Weg word geborg deur Hi-Tec, Canon en Trappers

Die Terra Firma-rugsak van Trappers
Die Terra Firma se reënjas

1 x Rugsak – 35 tot 40 liter

Baklei teen die versoeking om een van daai reuse-rugsakke in die buitelugwinkels te koop. Dit is vir mense wat in Europa op treine en busse na die volgende stad boemel. Op die Camino moet jy alles kan dra. Ek gebruik ’n Terra Firma-rugsak van Trappers  wat 30 + 5 liter groot is. (Die sak het dus ’n afskorting wat oopgerits kan word vir ekstra pakplek.)

Die sak moet sy man kan staan in ligte reën en verkieslik sy eie reënjassie hê (gewoonlik in ’n kompartement onder in die sak). Die Terra Firma se reënjas is helder oranje, wat ek sommer oor die sak trek as ek langs ’n hoofweg beland en bang is ek word omgery. As jou rugsak nie ’n reënoortreksel het nie, moet jy een koop. Dis ’n irritasie as al jou goed nat is.

Hi-Tec se Altitude-stewels en Ula-sandale

Skoene

Daar is altyd groot debat rondom stewels versus tekkies. Ek verkies stapstewels en stap heerlik in Hi-Tec se Altitudes.  Lees hier hoekom. 

Die Altitudes is ligter as wat hulle lyk (regtig!) en bied ekstra ondersteuning by die enkels, wat jy nodig het op ongelyk grond. Dit is waterdig en trap lekker vas op los klippe. NB: Ek het reeds 200 km met die skoene geloop om hulle in te stap. Die meeste probleme met skoene ontstaan omdat hulle nie ingeloop is nie.

Baie mense neem plakkies saam om saans te dra. (Die meeste herberge vereis dat almal hul stapskoene op die rak by die deur los. Jy sal ruik hoekom.) Ek neem in plaas van plakkies ’n paar Ula-sandale van Hi-Tec saam.   Hierdie is regte-egte stapsandale, wat my op die makliker stapdae die opsie gee om die stewels uit te skop.   

Kortmouhemde van Hi-Tec

2 x kortmouhemde    

Een aan die bas, een in die was.

Jy het régtig niks meer nodig nie. (As jy 20 km in iets gestap het, moet jy dit in elk geval was. Jy het dus nie 10 hemde nodig nie.)

Ek het vir my 2 Hi-Tec-hemde aangeskaf van 100% poliëster. Dis lig, sag op jou vel en word verspot vinnig droog. 

Langmou-T-hemp van Hi-Tec

1 x ligte langmouhemp             

Ek het ’n langmou-hemp van Hi-Tec wat maklik droog word. Dis ook van poliëster. As dit koud is, slaap ek sommer daarin.

Hi-Tec se Lady Nimba-reënbaadjie
Reënbaadjie se gradering

1 x Reënbaadjie           

Ek neem Hi-Tec se Lady Nimba saam. 

Die baadjie het ’n hoë reëngradering en is windbestand, en weeg minder as ’n half kilogram. Wen! Ek het ook die Hi-Tec Lady Orion, wat ek inpak wanneer ek in die winter iewers stap. In September en Oktober is die weer in Spanje nog van so ’n aard dat jy met ’n ligte baadjie kan wegkom.

Hi-Tec se veerligte Lady Sabine
Hemde en baadjies van Hi-Tec

1 x sagte top  

Die Lady Sabine is veerlig en gee jou ’n ekstra opsie as jy vroegoggend iets sags en warm teen jou lyf wil voel. Spanje is bedags warm, maar ek het ook verlede jaar in September/Oktober die roete geloop en baie oggende geklappertand. 

2 x broeke      

Een aan die bas, een in die tas.

Ek het ’n bergklimbroek met lang pype wat kan afrits, en pak nog een kniebroek in my rugsak.

Ek dra ’n lycra-fietsrybroek onder dit om te keer dat ek skaaf.

Breërandhoed van Hi-Tec

1 Breërandhoed          

Hoe groter hoe beter. Ek dra Hi-Tec se breërand-reënwoudhoed.

1 x Hi-Tec-mus              

Dit weeg feitlik niks en maak ’n groot verskil as jy koud kry. Hi-Tec s’n  is van poolvlies en lekker warm.

Nekserp en mus van Hi-Tec

1 x nekserp    

Ek dra die hele dag my Canon M50-kamera om my nek, en hierdie nekserp keer dat die band my skaaf.

4 x Stelle onderklere  

Nie te veel nie – jy moet in elk geval elke dag alles uitspoel wat jy gedra het.

Stapsokkies van Hi-Tec

4 x Pare sokkies           

Ek neem 2 pare van Hi-Tec se dik bergklimsokkies en 2 dunner pare saam.

Dit gee jou die opsie om jou sokkies af te wissel as jou voete swel.

Let wel: Ek steur my nie aan die modepolisie nie. Ek dra ook sokkies by die sandale om blase te keer. Dis oukei. Skinder maar.  

1 x ligte handdoek

Kyk vir so ’n handdoek by Trappers. 

Die handdoek, Rehidrat, badsakke en slaapsak-voering
Reg vir die rugsak

1 x duvet-oortreksel.

Dis in September en Oktober te warm in Spanje om in ’n slaapsak in die herberge te slaap. Neem ’n duvet-oortreksel of ’n slaapsak-binnelaag saam.

1 x knipmes 

Jy gaan ’n lem en ’n botteloopmaker nodig kry.  

1 x liggie 

Sodat jy snags die badkamer kan kry sonder om almal op te jaag en as jy vroegoggend padborde wil lees.

1 x stel loopstokke 

           

In die noodhulpsakkie

  • Pleisters Ek koop gewone pleisters by die huis, maar ek koop ook in Europa vir my Compeed-pleisters – ’n superdoeper pleister wat veral teen blase help.
  • Lugsiekpille (ook handig as ’n snorker jou in die herberg uit die slaap hou).
  • Ibuprofen: Vir ’n seer kop of lyf
  • Enos: Die klein sakkies. Jy eet soms deurmekaar.
  • Imodium: Sug. Want (met permissie) sh*t happens.  
  • Hoesstroop: As daardie irriterende hoes jou (of jou kamermaats) snags wakker hou.
  • Rehidrat: Ek sweer by Rehidrat en drink dit daagliks. Dit help jou herstel ná intensiewe oefening         

In die badsakkie

  • 1 x tandeborsel
  • 1 x tandepasta: Die kleinste wat jy kan opspoor. As dit op is, koop jy ander langs die pad.
  • 1 x sjampoe
  • Kam      
  • Vogroom            
  • Sonbrandroom
  • Oorpluisies (vir die herberg).
  • Muskietweerder                     

So lyk alles op 'n hoop

Tegnologie

1 x Kamera         

Canon leen vir my die Canon M50  – ’n spieëllose kamera wat dieselfde gehalte foto’s as ’n DSLR neem, maar aansienlik minder weeg. Die M50 weeg 387 g. Die kamera neem boonop fantastiese 4K-video!

Ek oefen al ’n maand lank daarmee en is verlief daarop.

Die splinternuwe Canon M50

2 x Kamerakaarte    

Die Suunto Spartan

1 x Suunto Spartan-GPS-horlosie

Die paaie op die Camino is goed gemerk, maar hierdie is ’n wonderlike speelding wat nie net jou tree tel nie, maar ook vir jou die dag se roete in ’n video’tjie vaslê. Ek het myne by Trappers geleen en meer as 200 km daarmee in Italië gestap.)

Die CAT S41-selfoon

1 x CATS41-selfoon   

Ek neem ’n selfoon saam, maar ek swerf (“roam”) nie. As ek in ’n gratis wifi-sone kom, stuur ek ’n whatsapp na my bejaarde ouers tuis (ter wille van almal se senuwees). Die CAT-fone is stof- en reënbestand, en kan glo ’n val van tot 1,8 meter oorleef (ek is genadiglik korter as 1,6 meter). Ek sal een vir die span vat en dit toets! Dis ’n slimfoon wat met my Suunto Spartan “kan praat”.

 Die Canon-app op my selfoon laat my toe om die CAT-selfoon as sluiter te gebruik – ek kan dus ’n groepsfoto neem deur die kamera op ’n driepoot te sit en die knoppie met my selfoon te druk. Die Canon kan outomaties jou foto’s na jou selfoon oplaai – wat ’n lewensredder is as die ondenkbare gebeur en jy jou kamera verloor.

Die lekkerste funksie van die CAT S41 is egter dat hy ’n baie lang batterylewe het (3 dae met swaar gebruik, en tot 5 dae met “ligte” gebruik), en selfs as ’n “powerbank” gebruik kan word. Ek gaan DV in Desember die Inka in Peru loop, en dis juis hierdie eienskap wat my na die CAT S41 aangetrek het. In Peru moet jy 4 nagte in die berge slaap (sonder kragpunte). Dan sal my S41 sommer my Suunto-horlosie kan laai. Ek weet selfoonkameras verbeter by die dag, maar ek glo ’n regte kamera neem beter foto’s.

Herlaaiers (selfoon, kamera en Suunto-horlosie)           

Die Brierley-gids en Camino-paspoort

Ekstras

1 x Brierley-gids           

Daar is baie Camino-gidse, maar die Brierley-reeks is die beste. Bestel dit hier

1 x Pelgrimpaspoort   

Jy moet ’n pelgrimpaspoort hê om in die herberge te mag slaap. As jy stempels vergader langs die pad, kan jy in Santiago en in Finisterre ’n sertifikaat gaan afhaal as bewys dat jy die roete gestap het. Bestel joune hier.  

8 x Wasgoedpennetjies            

Koppie wasgoedseep

Beker (geskik vir ’n mikrogolfoond)

Peuselgoed   

Ek koop sommer piesangs en sjokolade oorsee (’n deel van die Camino val in ’n streek wat as die Europese bakermat van die sjokoladebedryf beskou word). As jy sterk voel oor beskuit, neem dit saam.

Onthou: Jy mag nie biltong oor die grens neem nie. Kitspap of hawermout en tweeminuutnoedels is in die Spaanse supermarkte beskikbaar. Baie boere pak langs die pad mandjies vrugte uit vir die pelgrims.

Waarskuwing: Dis die peuselgoed wat jou sak baie vinnig baie swaar maak! Koop dit liewer in Spanje.

Gewig-sake

Totale gewig: 6,3 kg

  • Alle foto’s en video’s word met die Canon M50 geneem.
  • Weg word geborg deur Canon, Trappers en Hi-Tec.