Hierdie reis word aangebied deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en caminoways.com

KAART: Hier's die plekke waar Gerda elke aand gaan oornag op die Camino-staptog:





Roete: Rabanal del Camino tot Ponferrada

Afstand: 32,2 km

Hoogte geklim: 139 vloere (hoër as die Eiffel ... #justsaying)

Treë afgelê: 47 881

Ek lê in my bed in Casa Indie in Rabanal del Camino en hoor die eerste klik-klik-klik van die metaalstapstokke op die sementpaadjies.

Ek kyk op my selfoon – dis 04:52 in die oggend, en die eerste pelgrims het reeds in die pad geval vir die 30 km-skof. Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om op te staan en ook klaar te maak, maar dis nog ’n goeie 3 uur voordat dit lig gaan wees en ek wil nie in die donker op ’n vreemde berg stap nie.

Ek het boonop net ’n piesang en ’n sjokoladestafie by my, en die eerste kafee is eers op 5,3 km van vandag se roete. Ek lê dus maar geduldig in die bed.

Kort voor sewe is ek in die kombuis waar iemand met gebare by my wil hoor wat ek wil eet. Ek sien nie kans vir eiers nie, en die roosterbrood met konfyt en tee het tot dusver goed vir my gewerk. Ek is dankbaar dat ek kort ná 7 kan wegkom, maar die lug byt en ek rits my Jeep-baadjie toe. 


Ons sien hoe die son die dag gryp.
Ek het vroeg begin Rehidrat drink.
Die Salomons was perfek vir die berg.
Dis ’n heerlike dag. Ons stap die eerste uur in die donker en sterk skemer, maar sien dan hoe die son agter ons in neonpienk opkom. Die roete self herinner my aan Fernkloof in Hermanus en die klim is verrassend mak. 

'n Graf langs die pad.

Foncebadón is ’n klossie vervalle klipgeboutjies (pragtig!), waarvan ’n paar gerestoureer is as herberge en eetplekke. Ek het lus vir tee of koffie, maar ek sien nie kans vir die ry nie. Dis spitstyd op die Monte El Teleno! Uit ’n radio sing Justin Timberlake:
“I got sunshine in my pocket, I got good soul in my feet ...” 

Ek voel inderdaad optimisties. My voete voel elke dag beter as die vorige en die omgewing is ondenkbaar mooi.

By Foncebadón sien ek die eerste keer die toeristebus waaruit daar omtrent 50 stappers met dagsakke peul. Oud en jonk, fiks en onfiks, met ’n koor van stemme in verskillende tale. Die stappers is op ’n daguitstappie uit Ponferrada.

Ek het in sommige van die Camino-gidse gelees hoe mense hul neuse optrek vir die “eendagpelgrims”, maar op dié dag bring hulle ’n vrolike gees na die Camino. En as ek moet eerlik wees, as ek in Europa gebly het, sou ek ook eers net ’n enkele dag van die Camino aangedurf het voordat ek my tot die hele roete verbind het.

Ek by Cruz de Ferro. Kyk hoe 'photo bomb' die 89-jarige my!

Die laaste kilometer voor die Cruz de Ferro – op 1 504 meter die hoogste punt op die Camino – ontmoet ek ’n figuur wat my nog lank gaan bybly.

Voor my op die gruispad is daar ’n gryskop wat bewéég – Maime is ’n 89-jarige Skot wat dikwels die roete van Astorga tot by Sarria loop, want “daarna is dit te besig”. Sy maak my eers stil met “sjjjtt, I’m praying now” toe ek haar naam vra, maar knoop later ’n geselsie aan.

Maime en haar man het in 1989 vanaf Roncesvalles tot in Santiago met hul fietse gery – nadat hulle eers vanaf Skotland tot by Roncesvalles getrap het! (“Ons was lus vir ’n avontuur.”) Nou neul haar seun, ook al afgetree, dat sy moet ophou met haar Camino-stappery. “Maar wat kan ’n mens maak? Al is ek 89, is ek steeds lus vir ’n avontuur...” mymer sy.

Ek het oneindig respek vir hierdie vasbyter van 89.
En iewers lê daar ook nou 'n Kaapse klippie.

Die hoogste punt is ’n hoogtepunt

Met die gesels duik die monument die Cruz de Ferro (ook gespel “Fierro” en “Hierro”) vinniger op as wat ek verwag het. Ek sit eers my Kway-rugsak neer, drink ’n paar slukke Rehidrat (dis immers nou die hoogste punt) voordat ek my Kaapse klippie op die reuse-klipstapel plaas. Ek voel klein.

Die oorsprong van hierdie klipstapel word na meer as 1 000 jaar tevore teruggevoer – na die pre-Romeinse Kelte wat die hoogste punt op hul passe met ’n klipstapel aangedui het. Die tradisie op die Camino is dat jy vroeg op jou pelgrimstog ’n klip optel (so groot as waarvoor jy kans sien), en dit dan hier neerlê as ’n teken van boetedoening, maar ek het op die strand langs die promenade in Seepunt ’n klippie opgetel en saamgebring.

Besoekers staan geduldig in ’n ry om ’n foto te neem by die monument, maar ek is heeltemal in my skik toe Maime ongenooid op my foto klim. Ek dink sy verdien dit!

Die eenmensdorp Manjarín.

Ek het my kop voorberei daarop dat dit die moeilikste deel van die dag was – dit was dan die hoogste punt op die hele Camino! – en het my lelik met die res van die dag misgis. Daar was nog meer as 20 km van die dag se stap oor, en hiervan was die grootste stuk afdraand van die berg af. Ek het ’n belangrike les geleer: Af maak seerder as op! 

El Acebo.
'n Welkome blaaskans.

Die eenmensdorp

Die roete neem jou wel by interessante punte verby, soos die piepklein dorpie Manjarín, wat in die 12de eeu deur die Tempelridders gestig is. Hoe klein? Manjarín het tans die groottotaal van één inwoner, en sy naam is Tomás. Tomás bedryf ’n herberg daar met net die allernoodsaaklikste geriewe (’n puttoilet en koue stort).

Jy kan vir ’n donasie tee of koffie drink, maar alles lê onder ’n dik laag stof, wat my na die Rehidrat-bottel laat gryp. Die 6,8 km van daar af tot by El Acebo is áfdraand, en hierdie stadium bid my linkerbobeenspier (wat die hele tyd moet rem op die afdraand) al om genade. Dis seer. 

Riego de Ambros.
Die kerkie op Riego de Ambros.

El Acebo is groter, maar het ook net ’n hoofstraat en twee kafees. Hier kan ek darem ’n koffie drink. Alles pyn en ek het nog 10 km oor tot op Ponferrada.

Sowat ’n uur later is Riego de Ambros ook ’n pragtige dorp, maar die siesta het al begin teen die tyd dat ek daar aankom. Dis bloedig warm en daar roer nie eens ’n gordyn op die dorp nie. Ek sien twee mense voor die katedraal sit.

Die afdraand is kil

Jy moet hiér af, sê die pyl.

Die volgende 4,7 km van daar tot by Molinaseca is van die moeilikste op my hele reis. Die pad loop nog steil-steil afdraand deur die berg en volg vir lang rukke die droë rivierloop.

Die probleem is egter dat ’n rivier die kortste pad tot onder volg, wat beteken jy moet taamlik akrobaties tussen die los klippe beweeg. Ek kyk kort-kort op my oefenhorlosie, maar daai 4,7 km wil niks korter word nie.

Boonop sien ek op dié stuk pad net 3 ander stappers, wat beteken dat ek heeltemal op my eie is as ek sou gly en iets beseer. Die grondoppervlak is vlymskerp klippe en ek is opnuut verlig dat Cape Union Mart my van my aanvanklike skoenkeuse laat afsien het. Vandag sou jy gebars het in gewone tekkies. Ek is oneindig dankbaar vir die Salomon XA Pro 3D, wat ’n stewiger sool het en ’n bietjie vastrap teen die los klippe bied.  

Molinaseca.

My siek ma betig my

Ek raai ek is nie die eerste pelgrim wat huil-huil op Molinaseca aankom nie (nog ’n dorp met ’n pragtige brug), en val by die eerste kroeg ná die brug in. 

Teen die tyd dat ek op Ponferrada aankom is dit al amper sesuur die aand – ek was 11 uur lank op die pad. Op Ponferrada kan jy ’n pragtige 12de-eeuse kasteel van die Tempelridders besoek en caminoways.com het vir my ’n hotelkamer om die draai daarvan bespreek, maar ek is dóódmoeg en sit nou met ’n nuwe kwaal: ’n stywe linkerbobeenspier.

Ek bel huis toe. My ma is steeds in die waakeenheid, maar ek kan met haar praat. Sy klink of sy self ’n berg agter haar het. Ek bekla my lot: “Ek weet nie of ek hierdie sal kan klaarmaak nie. Ek het die roete heeltemal onderskat.” My ma antwoord tussen haar newels deur: “Nee, my kind... ’n Engelbrecht begin nie ’n ding wat hy nie kan klaarmaak nie.” Ek moet lag kry: Dit kos iemand in die waakeenheid van ’n hospitaal om my te kry om my sokkies op te trek. 

Ek gaan nét ’n kwartier zzzzz

Die hotel is 'n klipgooi van die 12de-eeuse kasteel.

Ek het gestort en my skoonste Jeep-hemp aangetrek vir aandete, en “net ’n kwartier” op my bed gaan lê voor die restaurant geopen het ... en toe lank ná middernag eers wakkergeskrik. Ek het die hele aandete verslaap.    

Vandag se wenk: Oor veiligheid op die Camino

Baie mense het my gevra hoe veilig is die Camino, en of vroue dit alleen kan stap. Volgens die stadsrekords van Pamplona het die eerste herberg vir eksklusief vroue al in 1086 sy deure geopen.

Vroue is dus glad nie ’n vreemde verskynsel op die Camino nie. En baie van hulle stap alleen. Jy lees af en toe van misdaad langs die roete (soos ’n vroulike pelgrim wat in 2015 naby Astorga vermoor is), maar ek het dikwels in die pikdonker gestap en nooit onveilig gevoel nie.

Die waarheid is dat ek al onveiliger in Kaapstad as op die Camino gevoel het. Laat ek dadelik byvoeg, ek het ook my “kommin sense” gebruik. Ek het byvoorbeeld seker gemaak dat ek bedags nooit eerste of laaste op die pad was nie, het nooit my paspoort of beursie op ’n plek gesit waar dit maklik bygekom kon word nie, of met groot bedrae kontant by my geloop nie. (Ek is ’n verslaggewer, ons hét nie groot bedrae kontant nie.)

Ek het ook vir my familie ’n basiese reisplan met verblyfadresse gegee en dikwels laat weet waar ek is. Daar is elke jaar rondom 20 sterftes op die Camino, maar dis meestal weens hartaanvalle (die Camino lok heelwat ouer mense) en voetgangers wat op die snelweg doodgery word. Die deel wat ek gestap het, het egter baie selde naby die snelweg gekom. 

Weg se Camino-avontuur is moontlik danksy borgskappe deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en Caminoways.com.

“Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)