foto’s: Evan Naudé
4x4-roete
4x4-roete

Die Kamdeboo- nasionale park omvou Graaff-Reinet soos ’n massiewe perdeskoen. In die noordelike deel is die Nqwebadam, ’n netjiese tentekamp en die hoofwildkykgebied, en in die weste die bekende Vallei van Verlatenheid, die uitkykpunt met panoramiese uitsigte oor die vlaktes van die Karoo.

Dít is die dele in die park wat die deursnee-toeris lok… en in vakansietye is daar hordes van hulle. Maar vir dié wat gelukkig genoeg is om agter die stuur van ’n 4x4-ryding te sit is hier ook twee gemaklike en prentjiemooi veldryroetes in die park. 

Só ry jy

Die Koedoeskloof-roete lê in die westelike deel van die park; dus moet jy na die Vallei van Verlatenheid se hek ry nadat jy jou parkgeld by die hoofhek betaal het.

Wanneer jy deur die hek is, volg jy die grondpad vir 4,6 km tot by die afdraai na die Winterhoek-lodge. Die 4x4-roete begin hier.

Teen slegs 7 km is Koedoeskloof ’n korterige roete en eintlik meer ’n wildrit as ’n vreeslike tegniese uitdaging. Nietemin moet jy steeds goeie 4x4-beginsels toepas, soos om rustig te ry, jou bande af te blaas (2 bar of laer) en na 4x4 oor te skakel sodat die pad nie uitgery word nie.

Anderkant die afdraai na die Blesbok-lus, namate die paadjie hoër teen die berg uitklim, raak die tweespoor redelik klipperig. In dié deel sal jy ook ’n reeks spoelwalle oor die pad aantref waaroor jy op en af wipplank ry. Dié outjies raak later lekker steil, maar jy besef waarom hulle nodig is as jy in nat toestande hier moet ry. Dié hobbels raak gelukkig platter soos jy die bokant van die berg nader, maar die klippe in die pad bly jou niere heen en weer skud.

Wanneer jy uiteindelik op die kruin aankom, word jy beloon met ’n skitterende uitsig oor die agterkant van die Vallei van Verlatenheid, iets wat die meeste toeriste nooit sien nie. Hier is ook ’n piekniekplek – bring dus iets saam om te hap en te drink.

Die Vallei van Verlatenheid is beslis ook ’n besoek werd – gaan maak dus ’n draai voor jy waai.

Jy draai hier om en ry op dieselfde tweespoor terug. Die “gewone” uitsig oor die Vallei van Verlatenheid is beslis ook ’n besoek werd – gaan maak dus ’n draai voor jy waai.

In die oostelike deel van die park kan jy die Driekoppe-roete ry. Dit begin by die Kroonvale-hek (kry vooraf ’n sleutel by die hoofhek se ontvangskantoor) en volg ’n suidwaardse krul deur die Kamdeboo se mees afgesonderde dele.

Die parkmense sê jy kan dié roete in ’n 4x2 met hoë grondvryhoogte baasraak, maar dan moet jy weer by die Kroonvale-hek uitry, want om by die Lootsfontein-hek klaar te maak moet jy in die Diepkloof afsak. En op dié steil, smal afdraande het jy beslis ’n 4x4-voertuig nodig. 

Kort nadat jy by Kroonvale weggespring het, kry jy ’n aanwysingsbord vir Waaihoek. Die roete begin klim en jy het ’n wye uitsig oor Graaff-Reinet aan jou regterkant. Aan die agterkant van die berg vou lankuitgestrekte Karoovlaktes aan jou linkerkant oop, en op die horison voor jou pryk die drie spitse waarna die roete genoem is.

Ná sowat 7 km op die roete bereik jy ’n vurk in die pad. Hou hier links om tot by Waaihoek te ry waar jy ’n uitsig oor Hangklip, die hoogste bergspits in die park (1 482 m) het. Onthou, jy het vierwielaandrywing nodig – jy sak stadig af in die Diepkloof op ’n steil, klipperige afdraande.

’n Bordjie aan die bokant waarsku (met reg!) dat jy liefs nie hier moet afry as dit gereën het nie. Hierdie stukkie het egter een van die beste uitsigte in die Kamdeboo soos jy afsak na die vlakte doer onder jou.

Aan die onderkant van die kloof volg jy die roete vir sowat 3,5 km tot by die Lootsfonteinhek. Draai regs buite die hek en ry tot by die R75 wat jou terugvat dorp toe. Onthou om die sleutel weer by die hoofhek af te gee.

Koedoeskloof is ’n korterige roete en eintlik meer ’n wildrit as ’n vreeslik tegniese uitdaging. Nietemin moet jy steeds goeie 4x4-beginsels toepas, maar wanneer jy uiteindelik die kruin bereik, word jy beloon met ’n uitsig wat nie baie mense beskore is nie.
Wat jy moet weet

4x4 / Laestrek / Ewenaarslot? Jy sal regkom met slegs 4x4.

Maksimum aantal voertuie: Geen.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Dit is nie nodig nie.

Kan ons langs die pad braai? Nee, vuurmaak word nêrens in die park toegelaat nie.

Kan ek halfpad omdraai? Ja.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? In die herfs en lente wanneer temperature matiger en droër is.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, dit is ’n wonderlike gesinsbestemming.

Net vir die dag of die naweek? Jy kan elkeen van die roetes gemaklik in 2-3 uur voltooi.

Is daar ablusiegeriewe op die roetes? Ja, aan die bokant van die Koedoeskloof-roete.

Aanwysings: Die hoofhek is net buite die noordelike grens van die dorp op die N9.

Wat kos dit? Die roete is gratis; jy moet net die park se bewaringstarief van R43 p.p. betaal (R22 vir kinders).

Kontak:  049 892 3453

GPS: S32.220246 E24.540620 (hoofhek)

Weg Ry & SleepDis die beste manier om die Kamdeboo te verken.