Die pragtige Slanghoekvallei lê tussen die Slanghoekberge en die kleiner Badsberg net buite Rawsonville in die Wes-Kaap. Kom span vir ’n naweek by die Slanghoek Mountain Resort uit tussen wingerde, plase en fynbos.



Heeltyd speeltyd




Die oord het hope aktiwiteite om julle die hele naweek goed besig te hou:

  • Hier is twee groot swembaddens naby ontvangs, met welige grasperke en sonlê-stoele in die skadu van groot akkerbome.
  • Hier is ’n speelparkie vir die kleinspan ’n ent weg van die swembad af.
  • Kinders kan Saterdagoggende van 9 vm tot 11vm. perdry saam met ’n gids, dit kos R10 per. (Volwassenes kan nie ry nie.)
  • Maak tyd om minigholf te speel. Die 18 putjie-baan is teen ’n koppie uitgelê en jy stap op-en-af teen die hange om die gaatjies te speel. Neem ietsie saam vir ’n skemerkelkie en vat ’n blaaskans op die houtdek by die boonste putjies. Neem ’n selfie met die hele vallei as agtergrond.
  • Pak jou verkyker in vir die sirkel-staproete wat jou omtrent ’n uur gaan neem. Hier is ook ’n langer wandelroete (3½ uur) wat na ’n waterval lei. Vind voor jy begin stap by ontvangs uit of die waterval vloei.
  • Visvang word toegelaat by die dam langs die kampeerterrein en perdekampie.
  • Die bergfietsroete van 4 km is onlangs bekendgestel en begin by die mini golfbaan en eindig by een van die kothuise (nommer 6). Die roete klim 130 meter met ’n moeilikheidsgraad van 3,5. Gaste van die oord ry gratis.




Kies waar jy jou kop wil neerlê


Die Slanghoek Mountain Resort se verskillende verblyfopsies is ’n trekpleister vir groot groepe. Terwyl een deel van die groep in die kampplek oorkant die pad tent opslaan, kan die ander in safaritente, huisies, kamers en houthutte uitpak.


Hier is:

7 selfsorghuisies: Die grootste eenhede het slaapplek vir tot 5 mense.

1 opstal-woonstel: ’n Tweeslaapkamer-eenheid waarin 4 mense kan slaap. Dit het ’n badkamer en kombuis.

13 safaritente: Elke tent het ’n badkamer, warm water, kombuisgeriewe ’n buitebraai. Vier van die tente het slaapplek vir twee mense en die res slaap 4 mense. (Twee enkelbeddens en een dubbelbed-slaapbank).

2 kamers: Een dubbelkamer en die wittebroodkamer. Beide kamers het hulle eie? badkamers.  

17 kampplekke: Die kampplekke is tussen die wingerede op die oewer van die Slanghoekstroom geleë. Daar is elektrisiteit en elke staanplek het sy eie ablusiegeriewe met ’n stort, wasbak en toilet. Hier is plek vir 6 mense per staanplek en net een karavaan per staanplek toegelaat.

3 houthutte: Bespreek die houthutte – die name is Kliphout, Geelhout of Olienhout – in die Platbos-natuurreservaat. Die reservaat is 5 km van die oord af, meld by ontvangs aan om die sleutels en aanwysings te kry. Die hutte het elk ’n oopplankombuis, leefarea, twee slaapkamers en ’n badkamer met ’n stort en toilet. Hier maak besoekers staat op gas, sonkrag en batterye vir krag. Net voertuie met goeie grondvryhoogtes kan tot hier kom. Bring jou kano saam as jy op die dam wil roei en stof die vlieghengel-toerusting af – jy kan lekker oefen hier by die dam.  






Kunsgoed, snoepgoed, geskenke en snuisterye


  • Jy kan oor naweke tussen 9 vm. en 11 vm. by die ontvangsgebou ontbyt eet en koffie drink. Dit is ’n vaste spyskaart en die porsies is genoeg om die mae lekker vol te kry. Bespreek vooraf as julle groep groter as 6 gaan wees.
  • Besoek gerus die kunsgallery wat op die oord geleë is. Kontak langhoekgalery@gmail.com; 073 227 2187.
  • Die winkel oorkant die ontvangsgebou is goed toegerus en het die basiese goed soos hout, ys en brood. Jy kan kos, koeke, pasteie, geskenke, olyfolie en speelgoed koop.


Kontak www.slanghoekresort.co.za; 023 344 3138; info@slanghoekresort.co.za.  Geen troeteldiere of dagbesoekers nie.
GPS: S 33° 37' 48.48" E 19° 13' 38.26"


Hier is 13 wynkelders in ’n radius van 13 km om by in te loer. Hier is ’n paar voorstelle:

  • Jason’s Hill- private wynkelder
    Kontak www.jasonshill.co.za; 023 344 3256
  • Slanghoek-wynkelder
    Die Slanghoekvallei-bergfietsroete begin en eindig hier. Die roete is 13 kilometer lank en kinders kan dit ook trap. Daar is ’n bykomende 4 kilometer wat tegniese en meer uitdagende dele insluit.  Alle ryers moet eers registreer en ’n tarief van R20 betaal.
    Kontak www.slanghoek.co.za; 023 344 3026
  • Badsberg-wynkelder
    Kontak
    www.badsberg.co.za; 023 344 3021
  • Opstal-wynlandgoed
    Kontak www.opstal.co.za; 023 344 3001