foto’s Helenus Kruger
Naweekkamp
Naweekkamp

Sommige kampplekke is deesdae só gewild dat jy selfs vir ’n gewone naweek maande vooruit al moet bespreek. Dinokeng Camp & Leisure, die nuutste kampplek in die noordwestelike deel van die Groot 5-reservaat Dinokeng, is een so ’n plek.

Vroeg in Desember verlede jaar toe die eerste kampeerders al op pad was, het die eienaars, Devan en Carla van der Merwe, nog gewoel en werfskaf om alles gereed te kry. Teen die tyd dat die Kersfees-kampeerders ingetrek het, was die kampterrein klaar, die nuwe kouewaterswembad vol en die gras rondom reg vir sonbaaiers.

Wanneer jy bespreek, stuur Carla-hulle vir jou ’n staanpleknommer en die hekkode. By jou aankoms ry jy dan sommer direk tot by jou staanplek, trek jou wa reg en begin opslaan. Carla sê omdat hulle nog so nuut is, is daar nog nie ’n ontvangskantoor nie – daarom maak sy laatmiddag se kant ’n draai by die kampterrein om almal welkom te heet en die papierwerk af te handel.

Die kamp se 20 staanplekke lê in ’n U-vorm langs mekaar en jy het net weerskante van jou bure. Afhangende in watter rigting jy jou voordeur laat kyk, kyk jy uit óf oor die veld óf oor die kampplek.

’n Lae halfmaanbetonwalletjie tussen die staanplekke dien nie net as die grenslyn tussen staanplekke nie, maar huisves ook al die waterpype, ver weg van waar tentpenne hulle vol gate kan steek. Pasop net dat jy nie oor die walletjies ry wanneer jy jou wa staanmaak nie, want die betonlaag is nie sterk genoeg vir jou voertuig se gewig nie.

Die staanplekke is groot – 17 x 24 treë – en daar is heelwat ruimte tussen jou en die bure. Devan sê die staanplekke is groot genoeg om tot drie woonwaens op een staanplek te trek wanneer jou vriende saam kom kamp. Die hoekstaanplekke (nr. 10 en 11) aan die heel verste punt van die kamp het die meeste privaatheid, met ’n wye uitsig oor die veld, terwyl staanplek nr. 1 en 20 by die ingang lê en heelwat besiger is met al die kampeerders wat in en uit die kamp ry.

Die kortgesnyde veldgras op die staanplekke is skraps, maar elke staanplek het ook ’n geplaveide blad van 10 x 10 treë waarop jy jou wa of tent moet staanmaak. Jy kan maar jou boor by die huis los, want die blad se stene is losserig gelê en jy kan jou tentpenne maklik tussenin inslaan.

Skaduwee in die kamp is skraps. Omtrent ’n driekwart van die plekke het ’n boom iewers op die staanplek, maar dit is nie noodwendig by die plaveisel nie, wat beteken jou wa staan in die son. Hier is darem heelwat bome wat genoeg koelte maak sodat ’n mens onder hulle kan sit. Dit is net staanplek nr. 13 waar die bome groot en naby genoeg aan die plaveisel is en tot middagete koelte oor jou tent gooi.

Elke staanplek se braaier (met ’n rooster) kan rondgeskuif word. En as jy klaar gebraai het, kan jy die braaier se bak in sy raamwerk laat sak tot net bo die grond en ’n kuiervuurtjie aansteek. Die staanplekke het elk ’n vullisdrom, kraan en kragpunt (gewone sok).

Deel van die kamp se netjiese gevoel is danksy die vullisdromme wat weggesteek word in die geboude hokkies tussen die staanplekke. Die kragpunt en kraan sit aan die buitekant van die hokkie en ’n 20 m-verlengkoord sal meer as vol doende wees om die krag tot by jou wa te kry.

Die badkamers by Dinokeng Camp & Leisure sal menige ander kamp jaloers maak. Die ruimte en fyn aandag aan die ontwerp met ’n kombinasie van spartaans en modern maak jou sommer lus om te gaan stort.

In die mansgeriewe het die algemene deel meer as genoeg plek sodat almal maklik kan beweeg. Wanneer jy instap, is daar aan die een kant vyf wasbakke op ’n blad met houtafwerking. Een van die vyf wasbakke is laer geplaas sodat die jongspan ook kan bykom. Die moderne keramiekwasbakke vorm ’n mooi kontras met die kopertuinkrane. Vloeibare handewasseep en papierhanddoeke word verskaf. Hier is nie hakies teen die mure nie, maar die spasie tussen die wasbakke is groot genoeg vir jou badsakkie. ’n Spieël so lank soos die blad is teen die muur bo die wasbakke vas. Jy kan jou skeermes (of haardroër) by die muurprop langs die spieël inprop. 

’n Herlaaibare LED-liggie skakel outomaties aan wanneer dinge met beurtkrag donker raak. Die vyf stortkamers se stort- en aantrekkant word met ’n muur geskei en ’n stortgordyn hou die meeste van die water binne die stort. Soos by die wasbakke is hier ook koperkrane en die waterpype loop teen die muur. Binne die stort is ’n seeprakkie en in die aantrekgedeelte drie hakies en ’n houtbankie. Hier is drie toilette.

Die stortmure en vloere is geteël en die res van die mure ongepleisterde sierstene. Die vullisdrom, emmer, dweil en besem is binne maklike bereik sodat jy sommer gou jou modderspore kan skoonmaak. Die skoonmakers kom loer ieder geval gereeld of alles nog skoon en reg is.

In die vrouegeriewe is die uitleg basies dieselfde as by die mans, met hier en daar ’n verskil. Die algemene deel is twee keer die breedte van die mans s’n, hier is ses toilette, en in die plek van die vyfde stort is daar ’n badkamer. Iets wat jy nie aldag sien nie, is die babakassie in die middel van die vloer met ’n werkoppervlak waarop jy jou baba kan neerlê om ná badtyd met poeier en room te bederf.

Die rolstoelvriendelike badkamer is aan die sykant van die gebou, en om die hoek teen die ander sykant die skottelgoedopwasplek met vier vlekvryestaalopwasbakke (twee enkel en twee dubbel) en ’n dubbele wasbak waar jy kan klere was. Die leegmaakpunt vir kassettoilette is langsaan.

Die kamp se aktiwiteite is net genoeg om die rusteloses besig te hou, sonder om afbreuk te doen aan die rustige atmosfeer. Die kouewaterswembad is ’n entjie weg van die kampplek, naby aan staanplek nr. 1 en 20. Om die swembad is ’n plaveistrook en dan gras. Hier is ’n klompie bome waaronder jy kan sit, en twee staalafdakkies met bankies. Langs die swembad is twee trampoliens en ’n vlugbalbaan.

As jy uitgekuier is by die swembad, kan jy afstap na die grasdaklapa, waar daar ’n grootskerm-TV met DStv is. Die kamp het nie ’n winkel nie, maar jy kan hout, brikette, vuuraanstekers, water en ys by die lapa kry. Hier word almal vertrou: Jy skryf net wat jy neem in ’n boek neer en betaal vir Carla voor jy vertrek. Langs die lapa is die boma waar daar saans ’n groot kuiervuur gemaak word en jy saam met vriende en medekampeerders kan kuier en ’n vleisie braai.

Onthou om jou visgerei in te pak. Devan sê hier is ’n paar mooi groot kurpers en babers in die dammetjie. Langs die dam is ’n voëlskuiling wat met ons besoek nog in aanbou was.

Die Safari Mall is die naaste plek as jy iets by die huis vergeet het. Hier is ’n kruidenierswinkel, slaghuis, drankwinkel en restaurant wat alles van ’n skroewedraaier tot ’n lekker ontbyt verkoop. Die slaghuis se peperdroëwors (R265/kg) is ’n wenner. Jy kan ook tenk hier volmaak.

As jy ná ’n dag of twee se rondsit verveeld raak, is hier heelwat aktiwiteite in die omgewing om jou besig te hou. Jy kan op ’n selfrywildrit gaan (kry jou permit en kaart by die Tau-hek), vroegoggend in ’n lugballon sweef saam met Big Sky Ballooning ( dinokengreserve.co.za), gaan apies en eksotiese voëls kyk by Mystic Monkeys & Feathers ( mystic monkeys.co.za) en by een van die vele restaurante by die lodges iets gaan eet en drink ( dinokengreserve.co.za). Baie van die lodges bied ook begeleide wildritte op hulle eie wildkykvoertuie.


Kobus en Marietjie van den Berg van Benoni kamp met ’n Sprite Sport wat hulle met ’n Ford Everest sleep.

“Ons hou daarvan om te kamp waar daar veld en baie diere is. Ons verkies ’n rustige atmosfeer en gaan glad nie na besige oorde toe nie. Dit is hoekom dit so lekker is hier by Dinokeng Camp & Leisure. Die Dinokeng-reservaat, waar jy op ’n wildrit met jou eie voertuig kan gaan, is om die draai, en die groepie njalas wat gereeld deur die kamp beweeg is ’n bonus.

"Ons hou van die gerief om op plaveisel te kamp, en met die gemerkte grenslyne van die staanplekke weet jy presies waar jy jou wa kan staanmaak. Ons hou ook daarvan om die braaier te kan rondskuif soos dit ons pas. Die badkamers is goed ontwerp: Jy kan sommer sien Carla-hulle weet wat hulle doen.”


Lorraine en Bernard Maritz en hulle seuns, Gerhard (8) en Stephan (11), sleep ’n Gypsey Regal met hulle Toyota Hilux.

“Ons kamp die afgelope drie jaar, en dié ablusiegeriewe is die beste wat ons nog gesien het. Die uitleg is prakties en ons hou van die gerief van handewasseep, papierhanddoeke en ’n noodliggie vir wanneer die krag afgaan.

"Die staanplekke is groot en ’n mens kry nie ’n ingedrukte gevoel soos by sommige ander kampplekke nie. Vir die kinders was die trampolien die hoogtepunt en hulle het heeldag hier uitgehang. Hulle het darem ook geswem en met hulle fietse in die veldpaadjies gery.

"Dit is lekker dat hier ook selfsorgeenhede is. Dit gebeur gereeld dat familie of vriende wat nie kamp nie, saam wil kom kuier en dan is daar vir hulle verblyf.”


Kortliks | Dinokeng Camp & Leisure

Kampplek: 20 staanplekke met ’n plaveiblad vir jou woonwa, maar min koelte.

Ablusiegeriewe: Ruim geriewe met ’n aparte rolstoelvriendelike badkamer.

Prys: Naweke en vakansies R450 p.n. per staanplek vir tot 6 mense. Die tarief in die week is R200 p.n.

Kontak: 083 271 4242 (Carla) of 082 752 6318 (Devan); dinokengcl@gmail.com

Facebook: Dinokeng camp and leisure lodge

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 10:00, tensy anders gereël.

Hoe lyk die pad? Teerpad met die laaste 4 km grondpad.

GPS: S25.357005 E28.392172

Ry & Sleep As jy jou en jou ander helfte wil bederf, kan jy bespreek vir ’n masseersessie langs die dam teen R250 p.p.