“All that she wants is another baby…” sing Ace of Bace oor Smile FM toe ek die Renault Duster se snoet vroeg op ’n Dinsdagoggend in die rigting van die N2 druk. Ek moet glimlag – ek is enkellopend en my pa het my pas vir die derde maal gevra “maar gaan jy alleen?!?”, en ek het vir ’n derde keer probeer verduidelik dat ek dit eintlik so verkies. Hoe doller dit op kantoor gaan, hoe meer waardeer jy die rus en vrede. 

Dis ’n weeksdag in November en ek is op pad na die De Mond-natuurreservaat, ’n CapeNature-juweel wat weggesteek sit aan die onderpunt van ’n grondpad tussen Struisbaai en Waenshuiskrans. CapeNature het my genooi om te kom kuier, maar al wat ’n publikasie is is tans besig om vooruit te werk vir die Desember-vakansie. Dit was dus heeltemal buite die kwessie om geselskap te kry vir hierdie kuiertjie.

Ek is skaars uit my garage uit toe die eerste ligte buite uitsak – manna vir die Kaap.

Dassiesfontein lyk bedrieglik klein.

Kandelare tussen die vellies

Ek is nie haastig nie en Struisbaai is nie danig ver nie, dus is my eerste aftrekplek al Dassiesfontein aan die anderkant van Sirlowryspas. Ek het al dikwels van hierdie padstal gehoor en ’n paar keer verbygery, maar dis die eerste keer dat ek afklim.

Ek tuimel in ’n ander wêreld in. Van die pad af lyk Dassiesfontein bedrieglik klein, maar stap oor die drempel en jy betree iets tussen ’n ou antiekwinkel en ’n kerkbasaar. In die “voorkamer” by die restaurant hang trosse en trosse kristalkandelare – hier teen ’n aks van die prys wat jy in die stad daarvoor sal betaal. Teen die een muur staan die Dover- en agastofies ingeryg, outydse kaggels en ysterware.

In die ander hoek is emalje-kombuisgoed in alle kleure en groottes. Die gebou raak ’n snuisterydoolhof. Skoene en leerware in die een vertrek, konfyte en bottels ingemaakte goed in die kamer langsaan, klere en kindergoed in sy eie hoek. As jy my winkelbetottelde suster in hierdie plek verloor, kry jy haar nooit weer nie. 

Kandelare in die restaurant

Ek soek ’n blikbeker, pakkie koffie en fudge vir die pad uit. In die restaurant knetter die kaggel gesellig.

Dis nie koud nie, maar ’n Kapenaar gebruik nou enige verskoning om die reënweer te vier. “Is julle kos lekker?” vra ek die vrou by die kasregister. “Ja, mevrou. Egte boerekosse. Die boboties, die afvalle ...” Ek kry lus om van my planne af te wyk en sommer hier te eet, maar dis skaars tienuur. Ek sal dus liewer eendag terugkom en my ouers saambring vir “die afvalle”.  

Die plan in my kop is om deur te druk tot by Napier. Van daar af is dit nog net ’n katspoegie tot op Bredasdorp, waar jy die afdraai na De Mond kry. Dit is ’n heerlike oggend. Daar is uiteraard min verkeer en kort-kort val die reëntjie weer.

Die kerk en hotel is bure.

“Die kerk en die bar staan langs mekaar . . .”

Die eerste ding van Napier wat jy al van die bult af raaksien, is die kerk met sy vla-geel mure en rooi dak.

“Dis een van die min plekke in Suid-Afrika waar die kerk en hotel régtig langs mekaar staan,” het iemand op Facebook vir my gesê. Ek ry verby Anré-begrafnisdienste (hoop nie iemand moet my hierheen “aanry” nie), Cherry de Beer Optometrists en die “Klippe Drift Ouetehuis”. Tjorts! Ek raai hier woon ’n vrolike klompie mense!

Ek eet ’n laat-ontbyt by Pascal’s in die hoofstraat. Die vriendelike kelner bied aan om ’n foto van my te neem. Sy naam is Johan, vertel hy. Ek is eers verras oor sy “Afrikaanse naam”, maar hy verduidelik dat dit ’n algemene naam in Shona is. Johan is ’n Zimbabwiër wat hom op Napier tuisgemaak het. Na my jaffel en ’n tweede koffie snuffel ek nog in die antiekwinkel voordat ek weer in die pad val. 

Pascals in die hoofstraat.
Dis ek.
Johan, die vriendelike Zimbabwier.

Op Bredasdorp moet ek eers stilhou om CapeNature se aanwysings op die gedrukte bespreking uit my kattebak te haal. Die satellietstelsel op die Duster kry nie vir De Mond nie. Maar die aanwysings is duidelik en ek kry die afdraai maklik. Die laaste sowat 15 km na De Mond is op ’n grondpad, maar selfs in die reën is dit nie ’n slegte pad nie. Ek sou dit selfs in my Mini kon ry. 

De Mond sit aan die onderpunt van die grondpad. By ontvangs tik die vrou agter die toonbank besorg op die bespreking. “Jy het vir twee bespreek . . . en ek sien jy is alleen.” 

“Ja, sê ek. Soms moet ’n mens rus. Alleen.”

“Tjaag, dis so, Mevrou.”

Die huisie.
'n Lekker plek vir kuier en braai.

Die raserige yskas

Sy beduie waar die huis is en sê die skoonmaakpersoneel behoort al klaar te wees, ek kan maar aanstoot. Ek kry twee vroue rustig by die tafels sit toe ek daar aankom en hulle groet vriendelik. 

“Ja, dis die plek,” sê hulle. Gee ek om as sy haar radio saamneem, vra die ander een. Ek wys sy kan maar neem, en besef dan verras daar is niks in die huis wat ’n lawaai kan maak nie. Hier is geen TV nie, geen radio nie. In die besoekersboek in die sitkamer het twee mense gekla oor die “lawaaierige yskas” en ek het gedink dit wys net hoe heerlik stil dit hier kan raak. (Die yskas is intussen óf vervang óf die mense het supersoniese ore gehad.

Hy loop niks raserigers as ’n “stadsyskas” nie.) Hier is nie eens ’n behoorlike selfoonsein nie – as jy móét bel of e-pos lees (of op Facebook “brag” oor waar jy is), moet jy in die rigting van die bruggie naby die ontvangskantoor loop vir een-strepie-ontvangs. Grace Mugabe was al in Namibië teen die tyd dat ek van die verwikkelinge in Zimbabwe gehoor het.

Die slaapkamers.
Die leefvertrek.

Geen blits = geen vuur

Ek het gewag dat die reënwolke die gordyne op ’n skrefie ooptrek en toe laatmiddag die terrein gaan verken. Dis idillies!

As jy oor die brug oor die mond stap, is daar ’n uitkykpunt op ’n koppie wat kinders en bejaardes ook sal kan uitklim. Draai jy links ná die brug, kry jy die voetpaadjie see toe (waarvan die eerste deel op ’n houtdek loop). Draai jy regs, kry jy die eerste stuk pad van die Sterna-wandelroete (’n maklike 7 km wat tot by die see loop).

Die brug oor die Mond.
Die houtdek langs die mond.

Ek is net terug by die huis toe die reën weer kletter.

Ek oorweeg dit om die aand te braai (die braaiplek het ’n afdak), maar bedink my genadiglik. Daar steek so ’n kwaai wind op dat ek die hele streek sou afbrand. Die hoendersosaties moet maar in die pan binne die huis gaarkom.

Later probeer ek die kaggel aansteek, maar ek besef hoe optimisties my braaivoorneme was. Ek het nie vuuraanstekers saamgebring nie en kom glad nie reg met die kaggel nie.

Ek gaan lê vroegaand in die bed en luister na die reën op die dak.

Die kordate haas.

Die môrestond...

Al het ek nie ’n wekker gestel nie, is ek met die eerste lig wakker en uit die bed.

Ek trek net ’n warm baadjie en stapskoene uit en storm by my deur uit. Voor my skarrel iets die bos in. Ek dog eers dis ’n bok, maar sien dan dis ’n yslike haas! En hy is nogals kordaat! Ek stap weer die koppie uit, en gee myself ’n klop op die skouer dat ek my gewone oggendroetine – ’n geswets in die verkeer op die N1 - hiervoor kon verruil het.

Vroeg uit die vere ... vir hierdie uitsig.

Teen 07:00 is ek terug by die huis vir koffie.

Ek toets twee brousels: Ek het gister by Dassiesfontein ’n pakkie met eenkoppiesakkies gekoop (R45 vir 10 sakkies), en by my broers by Ry & Sleep ’n pakkie “Goeie Moer” – 250 gram-filterkoffie.

Die Dassiesfontein-moerkoffie is aanvanklik te lig in die broek, maar as jy hom kans gee om behoorlik te trek, proe dit soos ouma se plaaskombuis. Ry & Sleep se Goeie Moer is inderdaad góéie moer! 

Koffiekapitaal.

’n Blitz-besoek aan Struisbaai

Ek trek my stapstewels aan en stap eers in die rigting van die see. Op die hele ent pad sien ek net een ander mens – ’n enkele hengelaar wat doer ver die visse staan en terg.

Ek stap ook die eerste paar kilometer van die Sterna-roete, maar draai om omdat ek nie genoeg water ingepak het nie. Al het die son gebak terwyl ek gestap het, reën dit weer toe ek by die huis is. 

Die paadjie see toe.
Die swemplek.
Die begin van die Sternawandelpad.

Na ontbyt sit ek ’n rukkie en werk in die sitkamer. Dis so heerlik stil, jy kan die voëls en die skilpaaie van die sitkamer af sit en dophou.

Teen middagete dink ek dat nog ’n kaggellose aand ’n sonde sal wees, en ry ek Struisbaai toe. Struisbaai is so 30 km van De Mond af, waarvan omtrent die helfte ’n goeie grondpad is.

Struisbaai.

Op Struisbaai dink ek ek kan darem ook nie die werk se petrol uitry nét agter ’n pakkie vuuraanstekers aan nie, en ry ek by die Sea Shack in Manatokkastraat langs vir seekos.

Ek is dan nou hier! Terwyl ek met my voete in die seesand sit en calamari eet, sous dit so hard dat ek onder ’n ander afdak moet inskuif. 
Teen skemeraand klim ek vir oulaas die koppie voordat ek my vir die aand voor my rekenaar tuismaak. My kaggel knetter, en my gemoed en glasie is vol.

Die pad uit die bose ou stad

Ek kan nie help om te dink aan die berg werk wat môre anderkant Sirlowryspas op my wag nie. Ek moet van De Mond af sommer reguit deurhou kantoor toe. Hoe heerlik is dit nie om die “pause”-knoppie vir ’n dag te druk voordat die malligheid weer om jou toesak nie.

Dit laat my onwillekeurig dink aan Laurika Rauch wat sing: “As my wrak nog kan loop en die pad is oop en die lewe lê alkante oop. En ek het ’n rand of tien en wie weet miskien, nog ’n paar hier of daar wie weet waar. Dan vat ek die pad uit die bose ou stad en hy’s grys en wys en hy’s stil ... en die naald bly dwaal net so regs van nul, want ek maak net soos ek wil.”

Ek is telkens verras oor watter juwele ’n uur of twee buite Kaapstad geleë is. Hier lê hierdie reservaat 220 km van Kaapstad af. Dis naby genoeg dat jy kan deurry vir ’n swem en ’n piekniek, maar tog ver genoeg van die beskawing dat jou bure ’n hele bewind kan omkeer voordat jy daarvan hoor. 

Dis regtig nie nodig dat ons sulke ore-in-die-nek-lewens leef nie. Kapenaars het ’n hele paar “pause”-knoppies wat ons kan druk. Soos die handvol lieflike CapeNature-reservate binne ons bereik. 

My vuurtjie brand.
Geriewe vir dagbesoekers.

Ek wil ook gaan
  • Dagbesoekers is welkom en betaal die bewaringstarief van R40 per volwassene en R20 per kind. Hier is piekniekgeriewe vir dagbesoekers, maar jy kan nie braai nie. Swem en stap na hartelus. As jy die regte permit het, kan jy hengel.
  • De Mond se gastehuis het 3 slaapkamers (een met ’n dubbelbed, twee met twee enkelbeddens elk – slaap totaal 6). Die badkamer het net ’n stort, maar die stort het ’n ingeboude sitplek. Die kombuis is goed toegerus met ’n ketel en broodrooster, yskas-vrieskas en mikrogolfoond, ysterpotte en panne, breekgoed en eetgerei. Daar is ’n driebeenpot as jy wil potjie maak, maar jy moet jou eie rooster bring vir braai. (Ook die hout, vuurhoutjies en vuuraanstekers.)

Die leefvertrek het ’n kombuistafel waarby ses mense kan aansit en ’n sitkamer met ’n kaggeltjie. Die houtdek voor die huis het ’n bank vir voëlkykers en agter die huis is twee houttafels en –banke, waar jy sommer ook die braaier geselskap kan hou.

Bespreek die huis teen R1440 (1 tot 4 mense) in die buiteseisoen, en R2290 in hoogseisoen. Vir ekstra gaste, betaal jy tot R340 per persoon. Jy kan nie hier kamp nie.

Hoe kom ek daar?

Ry na Aniston op die R316, jy sal die afdraaibord kry. Die laaste sowat 15 km is grondpad, maar dis ’n goeie pad wat ek met die 4x2 Duster gery het.

Vir meer inligting en besprekings, klik hier.