Sy het op die aanmoediging van haar oupa en ouma, Ria en Danie Senekal van Bloemfontein, dié rubriek vir Weg geskryf. Bestaan ’n perfekte vakansiebestemming werklik? Mieke dink sy het dit gevind... 


Vyftien dae. Dis al. Dis hoeveel verlofdae die deursnee-Suid-Afrikaner elke jaar kry. In hierdie vyftien dae het niemand lus om te stres of te beplan nie. 

Maar hoeveel mense ervaar rêrig ’n stresvrye vakansie? Hoeveel mense gaan terug werk toe en kan sê dat hulle ’n perfekte vakansie gehad het? Ek ken die scenario: Jy sukkel jouself moeg om die strandsambreel in die sand staan te maak sonder dat die wind dit skep.

Uiteindelik behaal jy sukses en jy hardloop die water in, want vandag is die eerste dag hierdie week wat die son skyn. Sodra die water tot by jou knieë kom, voel jy ’n gruwelike stuk seegras teen jou been soos ’n stukkie blaarslaai in skottelgoedwater wanneer jy die prop wil uittrek. Siesa. Jy sak af en begin swem; as jy net 4 m verder swem, sal die seegras jou nie meer tik soos ’n kind wat ’n vraag wil vra nie. 

Gepraat van kinders... waar is joune?! Is dit jou kinders wat op die strand staan en skree dat jy uit die water moet kom, want die sambreel is weg? Tien teen een. Jy het dit nie eens sien wegwaai nie, maar asof jy nounet geswem het in die Fontein van Jeug, jaag jy uit die water uit en jag jou sambreel wat nou al soos ’n akrobaat sweef op pad na die volgende strand. Vakansie is mos lekker.

Daar is drie belangrike vereistes waaraan ’n seevakansie moet voldoen: mooi weer, skoon water, en tyd om te ontspan. Jy wil op ’n strand in die son bak terwyl jou kinders skaterlag en in die water baljaar, huppelend en stralend soos in ’n fiksieverhaal. Wanneer jy bruin genoeg is, wil jy water toe loop en in elke rigting wil jy een ding sien: vakansie.

Daar is drie belangrike vereistes waaraan ’n seevakansie moet voldoen: mooi weer, skoon water, en tyd om te ontspan.

Dit moet lyk soos ’n toneel uit ’n James Bond-fliek wanneer hy sy missie suksesvol afgehandel het en nou ’n ruskans kry. Water blouer as ’n Maandag, blinker as ’n toekoms en skoner as die huis wanneer mense kom kuier. Jy soek ’n strand omring deur klein kleurryke huisies wat ’n heuwel tot bo toe-mosaïek en luukse skepe wat in die hawe om die hoek geanker lê.

Ek weet, ek weet. Almal dink nou: “Maar bestaan so ’n plek rêrig? Dis te goed om waar te wees.” Hierdie sou ’n baie frustrerende artikel wees as ek nie die oplossing gehad het nie; maar ek het.

Aan die ooskus van Spanje, weggesteek in ’n baai, lê die dorpie Sa Tuna. Dis perfek.  Hierdie 80 m lange strand van klippies en growwe sand was vroeër ’n vissersdorpie, en die kleurryke bootjies eenkant getuig daarvan dat die vissies nog nie verskrik is nie. 

Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes

Die seiljagte aan die ander kant sê dis nie net die mense wat hier ’n bestaan probeer maak, wat die pragtige strand gebruik nie. Rykes kies gereeld hierdie strandjie bo enige ander, en ’n mens verstaan hoekom.

Van die regterkant van die inham af loop ’n roete wat langs die kus strek om by die Regana uit te kom, waar die eiland Point of Plom is. Al hierdie dele van die kus is ideaal vir duik omdat die water so deursigtig is soos ’n vierjarige wat iets probeer wegsteek. Veral by die draai wat die S´Eixugador-baai genoem word, kan die mooiste skulpies en klippies gevind word. Links loop 'n voetpaadjie oor die heuwel na die Aiguafreda-inham, ook gewild onder  duikers, na die Kaap van Sa Sal. 

Wie wil nou nat rondhardloop met stukke seewier wat teen jou bene vas klou, besig om ’n sambreel te jag op ’n winderige dag met sand wat jou omhels soos ’n ou vriend by ’n tienjaar-reünie?   

Hier is ’n laaste troefkaart: Sa Tuna se strand het spesiale strooisambrele sodat vakansiegangers nie hoef te sukkel nie... die Spanjaarde dink aan alles!

Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes
Foto: Mieke Meintjes