Foto’s: Helenus Kruger
Koro-Koro-safarilodge.
Roete na Koro-Koro-safarilodge.

Ons Suid-Afrikaners is regtig bederf met ons verskeidenheid keuses wanneer dit tyd is om die volgende kampnaweek te beplan. Elke provinsie of streek het sy eie unieke landskap, klimaat en karakter, en elkeen van ons het ons eie gunstelingkampbestemming, ’n plek met daardie “iets” wat hom van ander onderskei en jou keer op keer teruglok. Sommige is jolig, ander is hiperluuks en by ander is die natuur en die stilte hemels.

Party mense soek egter ’n bietjie van alles...’n bietjie stilte, iets om die kinders besig te hou en netjiese ablusiegeriewe in ’n plek wat meer bos as oord is.

Koro-Koro-safarilodge, sowat 20 km wes van Bela-Bela, is só ’n plek. Dit is ook een van ’n handjie vol oorde waar jy uit drie verskillende soorte kampterreine kan kies. Die kamp het ’n rustige dog gesellige atmosfeer en jy kan kies tussen staanplekke met ’n bosgevoel óf dié op welige gras.

Koro-Koro se naam is afgelei van die roep van die rooibekneushoringvoël, en as jy mooi luister, klink dit kompleet of dié geveerdes “koro-koro-koro” roep daar waar hulle oor die gras voor jou tent hop op soek na ’n wurm.

Die eienaars, Daan en Anneke Olwage, het Koro-Koro in November 2014 oorgeneem. Hulle het met die intrapslag met opknappingswerk begin én ’n klompie wild in die wildskamp gevestig.

’n Mens kan sien hulle is gesteld op persoonlike aandag, en Anneke is altyd gereed om ’n geselsie aan te knoop. Laatmiddag, wanneer die Bosveldson nader aan die horison beweeg, kom loer sy, Daan en hulle Duitse herdershond, CZ, by jou kamp in om seker te maak alles is nog reg.

Dit is ook dié tyd van die dag wanneer Koro-Koro se drie raakvatmanne, Joe, Abraham en Big Boy, met die Land Rover vol ys en hout by die staanplekke omry om te hoor of jy iets nodig het.

Iets vir elke smaak

Kort nadat jy op jou staanplek stilgehou het, kom groet Diesel, Koro-Koro se staffordshireterriër, so al asof hy kom seker maak jy is op die regte plek. Diesel is ’n vriendelike hond wat graag saam met jou deur die kampterrein stap en ook lief is daarvoor om saam met die kinders te swem.

Jou staanplek word vooraf aan jou toegeken, maar jy kan vir ’n spesifieke plek vra wanneer jy bespreek. Die hoofkamp met sy 31 staanplekke het ’n tradisionele kampuitleg waar jy reg langs jou buurman kamp, met ’n wit kalkstreep tussen julle. As jy hou van gras onder jou voete, is dié kamp vir jou. Al die staanplekke het van hoek tot kant ’n mengsel van LM-, kweek- en buffelgras. Die staanplekke in die middel van die kamp (nr. 1 tot 5) word omring deur ander staanplekke en kamppaadjies; dus het jy nie veel van ’n uitsig nie.

As jy die veld voor jou wil sien, moet jy op die plekke aan die kant van die kamp jou tentpenne inkap. Die beste keuses hier is nr. 8 tot 12, nr. 14 en 15 en nr. 21 tot 25.

Die staanplekke van al drie die kampe in die oord is gemiddeld 12 x 12 m groot en elkeen het ook ’n 220 V-kragpunt (blou sok), lig, kraan en vullisdrom.

By die hoofkamp braai jy op ’n geboude braaier met ’n rooster wat op bakstene rus. Dit lol ’n bietjie as jy die rooster se hoogte wil verstel – bring dus jou verstelbare driepoot en toeknyprooster saam. Die kamp is oortrek met bome – apiesdoring, haak-en-steek en sekelbos – en hoewel jou wa nie heeldag koelte gaan hê nie, is hier altyd ’n koelteboom naby waaronder jy kan sit.

Wees versigtig as jy kaalvoet rondloop, want hier is heelwat doringbome... Joe, Abraham en Big Boy is heeldag aan die werskaf om die kamp skoon te hou, maar met die welige gras is daar altyd ’n kans van ’n doring of twee wat wag vir die volgende kaalvoetslagoffer.

Voëlkykers gaan in hulle noppies wees: die bome lok baie geveerde vriende, maar dit is soms moeilik om die kleineres tussen al die fyn takkies van die doringbome op te spoor.

Die uitleg van die ablusiegebou by die hoofkamp is nie iets wat jy elke dag in ’n kampterrein sien nie. Die gebou het 16 klein stortkamertjies – 8 aan elke kant van die gebou. Binne lyk hulle presies dieselfde, en soos in die res van die kamp se ablusiegeriewe deel mans en vroue die badkamers. ’n Kort gangetjie neem jou tot by ’n toilet aan jou regterkant en ’n stortvertrek voor jou, elkeen met sy eie deur (hier is geen baddens nie). Jy hang ’n toutjie by die ingang van die gang sodat niemand niksvermoedend instap terwyl jy binne besig is nie.

Tyd om te ontspan. Jy het ’n keuse van drie kampterreine, elkeen met sy eie karakter, wanneer jy by Koro-Koro kom kamp. Hoewel die staanplekke nie heeldagkoelte het nie, is hier genoeg bome waaronder jy op die hitte van die dag vir die son kan wegkruip. Wees net lugtig waar jy kaalvoet stap, want met al die doringbome in die kampterrein kan daar ’n skerp verrassing in die digte gras skuil. Elkeen van die kampe het hulle eie ablusiegeriewe wat netjies en skoon gehou word.

Die stort is standaardgrootte (85 x 85 cm) en het ’n stortgordyn en ’n rakkie vir seep en sjampoe. Die storthokkie is geteël, maar die res van die vertrek het ongepleisterde siersteenmure. ’n Ovaal wasbak is in ’n marmerblad versink en hier is ’n spieël, 220 V-kragpunt, hakies en ’n klein houtrakkie in die hoek van die vertrek. Die lig bo die wasbak maak sake makliker as jy skeer of grimering aansit.

Die waskamer is in ’n geboutjie langsaan, maar dit was nie oop met ons besoek nie. Die skottelgoedopwasplek is buite aan die een kant.

As jy ’n grondstaanplek verkies, is hier 15 bosstaanplekke ’n entjie weg van die hoofkamp af. (Die twee kampterreine word met veldgras en bome geskei.) Dié staanplekke is in twee verdeel met ’n groot stuk veld tussenin. Staanplek nr. H tot O en nr. A tot G is saam gegroepeer. Die meeste van die plekke het iewers op die staanplek ’n boom of twee, maar heelwat van hulle is te klein en jy gaan nie ’n wa onder hulle kan trek nie. Hier is ook ’n stukkie veld tussen die staanplekke, wat beteken jy kamp nie op jou buurman se drumpel nie.

Anders as by die hoofkamp is hier drombraaiers, elk met ’n rooster. 

Die dromme is diep en jy moet ’n groot vuur maak om hitte by die rooster te kry. Pak jou eie braaier as jy nie al jou hout op die eerste aand wil opgebruik nie.

Die bosstaanplekke deel drie ablusiegeboue. Elkeen bestaan uit 2 vertrekke (1,9 x 3,8 m), een met ’n stort en die ander met ’n bad. Hier is ’n klein wasbakkie, spieël, hakies, ’n sitbankie en ’n toilet. Die stort het ’n gordyn en ’n rakkie vir seep en sjampoe. Elke ablusieblok het ’n skottelgoed- en klerewasbak aan die kant.

Die derde kampplek, Haak en Steek, lê naby die hoofgebou, sowat 200 m weg van die ander. Hier is 6 staanplekke in ’n sirkel en die kamp bied die beste van die ander twee: Hier is gras soos by die hoofkamp, maar daar is ook ’n ruimte tussen die staanplekke en net veld voor jou. Staanplek nr. 1, 5 en 6 is hier ’n goeie keuse.

Al die staanplekke het van hoek tot kant ’n mengsel van LM-, kweek- en buffelgras.

Jy moet jou wa of tent op die gruisblok van 4 x 6 treë staanmaak – geen soliede grondseile word op die gras toegelaat nie. Die braaideel is aan die kant van die staanplek en het ’n klein betonblad waarop ’n drombraaier vir jou vleis en ’n vullisdrom vir die bene staan.

Die een ablusiegebou met drie badkamers binne word ook deur mans en vroue gedeel. Dis nogal knap in die stortkamers (1,7 x 1,8 m), maar die glasstorthokkie het ’n rakkie vir seep en hier is ’n wasbak, spieël, bankie, hakies, vullisdrom en toilet. Die vloere en mure is geteël. Jy was jou skottelgoed agter die gebou waar die twee vlekvryestaalwasbakke diep genoeg is sodat jou skottelbraai daarin kan pas.

Die kassettoilet se leegmaakpunt is langsaan.

Die hartklop van die kamp

Die Bosveldse hitte is niemand se maat nie, en jy gaan een of ander tyd lafenis wil soek by die kouewaterswembad langs die hoofkamp. As jy nie so gelukkig is om een van die plastiekleunstoele op die gras te kry nie, kan jy jou handdoek onder een van die doringbome oopgooi. Tel net eers die dorings op.

Die jongspan se klein swembadjie (50 cm diep) is teen die groot swembad (1,4 m). Los jou eet- en drinkgoed by jou handdoek, want dit word nie in die swembad toegelaat nie.

Al die ander aktiwiteite is by die hoofgebou, sowat 150 m van die kampterrein af. Hier is ’n warmwaterswembad, tafeltennistafel onder ’n klein lapa, ’n buitelugskaakbord, boma, onthaalsaal en kroeg. Dit lê alles in ’n sirkel rondom ’n groot grasperk, wat soos die res van die gras in die oord pynlik netjies is. Onthou om jou fiets buite die gebied te parkeer, want geen fietse word op die gras toegelaat nie.

Hier is ook ’n kampie met ’n dammetjie waar die eende en ganse lyf natmaak en waar die emoes, wat graag deur die kamp stap, saans kom inkruip.

Voor die hoofgebou lê ’n groot ou maroelaboom op sy sy. Anneke vertel die boom was ongeveer 420 jaar oud voordat hy in Januarie 2014 in ’n storm omgewaai het (die termiete, sê sy, het ook hulle deel gedoen...). Langs die boom hou ’n afgetrede windpomp ’n ogie oor sake.

Die warmwaterswembad se water word verhit tot enigiets tussen 28 ºC en 30 ºC, en in die hoogsomer is die kouewaterswembad nie veel koeler nie. By die Hooligankroeg kan jy onder die wakende oë van ’n klompie opgestopte bok- en wildevarkkoppe iets kouds te drinke kry, ’n klompie pool-balle sink (R5) en sport kyk op die grootskerm.

En as die honger begin knaag, kan jy wegneemkos by die kroeg bestel. Dis egter net in die hoogseisoen beskikbaar en jy kan goed soos geroosterde toebroodjies, tjips en russians kry. Langs die kroegtoonbank is ’n rakkie met ’n klompie basiese dinge soos vuurmaakgoed, ys, koeldrank, roomys en lekkergoed. Oor vakansietye word daar elke middag ’n ander aktiwiteit aangebied.

Daar is bingo-aande, laatmiddag-trekker-en-sleepwaritte deur die wildkamp, en ’n braaiaand in die boma waar kampeerders mekaar beter kan leer ken. Vir die kinders word skattejag, boeresport en kunsklasse aangebied. Die nagmars met lanterns deur die wildkamp is een van die kinders se gunstelingaktiwiteite.

Koro-Koro se wildkamp is ’n paar honderd meter weg van die kampterrein en jy kan hier op die netwerk van paadjies gaan stap of op die gemerkte fietsryroete gaan ry. Die fietsryroete is net onder 5 km lank en op gelyk grond.

Wildritte op die sleepwa (R50 p.p.) duur sowat ’n uur en sluit ’n drankie in.

Besige bytjies. Saal jou bergfiets op, daag jou swaer uit vir ’n potjie pool of gaan span uit op ’n leunstoel langs die swembad. Hier word verskeie aktiwiteite aangebied om die kinders besig te hou, en selfs vir die grootmense is hier ’n rits doendinge.
Dis wat dit kos

(2 volwassenes)

Brandstof 50 ppm-diesel @ 8,5 l/100 km en R14,98/l en 256 km (heen en weer)R325,96

Tolhekke (heen en weer) R129

Verblyf (2 nagte) R1 240

Kos (2 mense) R1 382,66

Groottotaal R3 077,76

Kortliks | Koro-Koro

Kampplek: 3 verskillende kampterreine met ’n totaal van 52 staanplekke met en sonder gras.

Ablusiegeriewe: Elke kamp het sy eie geriewe. Mans en vroue deel badkamers.

Prys: R250-R620 per staanplek (vir tot 4 mense en 1 voertuig) afhangende van die seisoen.

Kontak: 082 908 4448;  korokoro.co.zainfo@koro-koro.co.za

Aankoms- en vertrektyd: 12 nm. en 2 nm., maar jy mag die geriewe tot 3 nm. gebruik.

Hoe lyk die pad? Teerpad, met die laaste 1 km tot by die hek ’n goeie grondpad.

GPS: S24.890823 E28.119686 (ontvangskantoor)

Weg Ry & SleepBy die Haak en Steek-kamp word jy dubbel en dwars bederf: Jy het groen gras onder jou voete en veldgras voor jou stoep.