Gerda het die skof tussen Palas de Rei en Arzua op een dag gestap, maar op die Weg-toer word dit in twee skofte opgedeel. 

Dag se statistiek: Palas de Rei tot Arzua

Afstand: 28,6 km

Hoogte geklim: 140 vloere

Treë afgelê: 43 851

Ek lê vroeg-vroegoggend in my stikdonker kamer in Pension de Rei en dink na oor Leanna, die Australiër wat op die eerste kilometer van my reis in Léon uit die niet verskyn het, en wat ek daarna nog nooit weer gesien het nie. Onder die kwale wat Leanne genoem het, was slaaploosheid. Daai tyd het ek dit afgelag, want wie op aarde loop nou 25 km en sukkel dan die aand om aan die slaap te raak?!? Maar ek het pas nóg ’n onrustige nag agter die rug.

Laataand het ’n klomp skoolkinders in die hotel ingeboek en ek sweer hulle het rugbystewels om middernag gedra, want die gedonder waarmee hulle die trappe opgeklim het, kan nie deur tekkies veroorsaak word nie. Dit help nie dat die mure papierdun is nie. Ek het soos ’n kwaai skooljuffrou in my bed gelê en “sjuuutttt!”, maar dit was soos die spreekwoordelike poep teen die storm. 

Ek dink dit is omdat jy oormoeg is. As jy saans gaan lê, vat dit jou bene nog ’n uur of wat om ook tot rus te kom. Dis asof hulle in daardie uur ’n lewe van hul eie kry. 

Franse Camino
Ek en die skilpadgroepie stap in die donker verby 'n pelgrimsbeeld

Toe my wekker dus kort ná 05:00 lui, staan ek so raserig as moontlik op. As jy my in die nag uit die slaap hou, moet jy nie verwag ek gaan die volgende oggend soos ’n muis met slippers rondsluip om jou te spaar nie. Ek is skoon spyt ek het nie ’n paar potdeksels wat ek teen mekaar kan slaan nie.

Ek is kort ná 6 by die voordeur uit. Vandag is my laaste lang skof, ’n tamaai 29 km, en met die vorige lang skofte het ek gesien jy kan jou lelik met die tyd misgis. Ek wil dus liewer vroeër aan die gang kom. Dit verg baie moed om in die oggend ’n deur agter jou toe te maak en ’n donker dorp in te vaar. Die winter in Spanje is om die draai en dit word eers om 08:00 lig, en in die laaste uur of twee van die nag hang daar ’n spookagtige mis oor ’n dorp. Jy dwaal dus vroegoggend deur ’n dorp wat jy nie ken nie en soek koorsagtig na geel pyle op geboue, lamppale en sypaadjies.

Ek is kort ná 6 by die voordeur uit. Vandag is my laaste lang skof, ’n tamaai 29 km, en met die vorige lang skofte het ek gesien jy kan jou lelik met die tyd misgis. Ek wil dus liewer vroeër aan die gang kom

Die skilpadgroepie in die donker

Vir die eerste kilometer sien ek nie ’n enkele siel nie. In die herberge waar ek verbystap, brand nog geen ligte nie. Op die rand van die dorp kom ek op nog ’n paar bedremmelde vroegopstaners af – duidelik almal lede van die “skilpadstapgroepie”.

Franse Camino
Casanova is 'n dorp, maar is duidelik nog in die bed
Franse Camino
Volg hierdie pyl

Ek is deel van ’n groep van ses wat woordeloos ons pad in die donker probeer vind. Dis weer ’n nagdonker bospaadjie van waar jy geen straatligte of die maan kan sien nie, en telkens as een van ons ’n Camino-baken gewaar, laat ons die flitslig ’n oomblik daarop talm sodat die ander stappers dit ook kan sien. Dis koud en ek rits my baadjie toe. Ek kan die winter voel kom.

As hulle my vandag hier die bosse insleep en doodslaan, kry hulle eers oor twee dekades my geraamte, dink ek benoud. Vir die eerste uur van die dag praat niemand nie. Selfs die hoenderhane kry te koud om te kraai. Al wat wakker is, is die uile wat onheilspellend roep.

Nie eens die son het vanoggend lus vir opstaan nie en ek is verlig toe dit uiteindelik ligter word. Daar is vandag geen sprake van ’n skouspelagtige sonsopkoms nie. Dis toegetrek en lyk na reën. Selfs Casanova - die dorp, nie die man nie - slaap nog vas toe ek daar verbyloop.  

Franse Camino
Die donkie is 'n wonderlike ding
Franse Camino
Die alternatief tot 'n rugsak
Ek het al 9 km gestap teen die tyd dat ek die eerste oop restaurant op O Coto kry. Ek bestel tee, roosterbrood met konfyt en ’n piesang. Met ’n “aqua por favor” maak die man agter die toonbank my bottel vol.

Die donkie is ’n wonderlike ding

Ná ontbyt is die gees op die Camino terug! Daar is steeds heelwat minder mense langs die pad as twee dae gelede (wat sou van die hordes geword het wat op Sarria in nuwe skoene en kraakvars klere weggespring het?), maar ek sien weer ’n paar karakters langs die pad. Die een oom het nie ’n rugsak nie, maar sleep sy benodigdhede in ’n inkopiewaentjie saam. Hy is beslis ’n pelgrim, want hy dra die skulp om die nek. 

Franse Camino
Foto: Gerda Engelbrecht
Franse Camino
'n Mooi brug langs die pa

Ek sien ook in die veld vir die eerste keer ’n pelgrim wat per donkie reis. Anders as die ou wat vanaf Sarria in sy hamsterwiel aanrol Santiago toe, is ’n donkie ’n “erkende” Camino-vervoermiddel. Waar die stappers ’n minimum van 100 km moet aflê om ’n Compostela (’n sertifikaat ter voltooiing) te kry, moet die fiets- en donkieryers minstens die laaste 200 km tot op Santiago reis.

Franse Camino
Op pad na Melide
Franse Camino
'n Lekker koel bospaadjie

Ek stap oor die mooie Middeleeuse brug die Ponte Velha by Furelos, en bereik die dorp Melide* teen middagete. Met net minder as 10 000 inwoners is Melide egter aan die groterige kant, wat beteken dat jy by tye sukkel om die geel pyle raak te sien. Dit raak ’n pelgrimskattejag. Die roet neem jou deur die sjarmante ou stad, waar jy die tradisionele seekatgereg Pulpo kan bestel.

Op die stadsplein is ’n katedraal wat uit die 14de eeu dateer en oorkant dit ’n ou pelgrimsherberg wat in 1502 gebou is, en deesdae ’n toeristeburo is. 

Daar is egter ook ’n ander rede waarom Melide ’n belangrike punt op die Camino is: Nog ’n Camino-roete, die Camino Primitivo wat in Oviedo wegspring, sluit by Melide by die Franse roete aan. 

Franse Camino
Die mooie Melide
Franse Camino
Die katedraal was oop vir pelgrims
Franse Camino
Nog 'n katedraal op Melide
Franse Camino
Ek op die dorp Melide

Die res van die middag verloop nie te sleg nie. By Ribadiso kom ek weer ’n besondere Middeleeuse brug teë, en al is die laaste 3 km tot op Arzua ’n lastige opdraand, kom ek verrassend vroeg op die dorp aan! Dit was ’n lang skof, maar nie naastenby so moeilik soos die een tussen Rabanal en Ponferrada nie (lees hier). Arzua lyk aanvanklik teleurstellend industrieel, maar nadat ek ’n bier en paella geniet het, sien ek die sjarme daarin raak.

Franse Camino
En nou is daar 46 km oor

Ek het nog net twee stapdae oor. Môreaand slaap ek my laaste nag op die Camino. Ek begin vir die eerste keer glo dat ek Santiago kan haal.

Franse Camino
'n Kiosk in die middel van nerens
Franse Camino
Die winkeltjie is by die 50 km-merk
Franse Camino
Die SA vlag op 'n Camino-lapwapen. Ek was agterna spyt ek het dit nie gekoop nie
Franse Camino
Net buite Arzua
Franse Camino
Die brug by Ribadiso


Gerda het in September 2017 die Franse roete vanaf Léon gestap danksy borgskappe van caminoways.com, Cape Union Mart, Rehidrat en Jeep. Jy kan die blogs oor die stappery vanaf Léon hier onder lees. Weg neem in April ’n groep van 16 stappers op hierdie roete. *Gerda het die laaste 100 km in 5 dae gestap, maar die Weg-groep gaan dit oor 6 dae stap. Hierdie dag word in 2 skofte opgedeel en die groep slaap reeds op Melide oor. 

Stuur e-pos na weg@flightsite.co.za as jy wil saamstap. Dit kos sowat R29 000 per persoon wat deel.