Die blogreeks is moontlik gemaak deur Hi-TecCanon en Trappers.

Visums en paspoorte

  • Suid-Afrikaners het nie visums nodig vir Peru nie, en ook nie deurgangsvisums (“in transit visas”) vir ander Suid-Amerikaanse lande nie. Jy het wel ’n bewys nodig dat jy ’n geelkoorsinspuiting gehad het (lees onder). Op die Inka moet jy te alle tye jou paspoort by jou dra omdat jy deur kontrolepunte stap waar beamptes nagaan of jou Inka-permit en paspoort ooreenstem.  
Inka
Ek by een van die ander Inka-ruïnes

Hoe fiks moet jy wees?

Die totale Inka-roete is “net” 45 km, maar moenie dit onderskat nie.

Intrepid Travel gradeer dit as ’n 4-staproete (die hoogste gradering is 5). Met dit gesê: Dis moeilikerig, maar binne die meeste mense se bereik. Volgens my Peruaanse gids was daar al ’n Britse vrou van 84 wat saam met hom gestap het, en op die foto’s in die blogreeks sal jy sien dat ek ook nie juis ’n Comrades-atleet is nie.

Onthou egter dat jy nie vol “geite” kan wees nie. Die geriewe is primitief en jy is lang ure op jou voete. As jy steen en been gaan kla, moet jy liewers die trein neem na Machu Picchu. (Dit is moontlik.)

Volgens my Peruaanse gids was daar al ’n Britse vrou van 84 wat saam met hom gestap het...

Wie mag almal stap?

Daar is ’n minimum ouderdom van 16 jaar, maar geen maksimum nie. 

Inka
Kies die regte maande vir jou reis

Beste tyd om te gaan?

Die Inka is die hele jaar oop buiten Februarie. In Februarie word die roete gesluit vir instandhoudingswerk en word die paaie weer oopgekap. Die portiere kry dan ook opleiding in onder meer noodontruimings van die berg af. Spitsseisoen is van Junie tot Augustus. Dan is die roete droog, maar besig. Van September tot November, en van Maart tot Mei is dit buiteseisoen, maar die weer is nog goed. Desember en Januarie is die reënseisoen.

Ek het in Desember gestap, maar die eerste druppels het eers geval toe ons 200 meter van ons bus in Machu Picchu was. Baie stappers sê egter vir my ek was cheeky en het ’n vet kans geneem. In vorige jare moes stappers al in Desember en Januarie van die berg ontruim word weens swaar neerslae.  

Dokter-dokter

Geelkoors: Jy het ’n sertifikaat van ’n reiskliniek nodig dat jy ’n geelkoorsinspuiting gehad het (neem ook ’n foto van die dokument, vir in geval jy dit verloor). Belangrik: Jy moet die inspuitings minstens 14 dae voor jou vertrek kry, anders sal hulle jou nie in Peru toelaat toe. Terwyl jy nou ’n draai by die reiskliniek maak, maak sommer seker jou inentings teen hepatitis A en B is op datum. Dis nie verpligtend nie, maar word aanbeveel. 

Jy het ’n sertifikaat van ’n reiskliniek nodig dat jy ’n geelkoorsinspuiting gehad het

Zika-virus: Volgens die Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) het Peru ’n lae risiko vir die Zika-virus. Die CDC meld dat muskiete wat gewoonlik die Zika-virus versprei, in tropiese gebiede onder 2000 meter bo seespieël voorkom. Die kans dat muskiete dit op hoër seevlakke oordra, is skraal. Cusco is op 3700 meter bo seespieël, en op die Inka is jy nooit laer as 3200 meter bo seespieël nie. 

Malaria: Die Inka val nié in ’n malaria-streek nie. Daar is baie lastige muskiete, maar dis nie malaria-muskiete nie.

Inka
Hier wys die Spartan die daling van ons hoogte bo seespieël

Hoogtesiekte (“altitude sickness”): Laat ek met die “disclaimer” begin. Ek is nie ’n mediese dokter nie en jy moet my raad met jou huisdokter verifieer. Daar is pille teen hoogtesiekte (asetasoolamied, handelsnaam: “Diamox”), en al 16 stappers in ons groep (van drie verskillende lande) het dit gedrink. Jy het in Suid-Afrika ’n voorskrif daarvoor nodig.

Dit het wel ligte newe-effekte: naalde-en-spelde-prikke in jou vingers en voete, wat weggaan as jy beweeg. Sommige in ons groep het ook gesê hulle voel ’n tinteling in hul lippe. Maar niks ernstigs nie.

Apteke in Cusco adverteer oor-die-toonbank-medikasie teen hoogtesiekte, maar – noem my ’n snob! - ek verkies dat my huisdokter medikasie aan my voorskryf. Oor die raad van ’n kollega, dat Viagra (!) help teen hoogtesiekte, het my huisdokter gespanne gegiggel en ferm “nee” gesê.

’n Nota: Ek het hoë bloeddruk, en die hoogte bo seespieël het geen waarneembare effek daarop gehad nie.

Inka
Jy moet lig pak vir Peru.

Wat pak ’n mens in?

Jy het baie spesifieke dinge vir die Inka nodig. Hier is ’n volledige lys

Waar daar ’n rokie trek

Rokers moet daarop let dat die hele Inka-roete ’n Unesco-wêrelderfenisterrein is en dat rook oral verbode is. Jy sal dus vier dae sonder ’n dampie moet kan klaarkom. Maar jy is reeds so uitasem weens die hoogte bo seespieël, dat ek eerlikwaar nie weet waar jy die asem vir ’n sigaret sou kry nie.  

Inka
Hier is 16 stappers, 22 portiere, 3 gidse en 2 sjefs.
Inka
Ek sou nie daardie vrag kon dra nie.
Inka
Die portiere doen waardevolle werk
Inka
Sonder hierdie bewys en jou paspoort gaan jy nêrens nie

Ek wil ook gaan – hoe maak ek nou?

Om die toestroming na Machu Picchu te beheer, het die Peruaanse regering verskeie maatreëls ingestel wat stip nagekom word. Jy moet ’n permit hê om op die roete te wees, en jy moet ’n geakkrediteerde gids gebruik op die roete. Vir elke 8 mense, moet daar minstens een gids wees. Hierdie besprekings moet by ’n geregistreerde agentskap gemaak word.

Om die toestroming na Machu Picchu te beheer, het die Peruaanse regering verskeie maatreëls ingestel wat stip nagekom word

Anders as by die Camino, waar jy tot by enige plek langs die roete kan reis en bloot kan inval, moet jy vir die Inka jou reëlings vooraf tref. Jy kan nie net opdaag en jou eie ding doen nie. Bespreek so lank as moontlik vooraf. Slegs 500 mense kan per dag hul staptog op die Inka begin, maar dit sluit gidse en portiere en hulppersoneel in. Dit beteken slegs 200 toeriste kan per dag begin stap. (Ons groep van 16 stappers van Intrepid Travel het 3 gidse, 22 portiere, 2 sjefs en 1 sanitasiebestuurder gehad. (Lees die blogs om meer hieroor uit te vind.) 

Weg gaan later vanjaar groepe na die Inka neem. As dit lekker klink, stuur jou besonderhede na weg@flightsite.co.za, dan laat weet ons sodra ons al die details het.


Weg se Inka-avontuur word moontlik gemaak deur Hi-Tec, Trappers en Canon. Foto’s is met die Canon M50 geneem.