Anna-Marie en Chris Oosthuysen
Anna-Marie en Chris Oosthuysen (saam met Jabu) op hulle plaas Morgenson naby Lady Grey. Dié twee onderwysers boer ook met die een hand.

Sterkspruit is in die voue van die Malotiberg, in wat eens ’n skerf van die voormalige tuisland Transkei was. Dié gebied word begrens deur die Oranjerivier na die noordweste, Lesotho na die noordooste, en Lady Grey suid daarvan.

Sterkspruit is ’n warboel van ’n dorp, die strate verdring met voetgangers, afgeleefde bakkies en minibustaxi’s. Ek onthou hoe ek jare gelede die eerste keer van dié dorp gehoor het. Ek was in die Wes-Kaap in die Koue-Bokkeveld naby Ceres, waar ek met vrugteplukkers gesels het – álmal in die boord was van Sterkspruit. Hulle was seisoenwerkers en is met pluktyd in busse Ceres toe gebring. Tuis in Sterkspruit is werk glo bitterskaars.

’n Mens kan sê Sterkspruit is deel van ’n agtergeblewe deel van die Oos-Kaap. Waar toegang tot goeie skole in ander dorpe elders in die provinsie dalk vanselfsprekend is, is dit nie hier die geval nie.

Maar twee mense het dié probleem gesien, en dit omskep in ’n avontuur wat hulle lewe verander het – én die lewe van duisende kinders.

Dié avontuur het 22 jaar gelede begin toe Chris en Anna-Marie Oosthuysen ’n kamertjie huur in die Transido-gebou (Transido was ’n Transkei-ontwikkelingsprojek wat entrepreneurs ondersteun het) op Sterkspruit. Hulle plan was om ’n privaatskool te begin wat kinders uit die omgewing help voorberei op ’n toekoms – ’n reg wat elke kind behoort te hê.

“Ek was inspekteur, oftewel, hoof-onderwyskundige, en Sterkspruit deel van my werkgebied,” vertel Chris.

Die egpaar gesels in hulle wit gewelhuis aan die voet van die Joubertpas, Lady Grey, 43 km se ry van Sterkspruit af. “Dit was chaos in van die skole. Kinders het oor die banke gehardloop, die onderwysers was nie eens altyd by die skool nie.”

Die kleintjies was Chris se verantwoordelikheid – gr. R, die grondslagfase. Hy het besef dat ’n regrukaksie reeds dáár moet begin.

“Ek sê toe vir Anna-Marie, kom ons begin ’n oorbruggingskool vir hierdie kinders om hulle ’n geleentheid te gee om by die model C-skole van daardie tyd te kan inskakel. Dit was vir my hartseer om te sien hierdie kinders ontvang nie goeie onderrig nie, want hulle onderwysers is nie gemotiveerd nie.”

Teen halfvyf die middag op 4 Desember 1997 sit Anna-Marie en Chris in die konferensiekamer van die Hilltop Hotel op Sterkspruit en wag vir ouers om hulle kinders in te skryf vir die komende skooljaar.

“Ons het vooraf pamflette uitgedeel en als,” vertel Chris glimlaggend. “Anna-Marie het ’n mooi tafeldoek gebruik met ’n waterbeker, glase en alles. Ons was daar tot halfsewe die aand en daar het nie ’n enkele ouer gekom nie!”

Dit was die eerste teken dat dinge in Sterkspruit ánders gaan verloop as wat hulle tot in daardie stadium in die onderwys gewoond was. Dit was kort voor Kersfees, en familietyd – niemand in Sterkspruit het nog aan skool begin dink nie.

Op Maandag 12 Januarie 1998 staan die klaskamerdeur by Transido oop, en Anna-Marie wag... Daardie dag daag 12 kinders op. Teen einde van die week was daar 63. Daarna nóg.

“Ons het begin met niks,” onthou Anna-Marie, “Chris het houtborde gesaag waarop die kinders gesit en skryf het. Op die vloer was ’n ou mat om op te sit. Ons het ou finansiële state by die bank gekry en die kinders het agterop geskryf, dit was ons papier.”

Vir die eerste twee jaar het hulle die skool self gefinansier, en ouers het aanvanklik sowat R40 per kind per maand betaal. Vandag is die skool gesog. Hier is net minder as 600 kinders, van gr. R tot gr. 12. Hulle het al 900 leerlinge gehad, maar hou getalle nou eerder in toom om kleiner klasse te waarborg. (Klasgeld beloop deesdae R850-R1 200 per kind per maand, en die skool ontvang ’n regeringsubsidie.)

Teen 2006 gradueer die eerste matriekklas, en sedertdien was daar nog net een jaar wat hulle nie ’n 100%-matriekslaagsyfer gehad het nie. Hoewel Anna-Marie steeds klasgee wanneer nodig, is Chris se rol deesdae die van finansiële bestuurder (die kinders noem hom The Manager). Saam met hulle werk ’n span van meestal jong onderwysers.

Teen 2006 gradueer die eerste matriekklas, en sedertdien was daar nog net een jaar wat hulle nie ’n 100%-matriekslaagsyfer gehad het nie.

Namate die skool gegroei het, het hulle ekstra kamers by Transido gehuur. Hulle bure in die kompleks was onder andere ’n sweiser, ’n paneelklopper, iemand wat fotostate gemaak en ’n man wat boeke verkoop het.

Later het dié almal elders ’n heenkome gekry, en in 2005 kon die Oosthuysens die hele kompleks koop en in klaskamers omskep.

Mettertyd is ’n administrasiegebou, Further Education & Training Centre (wat ’n rekenaarsentrum en skeinatlaboratorium insluit), sportgronde en skoolsaal aangebou.

Verskaf
Die sportgronde van die Sterkspruit Christian Private School. Hiervandaan kan ’n mens die skool agter die veld sien, en die dorp Sterkspruit in die verte.

Chris, wat bekwaam is agter die stuur van ’n kruiptrekker én met ’n stel tegniese tekeninge in die hand, het die meeste van die bouwerk self gedoen. Dis veral op die skoolsaal wat hy trots is.

“In April 2008 was ek op Greytown om na Angus Buchan te luister,” vertel hy. “Toe ek die 60 000 mans in daai groot tent hoor sing, het ek iets ervaar. Ek het regtig gevoel die Heilige Gees sê vir my gaan bou ’n saal by die skool. Voorheen het ons altyd buite saal gehou. Daai Maandag het ek teruggekom en begin bou aan ’n saal wat 1 200 mense kan huisves.

“Dis nie ’n luukse skool nie, maar dis skoon en netjies. Ons het nog altyd geglo jy kan net van die kinders vra wat hulle kan bekostig. Ons kinders het al wonderlike kwalifikasies verwerf nadat hulle hier weg is. Hulle kom gereeld na die skool en ek gee vir hulle die geleentheid om op die verhoog te staan en vir die leerlinge te vertel wat hulle deur harde werk bereik het. Soms is ek en Anna-Marie in Bloemfontein in die Mimosa Mall en skielik storm oudleerlinge op ons af, ‘Hello Ma’am, hello Sir!’ en hulle gryp jou en hug jou!”

Vir die sportveld en paviljoen moes Chris en sy span ’n gelyk oppervlak maak van die heuwel waarteen die skool lê. Dis veral hulle grasatletiekbaan wat skole van reg oor die streek lok vir byeenkomste, maar behalwe vir ’n paar uitblinker-atlete is sport nie hulle prioriteit nie. Hulle het vroeg reeds besef dat die beoefening van spansport op ’n Saterdag nie vir Sterkspruit werk nie.

“Deur die week oefen jy en kies ’n span,” sê Chris, “maar Saterdag daag net die helfte van die span op. Maandag vra jy waar hulle was. Dan sê die kinders: ‘No, sir, we had to attend a funeral.’ Saterdae is funeral-dag op Sterkspruit. Daarom doen ons spansporte soos sokker of netbal op ’n Woensdagmiddag.”

Chris en Anna-Marie het oor die jare heen verskeie begrafnisse in die distrik bygewoon en eerstehands gesien dis iets wat vroegdag begin en eers laatmiddag klaarmaak. Kulturele verskille is ’n daaglikse uitdaging. Van die probleme is bloot prakties – party nuwe kinders moet geleer word hoe om ’n spoeltoilet te gebruik. Net om die skool soggens te bereik is ’n struikelblok vir ander, wat ver moet ry met openbare vervoer – twee of meer taxi’s – om tot op Sterkspruit te kom. (Die skool het nie ’n koshuis nie.)

Anna-Marie vertel: “Baie van ons kinders se ouers werk en woon in die stede, veral in die myne, en die kinders bly by hulle grootouers.”

Dis ’n gemeenskap met baie maatskaplike probleme, van drankmisbruik tot prostitusie, en kinders word ook hierby betrek. Chris voeg by: “As jy daai kinders kry as hulle klein is, dan kan jy hulle opvoed, en dan kweek jy by hulle ’n waardestelsel. Vir ons is die onderwys nie net akademie nie. Ons laat nie kinders toelatingstoetse skryf nie. As ’n kind na ons toe kom, dan vat ons hom.”

“Kinders is soos sponse,” sê Anna-Marie. “Elke ding is vir hulle wonderlik: om ’n pakkie kryt en ’n boek te kan hê. Dis goed wat ander kinders as vanselfsprekend ervaar.”

Tussen die ernstige dinge is daar ook goed om oor te lag.

“Die kinders is baie lief om hulle kos met die onderwysers te deel,” vertel Anna-Marie. “ ’n Kindjie kom eenkeer na my en sê: ‘Ma’am, you can have this, I don’t feel like eating it.’ Ek kyk na wat hy in sy hand vashou, en dit lyk vir my soos ’n bleek worsie. Maar toe sien ek die kam en die bek van die hoender, toe’s dit ’n hoenderhaankop! Toe sê ek maar: ‘No, thanks, I’m on a diet.’ Sedertdien het ek al gehoor die kinders sê onder mekaar: ‘No, don’t offer it to Mrs Oosthuysen, she’s on a diet...’”

In die eerste paar jaar was Anna-Marie alleen by die skool. Chris het 800 m verder in die pad af by die onderwysdepartement gewerk.

Anna-Marie vertel toe ’n ou man haar eendag kom besoek het. “Jy kon sien hy is iemand met gesag in die gemeenskap. En toe sê hy vir my iets wonderliks: ‘Jy hoef nie bang te wees nie, want julle is hier om ’n diens te lewer aan ons gemeenskap wat ons bitternodig het, en daarom sal julle altyd veilig wees.’

Leerlinge
Leerlinge van die gr. 9A-klas luister aandagtig na Anna-Marie Oosthuysen terwyl sy klasgee.

“Van die begin af was die mense se gesindheid teenoor ons positief, hulle het ons op die hande gedra. Ons het soveel liefde en agting vir hierdie mense. Hulle het ons beskou asof ons gestuur was.”

Hulle dra by waar hulle kan, selfs buite die skool. Chris het op eie onkoste die fondament van Sterkspruit se nuwe Metodistekerk gebou, en het op ’n slag al sy stootskraper gebruik om die dorp se aanloopbaan reg te maak sodat dokters uit Oos-Londen hierheen kon vlieg om dienste te lewer.

Op die buurdorp Herschel ondersteun hulle ook ’n kinderhuis.

“Ons neem van die weeskinders in by die skool,” vertel Anna-Marie. “Daar was ’n klompie jare gelede drie kinders – ’n meisie en haar twee jonger boeties. Hulle ouers het hulle gelos. Die sussie het in asblikke kos gesoek, sy wou nie dat sy en haar boeties geskei word nie. Dit was tragies. Die polisie het hulle gekry, en toe is hulle kinderhuis toe. Nou het daardie meisie ’n graad in rekenaarwetenskap, die een boetie studeer ingenieurswese en die jong enetjie studeer iets in Kaapstad.”

“Daai drie kinders het van die hoogste punte ooit in wiskunde in ons skool gekry,” sê Chris. “Hulle stuur gereeld vir ons SMS’e om te sê hulle doen nou dit of dat. Die dankbaarheid van sulke kinders is wonderlik om te ervaar.”

“Dis erg by die kinderhuis, daar’s nie ruite in vensters nie,” sê Anna-Marie. “Een van ons oudstudente is nou maatskaplike werkster daar, en dit help. As jy vir ons leerlinge sê hierdie week maak ons kos bymekaar vir die kinderhuis, dan kom hier houers en houers kos aan.”

“Of hulle bring klere – nie ou klere nie, van hulle béste klere, want dit is hulle trots om dit te gee,” vertel Chris.

Anna-Marie het op ’n Karooplaas buite Hofmeyr grootgeword en Chris in Bloemfontein. Hulle het in 1978 op Kokstad ontmoet, waar albei onderwys gegee het. Hulle het in 1981 getrou. In 1994 het hulle Lady Grey toe gekom, waar Chris ’n pos as skoolhoof gekry het en Anna-Marie klasgegee het. (Dit was in Chris en Anna-Marie se tyd in Lady Grey dat die plaaslike skool omskep is in ’n kuns- en musiekskool wat landwyd leerlinge begin lok het.)

Nou is hulle al rofweg die helfte van hulle onderwysloopbane by Sterkspruit betrokke. Hulle ry elke dag soontoe.

“Baie dae wou jy net los,” erken Anna-Marie. “Jy wonder of dit die moeite werd is om so te sukkel om die kinders op ’n akademiese vlak te kry. Maar al is dit een of twee, jy moet vasbyt, dit ís die moeite werd. Op Sterkspruit het ek geleer wat dit is om nederig te wees. En onvoorwaardelike liefde aan die kinders te gee. Daar is baie kinders wat uit ouerhuise kom waar daar geen liefde aan hulle gegee word nie.”

Chris vertel: “Die oomblik as jy die persepsie tussen leerlinge en onderwysers kan breek van ‘hulle’ en ‘ons,’ en jy maak dit net ‘ons,’ kan jy ’n verskil bewerkstellig. Geen lid van ons personeel mag die kinders anders hanteer as wat hulle hulle eie kinders sou hanteer nie. Ons het net een reël by die skool: Do to others what you want them to do to you.”

Anna-Marie deel: “Jy moet na elke kind kyk as potensiële leier van ons land. Jy moet die kind eerste stel, en dan kan jy verandering sien, en ’n groot verandering in ons land maak. Dit maak nie saak waar jy skoolgee nie – gee jou beste. Gee jou beste vir die toekoms van Suid-Afrika. Ons het gesien dit werk. Baie van ons kinders het goeie werke gaan kry ná skool – prokureurs, landmeters, ’n dokter, ’n tandarts, ’n oogkundige. Hulle is voorspoedig, en ons is baie trots daarop.

Geen lid van ons personeel mag die kinders anders hanteer as wat hulle hulle eie kinders sou hanteer nie. Ons het net een reël by die skool: Do to others what you want them to do to you.

Skool
Dis agtuur op ’n Maandagoggend en dié outjie moet wikkel om sy skoolsak te bêre en betyds te wees vir aanbidding in die skoolsaal.

“Dis die afgelope 22 jaar ’n voorreg om te weet dat hier, in ’n afgeleë deel van die land, ons hierdie puik matriekuitslae kry. Ons is elke dag by die skool. Dit maak ook ’n verskil.”

Die feit dat hulle sáám betrokke is by die skool is belangrik: Hulle kan op mekaar steun. “Chris het my geleer om nie kleingelowig te wees nie,” sê Anna-Marie. “As jy ’n roeping het, gaan voluit daarvoor.”

“Anna-Marie is altyd voorbereid,” sê Chris. “As ek in die saal opstap verhoog toe, dan wonder ek soms wat ek gaan sê. Ek staan soms voor ’n klas en vra: Waar was ons gister? Maar nie sy nie, sy is volledig voorbereid.”

“Vir my speel die omgewing waarin ons woon en werk ’n rol,” sê Anna-Marie. “Hierdie berge spreek my elke dag aan. Wanneer ons in die oggend Sterkspruit toe ry, dan kyk ek na die landskap en onthou: ‘Slaan jou oë op na die berge.’ Hier is jy altyd bewus van daardie Hoër Mag. Op Sterkspruit is dit ook so: Jy kan by enige klaskamervenster uitkyk en die berge is reg rondom jou.

“As ek my lewe oor moet doen, dan ry ek maar weer elke dag daai 43 km, en ek gaan weer daai werk doen.”

Die meeste van die leerlinge aan die Sterkspruit Christian Private School het nie ’n groen grasperk tuis nie en geniet dit om op die skool s’n te speel.


Kry meer inligting oor die skool by scps.co.za