Hierdie reis word aangebied deur Cape Union MartJeep ClothingRehidrat en caminoways.com.

KAART: Hier's die plekke waar Gerda elke aand gaan oornag op die Camino-staptog:

Sarria tot Portomarin

Afstand: 25,5 km

Hoogte geklim: 157 vloere

Tree afgelê: 39 190

Ek word die Woensdagoggend wakker danksy ’n whatsapp-boodskap van die huis af. Dis my boers se kinders wat vir my ’n “mash-up” sing van The Proclaimers se “I’ll walk 500 miles…” en “I’m walking on sunshine”. My hart voel lig. 

Ek is stiptelik om 07:00 in die restaurant van my hotel, die Mar de Plata, waar ek reeds vyf of ses tafels vol kraakvars pelgrims aantref – silwerskoon klere en skoene, nuwe rugsakke en stapstokke. Dis almal mense wat vanoggend hul Camino begin. In Brierley se gidsboek word pelgrims wat ’n groter afstand gestap het, gemaan teen ’n “gevoel van meerderwaardigheid” teenoor die nuwe pelgrims wat net die laaste 100 km stap.

In hierdie stadium waggel ek egter soos ’n eend wat in ’n duwweltjie getrap het en lyk ek soos iemand wat onder ’n doringbos uitgesleep is. Ek is so stowwerig ek is bang Jeep en Cape Union Mart vra hul geld terug! (Ek het nogals ’n borseltjie in Astorga gekoop om die Salomon-tekkies te probeer skoonhou, maar dis omtrent soos om in die see te stap en jou skoene met ’n jammerlappie te probeer afdroog.) Meerderwaardig voel ek beslis nie. Gister het ek by die apteek met gebaretaal iets soos Deep-heat in die hande probeer kry, maar die apteker het my ’n buis Ibuprofen-room in die hand gestop.

’n Pynstiller wat aangesmeer kan word! Wénner! Die room word ook nou in die gaassakkie op die heupband van die Kway-rugsak byderhand gehou, saam met die Rehidrat, die sjokolade en die pleisters. 

Vroegoggend op Sarria.
Die Middeleeuse Ponte Aspersa waarmee jy Sarria verlaat.

Ek moet in die donker ’n ekstra kilometer stap om weer by die Camino aan te sluit, maar die geel pyle maak dit maklik.

Ek loop by ’n stuk of tien herberge in een straat verby (Sarria is ’n groot stop op die Camino), en in almal brand daar al lig. Deur die vensters kan jy sien hoe die pelgrims om die ontbyttafel sit, die rugsakke in kleurvolle rye langs die muur staangemaak. Die strate ruik na roosterbrood en sterk koffie. Ek is opgewonde oor die dag.

Dis nog mistig in die stad en ek kry ’n koue rilling toe ek verby ’n ommuurde begraafplaas moet stap. Dis doodstil, behalwe vir ’n spookagtige skuurgeluid aan die ander kant van die begraafplaasmuur. Ek het te veel TV gekyk, dink ek. Eers toe ek die kopliggies van twee ander pelgrims sien, skep ek genoeg moed om deur ’n traliehek te loer … daar is ’n paar rondloperhonde wat in die begraafplaas snuffel. Vir wat? Béne?!? 

Vroegoggend mis op pad na Barbadelo Vilei.
Dis ek buite Cruce.
Jy stap vir groot dele van die dag op bospaaie.

Die stroom nuwe pelgrims op die pad bring ’n nuwe energie.

Hordes en hordes sluit uit verskillende rigtings by die geelpylroete aan – ek verkyk my aan al die nuwighede. Agter die een sak swaai luiperdvel-Crocs! In ’n stadium sien ek twee Oosterlinge, vermoedelik ’n pa en ’n tienerdogter.

Die dogter lyk nukkerig en loop reeds effens mank. Die pa wys sy moet op ’n muur gaan sit, maar al wat ek uit die gesprek kan verstaan is die woorde “petroleum jelly”. Ek is dankbaar om te sê die pynstiller-in-’n-buis maak ’n hengse verskil. 

Peruscallo.
By die 100 km-merk!

Die dag word ’n viering van die lewe, met groepe singende, jillende pelgrims. Die een pelgrim gaan tot in Santiago probeer kom in sy hamsterwiel. Glo my nie? Ek het vir julle ’n video’tjie daarvan gemaak.

As jy stilte en afsondering soek, is hierdie deel van die Camino nie ’n goeie roep nie. Jy sukkel om sitplek by ’n restaurant te kry en moet in lang rye staan by die toilet. Maar niemand kla of baklei nie. Dis meer ’n feestelike optog as ’n stil pelgrimstog. Ek geniet dit!

Laatmiddag ontmoet ek ’n Spaanse man in sy twintigs wat die laaste 100 km saam met sy kolliehond, Jotti, stap. Jotti draf opgewonde heen en weer – ek is seker hy lê vandag baie meer as 24 km af.

Op pad na Ferreiros.
Nog iemand wat 'n tafel met eetgoed vir gelgrims uitgepak het. Jy los net 'n donasie.

Die roete loop vandag oor verskeie vrugteplase en baie van die pelgrims help hulleself aan die appels wat bloedrooi langs die pad hang. Dit pla my. As daar 250 000 pelgrims per jaar oor die arme boer se plaas stap, gaan hy nie ’n oes oorhê as elkeen homself aan ’n appel help nie. Ek wroeg nog so oor die gesteelde appels toe een kaplaks omtrent ’n meter van my voete val. Op my erewoord! Ek dink daardie een het die Camino spesiaal vir my gepluk.

’n Rehidrat-breek is ’n goeie breek.

Oor middagete sien ek die bekende gesigte: Cath en Patty het Meg die vuurloper iewers langs die pad ontmoet. Hulle sit elkeen met ’n omelet by ’n straatkafee. Hulle het lankal opgegee op my naam en wuif my nader met ’n hartlike: “Helloooo, South Africa!”  

Dis my gunstelingdag tot dusver. As jou tong begin hang, kom daar weer ’n sanggroep by jou verby. Kyk die kort video’tjie! 

By Vilacha koop ek weer water vir my Rehidrat en die winkeleienaar wys na die armbandjie met die ridderkruis wat ek in Leon gekoop het.

Die gespe is besig om los te skeur. Hy neem geduldig my hand, haal die armbandjie af, en bring ’n tang van agter die toonbank te voorskyn om dit reg te maak. Die pelgrims agter my staan geduldig en wag om te betaal terwyl die man eers die armbandjie regmaak. Dít is die gees van die Camino, dink ek. En iets wat ek hoop om met my saam te vat. Daardie gees van diens sonder om iets terug te verwag.

'n Snuisterywinkel.
Vilacha is so 3 km voor Portomarin.

Die laaste kilometer voor Portomarin neem jou oor ’n indrukwekkende brug oor die Mino-rivier, maar die reuse brug staan nou soos ’n monster oor ’n yl stroompie gehurk. Ek het vooraf gelees dat hierdie deel van Spanje ook deur ’n knellende droogte getref word, maar as Kapenaar wat die afgelope twee jaar eers droogte leer ken het, gryp dit jou aan die hart om dit so te sien. 

Die brug oor die Mino.

Ek het ’n lekker kamer in die Poussade de Portomarin. Ek het in daardie stadium gedink die hotel is aan die kant van die dorp en sommer daar geëet, maar ek kon myself skop toe ek die volgende dag sien hoe naby ek aan die dorpsplein was. Die hotel het drie verdiepings en ’n heerlike dek waar mense laatmiddag sit en drankies drink. 

Ons kuier op die Poussada se dek.

Die hotel se restaurant bly oop tot 16:00 vir middagete, en ek stort vinnig. Ek het vanoggend laas geëet en sal nie tot 20:00 kan wag vir aandete nie. In plaas van die driegang-pelgrimspyskaart bestel ek pasta met ’n driekaassous, en daarna het ek ’n paar uur om my klere uit te spoel en te rus. 
Ek kuier saam met ander pelgrims op die dek tot byna sononder (die son sak steeds na 21:00 in die aand!) en lees nog ’n rukkie boek in my kamer voor ek gaan slaap.

Donderdag 

Portomarin tot Palas de Rei

Afstand: 26,9 km

Hoogte geklim: 185 vloere

Treë afgelê: 41 237

By Portomarin se pelgrim.

Ek het weer sleggerig geslaap. Iewers in die nag het ’n muskiet my beetgekry en my vel is duidelik meer gewoond aan die Afrika-muskiete. Die Spaanse bytplekke brand dat dit bars. Boonop het die driekaaspastasous toe al die tyd drie kase te veel gehad, maar ek sal julle die details spaar. Ek sal net suutjies noem dat ek maar vandag ’n ekstra sakkie Rehidrat byderhand hou.

Ek eet om 07:00 ontbyt en ignoreer die kennisgewings dat jy niks uit die eetsaal mag saamneem nie. Ek gaan ’n ekstra piesang nodig kry en die Brierley-gids waarsku dat die eerste restaurant is eers op 7,7 km van die roete is.

Pelgrimspitsverkeer.

Ek sien nou dat Caminoways.com se aanwysings my gister met die maklikste roete na die Poussada geneem het, maar nie die kortste een nie. Die hotel is skaars 300 m van die pragtige stadsplein af, waar daar reeds ’n ry mense staan om hulle saam met die pelgrimstandbeeld af te neem. Portomarin het 15 herberge en dis ’n gesig om in die vroegoggendlig te sien hoe die pelgrims uit die verskillende rigtings stroom. Dis spitstyd op die Camino!

Dis nog ’n heerlike dag. Ons gebruik ’n ander brug om die Mino-rivier oor te steek, en daarna loop ons vir lang stukke op bospaadjies. Dit lyk soos Knysna. Vandag het ek die Kway-sak se reënjas by voorbaat oor die sak getrek om seker te maak alles bly droog, want op die bospaadjies raak alles klam. Dis lekker koud soggens, en ek dra vir die eerste paar uur van die dag die mus en baadjie van Jeep

Jotti en sy baas.

Ek stap by die eerste twee rusplekke ook verby omdat daar reeds ’n leërskare pelgrims in rye by die koffietoonbank en toilet staan.

Eers by die 10 km-merk, by Ventas de Narón, kry ek ’n koffiedrinkkans. Oorkant my, by ’n ander tafel, sit Jotti se baas. Jotti lê pootuit by sy voete. Omdat die pad vandag vir groot dele neffens die snelweg loop, moes Jotti tot nou toe aan ’n leiband stap. By ’n ander tafel sit ’n gesin met ’n klein dogtertjie. Ek het hulle al langs die pad gekry. Julle moet die bult sien wat daai kind al vanoggend uitgestap het!

Julle moet die bult sien wat hierdie tjokker uitgeklim het..

Ek sit in ’n hoek en dokter my toon, en onthou hoe ek skaars ’n week gelede gegril het vir ander mense wat dit doen. Nou is die enigste privaatheid wat jy kan kry die toilet, en daar staan pal ’n ry mense wat wag. Jy kan nie dáár tyd mors met pleisters plak nie.

Jy sien dikwels hierdie boomkastaiings. Weet een van ons lesers wat dit is?

Dis ’n stillerige dag. Na die joligheid van Sarria is hier skielik aansienlik minder mense op die pad. Ek kom kort voor drie by Palas de Rei aan.

My verblyf (by Pension Palas de Rei) is teen ’n laaste lastige bult uit, wat ek later weer moet uitstap nadat ek gaan aandete eet het. Ek sak al om 17:00 by die enigste oop restaurant op die dorp in, en vra met pleitende oë of hul kombuis oop is. Hulle bedien tans net drankies. Maar die eienaar knik in iemand se rigting, wat instem om spesiaal iets vir my te maak. Ek hou die bestelling so eenvoudig as moontlik: ’n hoenderborsie en slaai. Ek sit in die restaurant ek kyk na ’n Spaanse mediese TV-program op die grootskerm. Ek probeer dink wanneer laas ek ’n Engelse TV-program gesien het (en of ek dit mis). Ek mis dit nie juis nie.

En toe is daar 75 km oor! My rugsak dra sy reënjas.
Gratis drukkies by hierdie eetplek.

En dan is daar goeie nuus van die huis af

My suster het deur die loop van die dag ’n boodskap gestuur dat my ma uit die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas is. My hart loop oor. Ons het almal ontsettend baie genade gekry. Ek kan dus al om 19:00 bel en met haar gesels. Môre is die laaste lang skof op my pad: 29 km na Arzua. Daarna nog net twee skofte tot in Santiago. Ek gaan daarom vroeg probeer inkruip.

Wenk vir die dag: Sandale versus stapskoene

Op die laaste 100 km het ek dikwels gesien dat mense goeie sandale op die roete dra. Die meeste van daardie mense het twee paar skoene by hulle gehad: stewels en sandale. Vir die bergskofte het jy beslis stewige skoene nodig – jy gaan bars as jy net sandale inpak Spanje toe. Ek sal maar hou by ordentlike stapskoene, soos dié wat Cape Union Mart vir my gegee het. 

Weg se Camino-avontuur is moontlik danksy borgskappe deur Cape Union MartJeep ClothingRehidrat en Caminoways.com.

“Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)