Teken in op ons YouTube-kanaal om ons nuutste video's eerste te sien. Video: Mia Louw

Dis verstaanbaar hoekom die Skot Alexander McCorkindale besluit het om by Chrissiesmeer wortel te skiet: Die mere en somertyd se golwende groenigheid het hom seker aan sy eie land herinner.

McCorkindale het in 1866 die regering oortuig om 200 plase aan hom te verkoop. Hy wou ’n nuwe nedersettting stig wat die toegangsroete na Mosambiek kon dien. Hy’t sy sin gekry, en as ’n woordjie van dank teenoor pres. M.W. Pretorius se goedhartigheid Suid-Afrika se grootste varswatermeer – toe nog bekend as Groot-Zeekoepan – na die president se dogter herdoop: Miss Chrissie’s Lake.

Deesdae is hierdie vleilandgebied ’n gunsteling-bestemming onder voëlkykers, maar selfs vir mense wat nie voëlkoors het nie, sal Matotoland (die Siswati-naam vir “plek van die paddas”) ’n bekoring inhou. Somertyd staan die veld vol in die blom en kan jy selfs Chrissiesmeer se paddas op ’n begeleide toer beter leer ken.

Hier’s vyf blyplekke naby die water:

1. The Boat House

Drink jou eerste koppie koffie van die dag op die stoep van The Boat House terwyl jy oor Chrissiesmeer uitkyk.

In hierdie weggesteekte baaitjie aan die westekant van die meer is die hele strand joune. Die houthuis is op stelte gebou en het twee wilgerbome vir geselskap en ’n uitsig oor die meer soos min. En ja, hier is ’n boot!

Chrissiesmeer is sowat 9 km lank en 3 km breed, verneem ek by die plaaseienaar, Esbie Bezuidenhout. Haar familie het hulle grond aan die meer in 1990 gekoop en in 2012 permanent Chrissies toe getrek. “Sowat twee, drie jaar gelede het ons vir Lentedagviering reg rondom die meer gestap,” vertel sy. “Die watervlak was tóé nie baie hoog nie, maar dit het ons steeds omtrent ses uur geneem.”

Naby die huis is ’n paar grotte, en ’n geskiedkundige Bokoni-klipkraal. Dié bevolking was boere en handelaars wat vanaf die 1500’s tot in die 1800’s op etlike plekke, in wat ons nou as Mpumalanga ken, groot klipnedersettings met fassinerende infrastruktuur vir daardie dae gebou het.

Wildsbokke soos duikertjies en blesbokke is volop – hou ’n ogie oor jou honde as hulle daarvan hou om als wat beweeg te jaag. Bedags sit dassies op die rotse en dut en saans heers ’n besonderse naglewe aan die meer: muskeljaatkatte, tierboskatte, vaalboskatte en selfs die klein gekolde kat (die kleinste wildekatspesie in Afrika) kom dan uit hulle gate.

Maar The Boat House se grootste trekpleister bly die voëllewe wat jy sommer van die huis af kan dophou. “Hier hou ’n bielie van ’n reusereier,” sê Esbie, “en die visarende broei ook naby die huis.”

Sy vertel hoe ’n gompou haar een oggend groot laat skrik het: “Hy’s mos dieselfde kleur as die droë gras. Dié massiewe voël met sy lang bene kan hier rég langs jou staan en jy sal dit nie agterkom nie!”

Die Boat House het sonkrag, ’n gasstoof en ’n gasgeiser vir warm water. Die huis het twee houtdekke: Die kleiner een aan die noordekant van die huis is warmer en word ’n bietjie meer beskut deur ’n rotskoppie. Die fontein wat tussen die koppie se rotse uitborrel, is veral in die somer mooi wanneer mos die klippe toegroei. Die dek aan die voorkant van die huis is die een met ’n uitsig meer se kant toe.

Wat nog? Hier’s ’n braaiplek. Gaste kan die roeiboot en kajak gebruik en geen hengelbote of motorbote word toegelaat nie.

Koste: R800 p.n. (slaapplek vir 4)

Waar? Sowat 7 km buite die dorp. Volg die N17 in Ermelo se rigting, maar draai 3 km buite Chrissiesmeer af op die grondpad na die Genesaret-kampterrein. 081 040 7787

2. Teen Die Meer

Rex woon al jare op Teen Die Meer. Hier geniet hy die wintersonnetjie.

Hierdie is nóg ’n gawe opsie aan die wesoewer en veral gesog onder hengelaars en fietsryers. Die verblyf is bekostigbaar en sonder fieterjasies en jy’t ’n keuse tussen houthutte, safaritente of ’n kampterrein in die koelte.

Die groeptente is geskik vir ’n klomp vriende wat saam kom naweek hou. Hier staan vier safaritente (elk met slaapplek vir drie mense) wat ’n kombuis, kroegie, badkamer en parkie deel. ’n Vyfde, groter safaritent staan effens eenkant tussen ’n paar silwerwattelbome en het ’n yskas, koffiestasietjie, breekware en boma.

Bespreek ’n houtchalet as jy op jou eie wil wees: Die Tent Chalet (slaapplek vir ses) staan in ’n oopte tussen die bome met sy eie boma. Soortgelyk aan die tente is die Wood Chalet (slaapplek vir sewe) meer geskik vir ’n gesinsvakansie. Die badkamer het ’n ingang van die dek af vir die jongspan wat rondom die chalet wil kamp.

Wegsteek Chalet se twee en suite-kamers het elk slaapplek vir drie mense, en daar’s twee matrasse in die sitkamer vir kinders. Die naam sê presies wat dit is – die meeste mense wat hierlangs kom, besef nie eens daar is nóg ’n blyplek dieper in die ruigtes nie.

Die plaas is 1 000 ha groot en fietsryers sal bly wees om te hoor dat die 27 km lange enkelspoorbaan só uitgelê is dat jy nêrens jou eie spoor weer kruis nie, maar net vorentoe trap. Wees op die uitkyk vir blesbokke, erdvarke, erdwolwe, klein gekolde katte en ’n magdom hase.

Teen Die Meer se groot safaritent is privaat en het ’n private boma.

Alida du Toit, die eienaar, sê waadvoëls wat vlak water verkies – soos flaminke en lepelaars – vertoef graag hier wanneer die watervlak na hulle sin is. “Die meer was van 1985 tot 1992 so te sê leeg, maar die bietjie water wat wel ná reën bly staan het, het toe byna 25 000 flaminke gelok!”

Wat nog? Basiese kruideniersware, hout, ys, koeldranke, peuselkos en hengelgerei is te koop. Jy moet jou eie fiets bring, maar kano’s is te huur (R50 per dag). Klein en middelslaghonde word toegelaat en volgens Alida het mense al selfs met hulle katte kom kamp!

Koste: Kamp: R60 p.p. (maksimum 6 per staanplek), plus R50 vir krag en R60 vir ’n woonwa. Chalets: R550 p.n. vir 4, plus R50 per bykomende gas. Safaritent: R400 p.n. vir 2 mense en R450 vir 3 tot 4 mense. Dagbesoekers: R30 p.p.

Waar? Langs dieselfde pad as The Boat House, net 2 km verder. 082 629 4320; teendiemeer.com

3. Tolderia Resort

Tolderia’s Resort
Tolderia’s Resort se brakke geniet ’n luukse agtermiddagvaart.

Tolderia lê Lothair se kant toe en is ’n agtermekaar plek met damme, panne en tuine waar geen grashalmpie uit plek is nie. Dis ’n gewilde bestemming vir groot geleenthede soos familiesaamtrekke en -feeste. Die Mieliepop-musiekfees word gewoonlik elke jaar in Maart hier gehou.

Die eienaar, André van Rooyen, is ’n ingenieur. Sy handewerk is duidelik te sien in die oord se netjiese ontwerp: talle sierlike watervalle en houtbruggies verbind die verskeie dele met mekaar. Selfs die Dam House spreek van ontwerpersvernuf: dié afgesonderde tweeslaapkamereenheid is op só ’n manier gebou dat ’n mens die groot rots waarteen dit staan, in die sitkamer kan sien.

En teen dié rots groei selfs ’n binneshuise tuin – twee verdiepings hoog! Die Dam House het ’n verhitte swembad en ’n “grot” waar ’n klomp vrinne tot ounag buite kan kosmaak en fuif. Die grot het ablusiegeriewe vir diegene wat rondom die Dam House in die tuin wil tent opslaan (maksimum 12 gaste).

Die hoofvenue by Tolderia huisves gereeld gesellighede en musiekfeeste, soos die Mieliepop-musiekfees.

Verder het Tolderia vier luukse chalets met van ’n verhitte plonspoel tot ’n tuimeldroër en ’n skottelgoedwasser. Die plan is om nog chalets aan te bou en ’n klein kampterrein in ’n staning moeraseike is ook in die pyplyn.

Alle troeteldiere is welkom by Tolderia (iemand het al met sy skilpad kom vakansie hou), jy kan vir baars hengel en hier loop ook wild soos duiker, springbok, sebra, eland en volstruis. (Doen navraag oor wildritte.) As jy gelukkig is, sien jy dalk ’n paar otters.

Wat nog? Talle fietsry- en voetslaanpaadjies kronkel deur die plantasies. Jy mag jou boot, ski’s en viertrekmotorfiets saambring en die oord het kano’s. Jy kan ook ’n enjinaangedrewe vlot huur (R700 per dag, brandstof ingesluit) vir ’n jolige dag op die water.

Koste: Dam House: vanaf R1 400 p.n. oor naweke (4-6 mense). Chalets: vanaf R2 400 p.n. oor naweke (6-8 mense).

Waar? Sowat 32 km suidoos van Chrissiesmeer. Volg die paaie na Lothair. 082 925 72 51; tolderiaresort.co.za

4. Miss Chrissie’s Country House

Van die Storiekamer se stoep af kan besoekers die Chrissiesmeer sien.

Hierdie statige ou sandsteenopstal sit op ’n heuwel en het ’n onbelemmerde uitsig oor die vleiland. Die hoofhuis dateer uit 1873 en het nege gastekamers (elk met ’n eie stoep) en ’n losstaande kothuis met ’n omheinde tuin – ideaal vir gaste wat hulle troeteldiere wil saambring (reël vooraf).

Die kothuis en al die kamers het óf ’n kaggel óf ’n stofie vir daardie koue winternagte. Hier’s ook ’n kampplekkie diep in ’n eikebos.

Die eienaar, Aretha Strydom, het in die Chrissiesmeer-omgewing grootgeword en baie jare geboer. Sy het duidelik ook ’n slag met mankolieke voëls: Sy het ’n mank mahem by Blinkpan gered en hom die naam Slapknieg gegee. En dan was daar Marshy, die beseerde vleiuil, wat sy grootgemaak het. Selfs nadat hy herstel en weer vrygelaat is, sou Marshy gereeld kom gesig wys wanneer Aretha vleilangs loop:

“Hy sou op die heining sit en wag tot ek aankom. Sy beseerde vlerk het so ’n bietjie laer gehang as die ander een – dís hoe ek hom kon uitken.”

Voëlskyk by Chrissiesmeer hang af van die seisoen: Ná die reën staan die veld vol poeletjies en dan sien jy nie die geveerdes maklik raak nie. Maar in droër tye trek hulle om die mere en panne saam. “Ek het een jaar omtrent 900 rooivlerksprinkaanvoëls op die plaas Lake Fen hier naby gesien!”

Lindy en Snowbell wag op aandete by Miss Chrissie’s Country House.

Hier by Miss Chrissie’s sien jy egter ook baie ander diere: Skape kom groet jou by die draad, en twee perde – Snowbell en Lindy – staan soms soos ’n skildery teen die dromerige landskap. Aretha se tuin is iets om te aanskou! Met my besoek knap voor die winter was bykans 500 rose nog vol in die blom! “As mense my vra hoeveel roosbome ek het, dan antwoord ek altyd ‘nie genoeg nie!’ ” vertel Aretha laggend.

Buiten haar roostuin is Aretha se ander groot liefde haar groentetuin. “Dít is my grootste vreugde – om vir gaste te kan kook. En as sjef kan ek nogal vol nukke wees! Die seisoen besluit watter bestanddele ek kan gebruik, en die betrokke dag bepaal watter dis ek voorberei.”

Wat nog? Die nege kamers (waarvan vier vir selfsorg ingerig is) het elk twee enkelbeddens in, terwyl die selfsorgkothuis slaapplek het vir 6. Die kampterrein is groot genoeg vir twee gesinsgroepe. Vra oor die staproetes op die plaas.

Koste: Kamers en kothuis: vanaf R430 p.p. vir 2 mense. Kamp: R135 p.p.

Waar? Sowat 5 km oos van Chrissiesmeer; skaars 800 m van die meer af. 079 252 5235; misschrissies.co.za

5. Goedehoop Farm Stay

Dié rotsboog – die Natuurlike Erosiebrug – kruis die Vaalrivier naby die rondawel by die Goede-hoop Farmstay. Toentertyd het Voortrekkers én Anglo-Boereoorlog-magte hier die water oorkruis.

Die kliprondawel op Goedehoop staan kilometers ver weg van die beskawing af, maar slegs ’n hanetreetjie van ’n dam wat hier in ’n sytak van die Vaalrivier gebou is.

Stapafstand van die huisie af strek ’n 27 m lange klipboog oor die Vaalrivier – dis die sogenaamde Natuurlike Erosiebrug waarmee die Voortrekkers sowel as Anglo-Boereoorlog-magte die rivier oorgesteek het. Dié stukkie nagedagtenis aan die omgewing se geskiedenis word gereeld verfris wanneer skoolgroepe die brug op uitstappies aandoen, vertel Goedehoop se eienaar, Michelle Engelbrecht.

Die plaas is 1 400 ha groot en die Engelbrechts boer met beeste, soja en mielies. Met die Smitsfield-trouevenue net langsaan, is Goedehoop se rondawel ’n gewilde plek onder gaste wat op die groot dag voor die seremonie hier kom optof.

Michelle vertel dat hulle nie in die wintermaande baie besoekers kry nie. Die Hoëveld is immers bekend vir sy ysige koue, snerpende wind en hier skeur selfs af en toe ’n tornado deur! Hier op die plaas is dit gemiddeld 5 °C koeler as op die nabygeleë Ermelo.

Maar die rondawel is knus ingerig met ’n houtstofie én ’n kaggel, vier enkelbeddens in die solder vir die kinders en ’n dubbelbed in ’n aparte slaapkamer.

Die huis het een badkamer, ’n kombuishoekie en ’n groot leef-en-eetvertrek.

Waaghalse, staan nader: Naby die huis is ’n swemgat waar ’n mens van ’n krans van 12 m hoog ’n bommie kan maak. Michelle het hier grootgeword en menigmaal as kind daar afgespring, maar sy erken dat die jare nie net wysheid nie, maar ook ’n groter versigtigheid gebring het! Wat nog? Die rondawel het ’n klein lapa met ’n ingeboude sowel as ’n losstaande braai en gaste kan met die kano op die dam gaan roei.

Koste: R1 600 p.n. vir tot 6 mense.

Waar? Goedehoop lê suid van Chrissiesmeer. Volg die N17 in Ermelo se rigting vir 29 km en draai dan links op die pad na Lothair. Die afdraai na Goedehoop is 14,5 km verder op linkerhand.

082 784 5248

EET HIER

The Billiard Room

Hierdie restaurant en kroeg op Chrissiesmeer is in 1901 gebou en was tydens die Anglo-Boereoorlog die ontspanningsaal van die Britte wat die dorp beset het. Kom sit aan vir sop, pastas en pizzas.

Waar? King Edwardstraat 88

Oop: Di. tot Sa. van 11 vm.-8nm. So. tot 3 nm. Gesluit op Maandae.

Kontak 084 856 8418

KLINK ’N GLASIE

Probeer die Highveld Gin op die dorp se seisoengeure soos porcini en rissie by die The Gin Shop op die dorp.

The Gin Shop

’n Mens kan neffens The Billiard Room keel natmaak by dié oulike plekkie. Daar’s meer as 50 jenewers om van te kies, insluitend die eienaar, Marian Bezuidenhout, se eie handelsmerk, Highveld Gin.

Oop: Elke dag van 11 vm.-10 nm.

Sondae sluit hulle om 5nm.

Kontak: 082 888 0262


Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook