Die Van Reenenpas was eens ’n roete waarmee boere met hulle vee in die winter van die Vrystaatse hoëveld na die groener weiveld van KwaZulu-Natal getrek het. Later jare het Frans van Reenen, wat aan die voet van die pas geboer het, op dieselfde roete met ossewaens gery om voorraad na die goudmyne op die Hoëveld te vervoer.

In 1891 is dié ossewaspore deur treinspore vervang. Die dorpie Van Reenen, genoem na Frans, is toe gebore, en in 1892 die hotel. ’n Halfeeu later – in 1948 – is die hotel tot die Green Lantern herdoop. Dis na aanleiding van ’n groen lig wat in die mis geskyn en aan reisigers gewys het hulle het dit tot bo gemaak; en dat hulle ’n drankie in die hotel moes kom drink.

Deesdae is die pad geteer en deel van die N3-hoofweg. Die pad skuur rakelings verby die dorpies Van Reenen en Swinburne. Maar net omdat die pad verby hou, beteken nie jy moet nie. Trek gerus af en laat dié pas en sy mense die pas aangee vir die res van jou vakansie. 

1. ’n Gas by ‘Fawlty Towers’

Green Lantern Inn

Wanneer jy by die Green Lantern Inn instap, voel dit asof jy op die stel is van Fawlty Towers, die Britse komedie wat baie gewild was in die 1970’s. Hierin moes ’n koppige hoteleienaar die een krisis na die ander afweer. Daar is wel een groot verskil: Waar daar in die televisieprogram nie veel gasvryheid ter sprake was nie, word jy by die Green Lantern gul ontvang.

Hier is nie kaartsleutels en stywe glimlagte nie, maar wel ouwêreldse sjarme. Dit was egter nie altyd die geval nie. Toe Bill en Gail Ross-Adams die hotel in 2012 gekoop het, was gaste bra skaars. “Ons moes mense se persepsies verander; hulle het opgehou om hiernatoe te kom,” vertel Gail, “die plek was vervalle.” “Die karre sou buite stilhou, ’n U-draai maak en wegry,” vertel Bill.

“Mense het nog gekom vir die Midmar-resies, maar hulle sou net ’n bier en hamburger koop,” sê Gail, “niemand het regtig vakansie kom hou nie. Iemand sou hoogstens een aand oornag.”

Die Inn se hedendaagse gewildheid is te danke aan Bill en Gail se toewyding. En die moedige ondersteuning van die donkie Bojangles.

“In die eerste jaar was ek nogal eensaam,” verduidelik Gail. “Ek wou graag iets vir myself hê, en ek het gedink aan ’n troeteldier, maar nie ’n hond nie, want ons wou mense aanmoedig om hulle eie saam te bring.”

En toe kry hulle vir Bojangles, ’n donkie wat op ’n plaas in die omgewing skape opgepas het. “Sy het aan die begin weggeloop as jy naby haar kom,” sê Bill, “maar Gail het haar mak gemaak.”

Bojangles,Green Lantern Inn

Nou kuier Bojangles saam met gaste in die kroeg. “Dis soms moeilik om haar uit te kry!” sê Gail. “Dan moet ons haar omkoop, maar donkies doen mos net wat hulle wil. Sy is al ’n legende hier rond.”

Bojangles hang gereeld in die kroeg rond, kompleet met haar hoedjie waarin Gail gate vir haar ore gemaak het. Oral in die kroeg is besigheidskaartjies en wedren-nommers van Comrades-deelnemers.

“Die jong mense kom in en sien een van Oupa se kaarte. Hulle voel dan asof ’n stukkie van die Green Lantern aan hulle behoort,” sê Gail. Soveel stories het al oor die oregondennehoutvloere gestap. Sommige vertel van die geskiedenis (gedurende die beleg van Ladysmith in 1899 was die hotel onder die beheer van Britse troepe); ander is meer vermaaklik. Een van die vorige eienaars was werklik ’n karakter uit Fawlty Towers: Charles Thomas, wat van Kenia af gekom het. “Hy was nogal eksentriek, flambojant, goed berese en baie koloniaal,” vertel Geraldine Johnson van Van Reenen. “Hy het mense net vir twee weke op ’n slag in die hotel toegelaat, oor Kersfees en Paasfees. En dan het hy daai mense elke aand behoorlik vermaak!”

Bill en Gail vertel van die keer toe twee mense saam in ’n bad geklim en deur die houtvloer in die hotelvoorportaal geval het. (Let wel, die hotel was toe onder ander bestuur.) Dan is daar die keer toe gaste albino-krimpvarkies in ’n boks saamgebring het. Die krimpvarkies het ontsnap, en Bill en Gail moes hulle met hondekos lok. Hulle het twee weke lank na die krimpvarkies gekyk voor die eienaar hulle kom haal het.

“Ons is 50% gasvryheid en 50% vermaak,” sê Bill. “Ons wil graag ’n geskiedkundige gevoel behou. Dis ’n ervaring om hier te bly.”

Waar? Wraggstraat 7, Van Reenen

Koste: Selfsorgchalets vanaf R690 p.n. vir twee mense (die chalets het ’n mikrogolfoond, yskas en broodrooster, maar geen stoof nie.) B&O: R790 p.n. vir twee mense van Sondag tot Donderdag; R890 p.n. op Vrydae, Saterdae en in die spitsseisoen.

Kontak: 058 671 0027; greenlantern.co.za

2. Woon ’n diens by

Llandaff Oratory

Aan die oorkant van Van Reenen is die Llandaff Oratory, die kleinste kerk in die Suidelike Halfrond – net 14 m².

Die kerk is in 1925 gebou deur Maynard Mathews wat dit na sy seun genoem het nadat hy gesterf het toe hy probeer het om agt medemynwerkers by die Burnside-steenkoolmyn naby Dundee in KwaZulu-Natal in ’n rotsstorting te red. Mathews het aanvanklik versoek dat ’n gedenkplaat vir sy seun by die Lady-smithse Katolieke kerk aangebring word. Toe sy versoek afgekeur is, het hy dié kerkie ter nagedagtenis aan sy seun, Llandaff, laat bou. Dit het net agt sitplekke ter ere van die gestorwe mynwerkers. Mathews het selfs ’n priester geword sodat hy in die kerk kan preek. In 1926 het hy die Orde van St. Dominic ontvang.

Geraldine Johnson, die eienaar van die perseel, vertel dat Charles Thomas, wat die Green Lantern Inn besit het, die kerkie in 1960 gekoop en aan haar ma as trougeskenk gegee het, toe hulle in 1974 getrou het.

“Hier is elke Sondag ’n diens,” vertel Geraldine,” ’n lekeprediker wat ook ’n boer is, kom met sy kitaar. Sommige dae is dit stampvol. Gewoonlik pas ons 13 tot 16 mense in. Met die geld wat ingesamel word, stuur ons twee plaaslike meisies na ’n private skool op Harrismith. Die kerk betaal vir alles: Skoolgeld, uniforms, boeke…”

Oop: Elke dag van 8 vm.-4 nm. Toegang is gratis, maar jy kan ’n skenking maak.

Waar? Suid van die N3 op Van Reenen. Hier is bordjies. Volg die afdraaipad vir 100 m.

GPS S28.37586 E29.37925 (afdraai)

Kontak: 058 671 0106; thelittlechurch.co.za 

Teetuin

3. Kry ’n koppie boeretroos

“Ná kerk kom almal vir koek en tee,” sê Geraldine. Sy bestuur die teetuin langs die kerkie wat heerlike ontbyte, middagetes en middagtee bedien. Kom tuur oor die Drakensberg terwyl jy ’n koppie Earl Grey drink, pinkie in die lug.

“In die winter maak ons twee kaggelvure en bedien sop. Sondae is hier braaiboud met groente. Dis veilig en kinders en honde is welkom. Hier is ’n gesellige atmosfeer met almal wat lekker saam gesels.”

Probeer gerus hulle bekende skons met geklopte room en nastergalkonfyt (msobo) vir R38.

Oop: Elke dag van 8 vm. tot 4 nm.

Kontak: 058 671 0106

4. Soek na ’n winskoop

Kathy Bompas, Bompas Trading Store

Langs die Green Lantern Inn is die Bompas Trading Store. Dit word bestuur deur Kathy Bompas en is ’n outydse algemene handelaar. Hier is oudhede, tweedehandse boeke en hope ander goed. (Ek het wel al die National Geographic-uitgawes gekoop, jammer!)

“Die meeste goed koop ek op veilings in die Middelland,” vertel Kathy, wie se ma op Van Reenen gebore is. “Ek gaan altyd na boek- en liefdadigheidswinkels wanneer ek reis. Ek maak tans baie tweedehandse juwele skoon.”

Kathy het ’n indrukwekkende versameling skaars geskiedkundige Africana. Sy ken ook alles oor die dorp en is ’n goeie bron van stories en staaltjies.

Waar? Wraggstraat, Van Reenen (twee huise van die Green Lantern af)

Kontak: 082 456 7387

5. Kyk, dis die Draak

As jy van Van Reenen af die N3 na Durban neem, kry jy na 1,5 km ’n afdraai op regs (GPS: S28.38469 E29.39239). Volg die gruispad vir nog 600 m tot by ’n mooi uitkykpunt (GPS: S28.39075 E29.38778).

As gevolg van die voortdurende padwerk is hier weinig plek om af te trek en die uitsig te geniet. Dié kol is van die nasionale pad en van hier af sien jy die diep valleie en hoë spitse van die Drakensberg.

6. Verken die dorp op jou eie

Swinburne

Pleks daarvan om net Swinburne se vervalle Sparks Hotel te koop het Steve en Jenni Cleverly die hele dorp gekoop – die poskantoor, tronk, de lot!

Hulle het die hotel in die Riverview Country Inn omskep, wat in elk geval byna die hele dorp beslaan.

Jenni, wie se ma destyds vir die poskantoor gewerk het, vertel Swinburne was ’n eers gewilde vakansieplek. “Toe my ma klein was, was hier drie hotelle.”

In daai dae was vakansie hou ’n ernstige saak. “Die omgewing was gewild. Mense wat langs die kus gewoon het, het somermaande té warm gekry daar. Dan het ’n man wat daar werk, sy vrou en kinders sommer vir drie maande hierheen gestuur.”

Die meeste van ons kan nie drie maande vakansie hou nie, maar jy kan hier besig bly vir ’n langnaweek.

“Die eintlike trekpleister is die netwerk van agterpaaie, wat beteken hier is ’n rits stap-, fiets- en motorfietsroetes,” vertel Jenni.

Buiten Van Reenen is hier ook heelwat ander bergpasse om te verken. “Ons het die Collingspas, die Retiefpas en die De Beerspas – waar die kritiek bedreigde witvlerkvleikuiken uit Ethiopië kom kuier,” sê Jenni.

“Swinburne is ’n lekker aftrekplek as jy kinders of diere in die kar het,” sê Meglan Cleverly, Jenni en Steve se dogter, wat by The Hound & Hare Restaurant & Pub werk. “Hulle kan rondhol terwyl die grootmense kos bestel. Dis soos ’n perdeskoen: Jy ry in, kry wat jy wil hê, maak tenk vol, en vat weer die pad. Swinburne is ’n gerieflike halfwegstasie tussen surf and turf.”

Meglan bestuur ook Nutty Megs – ’n winkel met antiekware en tweedehandse boeke. Dis ook die plek om jou konfytvoorraad aan te vul: Hier is vy (R42), appelkoos (R40) en die legendariese nastergal (R55).

Waar? Swinburne is 1 km van die Montrose Garage af op die N3.

Blyplek: Hier is kamers oral op die “dorp”. Dis skoon, met koffie-en-teegeriewe. Dit kos vanaf R450 p.p., R650 per paartjie en R850 vir ’n gesin van vier. Ontbyt kos vanaf R60 p.p. by The Hound & Hare.

Kontak: 058 672 1033; riverviewcountryinn.co.za

7. Klim ’n berg

Die ikoniese Rensburgkop is ’n klein berg op die Appin-gasteplaas en ideaal vir ’n klimuitstappie. Hier is nie ’n gemerkte roete nie – vat net ’n paadjie en verken.

Rotsklimmers kan kies uit verskeie maklike en moeilike roetes (graad 11 tot 29), en hier is ook lekker plekke om oor rotsblokke te klouter .

As jy nie lus is vir sweet nie, kan jy die berg dophou uit jou kampstoel in die netjiese kampplek op die plaas.

Waar? Vat die grondpad agter die Montrose Garage by Swinburne vir 3,5 km.

Blyplek: Kamp: R80 p.p. Die kampterrein het ’n gemeenskaplike kombuis en ablusieblok. Die selfsorg-plaashuis kan tot 10 mense huisves. Hier is ook aparte dubbelkamers. Albei kos R200 p.p.

Kontak: 082 926 1155; appinguestfarm@gmail.com

8. Eet plaaslik

Sit aan vir huiskos by The Hound & Hare Restaurant & Pub by die Riverview Country Inn op Swinburne. Dis kindervriendelik met ’n swembad en speelplek.

“Dié kroeg is vir gesinne. Hier kom baie boere,” sê Meglan Cleverly. “Hier is elke dag ’n pub special van R65 en ons is net op Kersdag toe.

Ons maak voorsiening vir verskeie dieetvoorkeure – ons is veral bekend vir ons vegetariese spyskaart. Slakke is ook ’n spesialiteit, asook ons lendestuk.”

Die Sondagmiddagetes is gewild en die tafel hang af van die seisoen: “Ons het boud, cordon bleu, beesstert en seekosborde; wat ook al beskikbaar is op daai tyd,” sê Meglan.

Kontak: 058 672 1033; riverview@ohs.dorea.co.za 

9. Ervaar die plaaslewe

Wyford-plaas

Frans van Reenen se oorspronklike ossewapas loop oor hierdie plaas by die gehuggie Underberg (onthou, dis nie die dorp Underberg in die suidelike Drakensberg nie).

Dit was daardie jare die grens tussen die Oranje-Vrystaat en Natal. Hier was doenebeamptes, ’n dip-inspekteur, polisiemanne en twee smidswinkels.

Deesdae kan jy oornag in die handelswinkel van daai tyd se Underberg terwyl jy die plaas verken.

Mense hou van die idee van plaas toe kom en die kinders te laat speel waar hulle wil. Hier is baie plaasdiere, dis ’n gemaklike plek. Die kinders kan na die diere gaan kyk en onder toesig aan hulle vat.

Waar? Die afdraai na Wyford-plaas is 11 km oos van Van Reenen. Dan is dit nog 1,5 km met ’n grondpad.

Koste: Selfsorg: R350 p.p. en R175 per kind 2-12.

Kontak: 072 149 0608; wyfordfarm@gmail.com

Oban-gasteplaas

Oban-gasteplaas

Hierdie plaas is 7 km buite Van Reenen langs ’n gruispad waar die landskap afplat tot op ’n vlakte met berge teenaan die horison. Dis weg van die geraas van die N3, en ’n gawe plek as jy stilte soek en na aan die natuur wil wees, sê die eienaar, Kim Struben.

Verken die plaas te voet of op jou bergfiets, en wees op die uitkyk vir voëls – hier is reeds 236 spesies in die omgewing aangeteken. In die aande kan sterrekykers hulle aan die konstellasies vergaap.

Tweegang- (R90) en driegangmaaltye (R110) is beskikbaar. Die plaasrestaurant het nie ’n dranklisensie nie, maar bring jou drankies saam; die personeel sal dit koud hou. Hier is ook ’n klein winkel.

Koste: Selfsorg: R650 p.n. vir 2 mense en een kind. B&O: R650 p.n. vir twee mense.

Kontak: Selfoonontvangs is wispelturig, bespreek eerder per WhatsApp 084 567 8920 of e-pos obanguestfarm@gmail.com

10. Maak vol en vat die pad

Die Montrose Garage het ’n Shell-vulstasie waar jy tenk kan volmaak vir die 311 km na Johannesburg of die 311 km na Durban. Ja, ek het nie oordryf dat die pas reg in die middel is nie!

Hier is toiletgeriewe en veilige parkeerplek, en die gewone aanbod van wegneem-eetplekke. (Maar wie koop nou draairoomys as jy nastergalskons op Van Reenen en malvapoeding op Swinburne kan kry?)

En wanneer die tenk en die padkosmandjie vol en die muggies van die voorruit gevee is, is dit tyd om noord of oos te mik. En klop jouself op die skouer dat jy ’n vakansie by jou vakansie gelas het.