Hierdie reis word aangebied deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en caminoways.com.

KAART: Hier's die plekke waar Gerda elke aand gaan oornag op die Camino-staptog:

Maandag: O’Cebreiro tot Triacastela

Afstand: 24,5 km

Hoogte geklim: 87 vloere

Treë afgelê: 37 772

Die eerste ding wat ek die oggend om 06:00 hoor, is die reën.

Dis waarvoor ek bang was. Dis piknagdonker. O’Cebreiro is op ’n knop op ’n berg en daar is geen ander dorpe naby nie. Nie eens onder in die vallei nie. Dis die eerste oggend wat ek nog nie ’n enkele kopflits van ’n pelgrim gesien het nie. Ek dink almal lê in hul beddens en wonder hoe lank hulle die opstanery kan uitstel. 

Brierley waarsku jou in sy gids teen die eendeweer: “O’Cebreiro provide a wonderful foretaste of the distinctive Galician culture that now awaits. The mountains are the first object in 5000 km that the westerly winds across the Atlantic hit so you can expect an immediate change in weather with frequent rain showers, thunderstorms and thick mountain fog.”

Ek het al sommer in my kamer my Rehidrat aangemaak.

Ek meng sommer die Rehidrat al in my kamer – ek dink vandag gaan nog ’n taai dag wees. Toe ek om 07:00 onder in die hotel se restaurant kom, staan die pelgrims se sakke al in ’n ry teen die muur en sit mense gesellig met hul hande om bekers koffie gevou. Op die Camino is daar nie so ’n ding soos ’n “tafel vir een” nie.

Hier maak jy jou tuis op ’n oop stoel en stel jouself voor. Ek het al opgegee op “Gerda from South Africa”, ek stel myself nou as “Gertrude” voor. (Maar jy sal stérf as jy my dit in Suid-Afrika noem.) Die koshuismatrone is vanoggend weer op diens, en toe ek haar komplimenteer op die lekker Santiago-tert wat ek die vorige dag geëet het (kry die resep hier), bring sy ’n ekstra stuk tert in twee servette toegedraai. “You ... you take for the road,” sê sy. 

Lekker knus in die restaurant van Venta Celta O Cebreiro.

Die 2 euro-poncho is geskeur teen die tyd dat ek dit oor myself en die Kway-rugsak getrek het, maar dit doen steeds sy ding. Die rugsak het sy eie reënjas en ek het ’n goeie pofbaadjie van Jeep gekry, asook ’n warm gebreide Jeep-mus. Ek kry darem nie koud nie. 

Minstens het my Kway-rugsak droog gebly.

Ná Astorga gaan dit baie goed met die voete, danksy die Salomon-tekkies van Cape Union Mart.

Ek gee nou soggens dieselfde aandag aan my voete as wat vroue voor ’n werkdag aan hul grimering bestee, met pleisters wat op die sagste plekke geplak word, en ’n dik laag petroleumjellie wat ingesmeer word. Dan eers ’n paar dun sykousvoete (’n wenk van ’n Comrades-atleet), voor die stapsokkies aangetrek word. Jy trek die sokkies twee, drie keer aan om dubbeld seker te maak niks bondel nie. Orals waar dit bondel, gaan jy vanaand ’n blaas hê. 

Ek is een van die eerste ontbytgangers wat by die deur uit is. Ek kan nie beskryf hoe donker dit kan wees nie. My flits verlig ’n kol van omtrent ’n meter voor my, en die res is ’n gapende donker gat. Ek draai amper om, maar sien dan twee ander dowwe lampies uit die donker verskyn. Laat die mans maar vandag voorloop en die geel pyle soek, dink ek. Dis nie ’n goeie dag om ’n feminis te wees nie. 

Die mis lê dik en dis donker. Ek kan aan my kuite voel dis ’n opdraand, maar ek kan genadiglik nie die bult sien nie. Baie gou verander die opdraand egter in afdraand (my bobeenspier se gunsteling oppervlak!), en begin die slapende dorpies verbyflits.

By dié standbeeld by Linares kry jy die mooiste uitsig op die Camino. Glo. Na bewering..

Dis nog mistig, maar al lig toe ons by Linares met sy bekende pelgrimstandbeeld kom. Dit was een van die plekke wat ek in my kop gemerk het as ’n hoogtepunt langs die pad, want die gidse sê van hier af is dit waarskynlik die mooiste uitsig wat jy op jou hele pelgrimsreis gaan hê.

Maar ons (én die beeld) staan en beur teen die wind. As die boek nie gesê het die vallei lê onder ons nie, sou ek dit nooit geglo het nie. Jy kan nie verder as 10 meter om jou sien nie. 

Spitsverkeer op pad na Triacastela.

By Hospital de la Condesa tref ons die Maandag-spitsverkeer!

Ons loop ons in ’n trop beeste vas wat na hul weiveld gelei word. Baie van die beeste het klokke om hul nekke en dit klingel soos iets uit ’n episode van Heidi. Al reën dit, besef ek hoe idillies die oomblik is. Duisende kilometers van hier af sit my kollegas nou en swets in die Maandag-spitsverkeer op die N1 stad toe. 

Alto do Poio.
Jy moet fyn kyk in die mis vir die geel pyle.

Kort voor Alto do Poio ontmoet ek ’n groep van vyf afgetrede Kanadese vroue.

Ek doop hulle die “Golden Girls”. Voor stap Marge, die generaal van die groep. Sy bespreek elke aand hul kamers op die volgende dorp (“ons is te oud vir die auberge”), en bepaal hulle pas. Kort-kort laat sy hulle eenkant staan sodat almal kan asemskep. Ek hoor hoe sy hulle aanmoedig op die bulte.

Dis nie Marge se eerste Camino nie. Trouens, sy sê sy het die meeste van die roetes al geloop. Ek vertel dat ek oorweeg om volgende jaar terug te kom vir die stuk tussen Pamplona en Burgos, maar sy beveel aan dat ek ook oorweeg om die laaste stuk van die Portugese roete te stap. 

Net 156 km oor voor Santiago!
Nog 20 km oor vir die dag.

By Fonfria bestel ek warm sjokolade in ’n wegneemkoppie (het ek al die Spaanse warm sjokolade genoeg aangeprys?).

Ek staan buite by ’n afdak sodat ek my pasella-Santiago-tert kan eet. Dis selfs lekkerder as die vorige middag. ’n Roker (wraggies die eerste roker wat ek op my hele Camino sien) waarsku sy stapmaat dat die pad van hier af steil afdraand is. Ek besef by die huis sou sulke nuus my hart laat juig het, maar nou is dit slegte nuus.

Dis die Golden Girls, met Marge wat regs staan.

Tussen Biduedo en Filloval moet ek moed opgee op die flertse van die poncho wat oor is en alles in ’n vullisblik gooi.

Ek is nát, maar ek ontmoet nog ’n paar karakters. Uit die newels van digte mis agter my verskyn ’n jodelende figuur in ’n bloedrooi reënjas en met ’n komieklike vissermanshoed op die kop. Dis Cath. Die gejodel is geïnspireer deur die beeste met die nekklokke op die berghang.

Cath het pas afgetree ná ’n verpleegloopbaan van 45 jaar. Haar stapmaat is Patty en hulle is albei van Kalifornië. Tussen elke paar sinne trek Cath los met “The hills are alive” dat die kranse antwoord gee. 

Jy hoor vir Cath en Patty lank voor jy hulle sien.

Ek vertel haar van die “Golden Girls” net agter ons.

“Hierdie mense wat so terugkom vir 4 of 5 Camino’s,” sê Cath en rol haar oë. “Dit is ’n heerlike ervaring, maar daar is darem nog baie ander dinge wat ek ook wil doen.” Ek gaan vandag net tot op Triacastela stap (die “Golden Girls” kon nie meer kamers daar kry nie en slaap al op Filloval oor), maar Cath en Patty het nog ’n entjie se stap voor hulle. Hulle gaan eers afpak op Samos, by een van die grootste en oudste Benediktynse kloosters in Spanje. Maar jy sal ’n span osse nodig hê om vandag ’n 30 km-skof uit my lyf te kry. 

   
Die laaste paar kilometers na Triacastela loop verby plaasopstalle. Dis ’n lekker pad. Triacastela word genoem in fase 11 van die Codex Calixtinus, die eerste “reisgids” wat in 1140 geskryf het. Die “drie kastele” wat aan die dorp sy naam gegee het, bestaan nie een meer nie, maar die hoofstraat is vol pragtige klipgeboue. Caminoways.com het vir my ’n kamer by Vilasante Triacastela aan die onderpunt van die dorp bespreek.

Die hoteleienaar kyk my skeef aan toe hy sien ek gaan die trappe skeef-skeef soos ’n krap op (steeds die bobeenspier), en dra my sak tot in my kamer. Ek spoel my stapklere uit en klim in die bed vir ’n middagslapie (dit stuifreën steeds buite), maar ek is te honger om te slaap. 

Die eerste restaurant wuif my weg, dis al siesta-tyd, maar by die tweede een, Complexo Xacobea, kan ek die pelgrimspyskaart bestel.

Oor die luidsprekers moedig Dire Straits ons aan met “Do the walk of life”. Meg, die een wat ’n “fire walk instuctor” is, sit reeds by ’n ander tafel en skuif na myne toe sy my sien. Ons kry tuna-pasta as die eerste gereg, en salm en skyfies as die tweede gereg. En elkeen ons eie bottel rooiwyn! (10 euro per persoon.)

Oor die luidsprekers moedig Dire Straits ons aan met “Do the walk of life”.

“Help jou werk jou op die Camino?” vra ek. Ek meen, as jy oor kóle kan loop, is ’n paar berge op die Camino tog seker niks?

Meg lag. “Om op kole te loop is nie ’n ‘mind over matter’-ding nie,” verduidelik sy. “As jy vir jou lyf sê dat trauma op pad is, berei die lyf homself daarvoor voor. Die kursus gaan daaroor dat ons mense met inligting bemagtig.”

Dit maak op ’n manier vir my sin. Maar al gee jy vir my hoeveel inligting, sien ek steeds nie vir die kole kans nie. Sou die strategie werk op die Camino? As ek die roete in detail opswot, sou dit die pyn van die bobeenspier verlig omdat die lyf “weet wat op pad is”?

Die aand bel ek huis toe. Daar is goeie nuus: My ma is steeds in die waakeenheid, maar dit gaan elke dag beter. Ons het albei die moeilikste deel van ons reis agter die rug. 

Ek lê later in my bed en dink hoe arrogant ek was oor hierdie avontuur. Ek het nie vir een oomblik getwyfel dat ek Santiago sal haal nie, en ek is tot dusver tree vir tree aan my eie broosheid en feilbaarheid herinner. Dis allermins maklik. Môre kom ek in Sarria aan, waar die “verpligte deel” van die Camino begin (Camino-stappers moet minstens 100 km aflê om die Compostela-sertifikaat te verdien), maar vandag het daar nog ’n “verskuiwing” op die Camino plaasgevind.

Tot nou toe het die gesprekke onder pelgrims meestal gedraai rondom waar jy begin het, en jou welstand (veral die toestand van jou voete), maar vandag was al die gesprekke oor “wanneer gaan jy klaarmaak?” Ek dink die Camino-borde in Galicië, wat die afstand in detail aftel, dra daartoe by. My kamer op Santiago is vir volgende Sondag bespreek, maar ek aanvaar dit allermins as vanselfsprekend dat ek dan al daar gaan aankom. 

Dinsdag: Triacastela tot Sarria

Afstand: 21,3 km

Hoogte geklim: 101 vloere

Treë afgelê: 32 671

Ek meng vroegoggend my Rehidrat.

Ek dink my familie het my gemoedstoestand aangevoel, want ek word wakker van ’n whatsapp-boodskap waarin my broer se drie dogters vir my in stemme “You’ll never walk alone” sing. (Hulle kán sing, al moet ek dit self sê.) Ag, ek soek al weer sakdoeke!

Daar brand nog nie ’n lig op die hotel se grondvloer toe ek die voordeur agter my toetrek nie. Ek dra weer die Jeep-mus, want dis lekker koud, maar die reën het darem opgeklaar. Skaars 50 meter anderkant my hotel is die vurk in die pad waar pelgrims moet besluit of hulle die langer roete oor Samos gaan loop, of die korter een oor San Xil. Dis ’n verskil van 6 km, en daarom ’n maklike besluit vir iemand met ’n stywe bobeenspier, maar die begin van die roete is weer ’n gapende pikswart wond wat jou wil insluk.

Daar kom ’n ander pelgrim verby wat ook die San Xil-roete kies, maar hy praat net Spaans. Vir die eerste halfuur van die dag probeer ek sy pas stap, maar ek besef ek gaan my net verder beseer en wys vir hom hy kan vooruitstap. Ons stap op stil plaasagterpaaie en so ver as wat ons stap, maak ons die hoenderhane wakker. Tot die hoenders slaap laat in Spanje! 

Die Camino beloon ons met 'n mooi sonsopkoms en 'n douvet oor die vallei.

Die groep pelgrims om ons raak baie vinnig baie meer, en dis duidelik almal mense wat in verskillende fases van hinkepink is en wat vir hulleself die ekstra uur wou gee om teen ’n slakkepas Sarria te bereik. Ek meng my Rehidrat-mengsel by die oulike skulpfontein by A Balsa.

Ek het oor Meg se raad van die vorige dag – om jou lyf met meer kennis te “bewapen” – nagedink en besluit om presies die teenoorgestelde te doen. Tot nou toe het ek ’n ferm oog op die oefenhorlosie gehou, kort-kort uitgewerk hoe ver en hoe vinnig ek al gestap het, en teen watter tyd ek by die volgende dorp of baken gaan aankom.

Dit beroof jou eintlik van jou vrede, want jy is dan net omgekrap omdat die dorp – sê nou maar - nie 4,7 km verder was nie, maar 5,3 km. Vandag gaan ek probeer om so min as moontlik op my horlosie te kyk. 

Daar is 127 km oor!

Dis asof die Camino my daarvoor wil beloon. Agter my kom die son in sagte pastelkleure op, en nadat ons ’n paar bulte uit is, kan ons die mis soos ’n donskombers onder oor die vallei sien lê. Hoewel ek nou pynlik stadig loop (daai bobeenspier is ’n bliksem in die koue), tik die kilometers tog af.

Onder die groepe stappers wat my vandag verbysteek – dis ’n eindelose stroom van “Buen Camino .... Buen Camino ... Buen Camino... – is weer Claire van Australië (die een wat wil vrede maak met haar broer). Sy groet uitbundig en hervat dan weer haar gesprek met haar reisgenoot vir die dag. Ek hoor net ’n greep uit hul gesprek ...

“ I don’t want backpain to be my only memory of the Camino...” sê die reisgenoot.

“Oh no, Kate, I think the Camino is like child birth. Afterwards you will only remember the good parts ...” 

Candice van Kaapstad.

Iewers deur die loop van die oggend gee ek ’n opgewonde gilletjie: op die pers rugsak van die stapper voor my is ’n Suid-Afrikaanse vlag. Dis Candice van Kaapstad.

Sy het in St. Jean begin en hoop om al Saterdag klaar te maak, ’n dag voor my. Ek sê vir haar sy lyk fiks genoeg om dit reg te kry. “Ek was nie aan die begin nie, hoor. Daardie eerste week was maar moeilik.” 

Simon se halfwegstasie.

Om ’n draai in ’n bouval iewers tussen Furela, Pintin en Hospital kom ons onverwags op ’n werf aan waar iemand ’n tafel staangemaak het.

Die tafel is gelaai met graanvlokkies, vrugte en jogurt, vars brood en drinkgoed en vra net ’n donasie. In die hoek van die bouval is rusbanke met dekens gesellig neergesit. Simon, die “eienaar” van die murasie, deel warm brood uit en neem koffiebestellings. Hy groet my met die hand en stel homself voor. Dan verdwyn hy in ’n bouval langsaan en kom met ’n skinkbord uit die kombuis en koppie waaruit die stoom trek. Nugter weet waaruit hy dit opgetower het.

Simon is ook ’n Aussie wat op die Camino vasgeval het en nou vir ’n paar maande per jaar hier vanuit die bouval pelgrims bystaan. Hy kry geen inkomste hieruit nie. Die donasies help om die voorraad aan te vul vir die volgende pelgrims. Hy lyk soos ’n skets van Jesus in ’n Kinderbybel. Hoekom doen hy dit? vra ek hom.

“Hoekom nie?” antwoord hy gelate en trek sy skouers op.

Amper op Sarria.

Die dag word korter gemaak deur lekker geselsies met medepelgrims.

Anicol is ’n jong tandarts van Boedapest met vlamrooi hare. Sy praat staccato-Engels en vra vreeslik uit oor dokters se werkure in Suid-Afrika. By Hospital ontmoet ek ’n pa-en-seun-paar van Arizona. Hulle lig hoflik hul pette as hulle hul voorstel en is opgewonde omdat ek van Kaapstad af kom. Hulle was al daar en is vol lof vir die land.

“Dis ’n plek waar ek sou kon woon,” sê die pa. 

My strategie om van die horlosie te vergeet werk, want Sarria kom vinniger nader as wat ek verwag het. Ek loer by ’n Camino-winkeltjie in om die reënponcho te vervang. 

'n Deksel op die sypaadjie in Sarria wys vir pelgrims jy kan daar water tap.

Sarria is groot en die hotel is effens van die Camino-roete af, maar taamlik luuks.

Vir ete kry ek ’n aspersie-voorgereg en ’n tamaai porsie hoender en skyfies.

In die eetsaal is daar baie pelgrims met silwerskoon skoene. Heelwat pelgrims stap net die laaste 100 km van die Camino (die minimum om die sertifikaat in Santiago te kry) en gaan môre vir die eerste keer in die pad val. Ek kan voel hoe hulle nuwe energie na die pelgrimstog bring.

Vandag se wenk:

Daar is baie wonderlike boeke oor die Camino, maar die Brierley-gidse is onontbeerlik. Jy kry verskillendes vir die verskillende Camino-roetes.

Hierdie gids verdeel die St. Jean-roete in 33 dae. Die pad word presies uiteengesit, met inligting oor hoeveel kilometer dit na die volgende dorp of nedersetting is, en waar jy oral eet- en blyplekke kan kry. Ook enkele geskiedkundige brokkies. Aan die begin van elke dag se roete is daar ’n handige grafiek wat vir jou wys hoeveel jy gaan klim daardie dag. Die boek is dun en lig genoeg dat jy dit sommer in ’n kantsakkie van jou rugsak kan druk.

Weg se Camino-avontuur is moontlik danksy borgskappe deur Cape Union Mart, Jeep Clothing, Rehidrat en Caminoways.com.

“Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)