Gerda Engelbrecht het in Léon weggetrek (330 km vanaf Santiago), maar ons plaas net die blogs oor die laaste 115 km wat Weg se stapgroep in April gaan aflê. Ons wag vir jou inskrywing! 

Dag se stats: Portomarin tot Palas de Rei

Afstand: 26,9 km

Hoogte geklim: 185 vloere

Treëafgelê: 41 237

Ek slaap sleg in Portomarin. Iewers in die nag het ’n muskiet my beetgekry en my vel is duidelik meer gewoond aan die Afrika-muskiete. Die Spaanse bytplekke brand dat dit bars. Boonop het die driekaaspastasous toe al die tyd drie kase te veel gehad, maar ek sal julle die details spaar. 

Ek eet om 07:00 ontbyt en ignoreer die kennisgewings dat jy niks uit die eetsaal in jou sak mag druk nie. Ek gaan ’n ekstra piesang nodig kry en die Brierley-gids waarsku dat die eerste restaurant eers ná 7,7 km op die roete is.

Franse Camino
By Portomarin se pelgrim
Franse Camino
Die dorp vroegoggend
Franse Camino
Die dorp vroegoggend

Ek sien nou dat Caminoways.com se aanwysings my gister met die maklikste roete na die Hotel Poussada geneem het, maar nie die kortste een nie. Die hotel is skaars 300 m van die pragtige stadsplein af, waar daar reeds ’n ry mense staan om hulle saam met die pelgrimstandbeeld af te neem.

Op die plein is die St. John-katedraal, wat in die era van die Tempelridders as ’n plek van aanbidding én ’n vesting teen invalle moes dien. Portomarin het 15 herberge en dis ’n gesig om in die helderpienk vroegoggendlig te sien hoe die pelgrims uit die verskillende rigtings stroom. Dis spitstyd op die Camino!

Franse Camino
Pelgrim-spitsverkeer
Franse Camino
Ons verlaat die dorp oor 'n ander brug as gister
Franse Camino
Die pyle wys waarheen

Die Knysna van Spanje

Dis nog ’n heerlike dag. Ons gebruik ’n ander brug om die Mino-rivier oor te steek, en daarna loop ons vir lang stukke op bospaadjies. Dit lyk soos Knysna. 

Franse Camino
Jy loop weer oor bospaaie
Franse Camino
En toe is daar 75 km oor!
Franse Camino
Gratis drukkies by hierdie eetplek
Franse Camino
Twee broers wat saamstap. Die een het lelike blase gehad en sleg gehink
Ek stap by die eerste twee rusplekke verby omdat daar reeds ’n leërskare pelgrims in rye by die koffietoonbank en toilet staan. Eers by die 10 km-merk, by Ventas de Narón, kry ek ’n koffiedrinkkans. Oorkant my, by ’n ander tafel, sit die skaaphond Jotti en sy baas. Jotti lê pootuit by sy voete. Omdat die pad vandag vir groot dele neffens die snelweg loop, moes Jotti tot nou toe aan ’n leiband stap. Hy lyk gefrustreerd.

Franse Camino
Die kilometers raak minder
Franse Camino
Die eetplek was stampvol
Franse Camino
Daai kleuter het 'n yslike bult uitgestap
Franse Camino
Die gesin later in die dag

By ’n ander tafel sit ’n gesin met ’n klein dogtertjie. Ek het hulle vroeër langs die pad gekry terwyl daai kleuter ’n tamaai bult uitgestap het. Ek sit in ’n hoek en probeer stil-stil my toon dokter, en onthou hoe ek skaars ’n week gelede gegril het vir ander mense wat in die koffiewinkels hul skoene uittrek. Nou is die enigste privaatheid wat jy kan kry egter die toilet, en daar staan pal ’n ry mense wat wag. Jy kan nie dáár tyd mors met pleisters plak nie.

Franse Camino
Pray and chill. Klink na goeie raad
Franse Camino
Kerkie langs die pad
Franse Camino
Nog 'n kuierplekkie
Franse Camino
'n Piekniekplek

Die honger pelgrim

Dis ’n stillerige dag. Ná die joligheid van Sarria is hier skielik aansienlik minder mense op die pad. Ek kom kort voor drie by Palas de Rei aan. My verblyf (by Pension Palas de Rei) is teen ’n laaste lastige bult uit, wat ek later weer moet uitstap nadat ek gaan aandete eet het. Ek sak al om 17:00 by die enigste oop restaurant op die dorp in, en vra met pleitende oë of hul kombuis oop is. Hulle bedien tans net drankies. Maar die eienaar knik in iemand se rigting, wat instem om spesiaal iets vir my te maak.

Ek hou die bestelling so eenvoudig as moontlik: ’n hoenderborsie en slaai. Ek sit in die restaurant ek kyk na ’n Spaanse mediese TV-program op die grootskerm. Ek probeer dink wanneer laas ek ’n Engelse TV-program gesien het (en of ek dit mis). Ek besluit ek mis dit glad nie.

’n Mens kan Palas de Rei maklik met verkeerde oë aankyk. Die dorp lyk te modern om ernstig as ’n Camino-dorp opgeneem te word. Die naam Palas de Rei is egter afgelei van Pallatium Regis, wat “paleis van die Wes-Gotiese koning Witiza” beteken. Witiza het van 702 tot 710 geregeer. Die dorp is ook een van die verpligte oornagdorpe in die Codex Calixtinus, die antieke geskrif waarop die hele Camino-roete gegrond is. Palas de Rei is dus so outentiek as kan kom en sy Camino-geskiedenis strek oor duisend jaar. As jy mooi kyk, sal jy eeue oue skulpsimbole teen mure en op die sypaadjies gewaar.

Franse Camino
Amper in Palas de Rei

Goeie nuus van die huis af

My suster het deur die loop van die dag ’n boodskap op Whatsapp gestuur dat my ma uit die waakeenheid na ’n gewone saal oorgeplaas is. My hart loop oor. Ons het almal ontsettend baie genade gekry. Ek kan dus al om 19:00 bel en met haar gesels. Môre is die laaste láng skof op my pad: 29 km na Arzua*. Daarna is daar nog net twee skofte oor tot in Santiago. Ná die vorige nag se muskietjagtog gaan ek vroeg inkruip.


Gerda het in September 2017 die Franse roete vanaf Léon gestap danksy borgskappe van caminoways.com, Cape Union Mart, Rehidrat en Jeep. Jy kan die blogs oor die stappery vanaf Léon hier onder lees. Weg neem in April ’n groep van 16 stappers op hierdie roete. *Hulle stap dieselfde roete as Gerda, maar hierdie lang skof word op Weg se toer in twee skofte gedeel.

Stuur e-pos na weg@flightsite.co.zaas jy wil saamstap. Dit kos sowat R29 000 per persoon wat deel.