Die Doodsakker in Angola is een van die ikoniese 4x4-bestemmings waar avontuurryers hulle kamvuurstories versamel. Maar dié stories het nie altyd ’n gelukkige einde nie, soos die Slabberts van Randburg ontdek het. Die voorval het al ’n rukkie gelede plaasgevind, maar bly een van die legendariese WegRy-lesersverhale. 

Deur: Anneli Groenewald


Dis bekend as die Doodsakker – die 60 km lange smal strand noord van die Kunene in Angola. Die laaste 18 km is op kaarte gemerk as “Uiters Gevaarlik”.

As die springgety laag is, kan jy noordwaarts deurry na Tombua, maar net as jy die omgewing ken en weet hoe die see en die weer gaan verander. Die alternatief is ’n dag lange ompad binneland langs deur die Iona Nasionale Park.

’n Paar jaar gelede het die ervare Johan Badenhorst se Voetspore-span byna hulle moses hier teëgekom.

Johan het toe al geskryf jy’t ’n bietjie meer as net kennis en ervaring nodig: “Dis ’n plek waar jy die gety moet reg lees, waar jy ’n bietjie vernuf moet hê, ook ’n bietjie geluk, en natuurlik ook ’n behoorlike voertuig.”


Ervaring is nie alles nie

En nou het die Doodsakker weer toegeslaan. Anton en Annemarie Slabbert van Randburg ry al jare lank kruis en dwars oor Suider-Afrika.

Die Slabberts was nie onverskillig of onvoorbereid nie en het jare se 4x4-ervaring.

Anton noem op: “Ons is al deur die héle Suid-Afrika, Namibië, Botswana, Mosambiek, Malawi en Zambië.”

En die twee paartjies wat saamgery het, Lappe en Salomie Labuschagne en Wittes en Susan Heymans, het almal meer as tien jaar se 4x4-ervaring. 

Die groep het middel Junie op hul tog vertrek. Die Slabberts in ’n Toyota Hilux KZ-TE, die Labuschagnes in ’n Toyota Land Cruiser-dieselbakkie (“Boela”), en die Heymans-egpaar in ’n Toyota Hilux 3.0 D-4D, almal in radioverbinding met mekaar.

Sondag 20 Junie is hulle by Ruacana deur die grens. Teen die Dinsdag was hulle by die mond van die Kunene, Foz do Cunene, hul laaste stop voor die Doodsakker. 

“Als het relatief goed gegaan tot by Foz do Cunene,” sê Anton. “Op pad moes ons ’n beskadigde pypie tussen die hoof- en ekstra dieseltenk vervang en later het ’n groot klip die wish bone onder die bakkie getref, maar niks was te ernstig nie.”

Die plan was om twee nagte by Foz do Cunene te oornag en te wag vir springgety sodat hulle met gemak deur die Doodsakker kon ry. 

“Maar toe ons daar kom, was die eienaar van ons bespreekte huisies nie daar nie. Hy moes van Tombua af deurkom om te kom oopsluit, en om raad te gee oor die Doodsakker,” vertel Annemarie.

“Ons het bespiegel dat as hy voor springgety deur die Doodsakker na ons toe kon ry, kan ons óók vroeër deurgaan.”

Min het hulle geweet dat die eienaar júis nie deurgekom het nie omdat die kouefront uit die suide besig was om ’n deining van drie tot vier meter op te stoot. “Ons kon glad nie ’n satellietfoon in die hande kry voor ons toer nie. As ons een gehad het, sou die eienaar ons kon waarsku.” 

“Toe kom daar ’n toergroep uit die noorde aan wat pas deur die Doodsakker gery het. Hul Namibiese gids het sy getykaart vir ons gegee en ons verseker dat ons maklik kon deurry. 

“Omdat ons die regte kamptoerusting gehad het, het ons besluit om daardie aand op die strand te kamp, so naby moontlik aan Baía dos Tigres, die beginpunt van die Doodsakker.”


Begin van die Doodsakker



Tot siens, liewe bakkie…

Die volgende oggend (die Woensdag) het hulle op grond van die gids se raad besluit om teen agtuur die Doodsakker aan te durf. 

“Ons het bereken ons moes ’n uur voor laagwater vertrek,” sê Annemarie. “En dis waar die sports begin het.”

Net voor Baía dos Tigres moet jy binneland toe swaai om ’n soutmoeras te vermy. “’n Mens ry skuins binneland toe tot teen die duine en dan om die swamps terug see toe.” 

Terug op die strand het hulle goed gevorder. Maar Lappe se Cruiser, wat voor gery het om ’n spoor te maak, het begin warm raak omdat hy elke nou en dan moes wag vir ’n groot brander. 

Wittes se Hilux het toe voor gaan ry. 

“Skielik het my bakkie in die sand gesak en is hy eenvoudig vasgesuig,” sê Anton.

Hy’t die ander per radio laat weet dat hy vasgeval het, en hulle het omgedraai om hom uit te sleep.

Toe het dinge skielik ernstig verkeerd geloop. “Ons het twee kinetiese bande gebreek om die Hilux te probeer uitsleep, maar kon hom nie uitkry nie,” sê Anton. 

Hulle’t ook probeer om die agterste wiel, met die band nou van die velling af, met die domkrag op te lig, maar daar was eenvoudig te min plek tussen die voertuig en die sand om die domkrag in te kry. 

“Ons was nog besig om die bakkie te probeer uitgrawe toe ’n groot golf onderdeur die bakkie tot teen die duin slaan. Dit het die bakkie net verder laat vassuig. Tóé’t ons besef dis tyd om ’n harde besluit te neem. Ons moes spore maak,” sug Anton. “Ek het die noodwiel op die dakrak vasgemaak, die radio gegryp en die kar gesluit. Wie weet waarom?”

Annemarie het hulle dokumente, haar grimeertassie, handsak en kamera gegryp en saam met Lappe-hulle in die enkelkajuit-Land Cruiser gespring, op Salomie se skoot. Anton is saam met Wittes-hulle in die voorste bakkie, die Hilux, weg. “As jy ’n horisontale lyn van die bopunt van die eiland in die Baía dos Tigres trek, is dit omtrent waar ons die bakkie gelos het.”

“Nét om die eerste draai het die Cruiser se koppelaar die gees gegee,” sê Annemarie. “Gelukkig het Lappe duin se kant toe gery toe hy die probleem voel aankom. ’n Ent van die duin af wou die wiele nie eens meer draai nie. Ons het die twee noodwiele diep in die sand begrawe en die bakkie daaraan geanker met die wenas en ’n kinetiese strop. 

“Toe kom die gety behoorlik in,” sê sy. “Die water het teen die duin opgespoel, onderdeur die bakkie, en dan slaan dit hom weer van die duin se kant af. Soms het die bakkie opgelig, maar die ankers het gehou. Ons het soveel moontlik nooditems uitgegooi – waterkanne, belangrike dokumente, beddegoed…”

Lappe het in ’n stadium aanvaar dis klaarpraat met Boela. Dit het aand geword en later het die hooggety wéér ingekom. 

Hulle het op die radio vir Wittes-hulle laat weet die koppelaar is stukkend, sonder om te weet of die boodskap gehoor word.

Die wete dat hulle kos en water vir minstens ’n week gehad het, was darem ’n troos. Hulle het hulleself ’n ent teen die duin op gemaklik probeer maak vir die nag. Lappe het heelnag die branders dopgehou en kort-kort die ankers wat half oopgespoel het, toegegooi. 




Nie lank ná die twee voertuie geskei geraak het nie, het die nuwe Hilux ook vasgesit. Anton en Susan het uitgespring en gestoot. Toe die bakkie weer beweeg, het hulle agterop gespring en aan die dakrak geklou. 

Die tweede keer kon Anton nie sy greep op die dakrak kry nie, maar die Hilux het momentum gehad en moes aanry. Wittes het vir Lappe op die radio laat weet om Anton op te tel as hy van agter af verbykom. 

“Ek loop toe maar aan, maak my sakdoek nat en gooi dit oor my kop. Dit was warmer as 40 ºC en die oostewind het opgesteek. Ek het net ’n kortbroek en kortmouhemp aangehad – my sandale het in die Hilux agtergebly. 

“Ek het op die nat sand gebly, want my voete het gebrand. Ek moes myself oortuig ek was nie dors nie, en moes net aanstap… Ek het geskat elke tweede tree is ’n meter, en het 4,5 km getel voor ek by Wittes en Susan aangekom het.” 

Teen die tyd was dié Hilux ook reeds met die wenas se kabel in die duin geanker. 

Met die 30 m hoë duin met ’n helling van meer as 45°, het die sand voortdurend afgeskuif. “Jy kon nie jou sit kry nie. Dit was die eerste keer dat ek brulsand gehoor het,” sê hy.

“Teen sesuur die aand, toe die gety weer gesak het, het ons die woord ‘clutch’ en ’n vreeslike swets oor die radio gehoor. Ons was baie verlig om te weet die ander drie leef nog. Maar daarna was die radio stil.” Omdraai was nie ’n opsie nie.

Aanstoot wel, want hulle moes gaan hulp soek vir die res van die groep. “Ons wou by Tombua uitkom, sowat 60 km verder. Wittes se GPS het ’n ou weergawe van Tracks4Africa se kaarte opgehad, wat nie gehelp het om die pad te wys nie.

“Voor nege-uur die aand het ons binneland toe geswaai, die woestyn in. Nie lank nie of ons ry onsself in ’n moeras in met só ’n slag dat dit gevoel het of ons ’n bees getref het. Susan het amper van die konsole af deur die voorruit getrek,” onthou Anton. “Vas.”

“Jy’t omtrent 20 cm sand op die oppervlak, maar onder dit net water. Dit was baie koud en donker en die swaar hoogligdomkrag was verstop met sand en seesout. Ons het die gewone domkrag op vuurmaakhout probeer sit, maar dit het telkens weggesak.

“Teen middernag het ons besluit om eerder te rus – Susan agterin die bakkie op ’n matrassie, Wittes agter die stuurwiel en ek langsaan op die ander sitplek.”


Houvas, Wittes, houvas!




’n Dag lange stryd

Toe hulle sesuur die volgende oggend (Donderdag) uitklim, was Susan al aan die koffie maak: “Ons kry toe die groot domkrag met Q20 aan die werk,” vertel Anton. 

“Dit het lank geneem om net een voorwiel opgedomkrag te kry en pakkies vuurmaakhout, vloermatjies en vullissakke onder die wiel te pak. Susan se arms het so moeg geraak dat sy later met haar voete gegrawe het. 

“Die agterwiele was nog moeiliker. Ons het agteruit gery, maar die kar het binne ’n karlengte of wat weer vasgeval. 

“Dan begin jy weer van voor af. Dit was baie warm, en die son het ons voete ongenadiglik gebrand. Ek en Wittes se spiere het baie moeg en seer geraak.

“Susan het water en stukkies ys en kos aangedra. Sonder haar sou ons moed opgegee het. Ons was nie honger nie, maar het net geëet om energie te kry.

“Ná ons die bakkie die vyfde maal uitgegrawe het, het ons besluit om vorentoe te probeer ry. Dit het gewerk – skaars ’n uur voor sononder! Ons het ander voertuie se spore gesien en goed gevorder. Naby die see het ons besluit om nie weer die fout te maak om in die nag verder te ry nie. Ons het besluit om weer in die woestyn te slaap. Ons kon stort met die laaste bietjie water in die tenks en Wittes het vir my onderklere, ’n hemp en broek geleen. 

“Gelukkig was die sand uit my hare, ore, naels, voete en klere.” 


Op moedverloor se vlakte
Duin waar ons 5 dae teen moes sit en slaap



By die Land Cruiser teen die duin het Lappe, Salomie en Annemarie die nag oorleef. Vroeg die oggend, met laagwater, stap Lappe die see in en sien met ’n verkyker die Hilux KZ-TE staan nog waar hulle hom gelos het.

“Toe besef ek my laptop, ons dollars en my selfoon is nog in die bakkie, en ek besluit om tienuur die aand met laagwater terug te stap,” sê Annemarie. “Maar laat daai middag kom die hooggety met ’n vreeslike geweld in. Toe die see daarna met laaggety amper nie terugtrek nie, besluit ek om die stappery na die bakkie te los. 

“Deur die dag het ons probeer om Boela dieper in te grawe en vaster te anker as die water terugtrek. 

“Ek het later maar vrede gemaak dat die bakkie weg was. Ek was heeltyd bekommerd oor Anton en die ander, maar het nooit getwyfel dat die Here ons sal help nie.”

“In die nag het ons so hoog as moontlik teen die duin probeer opklim en slaap, maar die duin was op plekke skuinser as 45º en die sand het afgeskuif. Met die hoogwater slaan die branders van tot 5m hoog jou letterlik daar af,” vertel Annemarie.


Flukse soekgeselskap

Anton-hulle het die oggend (Vrydag) die dorpie Tombua bereik waar hulle met ope arms ontvang is.

“Ons is dadelik ingeneem in die burgemeester se ampswoning en ’n soekgeselskap is saamgestel. Dit het bestaan uit twee burgemeesters, polisielede, die hoofde van immigrasie en omgewingsake en ’n klompie ander amptenare. Almal in twee Land Cruisers en op ’n kwad. 

“Hulle was eers tienuur die aand terug, met leë hande.” Anton sê hy het eers geskrik, maar Ze, ’n Filippynse toerismebeampte, het ’n video aan hom gewys waar dié drie op die duin langs Boela sit. Die Cruisers kon nie by hulle uitkom nie, maar Ze het tot by hulle gery met die kwad.

By Boela teen die duin was die moreel baie laag. Hulle het nie geweet of Wittes-hulle kon uitry om hulp te kry nie. Met laagwater stap Lappe ’n ent suidwaarts en gaan sit teen ’n duin. Hy sien ’n motorband wat uitgespoel het. 

“Toe sien ons die wêreld is besaai met ons besittings, ook die yskas,” sê Annemarie. En toe sien hulle die bakkie. “Die branders het hom ’n paar keer strand se kant toe gerol, en dan trek die see hom weer dieper in. Hy het al uitmekaar gebreek. Daar was geen manier dat ons enigiets sou terugkry nie. Die ergste verlies is goed soos my voël- en soogdierboeke met jare se aantekeninge. Ook goed soos T-hemde en voertuigplakkers wat ons op ekspedisies versamel het. En natuurlik ook ons Bybels.”

Saam besluit hulle toe dat Salomie die 15-17 km tot aan die einde van die Doodsakker moes stap, waar ’n voertuig binnelands kon draai, die duine in. “Ons het geweet as Wittes-hulle daardie punt bereik het, was hulle koppe deur. Maar vir al wat ons weet, was hulle nog in die Doodsakker geanker, nes ons. Wittes se koppelaar het immers ook begin gly toe ons Anton se bakkie probeer uitsleep het,” sê sy.

Uiteindelik stap Salomie omtrent 12 km teen die strand af, en weer terug: “So ver ek loop, het ek Anton-hulle se uitgespoelde besittings gesien. Van die yskas en kruideniersware tot die sitplekke se sponse. Ek moes heeltyd teen die trane veg.

“Dit was baie warm en ek het nie genoeg water saamgevat nie. Gelukkig het ek op pad terug watersakkies opgetel wat uit Anton-hulle se bakkie gespoel het. 

“My voete het amper ingegee, want ek moes skuins teen die duine loop met hoogwater. Die water het my ’n paar keer teen die duin vasgespoel. 

“Maar ek kon darem die goeie nuus terugbring dat Wittes se voertuig nêrens in sig was tot by die uitspringplek na die duine nie.”

Teen laatmiddag het hulle die geknor van ’n motorfiets gehoor, en die kwad met Ze en sy kollega om ’n duin sien aankom. 

“Ons was baie verlig om mense te sien. Ze het verduidelik dat ’n reddingspan nie kon deurkom nie omdat die see nog te onstuimig was. Hy’t gesê hulle sou ons die volgende oggend met laagwater kom uithaal.” 

Annemarie sê: “Ons was uiters moedeloos. Ons moes nóg ’n nag half regop teen die duin sit, met ons onderbene en voete wat al erger geswel het van die sit op die duin.”

Die yskas word uitgespoel


Hulp is op pad



Redders op ’n kwad

Anton is vroegoggend (Saterdag) saam met ’n soekgeselskap van 14 uit Tombua weg, maar die Cruiser kon net tot sowat 9 km van hulle af kom. “Toe is ek saam met Ze op die kwadfiets verder.

“Watter wonderlike gevoel was dit nie om vir Annemarie, Salomie en Lappe te omhels nie. Groot trane het gevloei.

“Van ons Toyota kon ek nog dele uit die water sien uitsteek.”

Die plan was dat Annemarie en Salomie op die fiets sou teruggaan, maar Salomie het volgehou dat sy by Lappe wou bly en dat Annemarie vir Anton nodig gehad het. Uiteindelik is Anton en Annemarie soos sardientjies agterop die kwad daar weg. 

Lappe en Salomie het hulle weer reggemaak vir die nag. Hulle het dieselfde roetine gevolg as met elke getyverandering: Hulle’t Boela opgelig, sand onder die wiele ingegooi en weer laat sak, sand onder die bakkie uitgegrawe en die ankers styfgetrek. 



Alles eindig goed 

’n Afrikaanse man van Tombua, Jakes du Toit, het net na ligdag op Sondag, met die gety nog besig om te sak, met sy Land Cruiser VX-turbodiesel by Lappe-hulle aangekom. Drie helpers het op die kwad aangery gekom. 

Jakes het summier die ankers uitgegrawe en alles vinnig opgepak. Hy het hom tot so vinnig as 60 km/h gesleep op die strand, partykeer sommer deur die branders. 

By die uitspringplek het ’n hele geselskap uit die dorp gewag: “Die burgemeester van Tombua het ons omhels en foto’s is geneem.”

Uiteindelik was almal veilig.

Ná vier dae is die Hilux en die Cruiser se koppelaars vervang, en Lappe, Salomie, Wittes en Susan kon voortgaan met die reis tot anderkant Luanda. 

Maar Anton en Annemarie moes terugkom huis toe. Tombua se burgemeester het die groep vir drie dae soos konings onthaal in sy huis. Hy het selfs tandeborsels en ’n dokter gereël.

Die sakeman en vlieënier Mike Bosman, wat by die Flamingo-hengelkamp gekuier het, het vir die Slabberts twee gratis sitplekke in sy Lear-straler aangebied. Hulle het van Namibe na Kaapstad gevlieg. 

Anton en Annemarie se entoesiasme vir reis is nie geblus nie: “Ons sal beslis weer deur die Doodsakker gaan ry. Dié keer saam met ’n plaaslike gids. Ons sal ook nie weer twee uur te laat vertrek weens die verkeerde inligting nie. En nooit weer sonder satellietfoon nie. 

“Volgende keer ry ons tot by die Kongo.” 


Annemarie en Anton Slabbert agterna in die vliegtuig