Iewers aan die voet van die Olifantsrivierberg staan ’n populierbos op die oewer van die gelyknamige rivier. In dié bos sit jy hoog bo in die takke op ’n houtdek en kyk hoe twee gewone janfrederikke mekaar jaag. Dié aksie gebeur teen ooghoogte, want die dek waarop jy sit is deel van ’n boomhuis. 

Cedarescape is eintlik ’n boomhuisbackpackers. Plankiespaadjies verbind vyf dubbelkamers met ’n gemeenskaplike badkamer. Terwyl jy op dié plankiespaadjies stap, verwag jy dat ’n Avatar-agtige nimf by jou gaan verbyswiep. 

Hier’s twee “uitgange” uit die bos – die een daal af na die parkeerterrein en die ander na die gemeenskaplike uitspankol langs die rivier. Kom braai op een van die twee kuierdekke, of tussen die bome of verken die rivier op ’n kano. 

Hier is altesame slaapplek vir tien mense – nooi jou naaste vriende vir ’n kuiernaweek uit die boonste takke.

Geriewe: Hier is vyf dubbelkamers op stelte met ’n houtdekkie elk. Die kamers deel ’n badkamer (toilet en warm storte), toegeruste kombuis (op die grond) en uitspanplek. Een van die boomhuise, Maxima, het ’n kombuisie en braaiplek. Dis niks fênsie nie, maar hier’s alles wat jy nodig het. 

Wat pla? Hier is verwarmers en komberse, maar ek sou nie sommer in die winter kom nie. 

Hoe kom ek daar? Draai van die N7 af op die R393 na Citrusdal. Draai regs by die The Baths-bord. Volg hierdie pad langs die Olifantsrivier vir sowat 24 km.

Koste Maxima: R890 p.n. vir 2 mense en R850 p.n. vir die ander.

Kontak: 071 681 3871; cedarescape.co.za