Foto’s: Piet van Heerde

Boegoeberg-4x4 is geleë op die plaas Lambertshoek naby Clanwilliam, en die 4x4-roetes het hulle ontstaan in die paadjies wat gebruik is om rooibostee en boegoe in die berge te oes.

Die eienaar, Sybrie de Beer, het ’n geleentheid gesien om dié paaie in ’n speelplek vir veldryvoertuie te omskep en behalwe dat hy dit in stand hou, is hy ook gedurig aan die verbeter. Buiten die 4x4-roetes is hier ook paadjies waarop jy kan stap en bergfiets trap, én ’n hele rits doendinge in die omgewing.

Roetes wat roep

Die hoofroete

Die hoofroete is die gewildste van die drie by Boegoeberg-4x4, maar Sybrie beveel aan jy moet ’n redelik ervare 4x4-entoesias wees om hom aan te durf. Die roete begin ’n paar honderd treë van die kampterrein af en jy begin sommer dadelik klim tot by die eerste hindernis: ’n rotshindernis. Hy is nie té moeilik nie, maar dis belangrik dat jy die regte lyn kies.

As jy nie vir hom kans sien nie, is hier ’n ontsnaproete. Van hier af klim die roete stelselmatig hoër, met hindernisse soos los rotse, skuins hellings en dryfasknopers wat kort-kort oor jou pad kom. As jy ’n rustige tempo handhaaf, bereik jy ná omtrent 2½ uur ’n uitkykpunt by ’n klein kampterrein. (As jy ’n draai moet loop, is hier ook ablusiegeriewe.)

As jy nie haastig is nie en hier kamp niemand nie, kan jy selfs ’n vuurtjie aansteek en ’n worsie op die kole gooi. Daarna kan jy óf terugdraai óf die roete verder volg.

Nou wag effens meer uitdagende hindernisse op jou met groter los klippe en skerper draaitjies, maar as jy mooi ry, kan jy hulle almal sonder ’n ewenaarslot baasraak.

Sybrie ry gereeld met sy Hilux hier om instandhouding te doen. ’n Opsionele deel van die roete neem jou na die toring toe. Met sy kronkelpaadjie in ’n rivier, los spoelklippe en uitdagende hoeke neig hy meer na ’n graad 5, maar jy word beloon met ’n uitsig soos min, een wat reg rondom jou strek. Van hier af begin die roete teen die berg af draai met genoeg hindernisse, rotstrappe, smal spasies en steil afgronde om jou wakker te hou.

En dan, uit die bloute, val die pad ondertoe en jy moet jou ry ken op die los klippe. Hou net kop. Hou in eerste rat en laestrek met jou voet effens op die rem en laat hom loop – nié gly nie. Dan, voor jy jou kom kry, is dit verby.

Hierna moet jy nog een of twee sandsteenrotshindernissies trotseer en dan is jy op die pad terug kamp toe. Die hoofroete is ’n heerlike halfdaguitstappie met ongelooflike uitsigte. Én jy sien die besonderse en unieke plantegroei van die Weskus. 

Lig daai been. As jy nie die mas opkom nie, kan jy een van die kuikenroetes óm ’n hindernis neem.

Die alternatriewe sandroete

Op die alternatiewe roete ry jy eers ’n entjie oor die plaasterrein – ’n gawe geleentheid vir besoekers uit die stad om die vryheid van die plaaslewe te ervaar. ’n Entjie verder is sandgate waar jy jou sandryvaardighede kan toets.

Hierna lei die roete jou oor effens meer ongeskikte terrein, maar dis nie té ernstig nie. Dan staan jy voor die keuse of jy die sand trompop wil aandurf en of jy eers ’n lang ompad wil ry voordat jy hier in die sand kom speel. Die ompad maak dit makliker om daar uit te kom; andersins moet jy ’n taamlike steil sandpad ry wat sommige voertuie nié gaan baasraak nie.

Die speelsloot

Die speelsloot is ’n donga wat gespoel word deur die rivier wat uit die berg vloei. Dis ’n strawwe toets vir veldrygeesdriftiges en veral gewild onder 4x4-groepe wat mekaar hier kan uitdaag om te sien wie is baas en wie is klaas. Sybrie ry gewoonlik saam om ’n bietjie raad en rigting te gee. Hy is ook op bystand om hulp aan te bied.

Die kampterrein

Boegoeberg-4x4 het heelwat kampplek onder groot bome en jy kan na hartelus vir ’n naweek – of selfs ’n hele vakansie – hier kom uitspan. As kamp nie in jou smaak val nie, kan jy vir jou plek in die ou plaashuis of een van die chalets bespreek. Die yslike swemdam hier is iets om te sien. Dis gebou met klip wat op die plaas gekry is, en ’n konstante stroom vloei deur die dam na die leliedam onder.

Kinders sal hulle ure lank hier kan besig hou. Hier is ook ’n kleiner poel vir die jonger kinders en langsaan ’n onthaalgebied waar groot groepe saam kan kuier. Die ablusiegeriewe is uniek: Die personeel stook van vroegoggend af al die donkie en daar is altyd warm water. Die klipgebou word boonop gereeld gediens.

VUILSPEL. Die speelsloot gaan jou trokkie met modder besmeer – hiermee moet jy vrede maak, maar Sybrie staan gereed om te help as jy sukkel.

Die omgewing

Boegoeberg-4x4 is sentraal geleë en hier is ’n magdom doendinge. Jy is skaars 17 km van Clanwilliam af waar jy kan bootry en waterski – van hier af kan jy sommer ook die Sederberg verken.

As dit blommetyd is, kan jy gou ’n draai deur die Biedouwvallei ry, ’n paar vellies op Wupperthal koop of rotskuns gaan kyk. As jy in die ander rigting ry, kan jy op ’n geskiedkundige toer gaan en die Olof Bergh-klip besoek. (Hoe dors voel ek skielik. – Red.) Dit is ’n bekende baken van vroeëre reisigers waar dié avonturier self ’n paar keer oornag het.

Die klip bied skuiling én hier is ’n varswaterfontein. ’n Entjie verder is die Herenloggement – ’n grot waarin reisigers desjare ook oornag en hulle name teen die rotsmuur uitgekrap het. Hier is jy ook op die voorstoep van Lambertsbaai waar jy jou by een van die besonderse restaurante kan tuismaak en jou gebruiklike dieet van rooivleis afwissel met seekos.

Wat jy moet weet

Maksimum aantal voertuie 20.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Daar word gereeld instandhouding gedoen op die roete, maar jy moet mooi kyk om die bosse mis te ry.

Kan ek langs pad braai? Ja.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Ja – nie oral nie, maar bo-op die berg is die sein sterk.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Minstens die naweek.

Is daar ablusiegeriewe? Ja.

Aanwysings Ry uit Kaapstad noord op die N7. Sowat 20 km ná Citrusdal draai jy links by Markuskraal en volg die teerpad tot by die T-aansluiting. Draai regs en volg die teerpad tot by nog ’n T-aansluiting. Draai weer regs, volg die pad tot waar die teer eindig en draai links na Graafwater. Ry nog 7 km en draai dan links.

GPS S32.28719 E18.75543

Wat kos dit? Die hoofroete is R200 en die sandroete R100. Om te kamp kos R250 p.n. per gesin. Die plaashuis en chalets se pryse is op aanvraag beskikbaar.

Kontak 083 632 2634 of 027 482 2933 (Sybrie de Beer – dis beter om tussen 6 nm. en 8 nm. te bel); boegoeberg4x4@mylan.co.za; boegoeberg4x4.co.za

Weg Ry & Sleep Dis ’n uitdagende roete wat jou trokkie gaan toets, maar die kuier agterna vergoed hiervoor.