Die klub is op 4 Junie 1928 op ’n vergadering van 50 studente gestig en reël bergklimuitstappies en staptoere oor vakansies vir studentelede.

Baie het al deur die jare verander. Aanvanklik is die groep stappers (“BTKaners”) se goed met vragmotors (of “waens”) aangery, groot weermagtente is by elke kampplek opgeslaan as daar nie onder die sterre geslaap is nie, en daar is in groot maat kosgemaak.

Elke student het ’n werk gekry vir die toer – stokers moes vuurmaak, blikwassers moes die groot kospotte was, die tentekomitee moes sorg dat die tente opgeslaan word indien nodig. Jou werkie het lekkerder geraak hoe meer toere jy gedoen het.

Deesdae is die vakansietoere meestal meerdaagse rugsakstaptoere, waar al jou toerusting saamgedra word en daar saans in tentjies geslaap word. Die toergroep word in groepies verdeel wat saam eet – elke groepie het onder meer ’n stoker (wat die gasstofies oppas) en ’n kok wat in beheer is van kosmaak. En ja, daar is steeds blikwassers – hulle was deesdae darem kleiner potte!

Ons familie het ’n besonderse verbintenis met die BTK en het al duisende kilometers saam met honderde wonderlike stapmaats afgelê.

My ma, Leonie, het in 1947 haar eerste toer meegemaak. Die treinrit na die Bosveld van Stellenbosch af was te ver (1 830 km!) vir haar om vakansies huis toe te gaan en sy het eerder die Boland en Suid-Kaap saam met die BTK platgetoer.

Leonie le Roux se familiebynaam is ná 70 jaar steeds “tannie Dok” – ’n naam wat oorgebly het ná ’n suksesvolle loopbaan as toontjiesdokter op baie BTK-toere. Een toerlid is verantwoordelik vir noodhulp (en stappers se blase!) en word “Tone” genoem. Op die foto is Leonie besig met ’n “operasie”.

Toe Piet le Roux, een van haar klasmaats, ’n paar jaar later ernstig begin ogies maak, wou hy natuurlik ook saamtoer... Hulle is in 1952 getroud.

In die sewentiger- en tagtigerjare het ons vier kinders ook op Stellenbosch gestudeer, en vakansies nie die 30 km huis toe (Goodwood toe) aangepak nie, maar eerder gaan BTK (ja, dis vir ons ’n werkwoord ook!). Japie, ek, Marié en Pieta het altesame meer as 20 toere gedoen.

My suster, Marié, het in 1979 vir Johan Schutte op ’n BTK-uitstappie naby Franschhoek ontmoet en hulle toer vier jaar saam voordat hulle in 1982 trou. Twee van hulle kinders, Lionie en Hendrik, is ook BTKaners.

My vier kinders, Piet, Esterbeth, Gerrie en Grietjie het ook van 2003 tot 2015 ge-BTK – ook altesame meer as 20 toere. Esterbeth het ook haar man, Francois Singels, in 2015 op ’n Weskustoer ontmoet.


Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #161 (Maart 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het – laat weet gerus as jy so iets raaksien. 
ONS SOEK JOU KIEKIES
Het jy mooi ou swart-wit foto’s wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Of foto’s van hoe jou dorp destyds gelyk het? Stuur dit na kyra.tarr@media24.com, en jou foto verskyn dalk in die tydskrif.