Hoe gemaak as die reën wegbly? Was net jou wasgoed, skryf Lloyd Zandberg. 


Ek wou dit eers nie glo nie, maar my broer se wetenskapjuffrou – juffrou Kwik – het dit eenkeer vir hulle klas gesê. As kind dit het nooit vir my sin gemaak nie, maar vyf maande gelede het dit met mý gebeur.

Juffrou Kwik het geglo as ’n mens wil hê dit moet rëen, moet jy net jou wasgoed was. Dis asof die reëngode jou sien en dink: Ons gaan jou dag nou met ’n wolkbreuk versuur. As jy die autowash-knoppie gedruk het, trek hulle een of ander tou aan die ander kant en die hemel se sluise maak wawyd oop. Dit wat opgebou het en maande lank al swaar hang, pyl direk op jou wit wasgoed af daar waar dit aan die draad hang. Waps!

Mense glo my nie, maar dit gebeur régtig, égtig. My ma sê ek praat bog. Dalk gebeur dit net in Windhoek. In die Kaap steel mense mos nie meer karre nie. Dis is net waterboewe waar jy kyk.

Wanneer ek in die somermaande hier in Windhoek die eerste bondel ingooi, klink dit soos ’n trop kwaai olifante wat bo my kop basaar hou soos daai wolke teen mekaar skuur. Dit maak my ’n bietjie bang. As ek die waspoeier uitskep en die start-knoppie druk, begin die eerste verligtingswater neerstort. Eers net bietjies-bietjies, maar wanneer die wasmasjien sy laaste draai maak, stroom die water van bo af.

Dan bou ek ’n wasgoedperdjie uit die stikamerstoele en -banke. Drapeer die klam onderbroeke en werkhemde daaroor en hoop op die beste.

My ouma sê toe hulle destyds net voor Donkerpas – buite Tsumeb – met mielies en sonneblomme op die plaas Middelpos geboer het, het dit elke keer met haar ook gebeur.

Woensdae was wasgoeddag en dan het die plaaswerkers ure lank die panties, two-tone-hemde, lakens, tafeldoeke en handdoeke met die hand beetgekry.

As ek die soet reuk van mielies op Ouma en Oupa se handdoeke kon ruik, onthou ek, was dit ’n seisoen van baie reën.

Net voordat die wasgoed opgehang moes word, het die olifantbasaar met hulle verrigtinge Middelpos se hemel bedek. Ouma sê hulle het altyd die wasgoed in die skuur gaan hang.

As ek die soet reuk van mielies op Ouma en Oupa se handdoeke kon ruik, onthou ek, was dit ’n seisoen van baie reën.

So bel ek my ma in die Kaap en vertel haar van die reënspook, en hoe dit nou meer gereeld gebeur.

“Raak rustig,” sê my ma. “Ek glo dit nie, maar moenie kla nie, enige water is ’n blessing.”

“Dit is seker so,” antwoord ek.

“Hoe gaan dit met julle waterkrisis?” vra ek. Hulle woon in Tafelberg se binneboud. Dit is droog. Sprinkbokbiltongdroog.

“Chaos!” sê Moeder. Ek hoor haar stem kraak. “Ek het drie dae laas gestort.”

“Dit is niks lekker nie. Hoe was julle die wasgoed?”

“Ons doen nie. Daar is nie water vir sulke luukshede nie. Jy dra vir T-hemp totdat hy mense begin ontstel. Onderklere gooi jy weg ná twee dae,” sê sy amper in trane.

Ek het ’n voorstel, verduidelik ek aan my ma. Ek weet sy gaan dink dit is bog.

“Kry die hele straat om op één slag wasgoed te was. Julle kort volumes. Hoe meer betrokkenheid, hoe beter!” sê ek.

“En dan?”

“Kyk maar, dan kom reën hy daai dam agter Grabouw so vol dat sy wil bars.”

“En as dit nie werk nie, het ons al daai water gemors. Dit is nie grappies nie.”

Sy glo steeds nie vir my, juffrou Kwik of Ouma nie.

“Loop bars jy, man,” sê Moeder.

Toe praat ons die praat op en druk dood.

’n Week later bel ek weer Kaap toe. Die weervoorspellings sê groot reën is op pad vir die Wes-Kaap. Ek wou hoor of my ma-hulle al iets in die lug sien. Maar sy antwoord nie. Die foon lui en lui. Oomblikke later stuur sy vir my ’n boodskap.

“Skuus, ek het nie my foon gehoor nie. Ek was buite besig om die wasgoed af te haal. Dit reën woes by ons. Veel liefs. Praat vanaand.”

En toe besef ek: ’n Blessing bly ’n blessing. Al gebeur dit hóé.

Lloyd Zandberg is die skrywer van Per Ongeluk (Tafelberg, 2017)


AGTER DIE SKERMS

Wat is jou verbintenis met Namibië? In 1991 het ek my eerste asempie iewers in Windhoek geskep. My familie sê ek was een van daai gillende peach-kleur babas, maar ek het maklik uitgekom. Blykbaar was dit net ’n ligte hoesie en sowat drie drukke, toe’s ek daar.

Ek was amper so hoog soos ’n sonneblom, toe trek ons Melkbosstrand toe. Daar het ek skoolgegaan, geleer rook en ná skool het ek in Kaapstad gestudeer. Vier jaar gelede het ek na Namibië teruggekeer om die waters hier te kom toets.

Waarmee hou jy jou besig? Ek skryf tans my tweede boek en gaan binnekort op toer met my eenmanvertoning Ons is almal só. Intussen is ek die kuns- en vermaakredakteur van ’n weeklikse bylae van Namibië se enigste Afrikaanse dagblad, Die Republikein. Naweke drink ek te veel water en te min wyn.

Wat maak Windhoek ’n spesiale plek? Dis nie so kosmopolitaans soos byvoorbeeld Kaapstad nie, maar ons het ook boetiekbier, gin specials, buitelugfeeste, kunsgalerye en hipsters. En ons het net ’n bietjie verkeer. Ek wil nie eens begin praat oor die vleis nie.

Wat onderskei ’n Namibiër van ’n Suid-Afrikaner? Afgesien van skoenkeuses (Suid-Afrikaners hou om een of ander rede van Salomons – dis asof dié wat dit dra, probeer sê hulle hét in ’n stadium vreeslik gedraf, maar nou nie meer nie...) vind ek Namibiërs se eerlike, amper naïewe benadering tot die lewe boeiend. “Dankie” beteken nog “dankie” en “hoe gaan dit?” is ’n vraag, nie net ’n terloopse tussenwerpsel nie.

“Dankie” beteken nog “dankie” en “hoe gaan dit?” is ’n vraag, nie net ’n terloopse tussenwerpsel nie.

Wat is jou gunstelingplekke in Namibië? Die Hartmannvallei in die noordweste roer my elke keer. My voorliefde vir fotografie het ook daar vlam gevat. Die Epupa-waterval, om die eenvoudig rede dat dit my oupa Charles se gunstelingplek is om poësie te skryf. Ek hou van hoe hy dink, en sy denke word daar gebore.