Weg se reis word moontlik gemaak deur Hi-TecCanon en Trappers.

Tatta, ou lewe

Sondag: Cee na Finisterre

Statistiek op die Suunto-GPS-horlosie
Afstand: 12,6 km

Tyd: 3 uur 52 minute

Gemiddelde stapspoed: 3,2 km


Kaart: Dag 5

Dis ons laaste volledige stapdag, maar hoewel die baken net buite die herberg wys daar is 17,6 km oor tot by Finisterre, tel die bakens die kilometers af tot by die 0 km-merk by die ligtoring. En ons stap vandag net tot by die hoofdorp, sowat 4 km vóór die ligtoring. Ons het dus ’n maklike 13 km wat voorlê. 

Gereed vir die laaste dag. Ek wys volg net die Camino-skulp.
Cee vroegoggend.

Ek moedig egter my stapmaats (die Webers en Wilmé) aan om rondom 08:00 in die pad te val, want dagbreek is om 8:40. In die skemerdonker van die oggend sukkel ons ’n paar keer om die bakens in die dorp uit te maak, maar ons kry tog ons pad. Rondom Cee se hawe gryp die son die dag met pienk en pers en blou vingers. En dan kom die geel en oranje skakerings. Dit lyk soos die verfbakkie van ’n kleuter wat met ’n geel kwas tussen die pienke gaan mors het. 

Rondom die hawe.
Eers is dit net pienke en bloue.
Maar dan kom die gele en oranjes op pad na Corcubión.

Kort ná die hawe kry jy Corcubión. Dit is so naby dat ons gedink het dit is ’n buurt van Cee, maar met sy 1700 inwoners, is Corcubión inderdaad ’n dorpie op sy eie, en boonop een wat die titel “dorp van kulturele belang” by Unesco gekry het. 

By die pragtige Igrexa San Marcos-kerk maak ’n paar gemeentelede reg vir die oggenddiens. ’n Vrou groet vriendelik “buenos dias”, en voeg dan “God bless” in Engels by. Van hier is daar twee roetes waaruit pelgrims kan kies. Ons volg die “medieval route” wat met donkerblou gemerk is.

Die roete neem jou met ’n steilerige bult na die kontoerpad. Daar is ook ’n “upper route” wat jou hoër teen die berg uit deur digte bosse neem. Ons pad neem ons deur die nedersetting Vilar. Van hier af kronkel die pad op en af, en elke paar kilometer kan jy die Finisterre-ligtoring in die verte sien.

Kerkgangers maak gereed vir die oggenddiens.
Die kontoerpad neem jou uit die dorp

Sondagtee met ’n verskil

By Playa de Estorde sak ons in by ’n eetplek wat op die see uitkyk. ’n Paar gaan loop met hul voete in die water terwyl ons wag dat die kelner eet- en drinkgoed aandra. Niemand is haastig nie, want die einde is in sig.

Nie 'n slegte plek vir Sondagtee nie.
Niemand is vandag haastig nie.
Nou is daar minder as 10 km oor.

Ons kyk hoe die kilometers aftik, glad nie haastig om die einde van ons pelgrimsreis te bereik nie. 

Volgens die Brierley-gidsboek stap jy deur verskillende dorpe (Sardineiro en Playa Langosteira), maar die dorpe is so klein en dig opmekaar dat dit moeilik is om te onderskei waar die een begin en die ander eindig. Vanaf Playa Langosteira kan jy die laaste 2,5 km op seesand na Finisterre stap, maar ons hou maar by die vertroude pyle wat die rigting aandui.

Van hier af kan jy seelangs loop.
Die skerp oggendlig.
Agter ons lê Finisterre.
Die Webers op die laaste skof.
Ná die laaste steil afdraand sit daar skielik ’n houtkroegie reg op die strand. Ons is in Finisterre! Die kroegie is een van daardie wat jy altyd in flieks sien en waaroor jy droom. Jy sit met jou voete in die sand en geniet net die toneel voor jou. Sommige pluk hul klere af en swem in die beskutte baaitjie in hul onderklere (dis ’n Camino-tradisie dat jy in die see swem by Finisterre). Van die strandkroegie af is dit nog net 2 km tot by die herberg.

Die strandkroegie by Finisterre.
Die laaste kilometer is op marmerklippe.

Ons sit ons sakke neer in die gemeenskaplike slaapkamer en vaar die dorp in. Vir hierdie seekos lek ons al kilometers ver ons lippe af. By die waterfront staan ’n gryskop tannie en kyk toe ons die restaurante teen mekaar opweeg. Nee, beduie sy. Hierdie is te duur! Sy sal ons neem na ’n plek waar die locals eet.

Die gryskoptannie ken duidelik die dorp en draf die bulte met bekwame spoed uit. Ons sukkel om by te hou. In ’n stadium raak ons bekommerd dat sy deel van ’n sindikaat is wat pelgrims na donker stegies lei en vermoor, want sy neem ons op en op deur strate wat al hoe nouer en meer onguur lyk. Totdat ons by ’n eetplek met die naam Os Tres Golpes uitkom. 

Die pragtige Finisterre.
Eljo sien die herberg.
Steve en Amanda by die laaste opdraand.
Sandra is ingenome met die restaurant.
Ons kuier om die etenstafel saam met die locals.

Os Tres Golpes sit inderdaad vol locals, wat daar is vir die Sondag-middagmaal. Die seekos word in yslike familiestyl skottels na die tafel gedra en is aansienlik goedkoper as in die waterfront. Ons proe oor en weer. 

Met groep 1 is daar ’n dorpsfees in Finisterre aan die gang en die hele waterfront is afgesper vir voetgangers en vol stalletjies. Ons kuier die aand by verskillende eetplekke. Almal is ontspanne, want ons is klaar met die “werkgedeelte” van ons pelgrimsreis. Van hier af is dit nog net 3,6 km tot Cabo de Finisterre, waar die ligtoring en die 0 km-baken is. Ná middernag draai ’n deel van ons groep nog terug na die musiekverhoog in die waterfront, maar ek is poegaai en gaan bed toe.  

Maandag: Tot by die “einde van die wêreld” 

Statistiek op die Suunto-GPS-horlosie
Afstand: 3,6 km

Tyd: 50 minute

Gemiddelde spoed: 4,3 km


Kaart: Dag 6

Ons het die hele dag oop en kan self besluit wanneer ons die 3,6 km na Cabo de Finisterre wil uitstap. Ons het afgespreek om vanoggend geen wekkers te stel nie, want ons is amptelik “op vakansie”, maar dis werklik moeilik om laat te slaap in ’n gemeenskaplike slaapkamer. Boonop beloon die Spaanse dagbreek die vroegopstansers.

Ek en die Weber-clan roer daarom oudergewoonte vroeg. Ons drink net ’n koffie in die herberg voordat ons in die sterk skemer die bult begin uitloop. Dis een van daardie bulte wat moeiliker lyk as wat dit regtig is.

Die kerk het 'n groot rol in die pelgrimsgeskiedenis gespeel
Ek is druk besig om foto's van die monument te neem.

Onder op die bult is die Igrexa de Santa Maria das Areas, ’n Romaneske kerk wat uit die 12de eeu dateer. Monnike het volgens oorlewering reeds sedert die 11de eeu op hierdie plek na moeë pelgrims omgesien, en in die kerkhof by die agterdeur is ’n paar pelgrims te ruste gelê. Die kerk is nog gesluit toe ons daar verbyloop, en agterna toe ek daaroor oplees, is ek spyt dat ek nie teruggegaan het om binne te loer nie. 

Die Igrexa de Santa Maria das Areas huisves ’n besonderse pelgrimstandbeeld (Jakobus met sy pelgrimshoed), maar ook die beeld Cristo da Barda Dourada (“Christus met die goue baard”). Volgens die legende het die beeld op wonderbaarlike wyse in Finisterre beland.

Die bemanning van ’n skip het onderweg na die hedendaagse Brittanje dit in stormagtige weer van die skip afgegooi, en die onstuimige see het dadelik bedaar. (Soos Jona?) Die beeld speel ’n groot rol in die dorp se Paasfeesvierings en word met wonderwerke in die omgewing verbind. Noudat ek ’n fees op Finisterre gesien het, kan ek glo dat Paasfees ’n vrolike tyd is! 

Die beeld speel ’n groot rol in die dorp se Paasfeesvierings en word met wonderwerke in die omgewing verbind.

Sowat ’n kilometer voor die ligtoring is daar ’n pragtige pelgrimstandbeeld, maar ons vertoef eers daar met die terugstap. Ons het uitgewerk dat as ons ’n bietjie wikkel, sal ons die son oor die “einde van die wêreld” sien opkom. 

Die einde van ons pad

Waar die Camino de Santiago reg van die begin af ’n Christelike pelgrimsreis was, is hierdie deel van Spanje selfs nog voor die Camino se bestaan deur paganiste besoek. Finis-Terrae beteken letterlik “die einde van die wêreld”, en van die prehistoriese tye af het mense hierdie wêrelddeel as die verste punt van die wêreld beskou.

Brierley skryf in sy gids: “It was here, at this very point, that the material world met the world of the spirit that could only be seen with spiritual vision. Over countless millennia Finisterre has provided a dramatic focal point for this theatre of contention – which keep faith, as Goethe says, with the world of things and the world of spirtits equally.”

Ons het dit gemaak!
Die dag breek aan die einde van die wêreld.
Plankie, Hartjie en Eurica.
Die res van Groep 4 by die 0 km-baken.

En dan is ons skielik daar. By die 0 km-baken, en die ligtoring, en sien ons hoe die son die dag aan sy kraag gryp en skud. Ons het die einde van ons pelgrimspad bereik, maar dit voel nie soos ’n einde nie, dit voel soos ’n begin. Jy probeer jou emosie ’n naam gee, maar jy kan nie. Dis ’n mengsel van dankbaarheid en verligting. Selfs gelatenheid.

Jy wil nêrens anders wees as jy hier en nou nie. 

By die 0 km-baken, en die ligtoring, en sien ons hoe die son die dag aan sy kraag gryp en skud.

Daniel Gilbert begin sy boek Stumbling on Happiness met ’n aanhaling van die reisskrywer Willa Cather: “One cannot divine nor forecast the conditions that will make happiness; one only stumbles upon them by chance, in a lucky hour, at the world’s end somewhere, and holds fast to the days.”

Ons het geluk gevind aan die einde van die wêreld. Ek is vir ’n ruk sprakeloos, oorweldig deur die oomblik.  

Die bronsstewel.

Ons laat die ou lewe agter

Cabo de Finisterre is oulik ingerig vir pelgrims. Hier is ordentlike toilette, ’n teekamer, twee stalletjies vir aandenkings. Hier is selfs ’n hotelletjie! Op een van die rotse is ’n bronsbeeld van ’n stapstewel, en teen ’n mas het pelgrims ’n verskeidenheid besittings gelos.

Jy kan nog swart merke op van die klippe sien, want baie jare gelede het pelgrims hier iets verbrand om hul “ou lewe af te lê”, maar deesdae ontmoedig hulle dit weens die brandgevaar op die berg. Dis hier waar Dawie (Plankie) haar tekkies oor die afgrond gegooi het, as simbool van die lewe wat sy agterlaat. 

Die Joubert-susters met hul sertifikate.
Dis nou wat gebeur as die vrou jou paspoort in die hande kry.
Wilmé het haar Fisterana aan haar ma laat opdra.

Die res van die dag flikker jou Whatsapp telkens op met foto’s van die res van die groep wat by die 0 km-baken opdaag, en later hul pelgrimsertifikate (’n “Fisterana”) gaan haal. Wilmé is nog jonk en het my vroeër vertel dat haar ma haar van die Camino gesê het, maar dat haar ma weens gesondheidsredes dit nie self kon stap nie.

Wilmé vra die vrou in die pelgrimskantoor of sy haar Fisterana aan haar ma kan opdra. Dis ’n pragtige gebaar. Dit is ’n dag van feesviering, wat teen sonsondergang eindig met ’n vrolike strandpiekniek. Eljo en Sonya is weer die voordansers op die strand!

Tjorts! Ons drink sangria.
Dis tyd om die stewels te verruil vir die Ox Trails....
...of die Ula-sandale.
'n Laaste partytjie op die strand.

Wat beteken die Camino vir ’n mens? 

Dawie (Plankie) Joubert is een van ’n handvol vroulike boere in die ongenaakbare Tankwa-Karoo. Sy is so taai soos ’n ratel en het ’n hart van goud, maar het ’n swak knie. Plankie skryf agterna in ’n Facebook-boodskap oor haar Camino-ervaring:

“Almal vra my wat ek uit die Camino gekry het en daarom het ek besluit om julle te probeer vertel. Ek het ’n geestelike ervaring gehad soos ek nog nooit in my lewe beleef het nie. Soos in die lewe is daar baie opdraandes op die Camino en dit lyk erg, maar jy vat dit tree vir tree. En dan dink jy die afdraande gaan maklik wees, maar die afdraandes was baie erger op my seer knie as die opdraandes.

Soos in die lewe is daar baie opdraandes op die Camino en dit lyk erg, maar jy vat dit tree vir tree.

En so het die Here vir my gewys dat die afdraandes nie altyd beter is as die opdraandes nie. Op die Camino ontmoet jy mense van orals wat ook daar is vir iets. Elkeen het sy rede, maar almal is net pelgrims. Elkeen se storie wat ek gehoor het, sal my altyd bybly. 

 “Die tekkies waarmee ek baie kilometers op die plaas en op die Camino gestap het, het ek by die einde van die wêreld afgegooi. Dit was die einde van ’n pad in my lewe. Ek het ’n ander mens teruggekom.” 

Tatta, ou lewe

Die Camino het nog elke keer ’n ewe groot indruk op my wat Gerda is gemaak. Ek het al swaar gekry, in reën gestap, maar ook in goeie weer en maklike dae gehad. Goed en sleg. Maklik en moeilik. Die Camino maak elke keer ’n impak op jou. Mense vra ons dikwels hoekom ons nie liewer die Camino in Suid-Afrika stap nie, en ek wil hulle graag hier antwoord. Eerstens, Weg is fanaties lief vir Suid-Afrika en stap al die Suid-Afrikaanse roetes.

Sover ek weet, het Weg al ál die “Camino’s” in Suid-Afrika gestap en daaroor geskryf. Maar ’n mens moet versigtig wees om sommer enige veeldag-stappery ’n Camino te doop, selfs al klink dit hoe treffend. ’n Camino gaan baie definitief oor ’n tyd van geestelike vernuwing.

Die Camino maak elke keer ’n impak op jou

Dis nie noodwendig ’n Christelike reis nie, en jy sou uit die foto’s kon sien dat daar baie beestelik tussen die geestelik is. (“Julle drink darem baie bier,” hoor ons dikwels.) Maar die impak op jou is groter as wat jy in woorde kan beskryf. Dis nie ’n gewone uitdagende kyk-of-jy-taai-genoeg-is staptog nie. Daarvoor stap jy die Vis en die Amatola in Suid-Afrika, of jy hardloop ’n marathon.

Dis nie waarvoor jy die Camino stap nie. Ek dink die feit dat jy in ’n vreemde land is, help jou om “weg te kom” van jou gewone lewe en dra by tot die ervaring. En die wondere van reis is dat jy nooit hoef te kies nie. Jy kan in Suid-Afrika én in Spanje stap, en albei geniet. Dit maak jou nie minder van ’n Suid-Afrikaner nie.  

Ek wat Gerda is, kon natuurlik nie my Hi-Tec Altitudes oor die afgrond gooi nie! Nie dat ek wou nie. Ek het hierdie twee pelgrimstoere gebruik om ’n nuwe paar in te loop wat ek DV in Desember in Peru gaan dra.

Ja, ek weet ek brag nou sommer blatant, maar Hi-Tec, Canon en Trappers het vir my die geleentheid geskep om ook die Inka-wandelroete na die epiese Machu Picchu te gaan stap. En daarvoor het jy stapstewels nodig. Ook die res van my toerusting is getoets met die oog op daardie stap: die Suunto-horlosie gaan weer vir ons die statistiek vaslê, Hi-Tec het reeds die Lady Orion drie-in-een-winterbaadjie gestuur wat ek kan saamneem, dieselfde Canon M50 sal om my nek hang, en op my rug sal weer my Terra Firma-rugsak van Trappers wees. (Vir die Inka het hulle ’n baie streng beperking: Jy mag nét 5 kg in jou rugsak saamdra!)

Ek los in November die stapstewels agterin my motor sodat ek smiddae na werk by Leeukop kan langs ry en ’n paar bulte kan uitstap. Ek dink die Inka gaan ’n moeiliker stap as die Camino wees. Ek stap al in Desember, maar jy sal die blogs in Januarie op Weg se webwerf en Facebook-blad kan lees.  

Daar is nog een laaste blog in dié reeks. Dit gaan oor die paar dae ná die Weg-groep se pelgrimsreis, waar ons terugkeer na Santiago de Compostela vir die aangrypende pelgrimsnagmaal, en daarna nog ’n luilekker dag of twee in Porto geniet. Ek is veral trots op die video van die botafumeira wat ek skelm afgeneem gekry het. Lees dit hier.


Gerda het twee van die vyf Weg-groepe vergesel. Haar blogs en foto’s is ’n mengsel van albei reise. Weg is geborg deur Canon, Hi-Tec en Trappers. Al haar foto’s is met die Canon M50 geneem.