Hier deel ons wenke  uit die Weg   Botswana-kaartgids wat jou grensposkruisings makliker sal maak. Verpligte papierwerk, reiswenke, telefoonnommers en tye... lees hier en weet voor jy waai. 

Beplan jou eie vakansie na Botswana met die Weg  Botswana-kaartgids! Ons wys jou hoe met 24 kaarte (insluitend dorpskaarte van Maun en Kasane, asook parke soos Moremi en Chobe) en meer as 85 blyplekke. Die gids fokus op die noorde van Botswana, Namibië se Caprivistrook en die Victoriawaterval (Zimbabwe- en Zambië-kant). Klik hier om die digtale uitgawe aan te skaf, of kry die gedrukte weergawe op die winkelrak van jou naaste groothandelaar! 


Grenswenke


• KIES ’N KLEIN GRENSPOS

 
Ons gunstelinge is McCarthysrus (Noord-Kaap) en Stockpoort (Limpopo). Probeer groter grensposte vermy, veral rondom die einde van die maand, en groot vakansiedae. Maak seker jy het genoeg kontant om jou oorgrenstariewe (sien onder) te betaal.


• SKRYF JOU REEKSNOMMERS VOORAF NEER.


Skryf jou kameras, lense, selfone, GPS, skootrekenaar, ensovoorts se reeksnommers vooraf neer, en maak afskrifte daarvan. Dit maak die verklaar van toerusting makliker.


• LOS JOU VLEIS BY DIE HUIS

 
Wat?! Ja, ons weet Weg-lesers hou almal daarvan om hulle eie vleisie vir die braai saam te karwei. Maar los eerder jou vleis by die huis, veral as jy ’n onervare toerder is. Dan hoef jy nooit te stres wanneer jy oor ’n grenspos of deur ’n veeartsenybeheerpunt ry nie. Botswana se beesvleis is veral prima – koop lekker braaivleis in al die groot dorpe. Goeie slaghuise is Fire & Ice in Kasane ( 00 267 625 0620; ronskasane@info.bw) en Beef Boys in Maun ( 00 267 721 36 006; schalk pretorius@gmail.com). Plaas jou bestelling sommer vooraf en tel dit net op wanneer jy arriveer. Ja, hulle kan vir jou skaaptjops ook kry...


• VERPLIGTE PAPIERWERK


Paspoort met meer as twee skoon bladsye, en geldig vir ses maande (jy het nie ’n visa nodig vir Botswana, Namibië, Zimbabwe of Zambië nie). 

Karpapiere met enjinnommer en ander inligting (afskrifte sal deug; onthou jou sleepding s’n ook).

Banktoestemmingsbrief as jy jou kar nog afbetaal (of van die eienaar, indien jy dit leen). Spesifiseer die datums van jou besoek, die lande wat jy besoek, registrasienommer, asook die eienaar van die kar se naam, ID-nommer en fisieke adres.

Geboortesertifikate vir jou kinders jonger as 18 (onverkorte weergawes).

SA rybewys – dis oral in Suider-Afrika geldig. Hou dit voor in die kar.


• VIR JOU KAR


ZA-plakker vir agterop jou kar 

Twee nooddriehoeke is beter as een

Brandblusser

Glimbaadjie (dra dit wanneer jy uitklim op die padskouer om wiel reg te maak)

Glimplakkerstroke op jou buffers – wit/silwer voor en rooi agter. (Verpligtend in Zim en Zambië, koop dit by Midas – ja, selfs al het jou kar klaar rooi-en-wit weerkaatsers op – dit moet plakkers wees!)



Reiswenke


• MEDIES


Noodhulpkissie – soos nodig Malaria – tref voorsorg – daar is malaria waar ook al jy gaan

Mediese versekering – goed om te hê

Geelkoorskaart – nie verpligtend nie, maar dit kan iewers uitbreek terwyl jy toer.


• GELD


Reël vooraf met jou bank sodat hulle weet jy is van plan om jou krediet- of debietkaarte buite die landsgrense te gebruik.

Trek geld by plaaslike OTM’s sodat jy altyd pula (Botswana) of kwacha (Zambië) by jou het. Jy kan rand in Namibië gebruik, en Amerikaanse dollar in Zimbabwe en Zambië.


• KOMMUNIKASIE


Selfoon – spaar geld deur ’n plaaslike SIM-kaart vir jou foon te koop. Dis goedkoop en oral beskikbaar. 

Internet – byna elke plek waar jy tuisgaan sal Wi-Fi hê, al is dit soms baie stadig.


• BRANDSTOF


Oral beskikbaar in groot dorpe – betaal in kontant, want jou bank- of petrolkaartegaan tien teen een nie aanvaar word nie.


Webwerwe wat werk:

botswanatourism.co.bw

botswana.co.za

maunselfdrive4x4.com

livingstonetourism.com

victoriafalls24.com


Grenstariewe


Die onderstaande bedrae is slegs riglyne. Pryse verander soms oornag, en iets soos koolstofbelasting is duurder hoe groter jou kar se enjin is.

Botswana

Betaalbaar in pula – jy kan by die grenspos ruil. Voertuig: P190 (R240). Vra dat jy die “multiple entry” -tarief betaal, veral as jy byvoorbeeld Botswana verlaat om die Caprivi (Namibië) te besoek, en daarna Botswana weer binnekom.


Namibië

Jy kan in rand ook betaal, maar sorg dat jy kontant het. Voertuig: R242; waentjie of woonwa: R154.


Zambië

Hier moet jy gewoonlik sommige tariewe in Amerikaanse dollar (US$) betaal en ander in kwacha (K). Daar sal altyd iemand by die grens wees by wie jy kwacha kan ruil – moet net nie dat hulle jou te veel rook nie. Koolstofbelasting: K150 (R204, per kar tot 3 liter-enjingrootte) Versekering: K304,50 (R415) Council levy: K30 (R41) Tolgeld: US$20 (R277)


Zimbabwe

Betaal in Amerikaanse dollar en betaal dat jy hik. Koolstofbelasting: US$15 (R208) Versekering: US$30 (R416) Padbelasting: US$10 (R139)


Kaart met nommers en openingstye:


Klik hier om die kaart as 'n PDF-dokument af te laai.