Min lande ter wêreld kan méér ongerep wees as Mongolië. Dis die ylbevolkste land ter wêreld en ’n plek wat grotendeels stedelike ontwikkeling vrygespring het. Trouens, dis twee keer die grootte van Namibië met skaars drie miljoen mense, waarvan die helfte in stede woon. Dit, tesame met ’n ongelooflike landskap, ikoniese nomadiese kultuur en unieke diere, plaas die land bo-aan enige avontuurreisiger se wenslys.

Die meeste van ons weet die beste manier om ’n plek behoorlik te verken is met jou veldryer op die agterpaaie. Dis presies hoe ’n groep Suid-Afrikaners die wye steppe van Mongolië gepak het op ’n toer van 18 dae saam met Live The Journey.

WOESTYNWÊRELD Die Gobiwoestyn is wyd en groen met 'n skitterende naghemel en byna sonder enige geteerde paaie.

Die toergroep, met boorlinge van onder meer Vereeniging, Sandton, Kaapstad en die Paarl, ontmoet mekaar ná ’n dag of twee se vlieg in Mongolië se hoofstad, Ulaanbaatar. Ons bly in ’n hotel in die middestad, en ná aandete gaan ons vroeg bed toe om die erge vlugvoosheid af te slaap.

Die eerste dag van die toer is ’n rustige een sodat almal ’n kans het om te herstel voordat ons behoorlike afstande begin aflê. Ons plaaslike toergids, die vrolike en kundige Baatar Navaan, gebruik die dag om agtergrond oor die land te deel.

Ons ry met ’n minibus na ’n 40 m hoë standbeeld van Mongolië se grootste en bekendste leier, Djengis Khan, sowat 54 km buite die stad. Khan het op sy tyd feitlik die ganse Asië met ’n ystervuis regeer. Onder die standbeeld is ’n museum wat die geskiedenis van die ger, ’n tradisionele ronde hut nes ’n joert, uitbeeld. Oor die jare het dié struktuur se boumateriaal verbeter, maar die basiese vorm oorleef vandag nog en vele Mongole bly steeds in gers.

Terug in die stad koop ons plaaslike simkaarte, ruil kontant en besoek in die namiddag die Mongoolse Natuurhistoriese Museum. Ons verkyk ons aan die stad se blinknuwe wolkekrabbers, vervalle fabrieke uit die Sowjet-era, die lang skoorstene van kragstasies wat kollosale rookwolke uitpomp, die indrukwekkende Sükhbaatarstadsplein en die honderde Toyota Prius-motors wat klaarblyklik die gewildste vervoerkeuse in die land is.

Die volgende dag is ons vóór die son op, want die opwinding het almal van vroeg af al wakker. In die hotel se parkeerterrein staan drie Land Cruisers en ’n Lexus 470, elk uitgerus met ’n daktent. Baatar se ryding is ’n donkergroen UAZ-469, ’n militêre 2,2 l-4x4-petrolvoertuig wat in Rusland gebou word. Hulle herinner aan daardie ou kortwiel Willys Jeep: ewe stewig en ewe ongemaklik. ‘Maar jy kan oral met hom ry en hy is maklik om reg te maak,’ vertel Baatar.

Die voertuie word vir oulaas nagegaan, vol bagasie gestop en die tweerigtingradio in elkeen getoets. Op al die voertuie se voorwiele het iemand van die Mongoolse span ’n paar wit spatsels gelos. ‘Melk,’ verduidelik Baatar, ‘vir geluk.’

Ons trek weg en mik uit die stad. Kort voor lank laat ons die verkeer, wolkekrabbers en fabrieke agter en die landskap begin stadig om ons oopvou.

Die weer is vandag mooi en ons sien vir die eerste keer presies hoe uitgestrek die lowergroen grasveld in hierdie plek eintlik is. Dis ’n toneel wat ’n Karooboer hom in sy wildste drome nie kan voorstel nie. ‘Hei mense, hierdie is nou die régte Mongolië,’ lag Baatar trots oor die radio. ‘Dis my land hierdie; hoe hou julle daarvan?’

Die res van die dag hou die konvooi suid verby swaargelaaide steenkoollorries en groepies gers langs die pad wat gefermenteerde merriemelk verkoop, ’n gunstelingdrinkding wat ‘arak’ genoem word.

Wanneer ons laatmiddag ons kampplek digby die Baga Gadzrin-bergreeks in die noordelike Gobiwoestyn bereik, is ons omring deur grasvlaktes wat in alle rigtings tot op die horison strek. Die reuk van wilde kruie slaan uit die veld uit op en daar is nie ’n heining, kennisgewingbord of enige ander teken van die mensdom in sig nie.

Later, om ’n saamgeflanste kampvuur – die Gobi het nie bome nie – kyk ons op na dieselfde skitterende Melkweg as waarna die magtige Djengis Khan honderde jare gelede sekerlik óók gesit en staar het.

‘Water for eyes’, lees ’n blou bordjie in die middel van nêrens die volgende oggend waar ons met ’n tweespoorpad suidooswaarts ry. ‘Sommige mense hier rond glo die fontein se water het genesende eienskappe,’ verduidelik Baatar.

In ’n stadium hardloop ’n trop dzeren, ’n Mongoolse boksoort iewers tussen ’n springbok en ’n rooibok, oor die pad, en kort daarna is daar ook groot troppe perde langs die pad. Baatar het gehoor iewers in die geweste word vandag ’n plaaslike fees gehou en ons swaai af in die rigting van Baga Gazariin Chuluu, ’n naturreservaat in die provinsie Dundgovi.

Ons stap ’n draai tussen die fees se kleurryke tente. Buiten ’n paar helder tradisionele uitrustings en die taal, voel dit nes enige plattelandse dorpskou in Suid-Afrika: daar is ’n ry stalletjies, kinders eet spookasem en roomys, jy kan ’n teddiebeer probeer wen met ’n speletjie, en eenkant braai ’n klompie ouens agter hulle kar.

GEVERFDE LANDSKAP Jack Eksteen en Luzanne van Niekerk kyk uit oor die heuwelagtige landskap by Tsagaan Suvarga waar jare se erosie die sandsteenlae weggevreet het en kleurryke dongas uitgekerf het.

Ons word by ’n ger binnegenooi en in ’n sirkel sitgemaak. In die middel van die vertrek staan ’n groot pot arak, ’n bord gestoomde vleis en ’n hengse toring kaas.

Elkeen kry ’n bakkie melk om te proe. Die smaak tref jou effens in die agterkiewe, soos wanneer jy per ongeluk ’n hap suur jogurt vat, maar ná ’n paar slukke kry jy hom onder die knie – daar is immers ’n tikkie alkohol in. Die kaas, ’n harde een amper soos ’n sterk parmesaan, is minder oorweldigend – mits jy van eksotiese kaas hou.

‘Hierdie is die tradisionele verwelkoming in ons kultuur,’ verduidelik Baatar. Só sit families, pêlle en selfs vreemdelinge bymekaar en breek brood, sê hy. Op die res van die toer bevind ons ons gereeld in ’n sirkel aan die binnekant van iemand se ger. En elke keer, uit ordentlikheid soos ons grootgemaak is, drink ons ’n slukkie arak en kou aan ’n kasie.

Vanaand se kampplek is digby Tsagaan Suvarga, ’n klomp indrukwekkende sandsteenkranse teen ’n platorand wat deur eeue se erosie tot kleurryke lae verweer is.

Teen laatoggend die volgende dag klim ons op ’n teerpad en ry na Dalanzadgad, ’n groot myndorp in die suide van die land. In onlangse jare is groot hoeveelhede goud en koper in die Gobi ontdek. Die mynbedryf, Mongolië se grootste ekonomiese aandrywer, is steeds aan die groei. Dalanzadgad is vol hoë geboue en nog meer nuwes is in aanbou. ‘Almal in die laaste tien jaar gebou,’ sê Baatar.

In die namiddag bereik ons ’n ger-kamp naby die Yolyn Am-vallei, oftewel die Lammergiervallei (Yol beteken lammergier), in die Gurvan Saikhanberg. Mongolië is oortrek met hierdie toeristekampe waar jy in verskillende vlakke van luuksheid in jou eie ger oornag. Binne-in is beddens en ’n kaggel, die badkamers is en suite of gedeelde ablusiegeriewe, en saans eet jy in ’n restaurant – soms óók ’n kolossale ger.

Die volgende dag mik ons weswaarts al langs die voet van die bergreeks.

Dis ’n lang dag op die pad, maar dis ’n interessante reis: Ons maak ’n draai by ’n begraafplaas uit die Bronstydperk, steek verskeie droë rivierbeddings oor, ry verby trekboere se verlate winteropstalle en stop en groet ’n klompie locals. Ons drink arak, ons eet kaas.

Ná middagete ry ons met ’n ellelange sinkplaatpad in ’n breë vallei af in die rigting van Bayandalai en mik daarna vir Khongoryn Els, ’n 100 km lange duinstrook in die suide van die Gobi. Die roomkleur duine is ’n pragtige verskynsel in die groen landskap.

Wanneer ons tente aan die voet van Mongolië se grootste duine staan en die son oorkant die Altai-bergreeks sak, kan jy jou amper-amper verbeel jy kamp iewers in die Namib en kyk uit oor die Saagberge by Solitaire. Die enigste verskil is die grasveld tussen die duine en berge, ’n groen tapyt soos Solitaire se wêreld nog nooit gesien het nie.

Ná ontbyt verken ons die duine na die weste toe. Deur die loop van die oggend maak ons weer ’n draai by twee gers en drink weer arak en eet weer kaas, maar dié slag leer die eerste familie ons hoe om vodka te stook en die tweede familie leer ons kameel ry. Die kameelboer gaan wys vir ons ’n fontein tussen die duine waar ’n trop perde afkoel, ’n prentjiemooi oasetoneel so reg uit ’n kinderboek.

Ons draai weer oos, kruis die duine en ry met ’n vrot sinkplaatpad noordweswaarts deur ’n vallei met hoë klipkranse weerskante van die pad. Daar is baie verkeer, hoofsaaklik UAZ-452-minibusse vol toeriste van die omliggende ger-kampe. Ons steek ’n konvooi Vespa’s verby, ’n klomp Italianers wat van Ulaanbaatar af gery het. Al hulle kraakbeen is sekerlik fyngestamp.

HARTLIKE WELKOM! Tradisionele gers is deesdae modern ingerig en die vriendelike inwoners nooi graag reisigers binne vir ’n happie tuisgemaakte kaas en ’n slukkie arak – of selfs vodka!
LOWERGROEN LAND Mongolië is ’n waterryke land en jy ry oor verskeie riviere, langs mere soos die Erkhel Nuur en watervalle soos die Orkon. Op pad sien jy ook takbokstene, antieke klip-obeliske waarop takbokontwerpe uitgekerf is.

Ons maak kamp naby die plek waar ’n span paleontoloë in 1971 die fossiel van twee dinosourusse van ouer as 80 miljoen jaar ontdek het, die sogenaamde Vegtende Dinosourusse. Dié twee het in die middel van ’n geveg gesterf en hou mekaar vir ewig in ’n doodsgreep.

Die volgende dag maak ons vol op Bulgan, ’n dorpie wat omring word deur groenteakkers, vóór ons weer noord draai. Ons volgende bestemming is Bayanzag, oftewel die Gloeiende Kranse (die kranse glim teen sononder helderoranje), waar nog historiese dinosourus-ontdekkings gemaak is. Dis hier waar die Amerikaanse paleontoloog Roy Andrews in die jare twintig die eerste dinosourus-eiers ontdek het, saam met ’n groot verskeidenheid geraamtes.

Ons hou op ’n liederlike pad noord, verby nog ger-kampe, want hierdie is die hooftoerismeroete na die noorde. Die plantegroei langs die pad is yl en herinner aan dele van die Karoo, maar die landskap voel selfs nóg meer uitgestrek en die horison verder as op enige ander plek.

Vanaand slaap ons in ’n netjiese ger-kamp op die oewer van die Ongirivier. Ons gaan maak ’n draai by die murasies van die Ongi-kloosterkompleks op ’n heuwel digby die kamp. Eens op ’n tyd het honderde monnike hier gewoon en studeer vóór die klooster, soos baie ander in Mongolië, in 1939 deur die kommunistiese Sowjetunie vernietig is.

Selfs nie eens die Land Cruisers se sagte sitplekke kan die volgende oggend ons laer rug beskerm teen die lang, hobbelrige, uitgeryde sinkplaatpad verder noordwaarts nie. Nietemin groet ons deur die loop van die oggend amptelik die Gobi, en teen middagete bevind ons ons in Sentraal-Mongolië.

Ná middagete, ’n tradisionele braai by ’n restaurant, lei Baatar ons in die rigting van Karakoroem. Kort vóór ons die dorp bereik, sien ons vir die eerste keer tekens van plase wanneer goudgeel canolalande skielik opduik.

Karakoroem was eens die hoofstad van die Mongoolse Ryk en dis hier waar Djengis Khan glo sy soldate vir sy latere veldtogte gewerf het. Die land se oudste Boeddhistiese klooster, die Erdene Zuu, is in die 16de eeu opgerig en staan vandag nog buite die dorp.

In die laatmiddag gaan maak ons ’n draai by die klooster vóór ons ’n kampplek op ’n heuwel buite die dorp gaan uitsnuffel.

‘Vandag is die afstand korter, maar die ry-ure langer,’ sê Baatar die volgende oggend. Ná ’n vinnige besoek aan die argeologiese museum in Karakoroem vertrek ons na die provinsie Arkhangai.

Die Orkhonvallei is een van Mongolië se mooiste plekke. ‘Dit is in hierdie vallei waar die Mongoolse kultuur gebore is,’ sê Baatar trots. Die Orkhonrivier kronkel tussen uitgestrekte plat weivelde deur wat oortrek is met gers en duisende vee. Hier en daar staan troppe jakke. ‘Jinne, maar hulle lyk nes ’n koei met ’n romp aan!’ sê Jack Eksteen.

Onder in die vallei neem ons foto’s by die 20 m hoë Orkhon-waterval, Mongolië se hoogste, vóór ons weer in ons spoor terugdraai, die rivier oorsteek en noord draai oor die Khangaiberg. Hoe hoër ons klim, hoe mooier raak dit, en later ry ons deur dennewoude met tapyte veldblomme langs die pad. Ons knak ons nek by die ruite uit en neem foto’s dat die biesies bewe.

By die Tsenkher-warmwaterbron slaap ons in ’n ger-kamp, dié slag een met heelwat plaaslike besoekers eerder as net buitelanders. Eenkant sit ’n groep, elk met ’n bier in die hand, ’n hele warm bad vol en gesels, en ’n ander poel is vol dikkes in hulle onderbroeke. Later in die donker hoor jy hoe singende stemme uit die familie-gers opklink terwyl hulle rondom die kaggels kuier. Ons steek ons s’n ook aan vóór ons inkruip, want hoe verder noord ons reis, hoe kouer word dit snags.

Wildeblomvelde en Siberiese larikswoude lei ons verder noord oor die Khangaiberg. Baatar mik vir Tsetserleg, die grootste dorp in Sentraal-Mongolië. Dis ’n plek wat oortrek is met kleurryke geboue en vlae verlate fabrieke uit die Sowjet-era. Ons besoek ’n museum en ’n koffiewinkel vóór ons die dorp verlaat op ’n besige, steil en stowwerige grondpadbergpas wat lyk of hy kreun onder lorries en Priusse.

Kort voor lank verlaat ons die provinsiale grense van Sentraal-Mongolië en beweeg die noorde in. Ons maak kamp aan die bokant van ’n draai in die Orkhonrivier met die helder yswater wat doer onder in die ravyn vloei. Wanneer ons uiteindelik gaan slaap, is dit nie lank nie vóór ’n reënbui uitsak.

Dis koud en bewolk wanneer ons die volgende oggend wegtrek en weswaarts verby die Terkhiin Tsagaanmeer ry.

Hier was eens ’n vulkaan, verduidelik Baatar, en wys waar jy steeds die vulkaniese lae van die Khorgokrater kan sien. Ons ry deur verskeie driffies en die spoor is plek-plek vol modder wanneer ons anderkant die meer noord draai en ’n bergpas uitklim. Nou ry ons deur ’n pragtige vallei op pad na Jargalant.

Anderkant die dorp kruis ons die Iderrivier en nog ’n bergpas laat ons hoër as 2 100 m klim. Hier maak die gers plek vir houthuise, want in die winter sneeu dit erg in dié geweste. ‘Soms word hierdie deel die Switserland van Mongolië genoem,’ sê Bataar. ‘In die winter kan dit tot -40 ºC word.’

Teen middagete die volgende dag bevind ons ons in Moron, die hoofstad van Noord-Mongolië. Dis ’n besige plek met baie verkeer en ons maak dus vinning aanstaltes om die dorp met ’n teerpad te verlaat en na die Khovsgolmeer in die verre noorde te mik.

Teen 2 760 km2 is die Khovsgol die naasgrootste varswatermeer in die land. Dit strek oor meer as 130 km en is ’n kleinboet van die wêreld se grootste, die bekende Baikalmeer in Rusland, skaars 200 km noordoos hiervandaan. Ná ’n lang en taai dag se ry slaan ons op die rand van ’n woud naby die suidelike punt van die meer kamp op.

Ons bring die volgende dag langs die meer deur en slaap by ’n ger-kamp sowat 30 km verderaan langs die meer. Dis ’n welkome blaaskans vóór ons die volgende dag weer suid draai. In die namiddag verken ons die meer op ’n bootrit en ontmoet selfs ’n familie wat met takbokke boer (die soort wat met Kersvader se slee draf). Hulle wys vir ons dié interessante diere, vertel ons oor hulle leefstyl, en ons geniet arak en ’n kasie.

Iewers in die nag reën dit – en die volgende dag is ons roete vol waterkruisings en modderspore. Ons volg ’n skilderagtige roete terug in die rigting van Moron wat ons oor wye grasvlaktes tot by die Erkhel Nuur-meer lei. ‘Mense, ek wil net sê, vir ’n plaasseun soos ek is hierdie net ongelooflik,’ kom Jack Eksteen se stem oor die radio.

Laatoggend ry ons deur ’n landskap wat herinner aan die Oos-Kaap. As jy die gers met grasdakhutte vervang en die jakke met boerbokke, het jy dieselfde golwende groen heuwels van die Wildekus.

Ná middagete in Moron ry die konvooi op ’n teerpad ooswaarts. ‘Vervelig, nè?’ spot Bataar nadat ons vir soveel dae grondpad gery het. Die pad loop egter deur ’n pragtige landskap en ’n mens sal sukkel om verveeld te raak. Pastelgroen weivelde lê weerskante van die Selengerivier wat deur klossies woude kronkel. Spierwit stapelwolke hang bo vouberge in die verte, en oral waar jy kyk, is dit welig en ruig. Hier lyk dit soos die Overberg ná goeie winterreëns.

Later ry ons verby koring- en canola-velde in ’n platter landskap wat aan die Swartland herinner, en dan slaan ons kamp op naby Khutag Undur, ’n klein dorpie langs die Selengerivier.

Die voorlaaste dag van die toer neem ons deur die dorpe Bulgan en Erdenet na die Amarbayasgalant-klooster in die Ivenvallei, sowat 350 km noordwes van Ulaanbaatar. Dié klooster is een van min wat die Sowjetunie se verwoesting deels vrygespring het, en die oorspronklike ou geboue vol kleurryke versierings, standbeelde en aanbiddingsvlae is iets om te aanskou.

Op ’n heuwel bo die klooster sit ’n hengse goue Boeddha wat oor die vallei uitkyk.

Môre is dit terug stad toe, en dan huis toe. Ek gaan stap dus vir oulaas ’n lang draai in dié lowergroen plek met sy oneindigende landskappe vol gers, vriendelike mense, kamele, koeie met rompe en harde kasies. ’n Gevoel van zen spoel oor my wanneer ek dit groet en weet: Hierdie betowerende land sal my weer sien.

Kortliks

Waarmee het julle gery? Elke paartjie, groep of familie het met hulle eie Toyota Land Cruiser of ’n soortgelyke 4x4 met laestrek en ’n ewenaarslot gery.

Wat is alles verskaf? Al ons etes, verblyf, ’n voertuig, brandstof en park-, tol- en gidstariewe is ingesluit. Elke voertuig was toegerus met die nodige kamptoerusting.

Wat moes jy saamneem? Buiteleweklere vir warm en koue weer, batterylaaiers en aansluitproppe, ’n koplig, insekweerder, persoonlike medisyne en ’n geldige internasionale rybewys.

Waar het julle geslaap? In Ulaanbaatar in ’n hotel en op die platteland het ons verblyf afgewissel tussen kamp in daktente, en formele toeristekampe waar jy in jou eie ger (huisie) slaap.

Wat het julle geëet? Die toerspan en die kos van die restaurante in die ger-kampe was aangepas vir Westerlinge (ook vegetariërs), hoewel daar ook tradisionele geregte op die spyskaart was.

Hoe lank was die toer? Altesame 17 nagte en 18 dae.