GRENSTARIEWE

Pryse verander soms oornag, en implementering verskil dalk van grenspos tot grenspos.

Betaalbaar in pula – jy kan by die grenspos ruil. Voertuig: vanaf P152 (R210) afhangend van enjingrootte. Voertuig plus sleepding: vanaf P254 (R352).

GRENSWENKE

Kies ’n klein grenspos. Ons hou van McCarthysrus of Middelputs (Noord-Kaap), en Platjan of Stockpoort (Limpopo). Probeer groter grensposte vermy, veral rondom die einde van die maand, en groot vakansiedae.

Maak seker jy het genoeg kontant om jou oorgrenstariewe te betaal.

Skryf jou reeksnommers vooraf neer. Skryf jou kameras, lense, selfone, GPS, skootrekenaar, ensovoorts se reeksnommers vooraf neer, en maak afskrifte daarvan. Dit maak die verklaar van toerusting makliker.

Los jou vleis by die huis. Ja, ons weet Weg-lesers hou almal daarvan om hulle eie braaivleisie saam te karwei. Maar los eerder jou vleis by die huis, veral as jy ’n onervare toerder is. Dan hoef jy nooit te stres wanneer jy oor ’n grenspos of deur ’n veeartsenybeheerpunt ry nie. Botswana se beesvleis is prima – koop lekker braaivleis in al die groot dorpe. 

VERPLIGTE PAPIERWERK
  • ’n Paspoort met meer as twee skoon bladsye, en geldig vir ses maande (Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Botswana, Namibië, Zimbabwe of Zambië nie).
  • Karpapiere met enjinnommer en ander inligting (afskrifte sal deug; onthou jou sleepding s’n ook).
  • Toestemmingsbrief van jou bank as jy jou kar nog afbetaal (of van die eienaar, indien jy buurman s’n leen). Spesifiseer die datums van jou besoek, die lande wat jy besoek, registrasienommer, asook die eienaar van die kar se naam, ID-nommer en fisieke adres.
  • Geboortesertifikate vir jou kinders jonger as 18 (onverkorte weergawes). Nota: Dié wetgewing het verander en nuwe kinderpaspoorte lys nou die ouers se name agterin. Met só ’n paspoort het jy nie die geboortesertifikate nodig nie.
  • SA rybewys. Dis oral in Suider-Afrika geldig. Hou dit in jou broeksak. 

VIR JOU KAR
  • ZA-plakker. ZA-plakker vir agterop jou kar.
  • Nooddriehoeke. Pak twee vir ingeval iemand vra. Hou dit byderhand.
  • Brandblusser. Jy móét een in die kar hê.
  • Glimbaadjie. Dra dit wanneer jy uitklim op die padskouer om wiel reg te maak.
  • Glimplakkerstroke op jou buffers. Wit of silwer voor en rooi agter. Dis verpligtend in Zim en Zambië,  selfs al het jou kar reeds rooi-en-wit weerkaatser.

REISWENKE

MEDIES

  • Noodhulpkissie, soos nodig.
  • Malaria. Tref voorsorg, daar is malaria waar ook al jy gaan.
  • Mediese versekering. Altyd goed
  • Geelkoorskaart; dis nie verpligtend nie, maar dit kan iewers uitbreek terwyl jy toer.

GELD

  • Reël vooraf met jou bank sodat hulle weet jy is van plan om jou krediet- of debietkaarte buite die landsgrense te gebruik.
  • Trek geld by plaaslike OTM’s sodat jy altyd pula (Botswana) of kwacha (Zambië) by jou het. Jy kan rand in Namibië gebruik, en Amerikaanse dollar in Zimbabwe en Zambië.
  • Jou kaarte gaan nie oral werk nie: Hou kontant byderhand veral vir brandstof.

SPAAR SÓ GELD

  • Koop ’n plaaslike SIM-kaart vir jou foon. Dis goedkoop en oral beskikbaar. Dan hoef jy nie duur roaming-tariewe tebetaal nie.
  • Gebruik Wi-Fi by die plekke waar jy tuisgaan. Dis gewoonlik gratis (maar traag). Stuur WhatsApp’s aan almal tuis.
  • Ry stadig. Sodoende is jou brandstofverbruik laer en jou spoedboetes minder (Botswana se verkeerspolisie slaap wakker!).

VEEARTSENYBEHEERPUNTE

  • Hier is soms twee stoptekens – stop by altwee tot die amptenaar sê jy kan maar ry. Jou kar kan by dié beheerpunte deursoek word. Dit beïnvloed jou gewoonlik net in die noorde van die land wanneer jy ’n beken-klouseergebied verlaat. Tipies is dit wanneer jy suidwaarts reis van Kasane na Nata, of ooswaarts van Maun na Gweta. Vleis, groente, vrugte en suiwel word dan soms gekonfiskeer.