ry jy ver, maar die pad is rustig. Moenie jaag nie: Spoedlokvalle kan jou vakansie vroeg begin briek, en jy moet gedurig op die uitkyk wees vir donkies, beeste en ander diere wat loop waar hulle wil.

    In die myndorp Letlhakane kan jy aftrek vir brandstof – die nabygeleë Orapa is nog ’n geslote diamantmyndorp en jy kan nie net daar inry nie.

    Na die sanderige bosveld van Khama Rhino Sanctuary raak die landskap nou meer oop – jy ry byna op die suidelike “oewer” van die uitgestrekte Makgadikgadipanne.

    Teen die tyd dat jy Mopipi bereik, sien jy suid van die pad die Xaumeer – die Botetirivier loop hier dood. Indien jy bakkie ry, kan jy afdraai na die Xaumeer en gaan kyk hoe dit van naby lyk. Wanneer die meer water het, is hier soms honderde pelikane en flaminke.

    Deur langs die Boteti te kamp sien jy die natuur en haar siklusse in aksie. Wilde diere volg weiding en water – soms sien jy hulle hier, ander kere nie. Jy kry ook ’n gevoel vir hoe die mense ’n bestaan maak uit die rivier, hoe dit groot kuddes beeste help onderhou.

    Wanneer die meer water het, is hier soms honderde pelikane en flaminke.

    Klop aan by Tiaan’s Camp aan die buitewyke van Xhumaga. Dit lê net oorkant die rivier van die Makagadikgadi- nasionale park. Tiaan’s Camp is jou wegspringpunt: hoewel jy die park net met ’n 4x4 kan besoek, bied Tiaan-hulle dagtoere daarheen, asook na die Nxaipan- nasionale park en Sentraal-Kalahari-wildreservaat.

    Indien jy bogenoemde wil doen, bespreek twee aande hier en sny ’n aand (byvoorbeeld dag 6 of 9) elders uit die reisplan.

    GPS-PUNT

    • Afdraai na Xaumeer S21.21564 E24.84349
    BLY HIER Tiaan’s Camp

    Verblyf Hier is 8 staanplekke, met krag en water en sommige het skadunet-afdakke.

    Dit kos P135 (R169) p.p. Die gemeenskaplike badkamers is baie netjies. Die 6 chalets het elk slaapplek vir 2 mense, maar ’n enkelbed kan ingedra word vir ’n kind. Dit kos P1 130 (R1 403) p.n. Jy kan hier eet, maar bespreek vooraf.

    Driegang-aandete: P190 (R236) p.p. Ontbyt: P90 (R112).

    Dagtoere Makgadikgadi- nasionale park (minstens 4 mense, 3 uur lank): P290 (R360) p.p., plus P70 (R87) p.p.-parktarief, plus P150 (R187) per voertuig om met die pont oor die rivier te gaan (eenrigting).

    Nxaipan- nasionale park (minstens 4 mense, met piekniek): P995 (R1 236) p.p. Sentraal-Kalahari-wildreservaat (minstens 4 mense, sluit piekniek in): P1 350 (R1 677) p.p.

    GPS S20.469404 E24.514594

    Kontak 00 267 77 152 753; 00 267 72 234 998; 00 267 74 848 055 (Heike); tiaanscamp.com

    VAN WAAR DIE WATER?

    Die Botetirivier het ’n interessante storie. Sy water kom uit die Okavangodelta verder noord by Maun, en die delta se water kom weer uit die Angolese hoogland.

    Dekades lank het geen water die Boteti bereik nie, maar in 2010 het dit skielik weer begin loop. Nou blom die gebied weer, en die wild, soos sebras en olifante, het ook teruggetrek.

    Die Boteti is baie toeganklik vir 4x2-selfrytoeriste, en hier sien jy Botswana onopgesmuk – oorsese toeriste klim nog nie in busvragte hier af nie.

    DAG 4

    Tiaan’s Camp na Drifters Maun Lodge (108 km)

    Jy hou naby die Botetirivier vandag, en ry rofweg parallel daarmee, eers op die B300-teerpad tot by Motopi waar jy met ’n brug die rivier kruis na die A3 wat jy dan weswaarts volg tot jy die afdraai kry na Drifter’s Maun Lodge. Ondanks die naam is dit sowat 30 km buite Maun, maar dis goed so: nou het jy die rustigheid van die Botetirivier voor jou, én jy weet jy kan binne 30 minute in die dorp wees indien nodig.

    Die Drifters Maun Lodge is jou basis vir die volgende twee dae. Hoewel jy nie grootwild gaan sien hier nie (jy is ver van reservate af), is die kanse goed dat ’n visarend jou laatmiddag gaan verras.

    Jy swem ook nêrens in Botswana se riviere nie: krokodille kan enige plek kop uitsteek. Drifters het gelukkig ’n gawe swembadjie – lafenis!

    Jy ry vandag deur ’n veeartsenybeheerpunt sowat 23 km oos van jou afdraai na die Drifters Maun Lodge. Hou maar altyd jou rybewys byderhand, en stop by (al twee) die stoptekens – soms kry jy moeilikheid as jy dit nie doen nie.

    BLY HIER Drifters Maun Lodge

    Kamp (vir ’n verandering op gras!): R130 p.p. Safaritente: R495 p.p. wat deel, met ontbyt. Kroeg en swembad op perseel, en jy kan visvang van die kaai af. Doen navraag oor ekskursies in die omgewing.

    GPS S20.17106 E23.67350

    Kontak 011 888 1160 (SA besprekings); drifters.co.za 

    DAG 5

    Drifters Maun Lodge (Botetirivier)

    Dis goed om iewers in die middel van jou vakansie vir ’n dag of twee nie te bestuur nie. Vandag het jy opsies: Jy kan bloot rus, boeklees en swem by die Drifters Maun Lodge, of jy kan Maun toe ry vir inkopies, of om by ’n restaurant te gaan eet. Vleis gedaan? Maun het twee goeie slaghuise: Delta Meat Deli ( 00 267 72 140 822, Heinrich) en Beef Boys ( 00 267 686 4771, Danie).

    Indien jy nog nooit hier was nie, is dit nou jou kans om op ’n besigtigingsvlug oor die Okavangodelta te gaan. Op hierdie manier sien jy die delta in al sy glorie, sonder om jou voete nat te kry! Boonop sien jy selfs wild uit die vliegtuig – dis ’n ervaring wat jy nie gou sal vergeet nie.

    As jy die energie het (en 4x4 ry), kan jy ook die Moremi-wildreservaat besoek. South Gate is sowat 123 km van die Drifters Maun Lodge af; dus gaan jou dag lank wees.

    GPS-PUNTE

    • Delta Meat Deli S19.98801 E23.42610
    • Beef Boys S19.97727 E23.43137
    WEET VOOR JY WAAI
    Die Moremi-wildreservaat se parktarief is P120 (sowat R150) p.p. of P60 (R75) per kind 6-12 jaar. Kar: P50 (R62) per dag. Tariewe moet kontant by die ingangshek betaal word. Slegs 4x4’s mag in Moremi ry.

    n Teerpad loop rofweg parallel met die rivier van Mopipi tot naby Maun.

    Vlieg oor die delta

     In Maun is verskeie operateurs met min of meer dieselfde tariewe. Maak ’n groep van 5 (of vlieg saam met ander toeriste), dan kos dit jou minder as R1 000 p.p.* Almal vertrek van die Maun-lughawe af – bring jou paspoort saam, selfs al gaan jy nie nou landuit nie.

    Air Shakawe 00 267 686 3620 (sowat R5 206 vir 5 mense)

    Moremi Air 00 267 686 3632 (sowat R4 983 vir 5)

    Mack Air 00 267 686 0675 (sowat R3 936 vir 5)

    Kavango Air 00 267 686 0323 (sowat R5 333 vir 5)

    * Doen navraag oor pryse wanneer jy bespreek.

    DAG 6

    Drifters Camp na Planet Baobab (175 km)

    Maak seker jy het genoeg brandstof om 300 km te ry (tot in Nata op dag 7), net ingeval daar nie brandstof in Gweta beskikbaar is nie. Gaan maak eers vol in Maun, indien nodig.

    Vandag se pad is ooswaarts al met die A3 langs. Ry versigtig: Hier is deesdae baie slaggate. Jy sien soms olifante, want die A3 vorm die noordelike grens van die Makgadikgadi- nasionale park en die suidelike grens van die  Nxaipan- nasionale park.

    Ry versigtig: Hier is deesdae baie slaggate.

    Jy ry vandag weer deur die veeartsenybeheerpunt. (Jy mag nie vleis vervoer van wes na oos soos jy nou ry nie. Sorg dus dat jou vars vleis opgebraai is – eet vanaand iets uit ’n blikkie.)

    Planet Baobab is naby die A3-teerpad en net 5 km buite Gweta. Dis uitgelê tussen ’n knoets kremetartbome en hier is ’n lekker swembad en restaurant. Dit is ’n wegspringpunt vir dagbesoeke na die Makgadikgadi se westelike deel, Ntwetwepan, en Nxaipan- nasionale park.

    Indien jy bogenoemde wil doen, bespreek twee aande hier en sny ’n aand (byvoorbeeld dag 5 of 9) elders uit die reisplan.

    BLY HIER Planet Baobab

    Kamp P85 (R107) p.p. of P60 (R75) per kind jonger as 12.

    Hutte vanaf P530 (R664) p.p. wanneer 4 mense deel – prys sluit ontbyt in. Dié pryse geld vir die sogenaamde droë seisoen – 25 April tot einde Oktober 2018.

    Doen navraag oor die pryse van daguitstappies na onder meer die Nxaipan en die Makgadikgadipanne. Jy kan ook ’n beesplaas besoek, meerkatte gaan kyk of op die Ntwetwepan met quads gaan ry.

    GPS S20.18909 E25.30631 011 326 4407; res2@unchartedafrica.com

    DAG 7

    Planet Baobab na Nata Lodge (103 km)

    Vandag volg jy die A3 verder oos na Nata. Hoewel jy nie die Makgadikgadipanne van die pad af sien nie, sal jy vloedskade sien van die swaar somerreëns wat vroeg in 2017 geval het – deel van die pad was toe onder water (dit is nou rybaar).

    Nata is ’n kruispaddorp: Maak tenk vol, kry ’n Wimpy-koffie of ’n roomys. Die Nata Lodge is net suid van die dorp en naby die teerpad, maar netjies tussen lalapalmbome.

    Dis jou wegspringpunt vir die Makgadikgadipan. Die oostelike deel, Suapan, is maklik bereikbaar van die Nata Lodge af. Ry na die Nata Bird Sanctuary vir ’n onvergeetlike uitsig oor die pan.

    Dis gewoonlik droog, maar wanneer dit op die regte tyd gereën het, lê die plaat water tot op die horison, met duisende watervoëls soos pelikane, lepelaars en flaminke. Jy behoort wild soos sebras en wildebeeste te gewaar, en selfs olifante beweeg soms hier deur.

    GPS-PUNT

    • Nata Bird Sanctuary (afdraai van die A3 af) S20.28942 E26.30181
    BLY HIER Nata Lodge

    Kamp kos P85 (R107) p.p. of P50 (R63) per kind jonger as 12.

    ’n Gesinschalet vir 2 volwassenes en 2 kinders jonger as 16: P1 385 (R1 734) per nag. Safaritent vir 2: P990 (R1 239) p.n.

    Hier is ’n goeie restaurant, gesellige kroeg en groot swembad op die perseel. Hulle het een van die beste kampwinkels vir aandenkings, asook gidsboeke en kaarte oor Botswana. Skemerkelkies by die pan (jy word soontoe geneem – ideaal indien jy ’n gewone kar ry): P265 (R332) p.p.

    GPS S20.22420 E26.26769

    Kontak 00 267 620 0070; natalodge.com 

    DAG 8

    Nata Lodge na Woodlands Stop Over (176 km)

    Vandag is grotendeels ’n rydag, maar jy kan weer by die Nata Bird Sanctuary (sien dag 7) inry as jy wil. Ry versigtig op die A3; pasop vir slaggate en diere op die pad. En vir daai spietkops! Soms is die spoedperk vir lang ente 50 km/h of 80 km/h omdat jy deur ’n landelike nedersetting ry – hou maar daarby.

    Woodlands Stop Over is gewild onder Weg-lesers, maar gewoonlik net as vinnige oornagplek. Dit is egter so ’n puik kampplek (die diens is onverbeterlik) dat diegene wat bloot van kamp hou, gerus twee aande hier kan oorstaan – en dis ook wat ons aanbeveel.

    BLY HIER Woodlands Stop Over

    Woodlands is sowat 15 km noord van Francistown, en ver genoeg van die A3-teerpad dat dit jou nie saans sal pla nie.

    Kamp (op lieflike gras) kos P115 (R144) per volwassene en P95 (R119) per kind (3-15 jaar; kleintjies gratis). Ekstra: P35 (R44) per boswoonwa of soortgelyk, en P35 (R44) p.n. per kragpunt.

    Kampterreinchalets vir 2 (klein maar gerieflik): P610 (R761) p.n., plus P125 (R156) per ekstra persoon (maksimum 2 ekstra mense). Groter eenhede (Rivierview Rooms) vanaf P875 (R1092) per nag vir 2 mense wat deel en die ruim Woodlands Cottage (slaapplek vir 4) kos P1 750 (R2 184) per nag, en P175 (R218) per ekstra persoon (maksimum 2).

    Die bakgat winkeltjie by ontvangs verkoop van vleis en hout tot padkaarte en aandenkings.

    GPS S21.08122 E27.46405

    Kontak 00 267 244 0131; woodlandscampingbots.com

    By die Limpopo River Lodge se bakgat kampplekke kyk jy uit oor die lui waters van die Limpoporivier. Dis een van die min kampplekke in die Tuliblok, en bereikbaar met ’n 4x2.

    DAG 9

    Woodlands (Francistown)

    Vandag is nog ’n rusdag. Jy is stadig maar seker op pad terug suidwaarts – huis toe – maar hoekom haas? Boonop kan jy jou besig hou by Woodlands (stappaadjies, voëlskyk, swem) of in die kar klim en dorp toe ry as jy die geluid van toeters mis.

    Maar beter nog: Besoek ’n plek waar baie min mense ooit kom. Domboshaba se ruïnes is verwant aan die eertydse ryk van Groot-Zimbabwe. Die rit soontoe (meestal teerpad) neem jou deur dorpies, boerderygebiede en pure bos waaruit kordate klipkoppies plek-plek soos hooimiedens uitloer. By Domboshaba lei ’n gids jou deur die ruïnes teen ’n tarief. Neem jou kamera saam.

    Vra dat die mense by Woodlands die pad vir jou beduie (dis sowat twee uur se ry), of volg jou GPS.

    GPS-PUNT

    • Domboshaba S20.60284 E27.37287

    DAG 10

    Woodlands na Tuliblok (sowat 350 km)

    Hierdie is ’n lang dag, maar daar lê ’n beloning aan sy einde: die Limpoporivier.

    Maak vol in Francistown of by Serule, waar jy van die besige A1 afdraai. Korrel vir Selebi Phikwe, dan Bobonong. Van Bobonong ry jy in die rigting van die Platjan-grenspos.

    Hierdie is ’n lang dag, maar daar lê ’n beloning aan sy einde: die Limpoporivier.

    Dis teerpad tot jy ’n T-aansluiting kry. Hier kan jy links draai dieper die Tuliblok in, of regs na Platjan.

    Jy het twee blyplekopsies – vir die Limpopo River Lodge, draai regs na Platjan. Vir die Molema Bush Camp, draai links. Op pad na albei is jou kans goed om wild te sien – sommer olifante ook!

    Die Tuliblok is ’n ongewone bewaringsgebied – dit word deur verskillende private eienaars besit, en toegang is beperk in die sin dat jy meestal net by duurder lodges kan tuisgaan. Die Molema Bush Camp en Limpopo River Lodge is die uitsonderings.

    BLY HIER

    Limpopo River Lodge

    Die ontvangs is 13 km wes van die Platjan-grenspos. Die kampplek (6 staanplekke) is teen die rivier: P132 (R165) p.p. Ander verblyf (selfsorg) kos vanaf P256 (R321) p.p. in die boshuisie tot P650 (R815) p.p. in rondawels en chalets.

    Hierdie pryse sluit die regering se toerismetarief in. Hout te koop teen P20 (R25) per bondel. Jy kan self op die plaas rondry en wild kyk.

    GPS S22.45171 E28.77072

    Kontak 00 267 72 983 756; limpoporiverlodge.co.za

    Molema Bush Camp

    Dis sowat 34 km noordoos van Platjan. Kamp (4 staanplekke met private ablusie) kos R250 p.p. – tot 8 mense en 2 voertuie per staanplek.

    Ander blyplek kos vanaf R845 per nag vir 2 mense, of vanaf R1 210 p.n. vir ’n eenheid wat ’n gesin van 4 kan huisves. Tente met beddens: R355 p.p. wat deel. Jy kan wildritte en begeleide staptogte by hulle bespreek. Tariewe sluit die gemeenskapsheffing in.

    GPS S22.29892 E28.97528

    Kontak 078 391 4220 (Julie); tulitrails.com

    DAG 11

    Tuliblok

    Dis die laaste dag van jou vakansie: rus. Jy kan wildkykritte bespreek waar jy bly – jy mag nie in die Tuliblok rondry soos jy wil nie.

    Jy kan wel op die enkele openbare paaie met jou eie kar ry. Jy kan byvoorbeeld na die Pontdrift-grenspos en terug ry.

    Daar is twee paaie na Pontdrift: die een kruis die Motloutserivier per brug naby Motlhabaneng en is die veiligste om te ry indien jy nie 4x4 het nie. Die ander roete kruis die rivier met ’n lang, modderige drif by Solomon’s Wall – ry net hier deur met ’n 4x4.

    DAG 12

    Huis toe

    Lê vir oulaas in jou bed en luister hoe die bosveldfisant skater. Onthou daai uitbundigheid, en dra dit in jou hart saam huis toe.

    Ry terug na Suid-Afrika deur die Platjan-grenspos waar jy met ’n mooi laagwaterbrug oor die Limpoporivier ry. (Karre kan gewoonlik nie Pontdrift gebruik nie – dis meestal bedoel vir voetgangers.)

    Lê vir oulaas in jou bed en luister hoe die bosveldfisant skater. Onthou daai uitbundigheid, en dra dit in jou hart saam huis toe.

    Jou ander opsies is Zanzibar verder suid, of Martin’s Drift-Groblersbrug-grenspos.

    Vanaand is jy weer terug in Gauteng, maar teen dié tyd weet jy: Botswana en sy bosveldfisant sal op ’n dag weer roep, en jy sal antwoord... 

    Kubu-eiland kan slegs met ’n 4x4 bereik word, maar dit is die ekstra moeite werd, want dis een van daardie “heilige” plekke waar dit voel asof jy ’n hooflynoproep met die aarde kan maak. Fotograwe sal ook vuisslaan om die beste posisie agter die kremetarte teen sonop en -onder. Foto: Shelley Christians

    Lus vir 4x4 ry? Volg dié roete!

    DAG 1 & 2 Goo-Moremi-ravyn en Khama Rhino Sanctuary

    Dieselfde 4x2-roete se dag 1 & 2.

    DAG 3 Khama Rhino Sanctuary na Kubu-eiland

    Kubu-eiland is een van die mees fotogeniese plekke in Botswana, met sy kremetarte en rotsknoppe wat uitstaan bo die papierplat Makgadikgadipan. Neem al jou drink- en waswater saam. Ry al jou rommel weer weg saam met jou. Die roete na Kubu het plek-plek dik sand en jy kan nie op die pan ry wanneer dit nat is nie; jy gaan vassit.

    BLY HIER Kubu-eiland

    Kamp kos P110 p.p. (R138), plus ’n bewaringstarief van P30 p.p. (R38) eenmalig. Die Gaing-O-trust bestuur die kampplek. Dagbesoekers betaal P60 p.p. (R75). Kinders jonger as 15 kry afslag.

    Hout: P18 (R23) per bondel. Die enigste geriewe is puttoilette.

    GPS S20.89105 E25.82175

    Kontak 00 267 297 9612 (Babsie/ Mathapa); kubu.island@btcmail.co.bw

    DAG 4 Kubu-eiland

    Die meeste toergroepe slaap net vir een aand hier, maar hoekom? Slaap twee aande sodat jy twéé sonsondergange en -opkomste kan afneem. Jy kan ook uitry en die noordelike oewer van die panne verken. Soms kom jy wild teë, maar die unieke landskap is genoeg van ’n aantrekking.

    DAG 5 Kubu-eiland na Kumaga

     Ry terug op jou spore na Letlhakane (maak vol indien nodig) en volg dan die teerpad weswaarts oor Mopipi en Rakops tot by Xhumaga. Vat die pont oor na die ingangshek tot die Makgadikgadi- nasionale park, en slaan kamp op by die Kumaga-kamp.

    BLY HIER Kumaga-kamp

    Parktarief Toegang kos P120 (R150) of P60 (R75) per kind 8-17 jaar. Voertuig: P50 (R63) per dag.

    Pont Wanneer die rivier droog is – of laag – kan jy deurry, anders moet jy die pont gebruik teen P150 (R188) per voertuig en P200 (R251) as jy iets sleep (die pont is operasioneel van sonop tot sononder).

    Verblyf Dié kamp word deur die SKL-groep bestuur. Kamp kos R250 per volwassene; R125 per kind 8-17 jaar; R60 5-7 jaar en gratis vir kleintjies; 10 staanplekke onder kameeldorings. Gemeenskaplike badkamers. Bring drinkwater.

    GPS S20.45577 E24.51687

    Kontak 00 267 686 5365; reservations@sklcamps.co.bw; sklcamps.com

    DAG 6 Kumaga-kamp na Njuca Hills / Tree Island

    Nou gaan jy ry waar min mense ry. Die Makgadikgadi- nasionale park is nie een van Botswana se wêreldberoemde reservate nie, maar hier gaan jy afsondering en (wilder as) wildernis kry. Mik vir een van die twee boskampe, Njuca Hills en Tree Island.

    Jy gaan minder wild sien as teen die Botetirivier, maar die eintlike rede vir dié kampe is die stilte, wye uitsigte en die moontlikheid van groot troppe sebras in die natter tye.

    BLY HIER Njuca Hills en Tree Island

    Hierdie twee kampe is sowat 50 km oos van die Khumaga-ingangshek en sowat 10 km uitmekaar. Albei is op effense bulte wat toegegroei is deur bosse en bome.

    Dit word omring deur groot grasvlaktes en pannetjies.

    Hier is twee staanplekke by elke kamp en geen water nie, maar wel emmerstorte (bring jou eie water) en puttoilette. Dit kos P30 (R38) p.p.p.n. Dit val onder die bestuur van Botswana se department van wild en nasionale parke.

    • Njuca Hills GPS S20.43075 E24.87337
    • Tree Island GPS S20.49017 E24.91743

    Kontak 00 267 318 0774; dwnp@gov.bw

    DAG 7 Makgadikgadi- na Nxaipan- nasionale park

    Volg die sandpad noordwaarts uit die Makgadikgadi- nasionale park, sluit vlugtig by die A3-teerpad aan en draai dan in by die Nxaipan- nasionale park.

    Die landskap hier herinner soms aan Etosha, maar dit het ’n identiteit van sy eie. Gaan neem jou foto’s by Baines se kremetarte – jy kan hier naby kamp, maar die beter kamp vir wildkyk is South Camp. Jy mag dalk leeus hoor brul!

    BLY HIER South Camp

    Parktarief Toegang kos P120 (R151) p.p. of P60 (R75) per kind 8-17 jaar. Voertuig: P50 (R63) per dag.

    Verblyf As jy naby die permanente watergat en die meeste diere wil wees, is hierdie die beste kampplek.

    Van die 10 staanplekke is nommer 3 tot 7 onder die grootste koeltebome.

    Die twee badkamergeboue is netjies en hier is warm water van songeisers. Dit kos US$25 (R304) per volwassene, US$12,50 (R152) vir kinders 8-17 jaar oud en gratis vir kleintjies onder 8. Die pryse sluit die regeringstarief in.

    GPS S19.936430 E24.776350

    Kontak 00 267 73 867 221; xomaesites.com

    Baines se kremetarte

    Jy betaal die parktarief soos hierbo. Die drie staanplekke is nie by die sewe bekende kremetarte nie, maar ’n ent weg.

    Hulle is ver genoeg uitmekaar met uitsigte na die kremetarte en oor die Kudiakam-pan.

    Dit kos US$30 (R365) per volwassene, US$15 (R182) vir kinders 8-17 jaar oud, gratis vir kleintjies onder 8. Hier is slegs emmerstorte en puttoilette; bring dus genoeg water saam.

    GPS S20.13948 E24.77011

    Kontak 00 267 73 867 221; xomaesites.com

    DAG 8 Nxaipan- nasionale park

    Hoe langer jy op een plek bly, hoe meer sien jy. Nxaipan is pure Afrika; talm hier. Hou die diere dop. Waarheen kyk die bokke? Dalk skuil ’n jagluiperd iewers naby. Vat jou tyd en volg jou instinkte. Luister na die voëls. Hoekom raas die fisante skielik? Gaan kyk. Nxaipan sal sy skatte weldra met jou deel...

    DAG 9 Nxaipan na Woodlands Stop Over

    Jy bosradar gaan nou so fyn ingestel wees dat dit ’n skok vir die sintuie gaan wees om skielik in die “besige” dorp Nata aan te kom. Maak daar tenk vol en druk deur na Woodlands Stop Over net noord van Francistown. (Sien dag 9 van die 4x2-roete vir Woodlands se inligting.)

    DAG 10, 11 & 12 Woodlands Stop Over na Tuliblok

     Volg dieselfde roete soos voorgestel in dag 10, 11 en 12 van ons 4x2-roete