Foto’s: Evan Naudé

Die tradisionele roete na die suide van Namibië vanuit die Kaap is met die N7 langs, deur Springbok in die Noord-Kaap reguit tot by die Vioolsdrif-grenspos. Anderkant die grens is die B1 jou vinnigste roete tot by Keetmanshoop, Mariental en uiteindelik Windhoek.

Jy kan ook in ’n japtrap gewilde bestemmings soos Ai-Ais en die Visriviercanyon van dié hoofpad af bereik, maar wat van die gebied wes van die C13-pad anderkant die Visrivier? Wat is daar te sien? As jy hierdie deel wil besoek, gaan dit jou immers ekstra rytyd kos en jy sal iewers moet oorslaap.

Vir die deursnee-reisiger op vakansie was dit voorheen ’n kopseer, want jou keuses is Rosh Pinah óf Oranjemund, wat vanweë die Sperrgebiet besoekerspermitte vir buitemense vereis het.

Twee onlangse ontwikkelings maak die suidwestelike hoekie van Nambië nou veel aanlokliker: ’n nuwe teerpad van Rosh Pinah af tot by Aus, en die feit dat Oranjemund nou oop is vir besoekers.

Wat meer is, daar is ’n nuwe 4x4-bestemming in die vorm van ’n duineveld buite die dorp. En aangesien jy die bekendste diamantdorp in die land gaan besoek, wat van ’n draai deur ’n paar van die Diamantkus se ander dorpies suid van die grens? 

Kuslangs grens toe

Pleks daarvan om Vioolsdrif toe te mik spring uit Springbok eerder met die R355 weg en ry 100 km weswaarts in die rigting van Kleinzee. Sowat 5 km voor jy dié diamantdorpie bereik, draai jy af op die grondpad na Port Nolloth en skiet noordwaarts met die see aan jou linkerkant.

Dit is die moeite werd om ’n draai te maak op Kleinzee voor jy verder reis, al is dit net om ’n voorsmaak te kry van hoe die lewe in hierdie stukkie kuslyn is. As jy ’n ekstra halwe dag tyd het, kan jy die 37 km lange Skeepswrak-4x4-toer teen die kus tussen Koingnaas en Kleinzee saam met ’n gids gaan ry én ’n draai maak by die wrakke van die Arosa, Piratiny en Border.

Bespreek minstens drie dae vooruit deur Rodville Adams by 076 642 0868 te bel.

As jy nie te veel gejaag het nie, behoort jy skuins voor middagete op Port Nolloth aan te kom, net betyds vir ’n heerlike bord seekos voor jy verder ry. Maar daar is nog iets op die dorp wat jy nie moet misloop nie, en dit is ’n besoek aan die museum. Hier kry jy ’n behoorlike insig in die diamantbedryf en die lewe van die delwers en duikers wat die blink klippies uitgehaal het. Maak seker jy knoop ’n geselsie aan met George Moyses, ’n bona fide-diamantduiker wat jou die een interessante storie ná die ander oor die dorp en sy mense kan vertel.

As jy nie te veel gejaag het nie, behoort jy skuins voor middagete op Port Nolloth aan te kom, net betyds vir ’n heerlike bord seekos voor jy verder ry.

Van Port Nolloth af is dit 84 km met die R382 tot op Alexanderbaai. Teen dié tyd kan jy Namibië al anderkant die Oranjerivier sien, maar voor jy die grens oorsteek, gaan maak ’n draai by die riviermonding. Dis nie aldag dat jy op die héél noordelikste punt van die Weskus – reg in die hoekie van die land – kan staan nie.

’n Oase in die woestyn

Die grenspos tussen Alexanderbaai en Oranjemund is só klein en stil dat jy dit eintlik ’n geheim wil hou.

Nadat jy jou paspoortstempel aan die Suid-Afrikaanse kant van die grens gekry het, ry jy oor die rivier met die Ernest Oppenheimer-brug en kry jou Namibiese stempel aan die oorkant. Anderkant die grenspos vat jy die eerste links-afdraai en ry deur die hekke waar jy vroeër jare ’n besoekerspermit sou nodig hê om Oranjemund te besoek.

Van hier af is dit 6 km tot op die dorp. Voor jy die dorp binnery, sal jy padtekens sien wat waarsku jy moet jou oë oophou vir gemsbokke, en dalk sien jy ook ’n paar van hierdie Namibiese ikone langs die pad.

Wat ’n mens nié verwag nie, is dat dié diere ook ewe gemaklik en kommerloos in die dorp se strate rondwandel. ’n Mens kan hulle nie eintlik kwalik neem nie, want Oranjemund is ’n oase in die woestyn. ’n Mens merk dadelik op hoe welig groen die dorp se plantegroei is en hoe baie groot koeltebome op die sypaadjies staan, iets wat jy nie aldag in Namibiese dorpies sien nie. Dit is natuurlik omdat die rivier so naby is én danksy die dorpsbestuur van die mynmaatskappy Namdeb.

ENE DUINE Buite Oranjemund is daar ’n strook duine (links, bo en regs onder) waar jy én jou 4x4 julle vaardighede in die sand kan kom toets. Dis ’n unieke ervaring, want baie van dié wêreld is nog binne die Sperrgebiet. Van Oranjemund af volg jy die Oranjerivier noordooswaards tot by die Gamchabrivier.

Jy kan maklik ’n paar dae in die dorp deurbring en na die inwoners se stories luister oor die lewe in ’n plek wat dekades lank op sy eie trant ontwikkel het. Hier is onder meer ’n lieflike openbare swembad, ’n kleiduif- skietklub en ’n spog-gholfbaan.

Maar daar is nog iets waarvoor ’n 4x4-entoesias dankbaar kan wees noudat die dorp se deure vir die buitewêreld oop is: Jy kan nou ’n draai gaan ry in ’n strook duine heel aan die onderste puntjie van die Namibwoestyn.

“Hierdie is steeds ’n konsessiegebied waarvoor jy toestemming nodig het om dit te besoek,” verduidelik Fanie Smit, een van die operateurs wat daguitstappies in die duine sowat 6 km buite die dorp aanbied. Die Oranjemund Off Road-klub is die organisasie wat toestemming het om in ’n sekere deel van die duine begeleide uitstappies aan te bied. “En ou maat, in hierdie duine moet jy jou storie ken,” sê hy. “As die sand sag is, moet jy jou hare vashou, want hy gaan vir jou rondgooi.”

Dié duinegebied is ’n kleiner weergawe van wat jy verder noord in die Namib sal aantref – dus ’n puik oefenplek vir die amateur én ’n lekker speelplek vir ervare bestuurders.

Dis ’n mengsel van steil opdraandes, fyn draaitjies om bedrieglike gaatjies en selfs ’n handjie vol slip faces om jou adrenalien aan te jaag. Tussenin is daar ’n paar mooi uitsigte oor die woestyn, die rivier en Oranjemund. Jy kan selfs reël dat jy agterna tussen die duine braai. Daar is immers nie ’n mooier plek vir ’n skemerkelkie as bo-op ’n duin nie. 

Met riviere langs noorde toe

Eendag sal die kuspad tussen Oranjemund en Lüderitz dalk oopgemaak word, maar tot tyd en wyl moet jy 92 km noordoos langs die Oranjerivier se kronkels binneland toe ry voor jy jou reis verder noordwaarts kan voortsit.

By die aansluiting met die C13, deesdae ’n netjiese teerpad, kan jy noord draai en oor Rosh Pinah tot op Aus ry. Hier kom jy weer by ’n kruispad: wes lê Lüderitz, noorde toe is Sesriem en as jy oos mik, neem die pad jou Keetmans toe.

Dis soos ’n spyskaart van Namibiese vakansies. As jy egter die C13 noordwaarts ignoreer en langs die Oranjerivier aanhou, neem die pad jou verby die Sendelingsdrif-grenspos en suidooswaarts deur die Namibiese deel van die Ai-Ais-Richtersveld-oorgrenspark.

Stadig maar seker begin die landskap rondom jou hoër raak... en kort voor lank word die pad omring deur die ikoniese pastelkleurige klipberge van die Richtersveld. Plek-plek loop die grondpad só digby die Oranjerivier dat jy dalk ’n reuse-visvanger bo die water sal sien sweef as jy mooi kyk. Óf jy hoor dalk die roep van ’n visarend deur jou ruite.

Sowat 43 km van Sendelingsdrif af steek jy die Visrivier oor, en 32 km anderkant die rivier bereik jy die Aussenkehr-hek van die park. Jy kan aanhou met die pad en 8 km verder links draai op die C37 wat Ai-Ais toe loop, maar daar is ’n kortpad wat beslis die moeite werd is.

Plek-plek loop die grondpad só digby die Oranjerivier dat jy dalk ’n reuse-visvanger bo die water sal sien sweef as jy mooi kyk.

Wees op die uitkyk vir ’n afdraai na links sowat 500 m ná die Aussenkehr-hek; dié paadjie volg die droë loop van die Gamchabrivier vir 12 km voor dit ook by die C37 aansluit. Die plat loop van die rivier word alkante deur dramatiese hoë klipkranse begelei – só hoog dat jy jou nek by die ruit moet uitknak as jy die bopunt wil sien.

Dit is een van hoeveel plekke in Namibië waar die landskap jou menslike nietigheid beklemtoon. Dis ook ’n lekker plek vir ’n piekniekstop – soek ’n skadukol onder een van die kranse.

Afrika se grootste canyon Ai-Ais is al baie jare ’n gewilde vakansiebestemming vir Suid-Afrikaners, veral danksy die ligging op die oewer van die Visrivier. Hier is ook ’n warmwaterbron, ’n groot buiteswembad en hope spasie waar die kleinspan kan baljaar. Hou dít in gedagte as jy beplan om in ’n skoolvakansie hierheen te reis.

Ai-Ais is ook die eindpunt van die bekende Visriviercanyon-staproete, en wanneer jy hier kamp, is die kans goed dat jy ’n paar natgeswete, stofbedekte stappers uit die kloof sal sien kom. Die roete van 85 km neem stappers vyf dae om te voltooi, maar as jy vroeg genoeg van Ai-Ais af in jou voertuig wegspring, kan jy teen sonop by die roete se beginpunt, Hobas, wees.

Hobas is die uitkykpunt oor die mees dramatiese deel van die canyon, en as jy hier staan, is dit asof jy voor jou geestesoog die cowboys uit ou Western-flieks onderin die vallei kan sien.

En as jy sien hoe die dag se eerste lig die kranse stadig maar seker verkleur, kan jy Afrika se grootste canyon van jou emmerskoplysie afmerk.

Van Hobas af moet jy besluit hoeveel vakansie jy oor het, want die pad na Namibië se noorde is nog lank en propvol juweelbestemmings. Maar as jy huis toe moet mik, is dit ten minste met die wete dat jou bakkie ’n paar nuwe sandkorrels uit ’n weggesteekte dorpie in die hoekie van die land onder sy wiele gehad het.

Blaas solank wiele af

Die Oranjemund Off Road-klub het elke ses weke ’n saamtrek waarop lede in die duine gaan ry en agterna braai. Dis ’n halfdaguitstappie, en as jy op een van dié datums in die omtrek is, is jy welkom om in te val. Dit kos R100 per voertuig.

Stuur vir Dewald van Jaarsveld ’n e-pos by infotech@iway.na om die datums te kry.

As dit jou nie pas nie of jy wil ’n alleenuitstappie reël, moet jy minstens twee weke vooraf met Dewald afspreek.

Fanie Smit van die Op My Stoep-lodge bied ook begeleide halfdag-4x4-uitstappies in die duine aan. Dit kos R250 p.p. (minimum 4) en sluit peuselhappies en ’n koeldrank in. Jy kan ook in die duine gaan oorslaap en Fanie sal vir jou braai en die volgende oggend ’n sjampanje-ontbyt maak.

Prys R980 p.p.

Kontak 00 264 6323 4223; opmystoep@iway.na


KLIPBERGE EN MAGTIGE RIVIERE Die pad tussen Sendelingsdrif en Aussenkehr kronkel al langs die Oranjerivier tussen die ikoniese berge van die Richtersveld en lei jou uiteindelik ook oor die Visrivier. Soos die kraai vlieg, is dit sowat 70 km noord tot by die Visriviercanyon waar die effek van dié magtige rivier op die landskap die indrukwekkendste is.

Ek wil ook gaan!

Beste tyd In die wintermaande is die weer matiger as in die bloedige somerhitte, maar as jy die vakansieverkeer wil vermy, probeer om nié in Junie of Julie te reis nie. Jou voertuig Jy het nie ’n volwaardige 4x4 nodig om die grondpaaie baas te raak nie, maar jy sal beslis ’n 4x4 met laestrek in die duine buite Oranjemund nodig hê. Jy kan met gemoedsrus jou woonwa of boswa aanhaak, want hierdie roete is geskik vir sleep.

Op die grens Bring jou paspoort (geldig vir nog minstens 6 maande), die volledige geboortesertifikate van enige minderjarige kinders wat saam met jou reis, en die registrasiedokumente vir jou voertuig. By die grens betaal jy ’n padgebruikheffing van R295 per voertuig en R188 per sleepwa.

Brandstof en voorraad Vulstasies is volop: Springbok, Port Nolloth, Alexanderbaai, Oranjemund, Ai-Ais en Canyon Roadhouse. Almal het winkels en restaurante vir basiese proviand, maar daar is groot supermarkte, kettingwinkels, hospitale en motorwerktuigkundiges op Springbok én Oranjemund.

Afstand en tyd Die totale roete is ’n raps onder 600 km. Gee jouself minstens 3-5 dae tyd (en nog ’n halwe dag as jy wil duine ry in Oranjemund) sodat jy die gebied teen ’n rustige pas kan waardeer.


Kamp hier
  • McDougallsbaai-woonwapark

Die staanplekke hier is in ’n strook net bo die strand uitgelê en daar is min koeltebome in die kamp. Hier is kragpunte, braaiplekke en ablusiegeriewe.

Prys Vanaf R170 p.p.p.n.

GPS S29.282587 E16.879876

Kontak 027 851 1110

  • Op My Stoep-lodge

Hier is 2 basiese kampplekke vir 4 mense, elk met eie kragpunte, braaidromme en ablusiegeriewe, maar nie skaduwee nie. Jy is egter ’n klipgooi van die restaurant en kroeg af.

Prys R120 p.p.p.n.

GPS S28.559947 E16.489370

Kontak 00 264 6323 4223; opmystoep@iway.na

  • Oranjemund Riding Club

Jy kan tent opslaan of jou woonwa staanmaak op ’n grasperk met koeltebome naby die ryklub se perdekamp waar gemsbokke lief is om te kom kuier. Hier is kragpunte beskikbaar asook ablusie- en vriesgeriewe.

Prys R125 p.p.p.n.

GPS S28.561155 E16.488285

Kontak 00 264 81 332 3415 (Kellie)

  • Shepherd-lodge Hier is verskeie uitgestrekte grasperke met koeltebome en jy kies waar jy wil kamp (hier’s geen uitgemerkte staanplekke nie). Genoeg braaiplekke, badkamers en gratis braaihout.

Prys R200 p.p.p.n.

GPS S28.551791 E16.495855

Kontak 00 264 6323 2996; shepherds@iway.na

  • Ai-Ais Kamp

Op die oewer van die Visrivier met braaiplekke, ablusiegeriewe, kragpunte en die gebruik van die oord se geriewe (soos die warmswembaddens en restaurant).

Prys R210 p.p.p.n.

GPS S27.922619 E17.489023

Kontak 013 751 2220; nwr@nwrnamibia.com

  • Canyon Roadhouse

Agter die bekende Canyon Roadhouse is daar 10 staanplekke (vir tot 10 mense elk) op die oewer van ’n droë rivierbedding. Hier is kragpunte, ablusieblokke, ’n swembad én jy kan ’n draai maak by die restaurant en kroeg.

Prys R195 p.p.p.n.

GPS S27.523679 E17.814848

Kontak 00 264 63 683 111; res6@gondwana-collection.com