Hierdie blogreeks is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec, en Trappers.

Ek skrik in die middel van die nag vervaard wakker en sien op my Suunto-horlosie dat dit twee-uur in die oggend is. Ek is akker-wakker. Êrens naby my sing ’n groep luidrugtig dronkmansliedjies. Dit klink asof hulle buite my kamerdeur serenade. Ek bid dat dit nie mense in my Inka-groep is nie, want ek sien nie kans vir ’n klomp kuiergatte op ’n vierdagstap nie.

Selfs met pluisies in my ore, wil die slaap nie kom nie. Gisteraand is ek later bed toe as die vorige aand – rondom 23:00 – en nou is ek skaars drie uur later helder wakker. Ek het al tevore oor tydlyne gereis, maar nog nooit so gesukkel nie.

Êrens naby my sing ’n groep luidrugtig dronkmansliedjies...

Teen 06:00 staan ek op, stort en kyk vir oulaas deur my duffelsak. Alles wat nie daarin kan kom nie, moet ek in my Terra Firma-sak dra. Ek draf die trappe af om die sakke te weeg (my duffelsak maak die 6 kg-perk net-net), maar die Terra Firma-sak is nog aan die swaar kant.

Ek is dankbaar dat die res van die groep ook al om die ontbyttafel sit. Hulle het ook sleg geslaap en lyk asvaal. Die Aussies is ook ’n paar tydsones van die huis af en sukkel net so om aan te pas.

Voor 09:00 staan ons in die voorportaal, gereed om ons sakke in die toerbussie te bondel, want die motors hoop vinnig op agter ons in die nou steeg en die bestuurders toet ongeduldig. Ons ry vandag kuier-kuier tot waar ons slaap naby die beginpunt van die Inka. 

Inka
Aleaf en Decklin geniet die uitsig.
Inka
Dis die Plaza de Armas waar ons gister geloop het.

Cris neem ons eers om die uitsig oor die stad te bewonder. In die katedraal langs ons sit kerkgangers gepak vir die oggenddiens. Daarna stop ons by die alpakkafabriekswinkel La Vicunita, wat al ’n paar keer die toekenning as die beste plaaslike winkel in Peru gekry het. Die winkel strek oor drie vloere.

’n Winkelassistent verduidelik eers vir ons die verskil tussen alpakka- en baba-alpakkawol. (Slegs die eerste skeersel van ’n alpakka mag as baba-alpakkawol verkoop word, en die skeersel moet van onder die dier se pens kom waar dit nie aan sonlig blootgestel is nie. Daarom is dit soveel duurder as gewone alpakkawol.) 

Inka
Ons kry 'n les in alpakkawol.
Inka
Olivia voel aan die vikoenjapels.
Inka
Die winkel strek oor drie vloere.

Die assistent verduidelik ook dat die alpakkabedryf in Peru ongelukkig nie gereguleer word nie. Baie van die stalletjie-eienaars rondom Plaza de Armas koop goedkoop poliëstertruie in China, en vervang skaamteloos die etiket om jou te laat glo dit kom van Peru en is van wol gemaak. “Perhaps it’s genuine baby polyester,” merk hy op. Hy wys ons ook hoe lyk die pels van die vikoenja – ’n ernstig bedreigde pakdier in Peru.

Die vikoenjabedryf word wel streng gereguleer en die diere mag nie ter wille van hul pelse geslag word nie (jy kan net die pelse koop slegs vikoenja’s wat natuurlik dood is). Jy moet ’n permit vir die pels hê en dis peperduur. Ons het daarna tyd om iets te koop in La Vicunita, maar daar is geen druk op jou nie. Omdat die pryse hier nie soveel duurder is as by die straatstalletjies nie, en jy minstens seker is dat jy regte alpakkawol koop, soek ek vir my pa ’n trui uit vir Kersfees. 

In die bus op pad na ons middagetestilhouplek vertel Cris die een en ander interessantheid oor Peru. Oral sien jy verkiesingsplakkate. Cris verduidelik dat hulle in Oktober plaaslike verkiesings gehad het en dat die land jou feitlik dwing om aan die verkiesing deel te neem. As jy nie ’n plakker in jou ID-boek het wat bewys dat jy gestem het nie, word jy beboet, jou bankdienste beperk en sukkel jy om daardie ID-boek te gebruik om binnelands te reis.  

En waar is jou man?

Middagete is by die Chinchero-gemeenskap ’n uur se ry buite Cusco, en is een van die hoogtepunte van my besoek aan Peru. 

Ons word deur ’n orkes ingewag, met blommekranse welkom geheet, en tradisionele drag aangetrek. Die mans kry vrolike wolmusse in die kleure van die Chinchero, en die vroue hoede en mantels. Die musse eindig in drie tossels, wat die gemeenskap se drie belangrikste waardes simboliseer: liefde vir mekaar, die belangrikheid van opvoeding, en hardwerkendheid. 

Die musse eindig in drie tossels, wat die gemeenskap se drie belangrikste waardes simboliseer

Inka
Die vroue kuier saam.
Inka
Simon en Victoria.
Inka
Ons groepfoto.

Die vroue in die gemeenskap moet op die lande werk en beoefen ’n skaars weeftegniek, terwyl die meeste van die mans as portiere op die Inka aangestel is en lang tye van die huis af weg is. Eers word ons plegtig aan mekaar voorgestel. 

Inka
Ons sit aan vir ete.
Inka
Die kos is eenvoudig, maar heerlik
Inka
Die Chinchero woon selfs hoër bo seespieël as die Cusco-mense.

Die Chinchero praat Ketchua en Cris moet tolk sodat jy kan sê wie jy is, van waar jy kom, en hoeveel “wha-whaas” (kinders) jy het. Die vroue klik besorg hul tonge toe hulle hoor ek is ongetroud en kinderloos, en terg dat hulle spyt is dat hulle nie die gemeenskap se vrygeselle saamgenooi het vir ete nie. Middagete is vegetaries (die gemeenskap eet slegs vleis tydens vierings), met heerlike botterskorsiesop, en ’n hoofmaal van quinoa, spinasiekoekies en aartappels. Dit is verrassend vullend.

Daarna wys hulle trots vir ons hulle weefwerk. Dis ’n heel ander ervaring om ’n souvenier te koop by die vrou wat dit self gemaak het en bevredigend om te weet dat die geld in die sak beland van die een wat regtig die werk gedoen het.   

Inka
So weef hulle.
Inka
Hier kan jy handgemaakte produkte koop.

Ons stop nog een keer die middag om ’n mooi uitsig te bewonder, en een keer by ’n winkel omdat van die groeplede nie reënponchos gebring het nie. Dis een van daardie winkels wat letterlik enige ding verkoop, maar ek is reeds goed uitgerus deur Hi-Tec in die nuutste reënbaadjie en het niks nodig nie.

Inka
Simon en Trish geniet die uitsig.
Inka
Decklin en Aleaf geniet die stilte

Die Inkas wat die Spanjaarde kon ore aansit

Ons bereik teen laatmiddag ons hotel in Ollantaytambo in die Heilige Vallei, ’n poskaartmooi dorpie op die wal van die Urubambarivier. Dis die naaste dorp aan die wegspringplek van die Inka.

Volgens Cris is die dorp so oud dat die Inkas dit van die vorige inwoners verower het voordat die Spanjaarde die Inkas hier verdryf het, en is dit die dorp wat nog die langste ononderbroke in Suid-Amerika bewoon is. Ek kon egter nie ’n bron kry wat dit bevestig nie. Ollantaytambo is by die ruïnes van die fortkompleks van die Inka-opperheer Manco gevestig, wat Manco tydens die Spaanse Inval suksesvol kon verdedig. 

Volgens Cris is die dorp so oud dat die Inkas dit van die vorige inwoners verower het
Inka
Daar bo teen die berg sit die ruïnes.
Inka
Ek wou 'n selfie neem, maar die Aussies het my gewaarsku die llama gaan spoeg.
Inka
Dis hoe ons hoogte bo seespieël vandag verander het.

As jy die kompleks sien, sal jy verstaan hoekom. Dit bestaan uit 16 allemintige terrasse en 200 stéil, stéil trappe wat halfpad teen die berg uit strek. 

Inka
Die terrasse van onder af.
Inka
Meer as 200 trappe van loutere hel.
Inka
Die tuk-tuks op die dorp.

Jou tong sleep nadat jy die eerste terras uit is. Jy sou báie fiks moes wees om ’n Inka-regeerder daarbo te gaan uitboender. Die Spanjaarde het glo ná twee dae se probeer tou opgegooi en teruggeval. Manco het egter besef hy sal nie die Spanjaarde ’n tweede keer kon weghou nie en het die kompleks ontruim en na Vilcabamba gevlug. Vilcabamba is die ruïnes waarna Hiram Bingham eintlik op soek was toe hy per toeval op Machu Piccu afgekom het. (Lees die storie hier.

Die Spanjaarde het glo ná twee dae se probeer tou opgegooi en teruggeval.

Dis nie duur om die ruïnes te besoek nie, maar jy het tyd daarvoor nodig (uhm, tráppe), en dis reeds laatmiddag toe ons daar aankom. Ons kyk dus net van onder af, maar ek is later spyt dat ek nie ingegaan het nie. 

Inka
Lekker kuierplekkies.
Inka
Ek het nie kans gesien nie.

Met sy talle keisteenstrate, sneeubedekte pieke, bekoorlike geboue en tuk-tuks (’n rit is sowat R20), is Ollantaytambo een van daai plekke wat ek hoop ek eendag weer sal kan sien. Oral sit mense in bergklimklere en stewels langs tafels op die plein rond. Jy vóél die atmosfeer.

Oral sit mense in bergklimklere en stewels langs tafels op die plein rond. Jy vóél die atmosfeer.

Dis skemeraand en teen hierdie tyd is al die dagbesoekers wat vanaf Cusco ingery het om Machu Picchu te besoek, reeds weer terug Cusco toe. As net 200 toeriste per dag hul reis op die Inka kan begin, kan ek my goed voorstel dat daardie 200 mense nou almal hier rondom die plein sit en kuier. Jy hoor stemme van oral in die wêreld. 

Inka
Ons kuier vir oulaas rustig.
Inka
Pizza op die plein.

Ek loop saam met Trish en Simon van Kaapstad, maar die res van ons groep is nooit ver van ons af nie. Ons wou eers net ’n pizza koop en weer by die hotel in die tuin gaan eet, maar wanneer ons die atmosfeer voel, besluit ons om ons ook langs die plein tuis te maak. Die pizza is heerlik. Dis een van daardie oomblikke wat jou nog lank sal bybly. Ek sit in stilte en dink dat hierdie dag een van die lekkerste reisdae van my lewe was. Ek sien egter hoe al die lede van ons groep kort-kort na die berge om ons loer.

Ek is ook nogals gespanne, is ek bereid om teenoor myself te erken. Dis een ding om by die huis te sit en met bravade te verklaar dat jy die Andes gaan oorsteek na Machu Picchu toe, maar ’n ander ding as jy hier sit en die berg voor jou sien. Ek verstaan nou dat iets “soos ’n berg voor jou kan lê”. Die hele reis voel skielik ’n bietjie oorweldigend.

Ek verstaan nou dat iets “soos ’n berg voor jou kan lê”

Ons groet mekaar die aand met ’n opregte “goeie nag”. Ons besef dat ’n goeie nagrus ’n groot verskil aan ons ervaring van die Camino gaan maak en dat dit nie vanselfsprekend is nie. Ek dink daaraan om die aand my Canon-battery te herlaai want ek het die hele dag foto’s en video’s geneem, maar onthou dan dat ek my laaier in die sak by die hotel in Cusco gelos het. Ek is nie te bekommerd nie, ek het darem twee ekstra batterye by my. Ek bel vir oulaas huis toe (ek gebruik sommer Whatsapp op my Cat S41-foon) en raak genadiglik maklik aan die slaap.       

Inka
'n Pragtige dorp.
Vandag se wenk: Iets vir die reislys

As jy nie die Inka wil loop nie en per trein na Machu Picchu wil reis, oorweeg dit om ’n nag oor te slaap by Ollantaytambo.

Jy hoor dikwels van Machu Picchu en dit is met reg die kroonjuweel van Peru se toerismebedryf, maar die ruïnes by Ollantaytambo is asemrowend en word minder druk besoek. (Om by Machu Picchu uit te kom, moet jy in elk geval eers die trein/bus neem vanaf Cusco na Ollantyatambo, en van daar af ’n trein/bus na Machu Picchu.)

Die dorp het verskeie lekker eetplekke en jy kan heerlik op die dorpsplein kuier. Jy sal nie uit Cusco uit kan reis en Machu Picchu én Ollantaytambo op een dag behoorlik kan sien nie. 

  • Lus om die Chinhero-gemeenskap te ontmoet? Jy kan presies dieselfde toer as Gerda doen. Lees hier

Weg se reis na Peru is moontlik gemaak deur CanonHi-Tec en Trappers. Alle foto’s is met die Canon M50 geneem. Weg se verblyfreëlings is deur Intrepid Travel betaal.