Die somer is op ons en wat is meer verkwikkend as om in die see te baljaar en ietsie koels te drink? Wel, aangesien ’n mens nie op die strand mag drink nie, is hier ’n paar Kaapse restaurante óp die strand. 


1) Maestro’s at the Beach, Milnerton


Dié restaurant is op die duine langs die vuurtoring by Milnerstonstrand op die Woodbridge-eiland. Van die stoep af het jy ’n onbelemmerde uitsig oor Kaapstad, Tafelberg, Robbeneiland en teen die Weskus op. Dis ’n gesinsrestaurant, en is ook beskikbaar vir privaatgesellighede. Die spyskaart is uitgebreid, en as jy so oor die see tuur, is dit tog tyd vir ’n skemerkelkie.

Kontak maestros.co.za; 021 551 4992


2) Blue Peter Hotel, Blouberg


Selfs al bly jy nie in die hotel oor nie, het jy ’n keuse van die Lower Deck Bistro, aan die voorkant van die hotel, waar jy pizza en bier kan geniet terwyl die son sak… én op ’n Vrydag is hier musiekoptredes.  

Dan is daar die Lighthouse Bar, ’n oop en lig kuierplek. Kom kyk die rugby, geniet die buitelug en kyk vir die berg terwyl jy aan ietsie kouds teug.   

Onthou om tussen September en Desember ’n verkyker byderhand te hou vir die suidelike noordkapperwalvisse wat hier verbysuiker op pad na Gansbaai en Hermanus om te paar en kalf.

Kontak info@bluepeter.co.za; 021 554 1956


3) Brass Bell, Kalkbaai


Dié kompleks van restaurante en kroeë in die byderwetse Kalkbaai is een van die mooiste bestemmings in die Kaap. Hier is altesame sewe kuierplekke… iets vir elkeen se smaak. 

Gaan na brassbell.co.za vir besprekings en spyskaarte.


4) Bientang’s Cave, Hermanus


Lus vir vars seekos? En om in ’n grot te kuier? Dié restaurant is gebou in die grot van ’n eertydse Khoi-strandloper en loop uit op die rotse van Walkerbaai. Hier is uitstekende kos, skemerkelkies en dis boonop ’n goeie plek vir walviskyk. 

Kontak info@bientangscave.com; 028 312 3454