Foto's Sophia van Taak

Op die skynbaar eindelose dorte tussen Touwsrivier en Laingsburg het een man ’n eeu gelede ’n enkele straat vol Victoriana kom bou. Wat tóé die gewaarwording van ’n reuse koloniale droom was, is deesdae waarskynlik die land se kleinste dorpie.

Hoe het Matjiesfontein ontstaan?

Matjiesfontein se Skotse stigter, James Logan, was as jongman eintlik op pad na Australië toe die Rockhampton-stoomskip waarmee hy gereis het vir herstelwerk in Simonstad moes aandoen.  Die jong Logan het die skip verlaat, ’n portierwerkie op die Kaapse stasie gekry en in ’n oogwink gevorder tot klerk en daarna stasiemeester. In 1878 (op slegs 21 jaar oud) is hy aangestel as distriksuperintendent van die spoorlyn tussen Hexriver en Prins Albert. Hy’t vinnig vrou gevat, Touwsrivier toe getrek en kort voor lank ook ’n spysenieringsdiens aan besoekende treine voorsien.

Teen dié tyd bars Kimberley se diamantvelde uit hul nate, al hoe meer treine stoom verby en Logan bedank uit die Spoorweë om voltyds spysenier te word. Maar die jong entrepreneur se visie stop nie daar nie: Logan het treine geken, en ook geweet dat die stoomlokomotiewe gereeld tussen die Kaap en Kimberley water moet inneem – iets wat hulle op die lank stuk tussen Touwsrivier en De Aar nie kon doen nie. 

In daardie dae was die Matjiesfontein-spoorweghalte (sowat 55 km oos van Touwsrivier) niks meer as ’n afgeleë sinkgeboutjie nie, maar Logan het besluit om homself presies hier te vestig, iewers ’n standhoudende bron te vind en die water aan die Spoorweë te verkoop. 

Victoriaanse weelde. Die Hotel Milner is in 1900 voltooi, en Logan het dit as ’n gesondheidspa bemark, met die vars water en skoon Karoo-lug as trekpleister vir elkeen met ’n longkwaal. Maar dis was oorlogtyd en Logan stel die gebou en omliggende veld terstond beskikbaar as ’n Britse hospitaal en perdevoorsieningskamp – ’n baie strategiese skuif wat die regte mense in die regte sfere beïndruk het.

Hy’t in ’n kort tydjie ’n hele paar plase in die omgewing gekoop, ’n boorgat deur soliede rotsbanke laat sink en ook van fonteine af pypleidings na Matjiesfontein laat aanlê – elke verbygaande stoomtrein was nou afhanklik van sy water. Slím! 

James Logan is op 30 Julie 1920 oorlede en nie lank daarna nie het Matjiesfontein self ook doodgeloop. Tot 1968, toe die hotelbaas David Rawdon (van Lanzerac- en The Marine-faam) die hele dorpie gekoop en weer lewe daarin geblaas het. 

Rawdon het met groot ywer voorgebou op die fondasie wat Logan hier gelê het. Ná twee jaar se restourasie was die driester-Lord Milner (in Logan se dae het dit die Hotel Milner geheet) en sy norring vleuels en buitegeboue weer oop vir besoekers.

Toeka se trein. Die ou Suid-Afrikaanse Spoorweë se Stoomlokomotief No. 897 staan op Matjiesfontein, tesame met twee van sy waens (foto). Die lokomotief is in 1893 in Glasgow, Skotland gebou en het tussen Touwsrivier en Ladismith geloop en in die laat-1970’s hier op Matjiesfontein kom aftree.

’n Eenstraat-dorpie? Wat doen ek heel naweek lank?

Heelwat! Die ganse dorpie lyk soos ’n filmstel, dus is hier baie fotogeleenthede: Aan die onderpunt van die straat staan die kroon van Logan se Karoo-empire, die Lord Milner-hotel (genoem na die destydse goewerneur aan die Kaap). Langsaan is Logan se ou kontreiwinkel (nou ’n koffiewinkel), die ou bankgebou, poskantoor (nou ’n geskenkwinkel), die oorspronklike Masonic Lodge, ’n fabriekie waar gebottelde mineraalwater, limonade en gemmerbier vervaardig is, die Logans se spoggerige dorpshuis en nog ’n paar ander woonhuise. Die een is deesdae genoem na die beroemde skrywer Olive Schreiner wat van 1890 tot 1892 hier gehuur het. Kom ons verken te voet:

Speel ’n potjie tennis Die tennisbaan is vol krake, die net hang nie op die regte hoogte nie en die wit lyne lê verbloem onder trosse rooi bessies van die peperbome. O, én teen die heining is ’n bordjie wat jou teen slange op die baan waarsku. Dit alles spel net een ding: ’n Onvergeetlike, plattelandse toernooi! 

Verken die hoteltuin Hier’s ’n klein kapel en ’n bende luidrugtige eende langs die Monumentrivier. Aan die oorkant strek nog grasperke uit, tot aan ’n leidam en ’n swembad. 

Kyk treine Dis lekker om sommer net op die perron in die sonnetjie te sit en kyk hoe verskillende treine verbyrammel. Die Bloutrein stop elke Woensdag om 2.30 nm. hier en die Rovos Rail op Sondag om 8 vm. en op Maandag om 5.30 nm. Gaan sit – wanneer dit veilig is! – ’n munstuk op die spoor. Ná ’n trein oor hom gery het, is hy so plat soos ’n pannekoek. 

Dwaal deur die Marie Rawdon-museum Die ou stasiegebou huisves deesdae die Marie Rawdon-museum (genoem na Rawdon se ma). Hierbinne vergaap ’n mens jou aan twee vloere vol uitstallings van die Koloniale lewe. 

Kyk ou karre Die motormuseum huisves David Rawdon se versameling vintage-karre. Hier’s ’n 1948 Buick Eight, ’n 1958 Jaguar MK8, ’n 1938 Opel Olympia, ’n 1968 Chevrolet Caprice… die spogstuk van die versameling is sekerlik een van die Royal Daimlers waarmee die koninklike gesin in 1947 deur die land kom toer het. 

Die twee museums is daagliks oop van 8.30 vm. tot 5 nm., maar gesluit tussen 1 en 2 nm. ’n Museumbesoek kos R10 p.p. – los jou geldjie in die kissie by die deur.

Perronmusikante. Wanneer die swierige Rovos Rail-toertrein se passasiers op ’n Sondag hier afklim vir ontbyt in die hotel, staan Sakkie Jansen nader met sy kitaar, vergesel deur Edwin Willemse op bekfluitjie. En dan raak dit sommer jolig hier op die stasie!
Rawdon se droomwa. David Rawdon het glo gereeld met dié Rolls-Royce Silver Shadow ’n bietjie op die Sutherland-pad gaan jaag.

Weet voor jy waai

Wat kos verblyf? In die Lord Milner-hotel: Enkelkamer: R960-R1860 p.n. Dubbelkamer: R1860-R2115 p.n. Daar’s ook verskeie huise deel van die hotel, soos die Reston Villa (met 4 dubbelkamers, R2115 per kamer per nag) en die Olive Schreiner-huis (met 1 dubbelkamer, R1815 p.n.). Die hotelpryse sluit ontbyt in.

In die Matjies Motel (losstaande eenhede agter die hotel) kos ’n enkelkamer vanaf R660 en ’n dubbelkamer R1065-R1260. Dit sluit ontbyt uit. 

Kontak 023 561 3011; matjiesfontein.com

Is treinry veilig? Ja, wat. As twee van julle saam reis, kan jy vra vir jul eie tweebankkajuit. Groepe van drie of vier kry ’n vierbankkajuit van hul eie. Daar’s ook kajuite met slegs sitplekke en mense wat alleen reis word saam met ander passasiers van dieselfde geslag ingedeel. 

Die trein na Matjiesfontein. ’n Treinrit van Kaapstad na Matjies duur sowat ses en ’n half ure. ’n Piekniekmandjie, koffiefles en leesboek is ’n goeie idee om die ure om te kry. Gelukkig mag passasiers in die trokke rondstap om ’n bietjie bene te rek en by ’n venster uit te loer.

Hoeveel kos ’n treinkaartjie? ’n Eenrigtingrit op die Shosholoza Meyl uit Kaapstad kos R240 p.p.(toeristeklas). Die trein vertrek om 10 vm. en kom 3.30 nm. op Matjiesfontein aan. ’n Johannesburg-kaartjie kos R620 p.p. Die trein vertrek om 12.30 nm. en kom die volgende oggend om 9.40 vm. op Matjies aan. (Kinders tussen 3-9 jaar oud kry 80% afslag en babatjies ry gratis saam. Doen navraag oor afslag vir senior burgers.)

Die premiereklas-kaartjies is aansienlik duurder, maar dan kry jy ’n kajuit met ’n opgemaakte bed en ook drie etes (veral gerieflik indien jy van Johannesburg af reis.)

Besoek southafricanrailways.co.za vir pryse en tye.