Verby plase met name soos Valkevallei en Knoffelfontein, verby leiklipgroewe, wildplase, beesplase – al langs die Klein-Maricorivier. Die landskap daal effens, en daar lê Zeerust. Dis nou as jy dit uit die suide benader, soos ek op ’n dag in Mei.

Coetzee-Rust is waar die naam vandaan kom: Eers die plaas van ene Casper Coetzee in 1858, en later Diederik Coetzee, wie se idee dit was om ’n dorpie hier te stig. En so het dit gebeur. In 1867 is erwe verdeel en teen 1880 is dit tot dorp verklaar.

En nou? Nou is ek hier.

’n Nartjie uit Mangope se boord

Ek het vir Vermaak Senosi belowe wanneer ek eendag langer as ’n halfuur op Zeerust is, gaan ek vir hom kom kuier.

Vermaak is ’n boskok vir Bhejane 4x4 Adventures wat toere saam met Weg aanbied. Hy is meer as net ’n towenaar agter die potte: Hy verwelkom jou altyd om die etensvuur met ’n glimlag, en is vol stories.

Ek ry dorp-uit in die rigting van die Skilpads-hekgrenspos met Botswana. Ná ’n ent draai ek regs by Lehurutshe. Hierdie gebied was in die verlede deel van Bophuthatswana.

ZEERUST

As jy op jou padkaart kyk, sal jy byna geen dorpe hier gemerk sien nie, maar die werklikheid is anders: Kort-kort ry ek deur ’n uitgestrekte, netjiese dorp waar die huise ruim erwe het, groot bosveldbome skadu gooi oor wagpunte by kruispaaie en vee los loop tussen kinders op pad skool toe.

Ek kry vir Vermaak by die polisiestasie op die dorpie Motswedi. Ons ry na sy huis vir tee en beskuit.

Wil ek nie een van die dogters van Lucas Mangope, die ontslape leier van die voormalige Bophuthatswana, ontmoet nie, vra Vermaak later. Dit blyk dat die Mangopes omtrent Vermaak se bure is, en as jong man was hy goed bevriend met een van die Mangope-seuns.

Oor die verloop van die volgende uur of wat ontmoet ek vir Keabaitse Mangope, sien ’n geliefde stoel waarop haar pa graag gesit het, eet ’n nartjie uit die Mangope-boord, besoek ’n vervalle aanloopbaan wat in die apartheidsjare gereeld gebruik was, en sien die standbeeld van Lucas Mangope, opgerig ná sy dood in 2018, naby die kgotla in Motswedi.

“Motswedi is ons huis, en huis is die beste. Dis ontspanne en rustig hier. Die grond is ryk en vrugbaar en jy kan enigiets plant: Ons is sitrusboere, maar ons het ook lietsjies. In Motswedi het elke tweede of derde huis ’n vrugteboom op die erf,” sê Keabaitse Mangope

Hierdie hoender is van Pretoria

Ek groet vir Vermaak en piekel terug Zeerust toe. Dis mooi hier en ek ry stadig. Op die dorpie Borakalalo hou ek stil om ’n foto te neem en ontmoet vir Alpheus Kagiso Mongae. Hy wys vir my sy oupa se ou handploeg wat nou onder ’n boom staan en roes. Alpheus onthou hoe hy en sy suster, Kelebogile, as kinders op Oupa se plaas gaan help mielies plant het.

“By die huis plant ons spinasie, aartappel, uie en beet. My suster het ’n haarsalon langsaan. Toe ons kinders was, het ons mielies op my oupa se plaas geplant,” vertel Alpheus Kagiso Mongae van Borakalalo.

Ek leer ook meer oor hoenderpote. Virginia Magakgala staan voor die Moote-gesin se huis en braai terwyl die broer en suster Kaizer en Cynthia Tshidi Moote saam met hulle ma, Josephine Kedibone Moote, in die koelte sit en kuier. Ek koop ’n hoenderbinnegoedsosatie (R7) en ’n klein sakkie grondbone (R5) om aan te kou terwyl Kaizer vertel van hoenderpote. (Nee, ek het nie kans gesien dáárvoor nie...)

Cynthia Tshidi Moote (links) en Virginia Magakgala braai hoenderpote en sosaties in Borakalalo, noordwes van Zeerust.

“Hierdie hoenderpote is van Pretoria,” sê hy. Kaizer werk in Johannesburg by Standard Bank en is op verlof. “Die hoenderpote uit die stad is beter, hulle het meer vleis. Jy kan nie hierdie hoenders se pote eet nie.” Hy wys na ’n hoender in die jaart. “Hierdie hoenders is hardbodies, jy sien!”

Ek ontmoet later vir Bertha Lewis op Zeerust, die enigste kontakpersoon wat ek hier gehad het. Sy het haar eie streekskoerant bedryf, maar is deesdae gehoorkundige op die dorp. Haar man, Riaan, besit die Toyota-handelaarskap.

Ons gaan sit by ’n tafel in die Wimpy – dis blykbaar die beste koffiewinkel op die dorp. (Later het ek beter koffie opgespoor: die restaurant by Kareespruit, ’n gastehuis aan die westekant van die dorp.)

“Ek is al van 2003 op Zeerust, maar my ma is hier gebore,” vertel Riaan. “Almal voel soos familie hier, en as jy weggaan, mis jy die plek binne twee dae.”

“Anders as in die stad is jy nader aan mekaar se blydskap én hartseer,” sê Bertha. “Almal waai vir jou by die stopstraat, of iemand sal vra ‘Hoekom staan jou bakkie by die koöperasie?’ Jy word raakgesien op Zeerust. Ek het een slag by die Pick n Pay nie my beursie gehad nie, toe laat hulle my gaan en ek het eers die volgende dag kom betaal!”

Die R49-teerpad loop oor Scheftonsnek – in die verte lê Zeerust

Ek slaap vanaand noord van die dorp. Die R49-teerpad klim eers oor Scheftonsnek, daal weer. Ek draai regs op ’n grondpad wat my ’n paar hekke later op die Doornrivier 4x4- gasteplaas aflaai. 

Ek ry verby rye hoenderhokke (hier is oral hoenderboere rondom Zeerust) en die plaasopstal.

André van der Merwe, die eienaar, kom groet en sê ek moet saamry. Ek klim in sy Amarok, met die honde Seun en Brakenjan, wat saam draf.

“Hoenders, ja, maar ook brahmane en bonsmaras,” verduidelik André oor hulle boerdery. Hy is gebore op Zeerust, een helfte van ’n tweeling, en al 30 jaar op die plaas.

André van der Merwe, saam met sy honde, Seun en Brakenjan, kyk uit oor sy plaas, Doornrivier 4x4

“My pa het die skoolbus gery en tambotiemeubels gemaak van hout wat hy gekry het op die plaas Leeufontein, waar ons grootgeword het.”

Ons bereik die bopunt van ’n stywe stukkie bergpad – die honde se tonge hang al teen hierdie tyd – en André parkeer by ’n mooi uitkykpunt oor sy plaas en die vallei wat rofweg van oos na wes strek. Zeerust lê buite sig, agter die berg na die suide. In die verte sien ek waar groot vragmotors op die N4 ry.

“Als noord van die N4,” verduidelik André, “kan jy maar sê is Bosveld. Suid daarvan is ’n deel wat ons die Klipveld noem; dis nou waar daar geen saaiplase is nie. En dan, verder suid, waar die saaiplase weer begin, is ook waar die Hoëveld begin.”

Van kruike en klipdagga

Foto: Toast Coetzer
Andrew en Christine L’Estrange in hulle huis langs die Koedoesfonteinpad tussen Zeerust en Groot-Marico. “Ons het vrede hier,” sê Andrew. “Ons kyk hoe die koedoes water drink in die tuin, en hoe blouape lemoene kom gaps."

Andrew en Christine L’Estrange bly op ’n plasie langs die Koedoesfontein-pad, tussen Zeerust en Groot-Marico. Dis net suid van die N4, dus seker in wat André die Klipveld noem.

Die L’Estranges is al 14 jaar hier en het voorheen by Skeerpoort naby die Hartbeespoortdam gebly. Andrew is ’n pottebakker, en is tans besig om enorme potte te maak vir wynmakers wat antieke metodes wil volg.

“Ons was gister Viljoenskroon toe om Haaskraal-klei te gaan haal, dis van die beste terracotta-klei in die land,” vertel Christine. “Ek beplan om die Haaskraal-klei te meng met Grahamstad-kaolien,” sê Andrew. Hy praat begeesterd oor sy potte. “Die hele proses van klei meng is soos alchemie. En pottebakkery is 90% voorbereiding – die fynmaal en meng van die klei, byvoorbeeld. Dis eers wanneer die pot gebak is wanneer jy weet of dit ’n sukses was of nie.

“Pottebakkery is so ’n mensding. Vir my gaan dit daaroor om die verlore kuns – en nuttigheid – van potte te vier. Dis nie net vir die mooigeit nie. En dis wat my onlangs laat belang stel het in wynpotte. Dit het als waarna ek soek in ’n pot: dis mooi, dis bruikbaar, en dis outentiek.”

Ek stap saam met Andrew na waar hy die klei fynmaal. Dit lyk soos donkiewerk; ’n toneel uit die Middeleeue. Hy sit letterlik skouer aan die wiel om die maalwerk te doen.

“Dis vir my lekker om als self te doen,” sê Andrew. “Ons leef deesdae in ’n wêreld waar ons dikwels verwyder word van hierdie prosesse. Ons weet byvoorbeeld nie eens hoe om ons eie karre reg te maak nie. In die ou dae het mense werklik ’n ding geken. ’n Ystersmid, byvoorbeeld, het áls geweet van yster.”

“Dis vir my lekker om als self te doen,” sê Andrew. “Ons leef deesdae in ’n wêreld waar ons dikwels verwyder word van hierdie prosesse."

Wanneer ons weer by die huis gaan sit en koffie drink saam met Christine, vertel sy my van hulle afgesonderde leefstyl hier.

“Aanvanklik het ons sowat drie of vier keer per jaar Johannesburg toe gegaan – maar ek dink ek was nou twee jaar laas daar! Ons dink selfs twee keer voor ons Zeerust toe gaan.”

Net ’n entjie verder met die Koedoesfontein-pad spoor ek vir Kathy en Zak Herbst op. Hulle het meer onlangs hierheen uit Gauteng getrek. Hulle opstal aan die einde van ’n smal sandpaadjie voel soos ’n toevlug: ’n Huis waaroor enorme jakarandas waak, ’n tuin wat omarm word deur kliprante en ’n boord avakodopeerbome. In die vyf jaar dat hulle hier woon, het hulle ’n klein besigheid op die been gebring, Herbs Infusion.

“Dit was eers ’n stokperdjie, maar deesdae word dit ’n bron van inkomste,” vertel Kathy in haar kruietuin. Hier staan roosmaryn, origanum, tiemie, smeerwortel, basilie en klipdagga.

Kathy maak onder meer kruiesout en allerhande salfies wat byvoorbeeld help met vel wat erg deur die son gekarnuffel is. “Ons doen als organies,” vertel Kathy. “En ons doen als self, van die sny van die kruie tot die uitdroog daarvan.”

Toe hulle hierheen getrek het, het dit egter oor meer gegaan as die fonteinwater wat hulle hier kan gebruik vir die kruietuin en avokadoboord. Hulle het ook ’n plek kom soek waar hulle iets geesteliks kan ervaar.

“Toe ons daardie eerste keer na die eiendom kom kyk,” vertel Zak, “het ek hier teen die koppie uitgeklim en die bries daar bo gevoel. Ek het dadelik besef dat ek hier nader aan my Skepper kan kom lewe.”

Die Bosvelddorp groter as Kaapstad

Dis nou tyd vir die Enzelsberg. Hierdie knoets berg noordoos van Zeerust is bekend vir sy bome, smal klowe en rotsformasies wat aan die Sederberg herinner. Ek slaap vanaand by Diep ini Bos, Jan en Tersia Roos se oornagplek aan die noordekant van dié berg. 

Hier word met onder meer wild en hoenders geboer, maar wanneer ek saam met Jan in sy bakkie spring om berg-uit te ry, wys hy my ook ’n landerytjie met proteabosse.

Ons ry teen ’n steil bergpaadjie uit tot bo-op die berg waar dit ’n plato vorm. Oral steek knoetse en plate rots uit, verweer op die manier wat jou vertel dat hier lank gelede baie water moet gewees het. By een van die plate klim ons uit.

Jan vee los grond uit holtes wat in die klipplaat lê. Dis nie natuurlike holtes nie – dis die werk van mense wat eeue gelede hier gewoon het. Kruie of sade is hier gemaal – jare en jare lank – totdat holtes gevorm is. Plek-plek sien jy lae klipmuurtjies tussen die gras.

Net ’n paar plase verder wes van hier lê Ancient City. Dáár is die indrukwekkende ruïnes van ’n ganse stad, bekend as Kaditshwene. In 1820, toe die sendeling John Campbell dit besoek het, het ’n geskatte 20 000 mense daar gewoon. Sommige bronne beweer dit was meer mense as wat destyds in Kaapstad gewoon het!

Dit was die Bahurutshe, ’n Tswana-groep, en hulle het moontlik vir so lank as 400 jaar daar gebly. Hulle het yster gemyn en gesmelt om spiese en ander implemente te maak. Hierdie klipmure op Jan se plaas was satelliet-nedersettings van Kaditshwene.

Jan vertel van die verskillende klowe wat rondom die berg lê. Daar’s Houtboskloof, Tierboskloof, Watervalkloof, Ferreiraskloof en Spaanserietkloof. Ons bereik ’n uitkykpunt waar die landskap voor ons wegval en die Bosveld in al sy glorie tot in die dynserige vertes uitstrek. Met so ’n uitsig het jy nie veel verbeelding nodig om jouself die aarde voor te stel in ’n tyd voor bakkies, hoenderhokke en mynskagte nie.

Op ’n dag wanneer die lug mooi skoon is, vertel Jan, kan jy vér sien – bakens soos Silkaatskop, Abjaterkop en die Dwarsberg noord hiervandaan, wat lê in wêreld wat hulle die Agter-Bosveld noem; selfs die sementfabriek by Dwaalboom, wat omtrent 80 km ver is.

Met so ’n uitsig het jy nie veel verbeelding nodig om jouself die aarde voor te stel in ’n tyd voor bakkies, hoenderhokke en mynskagte nie.

Later eet ek aandete saam met die Roos-gesin. En twee veelkleurige parkiete, Bibbers en Dakfan, wat die vryheid van die huis geniet. Die Rose is dol oor diere. Behalwe honde het hulle in onlangse jare allerhande optel- en weesdiere grootgemaak, van Willem, die kwêvoël, tot ’n boerbok, ’n sivetkat en ’n eland (later geruil vir ’n pool-tafel).

Die volgende oggend stap Jan saam met my in die Watervalkloof tot by ’n dun, hoë valletjie waarvan die druppels neerklater in ’n poeletjie so groot soos ’n visdammetjie. In die vlak poel glinster munte, en onder die effense oorhangkrans is oorblyfsels van gesmelte kerse.

Die Enzelsberg is ’n heilige plek vir die Tswanas en ’n kloof soos hierdie word gereeld besoek.

Die nabygeleë Spaanserietkloof is smal – soms skaars 2 m – en die daglig daar bo tussen die twee kransmure lyk soos ’n posbusopening wanneer jy opkyk. Boomwortels strek soos die lang vingers van rotsklimmers na gleufies en gaatjies om aan vas te klou. Jan vertel dat luiperds hier hou...

Jan moet eers gaan werk, en ek pak rustig my goed by die kothuis. Terug op die grondpad, reg langs Jan-hulle se plaas, vang ’n algemene handelaar my oog. “H. Tajbhai & Sons,” lees die verbleikte bord. Dit lyk toe, maar daar’s ’n klokkie. Ek lui en nie lank nie, of ek hoor ’n stem van binne en die deur skuif oop.

Foto: Toast Coetzer
Khalil Hayat

Stories uit die stiltes

Só ontmoet ek die Hayat-familie. Die “H” op die winkelnaambord staan vir “Hayat,” vertel Khalil Hayat. “Maar die Tajbhai staan daar omdat my oupa saam met dié familie van Indië af gekom het.”

Dit was in die jare twintig, en teen 1936 het Khalil se oupa dié 40 ha-plasie by Enzelsberg vir 400 pond gekoop. Die huis op die eiendom dateer uit 1906, en die Hayats het deel daarvan as winkel ingerig, en woon in die ander helfte. “Selfs van die sinkplate is nog die oorspronklikes,” sê Khalil.

Ná ’n tyd in Dublin en Londen het hy eers in Durban en Johannesburg gewerk, maar in 1981 het Khalil terug plaas toe gekom om sy ouers te help.

“Ek het in my hart gevoel ek moet terugkom sodat ek ’n bietjie tyd saam met my ouers kon deurbring,” sê Khalil. “Hulle was my ouers, maar ek het hulle nie geken nie, jy weet. Ek voel nou, as ek terugkyk, dat dit ’n gedagte was wat die Here in my ingesit het. Ek is bly dat dit so gebeur het.”

Mettertyd het Khalil getrou, en sy vrou, Khadija, van Kaapstad, was ook tevrede om op die plaas te kom bly.

“Ek het ’n baie goeie vrou, en ons is dankbaar, want ons het drie kinders, en nou het ons twee kleinkinders,” vertel hy.

’n Klant lui die klokkie en Khalil skuif die deur oop. Deesdae koop die mense net “airtime en koeldrank,” sê hy.

Die goue jare van die plattelandse handelswinkel is verby. “Ons het nie baie geld gehad nie, maar ons het ’n goeie lewe gehad,” sê hy. Hulle het hard – én slim – gewerk.

Khalil het elke Vrydag aan die einde van die maand met hulle vragmotortjie na die chroommyn by Nietverdiend (noord van hier) gery. Hy sou dan die mynwerkers oplaai en aanry winkel toe. Laatnag sou hy hulle terugry na hulle huise. En vroegdag Saterdag het hy wéér gery, dié slag om die vroue op te pik om hulle aankope te doen.

Tersia, Jan se vrou, hou buite stil en ons gaan staan in die deur en groet. Ná ’n ruk kom groet Jan ook.

“Die Here is my nommereen-protector, en daarna weet ek ek het goeie buurmense,” sê Khalil wanneer hulle ry. Hy vertel hoe Gerrie Roos (’n familielid van Jan, wat nou al oorlede is) ’n stoor aangebied het as troulokaal die dag toe Khalil se dogter wou trou.

Hy nooi my deur ’n binnedeur na hulle huis. Hier heers ’n gans ander atmosfeer as in die winkel. Als is sierlik, van die geraamde portrette tot die outydse meubelstukke. Dis koel, met hoë plafonne. Uit die kombuis ruik ek iets lekkers. Uit ’n donker kamer verskyn Khalil se ma, Rabia – sy is 91. “Ja, dis ’n baie ou huis,” sê sy, “dis nie eens met sement gebou nie; dis met modder gemessel.”

Khalil kom terug van die kombuis af om met sy kleinkind, Asma, te kom spog. Oumagrootjie Rabia se gesig verhelder. “So ’n klein ou dingetjie gee soveel lewe en vreugde,” verduidelik sy. “Anders is die huis so stil, maar met Asma moet jy heeldag gesels en vra, is jy honger, waar wil jy gaan?”

“Is jy ’n plaasbaba?” vra Khalil vir die baba en glimlag soos net ’n oupa kan.

Buite skyn die son, en ry ’n bakkie iewers stof uit die aarde. In die hoofstraat van Zeerust ry vragmotors en busse in dubbelbane voor wegneem-restaurante en petrolstasies verby. Daar is toue by kitsbanke en frustrasies in die koerante. Daar is ’n wêreld wat voortrammel, en mense wat hulle haas na wie weet waar.

Hier by Enzelsberg vlieg neushoringvoëls van boom tot boom. ’n Kwêvoël kwê. ’n Klipruïne lê tjoepstil. In Spaanserietkloof knip ’n luiperdoog. En hier agter die toe deur van H. Tajbhai & Sons gaan die plattelandse plaaslewe voort.

Doornrivier 4x4
DIEP INI BOS
ANCIENT CITY

BLY HIER

Doornrivier 4x4 het verskeie 4x4-roetes (berge, klippe, sand, modder, ’n donga wat soos ’n slang krul). Verblyf is onder meer in ’n groot plaashuis met vier kamers – veral geskik vir ’n groot groep.

Koste: Kamp: R100 p.p. Kamers: vanaf R500 p.n. vir 3 mense. Eenhede: Vanaf R300 p.n. vir 2 mense.

083 276 5081 (Mariesa; stuur WhatsApp); andrev@gds.co.za

Diep ini Bos het ’n netjiese kampplek en twee selfsorgchalets met slaapplek vir 6 mense elk. Dis teen die Enzelsberg, en jy kan na die Watervalkloof stap van hier af. Klein honde is welkom, maar jy moet vooraf reël.

Koste

Kamp: R300 p.n. vir 2 mense. Chalets: R2 400 p.n.

083 555 6953 (Tersia; stuur WhatsApp)

Ancient City is op dieselfde plaas waar jy na die ruïnes van Kaditshwene kan kyk. Wildsbokkies kom vreet saans op die grasperk, en hier is ’n lapa waar jy kan braai en kuier.

Koste: Huisies kos R150 p.p. Toere na die ruïnes is R50 p.p.

jenny@kaditshwene.com