foto’s Cyril Klopper
Kampbestemming
Kampbestemming

Waar begin en eindig die Weskus? Dis bykans ’n saak van gebed om ’n geleerde antwoord op dié vraag te kry, maar dit wil lyk of daar onderskeid getref word tussen die weskus – met ’n klein w – wat suid van die Oranjerivier by Alexanderbaai begin en al die pad tot in die Kaap strek, en dan die streek, die deel tussen Yzerfontein en Doringbaai, wat die Weskus (met ’n hoofletter) genoem word.

Maar is dit ’n uitgemaakte saak? ’n Visserman van Velddrif sal skaterlag as ’n hipster uit Kaapstad homself as ’n Weskusser probeer uitgee. Heelparty Elandsbaaiers erken selfs nie Saldanha as deel van die Weskus nie, terwyl Port Nolloth se vuurtoringoppasser onomwonde sê hy’s ’n Weskusser, selfs al is die dorp die setel vir die Richtersveld-munisipaliteit.

Hoe ook al, die westelike kusstrook is ’n oorwegend harde, ongenaakbare streek, en seevakansies teen dié kus val nie in almal se smaak nie. Die water is ysig koud, grasperke sien jy nie eintlik nie, en die dorpe se munisipaliteite word nie almal goed befonds nie. Waarom sal jy dan hierheen reis en boonop in ’n munisipale woonwapark wil kamp?

Die antwoord lê in die warm ontvangs wat jy by die deursnee-Weskusser ontvang. Dit vergoed dubbel en dwars vir die kil see. Ja, dis nie so welig soos daai ander kus wat deur die Benguela-seestroom verhit word nie, maar wanneer die strak vlaktes van die weskus een keer per jaar uitbars in ’n blommeprag, kan jy die dankbaarheid van die aarde aanvoel.

In dié wêreld sit jy aan vir gebraaide snoek en patat, of ’n romerige mosselpotjie – en sodra jy ordentlik ingeburger is in jou woonwapark, hang daar altemit ’n trossie bokkoms langs jou stoeptent. 

LAMBERTSBAAI-WOONWAPARK

Waar die westewinde waai

Lambertsbaai se woonwapark lê aan die bopunt van Voortrekkerstraat teen die strand en word deur die Cederberg-munisipaliteit bestuur.

In die spitsseisoen staan hier dikwels ’n ry voertuie met woonwaens wat geduldig luier tot hulle ingeteken word. Buite seisoen stop jy voor die hek en ’n personeellid kom uit die ontvangsgebou gedraf om oop te maak.

Binne-in die ontvangsgebou stel Juliet Phillips haar TV se klank sagter en groet jou met ’n innemende glimlag. Juliet is al 26 jaar op haar pos en vertel met oorgawe van die dorp se gloriedae toe aktiwiteite soos die plaaslike Kreeffees derduisende besoekers gelok het. Dan was die woonwapark vier tot vyf keer per jaar propvol kampeerders.

Maar die afgelope paar jaar het die Weskus stiller geraak en die krewe loop versigtig sedert dié gesogte lekkerny in 2016 op Sassi se rooilys geplaas is omdat die spesie ernstig bedreig word.

Die park is egter steeds ’n gewilde bestemming, en volgens Juliet was Lambertsbaai se woonwapark tot en met die uitbreek van die coronavirus nog nooit werklik dolleeg nie. Jy word vriendelik genooi om eers ’n draai deur die kampterrein te ry en dan terug te keer na die ontvangskantoor met die nommer van jou gekose staanplek.

In die spitsseisoen moet jy vooraf jou gunstelingstaanplek aanvra, anders sal Juliet of een van haar kollegas ’n staanplek toeken. Hier is 268 staanplekke, feitlik almal op harde sand. Altesame 40 van hulle het private ablusiegeriewe en 55 het ’n uitsig oor die see.

Die kampplek is omhein met ’n stewige kophoogte staalheining en die ingangshek word dag en nag beman. Ter wille van duidelikheid verdeel ons die woonwapark in drie: die voor-, agter- en onderkant. Die voorkant het die minste koeltebome, maar dis op dié staanplekke waar jy ’n seeuitsig het, en hier is staanplekke met hulle eie ablusiegeriewe.

As jy ’n seeuitsig wil hê, moet jy ’n ablusieblok met jou bure deel en sonder koelte klaarkom. Hier is wel een of twee klein manatokaboompies, maar bring eerder skadunet om ’n skans teen die wind te bou, en ’n blinkseil om jou wa koel te hou.

Die staanplekke is sowat 3 m bo die seevlak, en die kans dat ’n fratsgolf teen jou woonwa gaan klots, is hoogs onwaarskynlik.

Die gemeenskaplike ablusieblok het ’n mans- en vrouekant, elk met vier geteëlde storte met bankies en deure, en vier toilette. Die manskant het twee wasbakke met spieëls en twee urinale terwyl die vroue vier wasbakke en twee baddens het.

As jy bereid is om ’n entjie van die see af te staan kry jy ’n private badkamer. Elkeen van dié badkamers het ’n stort, wasbak met ’n spieël en ’n toilet, maar daar’s geen toiletpapier nie. Die manatokabome hier rond is effens groter en slaag beter daarin om jou teen die wind en son te beskerm. Hier is selfs ’n paar wildevybome wat groot skadukolle gooi.

EET KREEF! Grasperke is nie algemeen aan die weskus nie en jy kan jou gelukkig ag as jy ’n lappie gras kry waarop jy kan kamp. Lambertsbaai is ’n vissersdorp en die restaurante in die omgewing wéét hoe om seekos gaar te maak.

DIE AGTERKANT van die woonwapark het lanings rooikrans en manatoka wat selfs beter beskerming bied teen die wind, maar hier is geen uitsigte oor die see nie. Net soos by al die staanplekke by die Lambertsbaai-woonwapark kamp jy op harde sand en jy moet van twee gemeenskaplike ablusiegeriewe gebruik maak. 

Die twee ablusieblokke is sowat 150 m uitmekaar en elkeen het ses storte met aantrekhokkies, en ses wasbakke in die middel van die vertrek – almal met spieëls. Die ablusieblokke word bedags binne verlig deur ’n vreemde groen gloed danksy groen veselglas voor die vensters eerder as glasruite.

Agter die ablusieblokke is wasbakke en ’n wasgoedlyn agter ’n skouerhoogte muur. Tussen die agter- en voorkant van die woonwapark is ’n speelpark op ’n netjiese grasperk. Hier kan die kinders heeljaar swaai en klouter, en in skoolvakansies word die minigholfbaan se matte neergelê en die trampoliens styfgespan.

Die onderkant van die woonwapark lê op die strand, sowat 2 m onder die hoofkampplek. Hier is 17 staanplekke teenaan die monding van die Jakkalsrivier en elkeen word deur ’n soutboslaning van mekaar geskei.

Die staanplekke is in ’n laerstyl uitgelê: Nr. 1-8 grens aan die strand en nr. 9-17 lê met hulle rug teenaan ’n wal vol aalwyne en vygies. In die middel van die laer is ’n gemeenskaplike vuurmaakplek wat van klip gebou is en ’n straatlig wat die braaiplek saans verlig.

INGERIG. Die ablusie­geriewe is oud, maar alles is heel en dit word deurentyd skoon gehou. Omdat dit ’n munisipale oord is, word die staanplekke daagliks deur munisipale werkers gehark.

Die onderste terras is veral gewild onder plaaslike groepe vriende wat elke jaar na Lambertsbaai opruk en saam wil kuier. Dit staan jou uiteraard vry om ook hier kamp op te slaan, maar hou in gedagte dat die naaste ablusieblok 120 m hiervandaan is.

Direk langs die onderste terras is ’n waterwurm wat oor Desembervakansies oop is. As jy rustigheid bo kinderplesier verkies, kamp eerder ’n ent weg van die waterwurm en sy besige parkeerterrein af.

Pieter en Nellie Eybers van Klerksdorp kamp met hulle Toyota Hilux 2.8 en ’n Jurgens Classique.

Ons het eers ’n huis in ’n sekerheidskompleks gekoop vir ons aftrede, maar die reëls het dit laat voel soos ’n kleuterskool. Toe koop ons eerder die woonwa en vat die pad vir ’n jaar. Ons staan ’n maand lank hier op Lambertsbaai en dis ’n gawe kampplek. Die enigste vreemde ding is die gebrek aan braaiplekke.

Kortliks | Lambertsbaai

Kampplek: 268 staanplekke – min op gras, maar die meeste het koeltebome. Jy kamp nooit verder as 120 m van die naaste ablusieblok af nie.

Ablusiegeriewe: 3 gemeenskaplike ablusieblokke en 40 private ablusiegeriewe.

Prys: Vanaf R182 p.n. per staanplek buite seisoen tot R235 per staanplek met ’n private badkamer in die spitsseisoen. Die maandtarief (Januarie tot November) is R1 950.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 en 10:00.

Kontak:  027 432 2238; lamwwp@cederbergraad.co.za; cederbergmun.gov.za

Naaste dorp: Lambertsbaai.

Hoe lyk nie pad? Heelpad teerpad.

GPS: S32.08673 E18.31294

Ry & SleepDie staanplekke het nie geboude braaiplekke nie, maar die personeel sal op aanvraag ’n braai- drom gratis by jou tent aflewer.

STRANDFONTEIN-WOONWAPARK

Smarag in die kroon

Anders as die meeste weskusdorpies het Strandfontein geen industrie of selfs werkende hawe nie. Volgens die 2011-sensus het dié vakansiedorp ’n bevolking van 431 permanente inwoners, maar oor naweke en skoolvakansies bars die sluimerende dorp uit sy nate wanneer die opgewonde vakansiegangers hierheen stroom.

Strandfontein se kafee is elke dag van 09:00 tot 17:00 oop (Saterdae tot 18:00) en hier kan jy brood, melk en blikkieskos koop asook die gebruiklike emmer en grafie om ’n sandkasteel te bou. As die kafee nie het wat jy nodig het nie, kan jy Lutzville, 28 km hiervandaan, besoek.

Strandfontein se woonwapark word bestuur deur die Matzikama-munisipaliteit en is ongetwyfeld die groenste in die geweste. Die sponsige grasperke lê van hoek tot kant en as hier kusfynbos gegroei het, het dit op ’n haar nes ’n woonwapark in die Tuinroete gelyk.

Die woonwapark is nêrens omhein nie, maar aangesien alle mense binne ’n 7 km-radius afgetredenes of vakansiegangers is (nes jy), kan jy met ’n geruste hart jou kop neerlê met die wete dat niemand jou kampgoed gaan steel nie.

Strandfontein se woonwapark word in drie sones verdeel: Die A- en T-blok, en dan die perdeskoen.

Die A-BLOK is ’n smal terras sowat 15 m bo die seevlak – die kans dat selfs ’n tsoenami jou gaan meesleur, is gering. Die 52 staanplekke hierin is in twee rye uitgelê: nr. 1-27 is teenaan ’n hoë wal en met hulle rug teen ’n woonbuurt, en nr. 28-52 aan die voorkant het ’n onbelemmerde uitsig oor die see.

Elkeen van die agterste staanplekke het private ablusiegeriewe wat bestaan uit twee smal vertrekke. Die buitevertrek het ’n skottelgoedwasbak en die binnevertrek ’n toilet, stort met ’n stortgordyn en seepbakkie, plus ’n wasbak met ’n grimeerrakkie en spieël. Die geriewe is afgeleef, maar dis skoon, privaat en alles werk.

Kampeerders op die voorste staanplekke moet twee ablusiegeriewe deel. Dit is tydelike strukture wat opgerig is nadat die oorspronklike ablusieblokke laer af ’n paar jaar tevore deur ’n storm verwoes is. Die tydelike strukture het ’n mans- en vrouekant waar dit binnelangs pynlik netjies is. Elke struktuur het drie toilette, drie wasbakke en twee storte.

Die storte is egter effens aardig: Die glasdeure by elkeen is heeltemal deursigtig en dus sien almal wat verbyloop, jou poedelnakend – jy moet dus ’n handdoek oor die stortdeur hang as jy iets het om weg te steek. Die tydelike strukture het geen opwasbakke nie – bring jou eie skottels.

Elkeen van die A-blok se staanplekke het sy eie braaiplek en elke twee staanplekke deel ’n kragpunt – die agterste ry gebruik die blou sok en die voorste ry het gewone huissokke. Elke twee staanplekke in die voorste ry deel ’n kraan terwyl die agterste staanplekke met die private badkamers hulle sy eie watertoevoer het.

Die T-blok is ’n uitvloeiing van die A-blok en lê in ’n smal strook tussen ’n paar private wonings bo die A-blok. Hier is 20 staanplekke en een gemeenskaplike ablusieblok. Staanplek nr. 5-8 het ’n onbelemmerde seeuitsig terwyl die res met hulle rug teenaan die private wonings se grensmure staan.

Die ablusieblok hier het vier storte (met houtdeure), vier toilette en vier wasbakke met spieëls. Wat netheid betref, is die geriewe skoon, maar dit vertoon oud. Alles is egter in ’n werkende toestand sonder gebreke.

Agter die T-blok se ablusiegeriewe is nog wasbakke. Dis is egter nie duidelik of hulle vir skottelgoed of klere bedoel is nie en daarom stel ons voor jy bring jou eie plastiekskottel as jy jou sokkies wil was.

DIE PERDESKOEN lê reg in die middel van Strandfontein en sy 66 staanplekke is uitgelê op vyf grasgroen terrasse. Vier geplaveide paadjies lei deur die perdeskoen en neem jou tot by jou staanplek. Hoewel ’n mens van die meeste staanplekke af die see kan sien, kamp jy hier om beskut te wees teen die kus se klam oggendmis en die Weskus se yskoue wind wat soms laatmiddag oor die see waai – iets wat die mense in die A-blok dikwels moet verduur.

Ongeveer die helfte van die staanplekke het manatokabome wat koelte gooi en elkeen het sy eie geboude braaiplek met die nommer van die staanplek daarop geverf. Elke twee staanplekke deel ’n vullisdrom, kraan en kragsok (blou woonwatipe), maar daar is uitsonderings aangesien sommige staanplekke huishoudelike kragsokke het. Die private ablusiegeriewe is soortgelyk aan die A-blok se geriewe en die enkele gemeenskaplike ablusieblok word deurentyd skoongehou.

SOOS REEDS GENOEM, is Strandfontein ’n vakansiedorp, en die skeidslyn tussen die woonwapark, vermaak, winkel, restaurant en gastehuise is vaag. Langs die A-blok is ’n waterwurm wat in die somermaande oop is en hier is klimrame, wip- en glyplanke en swaaie op die strand om die kinders besig te hou. 

As jy dapper genoeg is om die koue see te trotseer kan jy gerus voel met die wete dat lewensredders in die spitsseisoen ’n wakende oog hou oor baaiers en branderryers. Hier is ook die Kommetjie-restaurant wat deur die Skot Duncan Womack besit word.

Hoewel Duncan nog sukkel met Die Taal, kan hy plaaslike geregte maak wat selfs vir oorle’ Pieter Pieterse sou beïndruk – ’n ander geliefde seun van die Weskus, al het hy nie hier grootgeword nie. Strandfontein is ’n puik kampeerplek, selfs al voel dit effens sag en gemaklik vergeleke met die res van die Weskus se klipharde opregtheid. 

Kortliks | Strandfontein

Kampplek: 138 staanplekke op gras.

Ablusiegeriewe: Verskeie soorte ablusiegeriewe wat wissel van privaat tot gemeenskaplik, en oud tot blinknuut. Almal is skoon en netjies.

Prys: Afhangend van watter staanplek R190-R320 per nag buite seisoen. Binne-seisoenpryse nog nie beskikbaar nie.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 en 10:00.

Kontak:  027 201 3437 of 027 201 3401;  westerncape.gov.zaivanwyk@matzikamamun.co.za

Naaste dorp: Doringbaai 7 km.

Hoe lyk die pad? Die R362-streekpad van Lutzville af is geteer, en so ook die paaie binne die woonwapark. Die roete van Lambertsbaai af is egter ’n stamperige grondpad nie geskik is vir ’n gewone woonwa nie.

GPS: S31.75489 E18.22883

Ry & Sleep ’n Woonwapark waarop enige munisipaliteit trots kan wees.

HONDEKLIPBAAI-WOONWAPARK

Hond se gedagtes

Die slim mense sê Hondeklipbaai is nie Weskus nie, maar eerder deel van die Namakwalandse kus. Dit is so, ja, maar die kultuur hier is nader aan dié van die verre Doringbaai se mense as aan die nabygeleë Kamieskroon.

Die Hondeklipbaai-woonwapark se amptelike naam is die Kamiesberg-munisipale kampterrein, maar almal hier rond noem dit bloot “die karavaanpark”. Dit is gewis nie ’n gewilde kampplek nie en in agt besoeke aan die dorp oor ’n tydperk van 19 jaar het ons nog net een keer ander mense hier sien kamp.

As jy op die internet rondvra oor Hondeklipbaai se kampplek, sal jy waarskynlik afgeraai word om hier af te saal, nie noodwendig weens slegte ondervindings nie, maar bloot omdat die plek ’n mismoedige eerste indruk skep. Die gemiddelde reaksie van voornemende kampeerders is om die plek net een kyk te gee en dan die hasepad te kies. Ons het egter ontdek dit is ’n oorreaksie.

Goed, sodra jy deur die hek ry – dié hang skeef, want een van sy skarniere is soek – gaan jy dalk ’n traan pink oor die plek se voorkoms. ’n Ongelyke en dorre stuk grond lê voor jou, en rondom dié geknelde land is ’n heuphoogte betonsteenmuur sonder pleister – dit laat ’n mens nie juis veilig voel nie, maar met ons besoek was daar geen misdaad nie.

Een kêrel wat duidelik onder die prop was, het wel oor die muur probeer geselsies aanknoop, maar hy’s later daar weg toe dit uiteindelik duidelik word hy gaan nié genooi word vir vanaand se braai nie.

In die middel van die kampplek staan ’n eensame ablusieblok wat lyk of dit beter dae geken het. Jy sidder dalk om te dink hoe dit binne lyk, maar jy sal aangenaam verras wees oor hoe sindelik dit is.

ONOPGESMUK. Hondeklipbaai se woonwapark lyk met die eerste oogopslag na ’n armsalige plek, maar die ablusiegeriewe is skoon en die dorp het daardie tipiese opregte weskusgevoel.

DIE ABLUSIEBLOK se vloer het netjiese grys teëls en alles is skoon. Die stortkamer is ruim – hier is genoeg plek om uit en aan te trek sonder dat jou elmboë teen die mure stamp – en warm water bruis uit die stortkop.

Die toiletkamer het ’n wasbak, en die toilet spoel sonder sukkel wanneer jy sy slinger trek. Daar is nog drie wasbakkie, maar nie een van hulle het ’n spieël nie en jy sal jou eie moet bring om te skeer of jou hare te kam. Dis nie jou ouerhuis se badkamer nie, maar jou ma sal nou ook nie gril om die geriewe te gebruik nie.

Buite op die kampterrein groei nie ’n enkele boom nie. Die enigste groenigheid is naby die skottelgoedwasbak waar ’n klein klossie gras staatmaak op ongereelde kampeerders wat hopelik water op hom sal stort.

Teen die muur, sowat 15 m uitmekaar, is 12 braaiplekke, almal met ’n vullisdrom. Elke twee staanplekke deel ’n kragpunt met huishoudelike sokke. ’n Paar sokke is egter deur die sout seelug beskadig en die sokke wat wel werk, gaan bepaal waar jou tent staan.

Dis ’n ongenaakbare wêreld dié, en hier is geen teken van grasperk, palmboom of tuin nie. Van jou staanplek af sal jy die wrak van die Jaheel sien, ’n visserskuit wat in 2003 hier in die baai op die rotse geloop het. Hondeklipbaai se vuurtoring flits snags sy waarskuwingsein, maar elke seeman weet die weskus is nog lank nie versadig vir skepe nie.

Op die dorp self is weinig doendinge. Jy kan gaan draf of met jou fiets ry tot by ’n klip wat blykbaar soos ’n hond lyk en waarna die dorp genoem is, hoewel ons geen ooreenkoms kon sien nie. En sowat 3 km suid van die dorp is daar die wrak van die Aristea wat in 1945 hier naby gestrand het. Daar is nie veel meer van die skip oor nie; net die stoomketel en stukke van die romp, ’n hartseer einde vir ’n vaartuig wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog as mynveër diens gedoen het.

Jy kan ook hier snorkelduik, maar stel jou eers voor aan die diamantbote se bemanning, want anders dink hulle dalk jy’s ’n smokkelaar wat besig is om in hulle slaai te krap. Die grootste besienswaardigheid naby Hondeklipbaai is die Namakwa- nasionale park. Hondeklipbaai se woonwapark mag dalk dor wees, maar slegs ’n hanetree van jou staanplek af is daar in Augustus en September ’n lushof vol blomme. 

Kortliks | Hondeklipbaai

Kampplek: 12 staanplekke in die oopte op harde grond.

Ablusiegeriewe: 1 ablusieblok wat netjies en skoon is.

Prys: Op navraag.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 en 10:00.

Kontak: 027 692 3066 of 064 311 5389 (Coreté Peterson); kamiesberg.gov.za

Naaste dorp: Hondeklipbaai.

Hoe lyk nie pad? Uit enige rigting is dit grondpad Hondeklipbaai toe. Die beste pad kom uit Garies, maar selfs dié is nie geskik vir ’n padwoonwa nie.

GPS: S30.31510 E17.27647

Ry & SleepOns kan ons nie voorstel dat iemand weke lank hier sal kamp nie, maar een nag is in die haak.

MCDOUGALLSBAAI-WOONWAPARK

Ken jy die see, Meneer?

McDougallsbaai is ’n smal woonwapark teenaan die strand en die noordelikste kampplek aan ons weskus. Die kampplek word deur die Richtersveld-munisipaliteit bedryf wat gesetel is in Port Nolloth. Nadat jy deur die boog van die hoofingang gery het, volg jy ’n laning palmbome tot by ’n sekerheidshokkie. Die wag beduie jou na die kantoor langsaan waar jy inteken. Neffens die kantoor is ’n lang ry woonstelle wat óór die woonwapark se staanplekke kyk tot by die see.

Die staanplekke is in twee rye uitgelê met die een ry teenaan die strand en die ander met hulle rug gekeer na die woonstelle. Tussen elke twee staanplekke is ’n vullisdrom en ’n heining manatokabome wat dig opmekaar geplant is vir privaatheid en windbeskerming. Elke staanplek het sy eie geboude braaiplek en kragpunt met huishoudelike sokke.

Waterkrane is lukraak in die kampplek geplant, maar jy’s oral binne klipgooiafstand van die naaste een.

’n Draadheining is om die woonwapark gespan om kwajongens uit te hou, maar hy’s slap en plek-plek heeltemal oop. Daar was al in die verlede voorvalle van diefstal, maar McDougalsbaai se bestuur het ons verseker teen die tyd dat jy hierdie artikel lees, sal die heining vervang wees met ’n ordentlike staalheining soos by Lambertsbaai. Hier is ook ’n nagwag wat die hek beman en jy sal die girts-girts van sy skoensole laatnag hoor wanneer hy die kampplek patrolleer.

Die woonwapark kan volgens ons in drie verdeel word: Die linker-, middel- en regterkamp.

SAND IN JOU TENT. Bring ’n grondseiltjie, want hier is baie sand. Die ablusiegeriewe is skoon, maar daar is wel enkele gebreke. As die woonwapark vol mense is, kom jy dit egter beswaarlik agter.

SOOS JY DIE WOONWAPARK binnery, sal jy die linkerkamp eerste aantref. Staanplek nr. 1-5 lê links van die ingangshek teenaan die pad wat jou hierheen gebring het. Nr. 1 is die naaste aan die hoofingang terwyl nr. 5 langs ’n kombuis, strykkamer en openbare toilette geleë is.

Staanplek nr. 6-22 lê teenaan die strand met ’n onverbeterlike uitsig oor die see. Die oord se bestuur waarsku jou egter dat die hoogwatergety soms oor hierdie staanplekke spoel. Met ons besoek was dit juis die geval en ons kon boonop sien dat daar seebamboes op sekere staanplekke lê.

Staanplek nr. 23-38 lê verder weg van die see af, met hulle rug teen die woonstelle en die pad wat die woonwapark bedien. Volgens ons is dit die beter keuse van staanplek, tensy jy reg teenaan die see wil ontspan. Hou maar ’n oog op die gety en wees bereid om jou wa se as en wiele met vars water te spoel nadat die see teruggetrek het.

Die linkerkamp het twee ablusiegeriewe; blok A en B. Ons was die enigste kampeerders en die personeel het vir ons ’n sleutel vir blok A gegee. Hier is ’n mans- en vrouekant waarvan die mans een badkamer en drie elk storte, urinale, wasbakke met spieëls én toilette het. Die vrouekant is soortgelyk buiten dat hier vyf toilette is. Dis skoon dog oud, en sommige van die wasbakke was beskadig met ons besoek.

Die storte kort ook ’n goeie skrop, want die voegbry tussen die vloerteëls lyk verdag. Blok B het wasgeriewe wat bestaan uit agt betonwasbakke vir klere en vier sinkwasbakke vir skottelgoed.

Die wasgeriewe se kleurskema van baksteenrooi en babablou dateer uit die jare sewentig, en hoewel die geriewe ook waarskynlik in daardie eeu gebou is, is dit skoon, heel, maar beslis ook stokoud. As jy buite seisoen op McDougallsbaai kom kamp, sal die bestuur jou vra om iewers op staanplek nr. 1-38 tent op te slaan en ablusieblok A te gebruik.

Die middelkamp is waar jy staanplek nr. 39-60 aantref. Hulle lê op ’n eiland tussen twee paaie, en nr. 39-49 – wat die naaste aan die see lê – word dus deur een van dié paaie beskerm teen die hoogwater. Nr. 50-60 lê rug aan rug met die voorste ry en elke vier staanplekke word deur ’n manatokaheining geskei.

Ons sou voorstel dat groter groepe vriende wat saam kamp, hier kom uitspan, want die staanplekke is lekker groot, en danksy die twee paaie aan weerskante van die eiland is dit maklik om met jou voertuig tussen die woonwaens en tente uit te kom.

Die middelkamp word deur ablusieblok C bedien wat ook buite seisoen gesluit word. Die verste deel van die woonwapark, die regterkamp, is na ons mening die beste. Hier lê staanplek nr. 61-78 teenaan die see, maar effens verhewe bo die strand sodat die gety nooit jou kamp oorstroom nie. Staanplek nr. 79-94 lê met hulle rug teenaan – maar laer as – die pad wat jou hierheen gebring het. Die regterkamp kry toegang tot twee ablusiegeriewe, blok D en E.

HIER’S HEELWAT DOENDINGE in en om Port Nolloth. Die dorp het ’n vulstasie en groot supermark en daarom is dit ’n uitstekende afskoppunt as jy op pad is na die Richtersveld- nasionale park en die Namakwa-4x4-ekoroete wat deur die Richtersveld kronkel tot by Pella in die Boesmanland. Hier is ook dienssentrums wat jou voertuig sal nagaan en buiteband-agente, paneelkloppers en werkswinkels wat kan help as iets skort met jou ryding.

Die vuurtoring op Port Nolloth is die noordwestelikste een in Suid-Afrika – en so ook die hawe.

Gaan maak ’n draai by Anita se taverne op die dorp vir heerlike seekos. Nou kan jy sê jy ken die hele weskus, en nié net die Weskus nie.

Kortliks | McDougallsbaai

Kampplek: 100 staanplekke, almal op harde sand en geen skaduwee nie.

Ablusiegeriewe: 5 skoon ablusieblokke wat wissel van afgeleef tot heel gaaf.

Prys: R180 p.d. buite seisoen en R247 in die spitsseisoen. Pensioentrekkers kry 30% afslag.

Aankoms- en vertrektyd: 10:00 en 10:00.

Kontak: 027 851 1110; caravanpark@richtersveld.gov.za

Naaste dorp: Port Nolloth 4 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teerpad tot by die hek en harde sand binne die park.

GPS: S29.28281 E16.88039

Ry & Sleep sê Dis skoon en tipies Weskus. Dit voel verlate buite seisoen, maar dit pols in die spitsseisoen.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. 

Volg ons op die YouTube-kanaal  WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook