Foto's: Shelley Christians

Die dorpie Ceres word nie deur berge omring nie, eerder omsingel. Nes jy oor die Michellspas gery kom, lê dié dorp se lappieskombers van boorde, landerye en damme voor jou. Die Skurwe-, Waboom-, Witzen- én Hexrivierberg hou wag oor die vredige toneel.

Dis juis vanweë dié berge dat hier vir lank min mense in dié vrugbare vallei kom draai het. Dit was eers nadat Andrew Bain die Michellspas deur die Witzenberg in 1848 voltooi het dat dinge hier begin woel het. Die eerste Europese setlaars het met vee en koring geboer, maar deesdae is hier ’n leërskare peer-, appel-, perske-, pruim-, appelkoos- en kersieboorde. Die dorp is juis genoem na Ceres, die Romeinse godin van landbou en vrugbaarheid.

Die dorp is juis genoem na Ceres, die Romeinse godin van landbou en vrugbaarheid.

Wintermaande is die bergspitse spierwit, maar vandag bewe die grys kolosse dynserig op die horison. Ja-nee, dis Novembermaand en wárm in die Warm-Bokkeveld. (Die streek is glo destyds so gedoop deur die eerste veeboere vanweë die groot troppe springbokke, wildebeeste en sebras wat in die lente hier deurgetrek het.)

By Baie Bargains, Voortrekkerstraat 17, is daar iets vir elke koper – van ou fietse en trourokke tot teelepels, tapyte en trekklaviere.

Ek en Weg se fotoredakteur, Shelley Christians, daal in die vallei af en hou stil by die dorpsinligtingskantoor, maar die deur is gesluit. “ ’Skuus, man, dis gesluit vir die bobbejane,” vra Suzanne Persens, die toerismebeampte, om verskoning. Dan onthou ek die trop bobbejane wat ons van die berghange af aangestaar het.

In die straat swiep die motors verby, maar dis meestal plaaslike mense wat gou op pad is dorp toe vir melk of brood. Almal waai vir mekaar. In Spar klets die tannies oor die kinders se skoolwerk en die droogte. Toeriste is dun gesaai.

In die laat 1850’s was Ceres ’n bedrywige plek. Die Michellspas het die reistyd van die Kaap na Beaufort-Wes van 20 tot 12 dae verkort! En Ceres het weldra ’n belangrike rusplek vir transportryers en poskoetse geraak op die hoofroete na die noorde; nóg meer toe diamante in die laat 1860’s in Kimberley ontdek is.

Die Fynbos-gasteplaas se perde draf terug stalle toe ná ’n dag tussen die fynbos.

Later die middag ry ons na die Fynbosgasteplaas sowat 12 km buite die dorp; ons gaan hier oornag. Twee brakke hou wag by die voordeur. Een van die eienaars, Peter Nel, groet en begin gesels. Hy vertel van kosplekke en doendinge op die dorp.

Leila, sy groot Anatoliese herdershond, tel lui haar kop op, betrag ons met een oog en slaap dan verder.

Hy druk ’n bottel wyn sonder ’n etiket in my hand en beduie ons moet die plaas verken. Die tuin is vol Boeddha-beelde en figure uit die Griekse mitologie. Ons stap onder ’n druiweprieel deur en verby ’n meditasiekamer met mosaïekwerk op die vloere en mure.

In die wildkampe agter die kamer bak ’n paar llamas, alpakkas, donkies en sebras in die son. In die verte baljaar ’n springbok. Op pad na die kothuis loop jy verby swart varke, Billy, die bokkie, en ’n bende intimiderende emoes. Maurice Lancaster, Peter se vennoot, vertel: “Die emoes kom uit ’n agtertuin in Durbanville, maar meestal bel die veeartse ons as daar diere by hulle aankom wat mishandel is.

“Dit maak ons harte bly om hier te kan wees en vir al hierdie diere ’n huis te kan gee. Ons gaste is al net soveel familie soos die mense op die dorp.”

Peter Nel (regs) en Maurice Lancaster is sielsgelukkig op hulle plaas.
Met ’n baasspelerige swart vark as een van die vele permanente inwoners.

Teen sonsaktyd sit ek op die kothuisstoep. Ek kan nie help om effe bly te wees dat die spoorlyn tussen Kaapstad en Kimberley in 1885 voltooi is en dinge weer stiller geraak het in die Ceresvallei nie.

Deesdae is Ceres ’n niksdoendorp met baie om te doen. Maar ek sou die niksdoen sterk aanbeveel. Span uit en braai langs die Breërivier en luister na die roep van ’n Karoolangstertjie. Vang vis of tuur bloot oor die bergpieke en die rye boorde iewers van ’n stoep af. Moet net nie die dorp verlaat sonder ’n sakkie pere of ’n bakkie kersies wat jy self gepluk het nie. Dis wat Ceres, die godin, sou wou hê. 

Doen dié 5 dinge

Die kersie op die koek

“Kersies pluk, natuurlik!” is die eerste ding wat ’n local sê as jy vra wat ’n mens hier doen. Die Klondyke-kersieplaas is sowat 30 km noordoos van die dorp. Jy vleg deur berge en vrugteplase tot aan die voet van die Matroosberg, teen 2 249 m die hoogste piek van die Hexrivierberg.

In die winter is die berg een van die min plekke in die Wes-Kaap waar mense kan sneeuplank ry. In die somermaande is ’n mens alte dankbaar dat die plaas ’n goeie 10 ºC “koeler” is as die dorp – dis 648 m hoër as die dorp.

“Kersies pluk, natuurlik!” is die eerste ding wat ’n local sê as jy vra wat ’n mens hier doen.

’n Skoolseun groet vriendelik by die hek en gee vir ons ’n 1 kg-bak.

In die boord ontmoet ons ’n groep jolige werknemers wat tussen die toeriste pluk. “Vir die mooiste rooi kersies moet jy in die middel van die boord gaan soek,” sê hulle byna in een stem. Die lekkerste kersies is glo boaan die bome. Jy hoef darem nie boom te klim om bo uit te kom nie – hier is óral lere.

Waar? Ry 12 km noord op die R46, draai regs en ry 18 km tot by die kersieplaas.

Wanneer? Van einde November tot einde Desember.

Koste R30 p.p., kinders jonger as 10 jaar betaal halfprys en dis gratis vir kinders jonger as 5. Dit kos R60 per kilogram kersies (self gepluk). Jy kan jou eie bak bring – laat weeg dit net vooraf. By die winkel kos eerstegraadkersies R65 vir 700 g.

Kontak 087 550 0232; cherryfarm.co.za

Bekyk die boorde van bo

Kyk af as jy op die tweede glybaan van Ceres Adventures is. Daar baljaar gewoonlik ’n paar laerskoolkinders in ’n poel langs die enkelspoorpaadjie onder jou. Hulle kom dobber hier as die dorp te warm word. Waar? Dis nie ’n amptelike toeristetrekpleister nie. Vra ’n local of die mense by Ceres Zipline Adventures hoe om daar uit te kom.

Ceres Adventures se glykabels is nie net vir adrenalienvrate nie. Komaan, klim in die harnas en probeer dit!

Sodra jou skoene die platform verlaat en jy deur die lug vlie’, kan jy nie anders as om “we-e-e!” te skreeu nie!

KYK: Só lyk die uitsig terwyl jy gly. Die video is met 'n GoPro afgeneem.

Jy gly oor swempoele, peerboorde en rotsformasies met die Skurweberg alomteenwoordig. My skoene tref elke nou en dan ’n paar fynbostakke terwyl ek agt keer van die een hang na die ander gly – die langste glybaan is 290 m!

Waar? Voortrekkerstraat 1 – dis die eerste plek wat jy sien as jy Ceres van Kaapstad af deur die nekkie van Michellspas binnery.

Koste R400 p.p. Huur ’n GoPro teen R150 en maak vir Ouma ’n video. Kinders moet ouer as drie jaar wees om te gly. Die uitstappie duur tussen 1-2 uur, afhangende van hoe groot die groep is.

Kontak 079 245 0354; 078 063 5134; ceresadventures.co.za

Proe wyn by Koelfontein

Koelfontein-plaas

’n Goeie dag moet darem ’n glasie wyn insluit, of hoe? Mik na die Koelfonteinplaas anderkant Prince Alfred Hamlet, sowat 18 km noord van Ceres.

Die Conradie-familie bly sedert 1832 op Koelfontein. Jy stap deur sewe geslagte se geskiedenis terwyl die plaas se eerste akkerboom buite in die wind wieg. Ek dink met verwondering dat ’n gesin van 12 eens in hierdie klein kelder gewoon het. Deesdae staan hier ’n statige Kaaps-Hollandse familiehuis reg langs die kelder.

As jy ná die wynproe net nie jouself sover kan kry om die plaas te verlaat nie, slaap oor in Die Kloof-selfsorghuis in ’n kloof op die plaas, ongeveer 3 km van die kelder af in die rigting van Gydopas – ’n regte egte plaashuis met ’n vuurherd, ’n outydse kombuis en groot kuierstoep (vanaf R950 p.n.; slaapplek vir 6 mense).

Koop ander produkte soos gedroogte pere, neute en vars vrugte (in seisoen) by die Cecilia’s-plaaswinkel net ’n ent met die pad terug dorp toe.

Waar? Sowat 18 km buite Ceres op die R303.

Koste Die wynproe is gratis, vanaf R125 per bottel.

Kontak 023 313 3304; 071 413 3869; koelfontein.co.za

Beproe plaaslike boetiekbiere

Johann Gehringer, Ceres Brewery

Op ’n warm dorp soos Ceres (somermaande styg die kwik hier tot 43 °C!) kan daar nooit te veel lafenisplekke wees nie. Dié dat Ceres Brewery sy deure vroeg verlede jaar geopen het.

“Jammer dat die plek so warm is,” spot die bierbrouer Johann Gehringer. “Ons hoop dit gaan goed oor die feesseisoen dat ons ’n aircon kan insit.”

Johann en die eienaars, Gerrit en Niel van Niekerk, was saam op skool op die dorp en het jare lank vir vriende bier gebrou. Toe besluit hulle om dit ’n besigheid te maak.

Jy kan hier saam met boere, sakemanne en jong mense ’n lager of ligte bier en biltong bestel. Hier word ook ’n reeks Duitse geregte soos bratwurst en debrecener (’n soort varkwors) saam met skyfies bedien (R65).

Waar? Voortrekkerstraat 25

Koste Vanaf R30 vir ’n 440 ml-bier.

Kontak 073 550 4827; Soek hulle op Facebook by Ceres Brewery.

Bestudeer die bonsai

Mellville Farmer “Dit was my oorle’ pa se droom om in ’n kwekery te werk, en toe dink ek kom ons doen dit. Nou werk ek in die kwekery, ek het eers by die tannies van die rolbalklub gewerk. Ek het al in die stad en op Worcester ook gewerk, maar ek dink ek sal altyd in Ceres wil bly.”

Onder ’n groot groen skadunet by Ceres Bonsai Nursery staan rye boompies in kleurryke keramiekpotjies. Die verskeidenheid is oorweldigend. Die eienaar, Francois Loots, eksperimenteer met inheemse boompies soos soetdoring en kameeldoringbome, asook Japanse sederhoutbome en selfs ’n bougainvilleabos.

“Jy het nie groen vingers nodig om ’n bonsai aan die lewe te hou,” sê Mellville Farmer, wat meer as 10 jaar hier werk. “Die groot kuns lê in die water, die boompie moet altyd klam wees. Dít en ’n bietjie geduld.”

Hulle verskaf aan groot kettingwinkels en die bonsai-liefhebbers op die dorp. “Ek sal seker beter in die stad kan doen, maar Ceres is my en Mellville se huis,” sê Francois.

Prys Die bome wissel van R145 vir ’n 3 jaar oue boom tot R1 500 vir ’n 10 jaar oue boom (afhangende van spesie).

Waar? Murchinsonstraat 5

Kontak 083 630 6290; ceresbonsainursery.com

WEET VOOR JY WAAI

Weet voor jy waai

Hoe kom ek daar? Ceres is sowat 140 km noordoos van Kaapstad.

Beste tyd van die jaar? Somer is vrugtetyd, maar dis ook vrekwarm. Die omliggende berge, veral die Matroosberg, kry dikwels sneeu in die winter.

Waar kry ek inligting? Loer in by Ceres se toerismekantoor in Voortrekkerstraat nes jy die dorp inry.

Kontak 023 316 1287; ceres.org.za; ceres-info.co.za


Nog doendinge

Trek jou stapstewels aan. Hier is verskeie dagstaproetes in die omgewing. Wandelaars kan mik vir Houdenbekplaas – hier’s ’n maklike 7 km-roete (permit R30 p.p. 083 661 9912), en hardebaardstappers kan die Christie Prins-roete (byna 17 km) tot bo-op die Matroosberg in die Matroosberg-natuurreservaat aandurf (permit: R55 p.p. 023 312 2282).

Kry kaarte en inligting by die toerismeburo. Die twee plekke het ook bergfietsroetes – bring net jou eie fiets.

Bou ’n sneeuman Die Matroosberg-natuurreservaat kry gereeld sneeu. Hou die reservaat (Matroosberg Private Nature Reserve) en die toerismekantoor (Ceres Tourism Bureau) se Facebookblad dop vir ’n sneeuverslag.

Delf in die geskiedenis. Leer by die plaaslike transportryersmuseum meer oor die San, die gebied se eerste inwoners; die lewe van die transportryers; en die aardbewing van 1969.

Toegang is R10 p.p. en R2 per kind. 023 312 2045; ceresmuseum.co.za

Só ry die trein. Besoek Ceres op ’n retoerstoomtreinrit uit Kaapstad saam met die Ceres Rail Company. Die trein ry net op ’n Saterdag.

Dit kos R800 p.p. en R500 per kind en sluit nie middagete in nie. 079 077 5332; ceresrail.co.za

Só werk dinge op ’n vrugteplaas. Doen ’n begeleide toer op ’n vrugteplaas. Bespreek vooraf by die toerismekantoor, 023 316 1287 (net tussen Desember en Maart).

BLY HIER

The River Siding

The River Siding

The River Siding se drie selfsorghuise is op die oewer van die Breërivier. Plas in die rivier of sit langs die braaivleis-vuur en tuur vir die berge.

Waar? Sowat 5 km wes van Ceres op die R46.

Wat pla? Ons wou eerder nie vra oor die aardige reuk in die rondawel nie...

Koste Kamp: R50 p.p.p.n. Selfsorghuis: vanaf R700 p.n. (slaapplek vir 4, 5 en 6 mense)

Kontak 023 231 0726; riversiding.co.za

Fynbos-gasteplaas

Fynbos Gasteplaas

Ynnie Skippers bring elke oggend ’n varsgebakte brood vir ontbyt. Hier’s ’n labirint en allerhande, uhm, interessante kunswerke op die werf.

Waar? Die plaas is 14 km wes van Ceres op die R46.

Koste Kamp: R140 p.p.p.n. Drie selfsorgkothuise: vanaf R850 p.n. (slaapplek vir 2, 3 en 4 mense).

Wat pla? Die Uilhuis se badkamerwasbak is die stort.

Kontak 072 223 4674; fynbosguestfarm.co.za

The Village Restaurant & Guesthouse

The Village Restaurant and Guesthouse

Dié netjiese gastehuis is op die dorp, hier’s speelplek vir die kinders en ’n restaurant op jou voorstoep.

Waar? Vosstraat 64

Wat pla? Nee wat, nie veel nie.

Koste Vanaf R850 p.n. vir ’n en suite-dubbelkamer (ontbyt ingesluit).

Kontak 023 316 2035; thevillageceres.co.za

Pine Forest Holiday Resort

Kamp aan die rand van die dorp tussen ’n magdom dennebome in een van die huisies.

Hier is swemplek, ’n putt-putt-baan, ontspanningsale met ’n tafeltennis- en veerpyltjiebord, en ’n kafee. Die tennisbane en gholfbaan is ook naby.

Waar? Op die rand van die dorp in Carsonstraat.

Koste Vanaf R76 p.p.p.n.

Wat pla? Hier hang heelwat bobbejane rond – wees maar op die uitkyk.

Kontak 023 316 1882; 023 316 1878; denontvangs2@witzenberg.gov.za

EET HIER

Capish!

Capish

Jy hoef darem nie net vrugte te eet nie – kom sit aan vir ’n ontbytpizza (R80) en laventellimonade (R18) in die Italiaanse restaurant. Die restaurant het hoë dakbalke, ’n bontspul houttafels en -stoele, en rakke vol plaaslike konfyte. Op elke tafel staan ’n bottel Ceres-kersiestroop.

Die spyskaart het Europese kos met ’n Suid-Afrikaanse kinkel – soos die Meneer Visagie, ’n pizza met bloukaas en hoenderlewer (R100).

Hier is ook ’n speletjiesarkade agter om die kinders besig te hou.

Waar? Voortrekkerstraat 25

Kontak 023 007 0065

Tremor Coffee Bar

Tremor Coffee Bar

Dié koffiewinkel is ’n gunsteling onder die locals met fênsie koffie met geure soos crème brûlée en malvalekker, en gebak soos frangipanitert (met appel en nougat) om aan te knibbel. Die atmosfeer is ontspanne – elke nou en dan sing iemand agter die toonbank saam op die maat van die plaaslike gemeenskapsradiostasie ValleyFM.

’n Cappuccino kos R24 en ’n ligte middagete soos ’n quiche of toebroodjie met ’n slaai ongeveer R55.

Waar? Voortrekkerweg 28

Kontak 060 752 9171 of besoek die Facebookblad

Tolhuis Bistro

Die geskiedkundige tolhuis langs die Michellspas is van die min ou geboue wat die aardbewing in 1969 oorleef het. Deesdae is die Republic of Roosterkoek se spyskaart vol grappies oor die Guptas en Nkandla. Moenie dat die inwonende swart kat se gestaar jou ontsenu nie...

Bestel twee roosterkoeke, oftewel kaalgatte, met konfyt en kaas (R26) of ’n blikbekerpastei (R70). Hier is ook daaglikse spesiale aanbiedinge en jy kan wegneemroosterkoeke bestel vir die mense by die huis.

Dit lyk dalk stil van die pad af, maar dis ’n vrolike plek – draai gerus in.

Waar? Op die R46 sowat ’n kilmeter wes van die dorp. (Gesluit op ’n Maandag.) 

Kontak 023 312 1211; 083 408 0989; tolhuis.co.za

Bron: Padlangs deur Suid-Afrika, ’n streek-vir-streek-reisgids, Struik

Wat sê die mense?

Leighton Slinger “Ceres is ’n plek waarna jy altyd wíl terugkom. Dis die mense, dit voel soos huis, almal is altyd ewe goedgesind en op hulle plek as jy hier kom, ek voel altyd welkom. Dis nooit swaar of moeilik om huis toe te kom nie.”
Claire Baillie-Stewart “Ná die eksamens is Ceres die perfekte plek om net af te skakel en rustig te raak.”