Die susters Riana en Wilma

Weg se reis word moontlik gemaak deur Canon SATrappers en Hi-Tec.

Suunto-stats

Saterdag: Oliveiroa na Cee

Afstand: 17,64 km

Tyd: 4 uur 13 minute

Gemiddelde stapspoed: 4,2 km

Vandag stap ons tot by die see.

Ek word kort na 06:00 wakker en is deeglik bewus daarvan dat dit ’n Saterdag is. Die vyf stappers wat deurdruk Muxía toe, woel ook al, al het Sonya en Fanus nog laatnag foto’s gestuur van waar hulle partytjie hou. Hulle het ’n 30 km-dag wat voorlê.

Die res van ons stap vandag tot by Cee, ’n kusdorp sowat 18 km van Olveiroa af. Volgens Brierley se gidsboek is 70% van die pad van hier af tot by Finisterre op voetpaaie wat deur die natuur loop, maar dit sluit ’n stuk pad van 12 km in waar daar geen geriewe (lees: koeldranke en toilette) is nie. 

Die wolke hang swaar.
Minder as 30 km oor.

Op groep 4 wag daar nog ’n ekstra uitdaging: Groep 1 is in versengende hitte deur hierdie omgewing. (Jy sal dit op die foto’s kan sien!) Dit was trouens so warm dat ek verkies het om in my Hi-Tec- Ula-sandale te stap, maar vir Groep 4 word daar reën vir feitlik die hele dag voorspel. Dit beteken dit is tyd om Hi-Tec se Lady Nimba-baadjie en my Hi-Tec Altitudes uit te haal. 

Dis weer ek, die Webers en Wilmé wat in die koel oggendlug wegval. Die eetplek by Casa Loncho is al oop, maar ons besluit om soveel as moontlik van die kilometers in droë weer te probeer aflê. Die Camino-pyle neem jou feitlik dadelik uit die dorp uit en deur ’n reservaat.

Dis nog te donker om te sien hoe jy klim, maar jy kan die kort opdraandes aan jou kuite voel byt. In die sterk skemer kan jy egter die Xallas-vallei onder jou sien. 

In die sterk skemer kan jy egter die Xallas-vallei onder jou sien.

Baie van die Camino-roetemerkers is ongelukkig al ontsier deur swape wat daarop gekrap het, maar by een van die roetemerkers het iemand ’n klip neergesit waarop geskryf staan: Jes. 2:1-4. Ek het die kindle-app op my Cat S41-selfoon afgelaai en kan dit vinnig naslaan: 

“Daar kom 'n tyd dat die berg waarop die huis van die Here is, ’n blywende plek sal hê bokant die bergtoppe en sal uitstaan bo die heuwels. Al die nasies sal daarheen stroom, baie volke sal daarnatoe gaan en sê: ‘Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.’

Hy sal oordeel tussen die nasies, regspreek oor baie volke. Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie."

Hier waar jy op ’n koppie in die skemerdonker staan, slaan die woorde soos ’n vuishou. Ek het kort voor ons toere saam met Maties Travel afgekom op die video hieronder.

Die blogger het meer as 800 km vanaf St. Jean Pied de Port gestap. Die video is aan die lang kant (so 30 minute), maar dit vat die gees van die Camino goed vas. Daarin haal hy ’n non aan wat sê sy dink die Here wil hê dat ons elke dag mekaar só moet behandel soos wat die pelgrims mekaar op die Camino behandel. 

Ek dink aan dié woorde toe ek die teksvers lees. Op die Camino stap jy vir dae, weke aaneen sonder om onveilig te voel.

Die solidariteit tussen pelgrims van verskillende lande wat mekaar dikwels nie kan verstaan nie, is een van die dinge wat hierdie pelgrimstog onderskei van “gewone” staptogte. Iets wat ’n blywende indruk op jou maak. Hoe wonderlik sal dit nie wees as al die swaarde en spiese in konflikgebiede (ook in Suid-Afrika) ploegskare en snoeiskêre kan word nie?

Later in die dag kry ons ’n tweede Jesaja-verwysing (Jes. 11:1-13) by ’n baken, wat ook sinspeel op vrede tussen volke.

Jesus 11 vers 1-13

Dis reën, dis wind, dis water

Jy sal al jou verbeelding moet gebruik om na Logoso as ’n dorp te verwys, maar hier sit ’n lekker eetplekkie met ’n paar tafels reg op die roete. Die restaurant is lekker knus toe ons inkom. Ons bestel roosterbrood en koffie. Die weer pak saam.

Eljo, Riana, Eurica, Wilma en Dawie-Plankie was in goeie weer by Logoso

Sowat 1,5 km van daar af (op ’n mooi woudpaadjie) kry jy die Toerisme-kantoor van Hospital. Hierdie dorp is al eeue lank ’n rusplek vir pelgrims, maar is glo deur Napoleon se troepe tot op die grond afgebrand tydens ’n oorlog. Nie dat dit nou saak maak nie. Die wolke kon nie langer knyp nie en het in stortreën uitgebars.

Ek en Wilmé staan ’n rukkie onderdak by die Toerismekantoor van Hospital sodat ek die Terra Firma se reënjas oor hom kan trek, maar besef dit sal nie juis help om re wag dat die reën opklaar nie. Van hier af tot by Cee is nog ’n goeie 15 km, en volgens die weer-app gaan dit nie vinnig ophou reën nie. Gelukkig hou my Hi-Tec Lady Nimba-baadjie my lekker droog. 

Wilmé en Sandra wys ons stap sóóntoe
Jy is gewaarsku!

Hospital het nog twee “bakens”. Eerstens is die “last chance saloon”, ’n restaurant wat jou waarsku dat die volgende eetplek/toilet eers weer kilometers verder in Cee is. En tweedens kry jy hier die “Cruce Opcion”, die baken wat aandui dat die pad hier verdeel. Van hier af moet jy kies: óf jy stap Muxía toe, óf jy stap Finisterre toe. 

Die res van die pad is alles mooi. Trouens, ek dink hierdie is een van my gunstelingdae op die Camino. Brierley verwys na steen-uitgrawings en reuse-klipmonumente van 4 000 jaar gelede wat langs die pad staan. Dit herinner hedendaagse pelgrims dat dié deel van die roete selfs ouer is as die Camino de Santiago. Waar Christen-pelgrims reeds langer as 1 000 jaar na Santiago de Compostela loop, stap paganistiese pelgrims hierdie roete selfs langer.

Dit alles is egter goed versteek, want ek is twee keer hier verby (in slegte én goeie weer) en het nie die monumente of die afdraaiplek soontoe opgemerk nie. 

Eljo kyk na die Marco do Couto-kruis.
Die Terra Firma se reënjas hou hom droog
Hi-Tec hou my droog.

Wat ons wel sien, is die Marco do Couto-kruis, wat sedert die 18de eeu hier staan. Die baken is met die voorletters “RC” gemerk, wat waarskynlik verwys na “Camino Real” – die "koninklike roete". Eeue gelede is paaie wat deur die Spaanse regering gebou is, almal so gemerk. Dit het nie noodwendig iets met die Spaanse koningshuis te doen nie.

Jakobus die kryger

’n Hoogtepunt langs die pad is die kerkie van Ermita Nosa Senora das Nieves (in Engels: Our Lady of the Snows), wat sowat 8 km buite Cee in die bosse opduik.

Toe ek saam met groep 1 hier langs kom, was die kerkie oop omdat hulle op dié Saterdag gereedgemaak het vir ’n groot viering die volgende dag. ’n Vriendelike vrou het ons nader gewink en beduie dat ons maar kan rondkyk. Selfs my Canon M50 kry ’n duime op-teken toe ek haar vra of ek mag foto’s neem.

By die ingang is ’n indrukwekkende beeld van Jakobus, maar waar jy dikwels die dissipel in pelgrimsgewaad sien (met die breë hoed en skulp op die kop), is hierdie ’n beeld van Jakobus die kryger. (Jy sien ’n soortgelyke beeld in die katedraal in Santiago de Compostela.)

Die stroompie onder die kerk het volgens die legende genesingskrag, veral vir ma’s wat borsvoed. Die kerk het ’n pragtige koel tuin en piekniektafels, maar helaas geen toilet nie. 

Die kerk van Our Lady of The Snows.
Die kerkie.
Eljo vat 'n blaaskans in die kerk.
Jakobus die kryger.

Van hier af maak die pad nog ’n paar lastige oppe en affe voordat jy Cee in die verte begin sien.

Met Groep 1 se stappery, kry ek ’n hele klomp van die groep wat vir oulaas piekniek maak voordat die skerp afdraand na Cee begin. Hulle het langs die pad geselsies met Japannese pelgrims aangeknoop. Ek val sommer in. Maar met groep 4 is ons egter lugtig vir die weer en druk ons maar deur tot op Cee. 

Japannese pelgrims.
Langs die pad.
Daar onder lê Cee.

Cee by die see

Ons herberg Auberge O Bourdon sit sommer vroeg in die dorp. Hier slaap ons almal weer in een ruim vertrek. Die middedorp is nog so 2 km se loop van hier af, maar elkeen doen sy eie ding.

Sommige spoel eers hul stapklere uit en rus ’n bietjie, ander drentel af dorp toe om te gaan inkopies doen. Cee is een van die groter dorpe op hierdie deel van die Camino. 

Eljo en Marane eet seekos in Cee.
Dis koud op die strand.
Het jy al Spaanse warm sjokolade geproe?
Die kerkie op Cee
Die kusdorpie Cee.

Teen laatmiddag stap ek ook af see toe om te gaan skulpies optel op die strand. Ek stel vir Sandra en Wilmé bekend aan Spaanse warm sjokolade, maar hulle trek hul neuse op ’n plooi. Dis verskriklik soet. Ons kry mekaar later almal by ’n eetplek in die middedorp (sonder dat ons afgespreek het).

Sommige bestel pasta en pizza, terwyl ander al van die Galiciese seekos op die proef stel. Dis ’n gesellige aand. 

(Amper) ’n ramp

Terwyl ons eet merk groeplede op dat twee van ons stappers nog nie by die herberg aangekom het nie. Ek bly eers stil, maar voel hoe die onrus in my groei. Ek is nie bang dat hulle ontvoer of vermoor is nie, maar in die slegte weer kon een seergekry het, en wag die stapmaat dalk dat ons hulle kom haal. Een van hulle swerf (“roam”) met haar selfoon, maar ons het vandag op ’n afgeleë roete gestap en daar is nie orals ontvangs nie.

Ek bly eers stil, maar voel hoe die onrus in my groei.

Ek en Sandra (die polisiekolonel) eet vinnig klaar en stap terug herberg toe. Ons bespreek solank ons gebeurlikheidsplan. Sal die Spaanse polisie dadelik na verlore stappers begin soek? Of wag hulle eers 24 uur? Dit het die hele dag gereën en ek wil nie stappers op die berg los nie. 

Ons onrus was natuurlik verniet. Toe ons terug by die herberg kom, wag ’n boodskap dat hulle net-net voor sononder (omtrent 20:00) daar aangekom het. Een van die stappers was nog gehawend van die vorige dag se bult en hulle het besluit daar is geen rede om Cee toe te jaag nie.

Nadat hulle by die herberg aangekom het, het hulle vinnig iets gaan eet en dadelik gaan inkruip. Ek is oneindig verlig. In my geestesoog het ek gesien hoe ek in die donker mense moet opkommandeer om daai berg wéér uit te stap.

Johanita en Sonya is veilig in Muxía.
Vyf stappers bereik die 0 km-baken in Muxía.

Ons hoor ook dat die vyf groeplede wat Muxía toe gestap het, veilig daar aangekom het.

Muxía word oral as ’n slaperige kusdorpie beskryf, maar groep 1 het net mooi tydens die een of ander fees daar aangekom. (Die Spanjaarde is nogal lief vir feesvier. En hulle ken ’n opskop.) Die dorpie bewe. Die groeplede stuur later vir ons foto’s van die vuurwerkvertoning wat hulle op die strand sien. 

Nie sleg vir een dag se stap nie.

My Suunto-horlosie het ’n indrukwekkende klomp treë getel vandag. Buiten die sowat 18 km wat ons tot op Cee gestap het, het ons ook daarna nog ’n hele paar kilometer op die dorp gestap. Jy dink jy kan nie in ’n kamer moet 20 ander mense slaap nie? Jy kán! Jy moet net moeg genoeg wees.

Môre stap ons (op ’n Sondag!) tot by Finisterre. Ek voel verlig en opgewonde. 



Gerda het twee van die vyf groepe vergesel. Haar blogs en foto’s is ’n mengsel van albei reise. Weg is geborg deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s (behalwe dié van die kamera self) is met die Canon M50 geneem.

Weg neem in Mei weer ’n paar groepe Camino toe – op hierdie roete, sowel as op die Portugese roete. As jy lus het om saam te stap, kontak Marilize Verdoes by marilize.verdoes@travel.co.za